Trompie kyk na die drie om hom. Hulle wag dat hy moet sê wat hulle vanmiddag gaan speel. Slim klein Dawie is altyd bereid om enigiets te doen wat Trompie voorstel, Blikkies is alewig op skool in die moeilikheid omdat sy knieë klap wanneer hy opstaan en sy klasmaats hom natuurlik bly aanpor om dit te doen, en die vreeslose Rooie het al die prestasie om op een dag twee keer ’n draai in die hoof se kantoor te maak. Trompie voel ’n gloed van trotsheid. Hulle is sy vriende! Dit is sy manne dié!
Hy maak keel skoon. Dit klink mos altyd indrukwekkend. Hy het gesien sy oom doen dit altyd wanneer hy politieke vergaderings toespreek. Hy staan stadig op: “Manne, ek wil ernstige dinge gesels.”
Ses oë kyk hom aan. Blikkies se kieste beweeg stadiger. Trompie sit sy een arm oor sy bors en steek sy hand by sy hemp in. Dis mos hoe Napoleon in daardie geskiedenisboek staan.
“Wie het verlede week vir arme Dawie uit die dam getrek toe hy amper verdrink het?”
“Jy, Kaptein,” sê Dawie. Sy oë glinster en hy stoot sy bors uit.
“Jy, Kaptein,” sê Blikkies terwyl hy die grashalmpie behendig van die een kies na die ander verskuif.
Trompie kyk na Rooie. Blikkies en Dawie kyk ook na hom.
“En wat sê jy, Rooie?” vra Trompie en lig hom op sy tone sodat hy effens langer lyk.
“Jy, Kaptein, maar ek het darem ook gehelp.”
“Ja, maar wie’t eerste ingespring?”
“Jy, Kaptein.”
Trompie wil nog oor baie dinge gesels, maar hy word moeg om so ongemaklik op sy tone te staan en sy arm heeltyd op sy bors te hou. Hy gaan weer sit.
“Ek wil julle ’n reguit vraag vra en ek soek ’n reguit antwoord. Is ek julle Kaptein of nie?”
“Jy is!”
“Jy is!”
“Jy is, seker maar.”
Trompie vervies hom vir Rooie en dink vinnig hoe om hom op sy plek te sit, maar Dawie kom tussenbeide.
“Weet julle ouens wat?” vra hy in sy skik.
“Wat?” vra almal tegelyk.
“Daar’s ’n bobbejaan in Dominee se tuin!”
As Dawie ’n atoombom tussen hulle gelos het, sou hulle nie meer verbaas gewees het nie.
“’n Bobbejaan?” vra Trompie opgewonde. Hy het nou skoon van Rooie vergeet. Hier kom ’n avontuur. Hy sien al hoe loop hy met ’n bobbejaan op sy skouers soos Tarzan deur die strate. Almal sal hom bewonder.
“Wat … wat maak die ding daar?” stamel Blikkies.
“Hy sit op ’n paal. Ek het my pa hoor sê Dominee het hom gisteraand van die Bosveld af gebring.”
“Is hy mak?” vra Trompie.
“Ek weet nie. Ek het ’n klippie oor die heining na hom gegooi en voor jy kon sê mes, was hy bo-op die paal!”
Die vier seuns kyk na mekaar. Hulle dink dieselfde ding.
“Ons moet hom gaan bekyk,” sê Trompie.
Soos een man staan hulle op. Al geselsende en laggende stap hulle deur die veld dorp toe. Môre is Saterdag en dan is daar nie skool nie. Die lug is blou, die son skyn heerlik en daar is ’n bobbejaan in die dominee se tuin. Hulle slaan sommer vanself oor na ’n drafstap.
2
Die dominee se bobbejaan
Naby die pastorie loop die vier seuns effens stadiger. Dawie lei hulle na die tuin se agterkant toe. Daar is ’n opening in die heining. Die seuns buk en loer deur – en daar sit Kees. Hy spring-spring om die paal en hardloop so ver as wat die ketting waarmee hy aan die paal vas is hom toelaat.
