“Dr. Wittenblank,” herhaal dr. Wittenblank.
“Oxford G. von Waltzleben.”
“Jesus Christ!” sê Marigold Rosemary.
“Lord Sudden is bykans blind,” sê dr. Wittenblank. “Ek is sy persoonlike oogarts.” Hy kyk bysiende by die venster uit. Hy sien steekgras en mimosas wat saamsmelt tot ’n vaal landskap.
“Só, dan is ons nou naby Magersfontein,” sê hy, sak behaaglik agteroor, en vir ’n geruime tyd daarna het hy nie ’n enkele woord tot enige gesprek bygedra nie.
2
Le Grange, die speed-cop, skuil agter sy geliefkoosde wegkruipplek, ’n advertensiebord van sewe meter by sewe meter wat skaduwee en koelte teen die son bied en hom terselfdertyd in staat stel om die pad te bespied. Hy is in die nuwe uniform van die Kaaplandse verkeersdiens geklee en hy is onbewus daarvan dat dit ’n replika is van die lyfgewaad van die Nazi S.A. voor sy geboorte. Die wit valhelm met die koninginprotea as embleem was sy eie bydrae wat deur die uniformkommissie met ’n prystoekenning aanvaar is. Die nagemaakte leerhandskoene wat tot by die elmboë reik, is egter sy besondere trots. Dit pas by die donker polaroid-sonbril wat hy dra. Toe hy voor die groot spieël in die sitkamer van sy huis geparadeer het sonder om te pronk, het Anna Adder, sy vrou en moeder van ’n drieling, gesê: “Ek ken jou nie!” En dit was die grootste kompliment wat sy hom kon gegee het. Hy het al dikwels gewens dat hy vir goed van hierdie leepoog-teler kan wegkom. Maar die juweel in sy skatkis is die twee wit handskoene wat tot by sy skouers strek – sorgvuldig opgevou in die paneelkassie van sy motor. Dit stel hom in staat om verkeerswagdiens tydens spitsure te doen. Dit gebeur selde op die platteland en slegs ten tyde van internasionale rugbywedstryde wanneer blinkoog-boere soos besetenes na Kimberley se arena jaag en verkeersophopings en gevaarpunte op die mees onverwagte plekke puntdiens regverdig.
Dit was tot dusver ’n vaal dag vir Le Grange. Daar was weinig verkeer op die pad en hy het in die bloedige hitte slegs ’n paar geleenthede gehad om in volle mondering op die teerpad te verskyn. Die eerste geleentheid was toe ’n monsteragtige bewegende voorwerp in ’n lugspieëling teen die horison van die teerpad opgedoem het. Hy het die voorwerp onmiddellik tot stilstand gebring: ’n allenige figuur in die uniform van Suid-Afrika wat in die middel van die baan ’n troglodiet trotseer; dertig meter meganika wat met ’n geloei van hidrouliese remme voor ’n man in ’n swart uniform stop. Le Grange het hom volgens sy beeld van die uniform gedra toe hy ’n Leyland-masjien as kajuitmotor moes inspekteer wat ’n twintigmeter-treiler trek waarop ’n vragmotor van tweehonderd ton rus. Omdat die hele meganiese opset splinternuut is, is sy taak aansienlik bemoeilik. Daarbenewens het hy opgemerk dat die voertuig aan die magtige De Beers Consolidated Mines Ltd behoort. Dit was ’n delikate situasie, maar hy het hom goed van sy taak gekwyt. Hy het met ferme tred vlugtig ’n inspeksie gedoen en toe gesalueer. “Alles in orde.”
Het hy ’n stem gehoor: “Fuck you, you bastard!” toe die vaartuig vertrek?
Of was dit ’n akoestiese hallusinasie wat die hitte en die westewind meebring?
Die res van die dag het hy Anna Adder se toebroodjies geëet en die verbyspoedende motors geïgnoreer. In ’n stadium het hy dit selfs oorweeg om ’n kaffer-taxi te stop omdat hulle sekerlik een of ander provinsiale regulasie oortree, maar Le Grange het hulle met rus gelaat. In die verte kon hy die kruise op die koppies van Magersfontein sien, maar dit het vir hom geen betekenis nie. Monumente en grafstene is die hele land vol. Daar moet iets, iets wees … iets wat sy uniform waardig is. Sonder dat hy dit besef beleef Le Grange, die speed-cop, die foltering, kwelling, en angs van die verbroke held in ’n eksistensialistiese wêreld. Die enorme futiliteit van menswees bemeester hom. Le Grange, die speed-cop, dink nou soos Samuel Beckett terwyl hy die landskap gadeslaan.
Toe sien hy ’n Bruinman op ’n fiets wat heen en weer oor die pad slinger en hy stop hom met ’n goedige gelatenheid.
