Die situasie is aan Horst Buchner verduidelik en selfs dokter Albert kon nie deur ’n enkele woord of oogknip agterkom hoe hy werklik oor hierdie nuwe verwikkeling voel nie. Toe die voorstel aan hom gedoen is dat hy en Julene gesamentlik aan die hoof van die kliniek sal staan, het hy hom sonder meer daarby neergelê. Tog het hy, en sy kleindogter, dikwels gewonder wat Horst Buchner regtig in sy hart voel.
Hy is nou byna by haar en die glimlaggie is nog steeds om sy lippe. Julene se oë vernou effens. In die twee jaar wat hulle nou al so intiem saamwerk, het Horst steeds ’n onbekende faktor vir haar gebly. As medikus het sy hom goed leer ken. Sy briljantheid in die operasieteater, sy besondere vermoë vir die regte diagnose, sy bekwaamheid oor die algemeen, het sy leer ken en waardeer. Maar as mens . . . Sy weet die kliniek is onder die indruk dat daar ’n verhouding tussen hulle bestaan, ’n indruk wat sy subtiel aanpor, hoewel sy weet dat sy selfs met behulp van verbeeldingsvlugte en wensdenkery dit nie naastenby ’n verhouding kan noem nie. Weliswaar is sy nie bewus van ’n ánder meisie in Horst Buchner se lewe nie, maar sy moet in alle eerlikheid teenoor haarself erken dat sy haar ook nie so kan noem nie. Horst Buchner stel blykbaar nie belang in ’n huwelik nie. Sy hele bestaan draai skynbaar om die kliniek en sy werk hier. Selfs die kere dat hulle saam uit was, het die gesprekke oor mediese sake gegaan. Hoe sy hom ook al in ’n hoek probeer keer het om iets meer as net professionele belangstelling van sy kant te ontlok, hy het so glibberig soos ’n paling gebly.
Ná twee jaar het sy nou die punt bereik dat sy haar vir hom begin vererg. Dit sal tog ideaal wees as daar ’n verbintenis tussen hulle twee kan wees. Sy as Albert Meissner se enigste nasaat, sal tog immers ook sy enigste erfgenaam wees. En dit sê baie. Horst het wel aandele in die kliniek, maar dokter Albert besit vyf-en-sewentig persent daarvan. En sy kleindogter sal dit eendag erf. Dit kan Horst Buchner net loon om met daardie erfgenaam te trou. Ook, weet Julene, is dit die laaste groot begeerte in dokter Albert se hart. Hy het onlangs weer in daardie rigting gepraat, haar daarop gewys dat dit ’n verlies vir die kliniek sal wees as Horst Buchner moet bedank. Hy moet só verbind word tot die kliniek dat daar nie die vaagste moontlikheid bestaan dat hy ooit sal wil weggaan nie.
Dis nie pertinent gestel nie, maar die onderliggende bevel was tog daar: Jy moet sorg dat jy Horst Buchner vastrek.
Maar hoe?
Sy glimlag nou breed toe hy amper in haar vasloop en laat skalks hoor, ’n stemtoon wat die hospitaalpersoneel beslis nooit te hore kry nie: “Ons is baie diep ingedagte en daardie glimlag lyk asof iemand skielik ’n groot geskenk ontvang het.”
Hy skud sy kop en die glimlaggie verdiep. “Ek sal dit nie ’n geskenk noem nie, maar . . .”
“Maar wat?”
“E . . . nee, niks.”
Sy probeer die glimlag behou maar ’n ligte fronsie keep tussen haar wenkbroue. Daar klap hy weer toe! “Gaan ons netnou ’n bietjie tennis speel?”
“Nee. Ek kan nie. Ek het ’n ander afspraak.”
“O?” Sy wag dat hy moet verduidelik, maar hy is blykbaar nie van plan nie. Haar frons word dieper. “Hoekom kom eet jy nie vanaand by ons nie? Jy weet Oupa sien jou altyd graag.”
“Dankie, Julene, maar nie vanaand nie. Sê groete vir hom. Hou hy hom nog rustig?”
Die ergernis in haar wil oorkook. Hy kan ten minste sê hoekom hy haar uitnodiging nie kan aanvaar nie! “Ja, soort van. Jy ken hom mos. Hy is op die oomblik besig om al wat nuwe hospitaalapparaat is, te bestudeer. Daar is glo ’n nuwigheid by ’n longmasjien wat hom baie interesseer.”
“Goed vir hom en goed vir die kliniek. Die nalees hou hom ten minste stil en as die kliniek later as gevolg daarvan gaan baat, nog beter.” Hy soek uitkoms by die elektriese horlosie teen die muur. “Wel, ek dink dis voorlopig al. Ek hoop ons het ’n rustige nag. Dit het verlede nag ’n bietjie dol gegaan. Ek is van plan om vanaand vroeg te gaan inkruip. Tot siens, Julene.”