Trompie sê eerste iets. Sy stem klink vasberade: “Hóm moet ons hê, ouens!”
Blikkies is al een wat beswaar maak. “Wat gaan ons met die ding aanvang?”
“Met hom speel.”
“Maar …”
“Ag, Blikkies,” sê Trompie ongeduldig, “niemand sal eens weet ons het die bobbejaan gevat nie. Ons gaan speel met hom in ons fort en dan bring ons hom weer terug.”
Die vier seuns kyk met verlangende oë na die bobbejaan wat al hoe vinniger om die paal hardloop.
“Wie gaan hom vang?” wil Dawie weet.
“Trompie natuurlik,” sê Rooie. “Hy is mos ons Kaptein.”
Trompie sluk. Hy kyk weer deur die opening in die heining na die bobbejaan.
“Byt die ding?” vra hy ’n bietjie bekommerd.
“Dit moet jy maar self uitvind,” sê Rooie.
Trompie voel ongemaklik. So ’n ongedierte kan gevaarlik wees. Hy kyk na sy maats en sien hoe hulle hom aanstaar. Nee, hy sal moet gaan. Hy moet bewys hy is ’n ware Kaptein en hy is nie bang nie. Hy gee ’n sluk en sê: “Hou wag, manne! Fluit as iemand kom.”
Die seuns loer op en af in die straat. Hulle sien niemand nie. Trompie trek sy asem diep in. Hy voel soos Daniël wat in die leeuhok gegooi word. Dan duik hy vinnig deur die opening.
In die tuin loop Trompie stadig, half gebukkend en met sy hande voor hom uitgestrek na die bobbejaan toe. Hy maak paaigeluidjies en sê aanhoudend: “Kom, Kesie … Mooi Kesie … Soet Kesie …”
Die bobbejaan hou Trompie agterdogtig dop. Dan skiet hy soos ’n weerligstraal teen die paal op en sit en beloer die verbaasde seun van bo af.
Trompie kyk om na die opening in die heining. Drie gesigte loer vir hom.
“Ruk hom met die ketting af!” skree Rooie hees.
Trompie gryp die ketting en begin trek. Die bobbejaan klou vir lewe en dood aan die paal en maak onheilspellende geluide. Trompie wil los, maar die gedagte aan sy manskappe wat hom dophou, gee hom nuwe moed en krag. Hy gee ’n pluk … en daar tuimel Kees van die paal af! Hy skarrel sommer ’n rigting in, weg van die seun af. Trompie rem met sy een hand en met die ander een maak hy die ketting los van die paal. Hy trek die skreeuende bobbejaan nader na hom toe.
Die bobbejaan skop nou só ’n onaardige lawaai op dat Trompie so vinnig moontlik uit die pastorie se tuin wil wegkom. Kees trap vas en klou aan al wat ’n boompie en bossie is, maar Trompie sleep hom heining toe. “Mooi so,” sê die seuns toe hulle Trompie deur die gat help. Almal kry die ketting saam beet en begin trek … en uiteindelik kom Kees deur die heining.
Hy hardloop eers verward in die rondte en spring dan skielik op Trompie se skouer! En daar sit hy nou! Die verwilderde bobbejaan klou krampagtig aan die seun se skouer vas. Trompie is asvaal.
“Haal … haal die ding af!” skree hy. Sy maats is te verskrik om iets te doen. Trompie kom sukkelend regop, maar die bobbejaan bly sit. Die seun kyk op in sy ogies. Kees byt nie; hy hou net styf vas. Trompie begin effens beter voel. Hy kyk na die ander.
“Hoe’s daai?” sê hy, al bewe sy stem nog ’n bietjie.
“Hy ken sy pa,” grinnik Rooie.
Die vier vriende begin aanstap. Die bobbejaan sit ewe gemaklik op Trompie se skouer. Die seun word gerus. Hy streel Kees selfs met sy een hand. Trompie stoot sy bors uit en gee Tarzan se oorlogkreet. Almal bulder van die lag. Wag tot hulle by die fort kom, dan gaan hulle