Sweterig kyk hulle na mekaar, al twee ewe moedeloos in die waai van die westewind.
Fietslisensie nie in orde nie. Le Grange reik die dagvaarding teen sy sin uit.
Die afkoopboete is vyf rand en gelyk aan een sakkie mieliemeel, maar wat kan Le Grange daaraan doen? Hy is as ’n amptenaar van die owerheid opgelei met gedelegeerde magte, maar die geringste teken van oorleg en vrye besluit staan gelyk aan korrupsie. Die enigste toegif wat hy kan bedink is vriendelikheid.
“Wat is daar op die draagbaar van jou fiets?”
“Dis die lyk van my kind, Baas.”
Le Grange verduidelik aan hom dat hy alreeds die vorm in triplikaat ingevul het en dat dit ’n oortreding is om ’n vorm te vernietig. Maar mag hy die lyk van die kind sien?
Le Grange sien vir die eerste keer in sy lewe die lyk van ’n kind. ’n Baba van ses maande.
“Waarnatoe is jy op pad?” vra hy.
“Na die dokter, Baas.”
Le Grange laat Gert Garries toe om sy tog voort te sit. Dis in die rigting van Modderrivier.
Dis ’n aaklige dag vir Le Grange, die speed-cop. Hoe kan mens ’n dokument in triplikaat verwyder sonder om jouself aan vervolging bloot te stel?
Elke dokument is in triplikaat genommer.
En toe kyk hy op en sien ’n optog wat besonder verdag voorkom.
3
Die stoet van sewe motors ry in die somerskemering in die rigting van Modderrivier en die optog slinger weerskante van die teerpad en terug: ’n bisarre patroon wat vir Le Grange nogmaals bevestig dat daar geen uiteindelike oplossing is nie; wat hy voor hom sien, is ’n bewys dat die lewe absurd is. Terwyl hy Magersfontein betrag, en die stoet sien kom, dink hy in terme van Glicksburg. Soos alle speed-cops, is Le Grange eintlik ’n filosoof. Hy sien die lewe eers as ’n Griekse, tragiese konsep – die onafwendbaarheid en aanvaarding van die noodlot; en dan, daarteenoor, die moderne mens wat sê: NEE! Hy vee met sy hand oor sy oë die spinnerakke van sy verbeelding weg, en dan word alles vir hom duidelik. Daar is geen hallusinasies meer nie.
Hy sien die stoet kom en hy wéét dat dit ’n begrafnisoptog is want die voorste Cadillac is sekerlik ’n lykwa. Die spel van ironie! Die dooie baba van Gert Garries op die fiets, en dan die afgestorwe geliefde in die deftige swart vaartuig. Hy klim in sy motor, skakel die ligte aan, sit die flikkerlig bokant die kap in werking, en swaai stadig voor die optog in. Le Grange ry voor teen ’n stadige pas soos dit ’n begrafnisstoet betaam. Waar die stoet voorheen teen honderd-en-vyftig kilometer per uur beweeg het, verminder hulle hulle spoed nou tot ’n slakkegang. En dan tref dit Le Grange dat dit nie ’n begrafnisoptog is nie, en hy hou stil. Daar is menigvuldige spieëls wat die ewigdurende veranderende gesig van die mens reflekteer. Die stoet kom tot stilstand.
Dis baie duidelik, dink Le Grange toe hy flink uit sy motor klim en langsaam sy wit handskoene aantrek, dat daar ’n Minister of minstens ’n Adjunk by die optog betrokke is. Daar is nou wel geen vlaggie op die neus van die Cadillac nie, maar dit is vir hom baie duidelik dat dit inderdaad ’n staatsokkasie is. Hy marsjeer met kort passies tot by die agterste ruit van die Cadillac en salueer ’n belangrike gesig. Dis lord Sudden. “Le Grange,” sê hy, wens almal ’n veilige reis toe, salueer weer, en marsjeer flink terug na sy eie motor, spring in, skakel die sirene aan, en teen ’n geweldige spoed beweeg die optog onder sy begeleiding voort.
Le Grange vind dat daar ’n effense versperring op die pad is. Dis ’n Bruinman op ’n fiets met ’n klein wit bondeltjie agter op die draer. Hy swenk sy motor en dwing die fiets van die pad af, en dan keer hy terug na die middelpunt en lei die jaagtog met huilende sirene en flikkerligte in die rigting van Magersfontein en Modderrivier.
Gert Garries skop met sy een voet teen ’n grondwal en kyk die stoet agterna, en dan kyk hy na sy pas gestorwe baba op die bagasierak van sy fiets. Die bondeltjie is nog in orde en stewig vasgegespe. Hy drink ’n stewige dop wyn terwyl hy na die kruise op die koppie van Magersfontein kyk en binne ’n