Hy stap weg en sy kyk hom agterna. As hy dan van plan is om vroeg te gaan slaap, het hy ten minste nie ’n afspraak met ’n ander vrou nie. Dit troos darem. Sy draai om en stap in die teenoorgestelde rigting om vir haar ’n tennismaat te gaan soek. Horst swenk weg in ’n rigting wat heeltemal weglei van die woonstelkwartiere vir ongetroude dokters. Enkele oomblikke later stap hy die restaurant binne om sy afspraak met ’n sekere sproetgesig parmant na te kom.
4
“En hoe het dit toe gegaan?” wil Marlene van haar dogter weet toe sy haar verskyning met haar trollie maak.
“Ma moet nog vra! My kop was ’n paar keer amper afgebyt.” Sy vertel wat gebeur het.
“Maar jy moet jou hande van die pasiënte afhou, Elke! Netnou kom hulle iets oor en dan sê . . .”
“Ma! Asseblief! Ek weet wat ek doen. Ek is ’n dokter, onthou?”
Haar ma glimlag en skud haar kop. “Ja, my kind, maar as ek so na jou kyk, vind selfs ek dit moeilik om dit te onthou. Ek sou ook dink jy moet liewer van die pasiënte af wegbly.”
Elke kyk haar ma ontstoke aan. “Ma is net so erg soos daardie kamtige Julene!” Sy stoot haar trollie vererg na waar Peet Louw staan. “Hallo, oom Peet! Ek het darem sake gedoen. Nou nie veel nie. Laat ek sien . . . Drie waslappe, twee tandeborsels, een vir gewone tande en een vir valstande en . . .” Sy tel haar lysie af en Marlene skud weer haar kop. Dat haar geleerde kind teen die end van die dag van tandeborsels en waslappe verslag moet doen!
Sy spits haar ore toe Elke se stem ongeërg opklink: “O ja, oom Peet. Geen pyptabak op die trollie nie. Die arme ooms mag nie pyp rook nie. ’n Sonde, nè?”
Natuurlik stem hy saam. “Dis meer as sonde, kind. Dis mishandeling.”
“Ek voel ook so. Hulle kan ’n plan maak, ’n pyprookkamer of so iets inrig waar oom Pieta in vrede sy pypie kan gaan sit en rook.”
“Nie ’n slegte idee nie. ’n Mens kan daaraan dink,” sê ’n stem skielik agter haar en sy swaai om, kyk teen sy klein glimlaggie vas.
Peet groet die dokter vriendelik en wil weet: “Het my nuwe trolliejoggie haar darem goed van haar taak gekwyt, dokter?”
Sy antwoord is ernstig: “Baie goed, dankie, Peet. Sy is baie . . . behulpsaam. Oorgretig is eintlik die woord.”
Hy kyk na die vrou aan Elke se sy en Elke is verplig om haar ma voor te stel, en sy is nou dankbaar dat haar ma met Joachim du Plessis getroud was. “Dis my ma, mevrou Du Plessis.”
Hy frons liggies ná die bekendstelling. “Is u ook verbonde aan die kliniek?”
Marlene glimlag. “Soort van. Ek werk hier.”
“O? In watter afdeling? Ek kan nie sê dat ek u al voorheen hier gesien het nie.”
“Nee. Ek help hier in die restaurant vir Peet met die boekhouding.”
Elke kyk verbaas na haar ma, maar dié glimlag net terug.
“O, ek sien. Kan ek ’n koppie koffie kry, asseblief? En sal jy dit asseblief vir my bring, Elke?”
Elke is verplig om te gehoorsaam, maar sy laat sommer dadelik hoor toe sy die koffie voor hom neersit. “Ek is nie lus vir ’n gepreek nie. Ek het vandag genoeg daarvan gehad.”
Dis omdat sy bang is dat hy dalk vrae kan stel waarop sy moeilik sal kan antwoord, dat sy besluit om ’n parmantige houding in te neem. Die feit dat die hoof van die Meissner-kliniek nie op só ’n trant aangespreek word nie, laat haar koud. Hy was nogal gaaf op sy manier en sy sal nie graag openlik vir hom wil jok nie. Daarom is haar enigste verweer parmantigheid.
Die vriendelikheid het uit sy oë verdwyn. “Kinders word deesdae alles op skool geleer behalwe goeie maniere. Wanneer gaan jy terug?”
“Terug waarnatoe?”
“Skool toe. Wanneer begin die skole weer?”
“Ek . . .” Sy kyk hulpsoekend na haar ma, sê dan bot: “Ek gaan