Wanneer die nuwe dag breek. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624057185
Скачать книгу
te skep en hy kon die haat en veragting daarin lees. So iets het hy nog nooit voorheen beleef nie. Die ander het gesmeek en gehuil, maar nog nooit het hy hierdie houding teëgekom nie. Toe het hy ook kwaad geword. Watter reg het hierdie vrou om te maak asof hulle reeds verloof of op trou staan? Daar was nou wel ’n verhouding, maar wat tussen hulle gebeur het, gebeur tussen honderde ander paartjies sonder dat dit noodwendig tot huweliksklokkies lei. Sy oë was so hard soos staal toe hy haar sarkasties vra: “En wat wil jy nogal maak as jy weet waar ek is en wat ek doen?”

      Die haat het swanger in haar stem gelê toe sy hom sissend antwoord: “Wat wil ek doen? Wat kán ek doen, moet jy liewer vra. Eendag,” haar oë was nougetrek, “eendag, Renier Neethling, gaan jy ook iemand werklik liefkry, só lief dat dit jou diep binne-in seermaak en pynig. Ek sal wag vir daardie dag. Ek gaan léwe vir daardie dag! En dan sal ek dit my heerlike plig ag om dié vrou te vertel watter soort mens jy is, watter wonderlike verlede jy het! Ek lê vandag ’n eed af om haar te waarsku teen jou en ek sal haar nie net met woorde vertel nie, maar ook met voorbeelde en duidelike, onomstootlike bewyse!”

      Hy kon net woordeloos na haar kyk en meteens het daardie welbekende strofe van Shakespeare in sy gedagtes gekom: Hell hath no fury like a woman scorned! Vaag, baie vaag, het hy vrees in sy hart voel roer, maar met ’n ongeërgde optrek van sy skouers het hy dit van hom afgewerp en sonder ’n verdere woord of blik ná haar die vertrek verlaat.

      Die jare het gekom en gegaan en Retha Cilliers en die eed wat sy afgelê het, het soos ’n versluierde herinnering in sy verlede gelê, tot ’n maand voor sy troue. Hy was op Graslaagte, een van die naburige dorpe, vir ’n hofsaak toe hy by die hotelingang byna teen Retha vasloop. Hulle het mekaar ’n oomblik in stilte aangekyk – hy, verbaas en verslae; sy, smalend en sarkasties. Toe het sy haar wenkbroue opgetrek en op ’n beledigende toon gesê: “O! Die geëerde prokureur Renier Gustav Neethling van Buffelslaagte! Wat ’n ... sal ek dit maar noem, áángename verrassing!”

      Vir seker die eerste keer in sy lewe het die begaafde prokureur na woorde gesoek. Retha het sy ongemak gesien en na haar beeldskone gesig te oordeel, het sy dit terdeë geniet. Eindelik het Renier hom reggeruk en byna bars gesê: “Wat maak jy hier?”

      Gemaak verbaas het sy hom uitgekoggel. “My liewe meneer Neethling! Wat máák ek hier? Ek bly hier! Ek het so pas teruggekeer van oorsee en gee nou kuns by die plaaslike hoërskool. Enige besware?”

      Toe hy nie antwoord nie, het sy met ’n betekenisvolle blik vervolg: “En hoe gaan dit met jou en Theuns Beukes op Buffelslaagte?”

      Die frons tussen sy oë het verdiep.

      “Wat weet jy van Theuns Beukes af? Ken jy hom dan?”

      Haar laggie het soos ’n waarskuwende straal tussen hulle gehang.

      “My liewe meneer Neethling, onthou jy dan nie meer nie? Is agt jaar dan so ’n lang tyd? Onthou jy nie meer die eed wat ek geneem het nie?”

      Sy donker oë het skerp in haar spottendes gekyk. Soos agt jaar gelede, het hy meteens weer die onverklaarbare gevoel van vrees in sy binneste voel roer, nou net duideliker as voorheen. Soos warm kole het haar volgende woorde op sy ore geval.

      “Ek weet álles van jou af. Ek weet dat jy al sewe jaar op Buffelslaagte praktiseer. Hoewel ek hom nog nie ontmoet het nie, weet ek dat Theuns Beukes jou vennoot is, en as jy wil, sal ek hom vir jou haarfyn beskryf. Ek weet dat jy verloof is aan Elfie Rousseau wat by julle in die kantoor werk, ’n weeskind soos ek verstaan. Sy het lang, donker krulhare en groen oë, en haar mees uitstaande kenmerk is haar gebreklike, gespitste ore. Ek weet ...” Sy het haar woordevloed onderbreek en hom openlik uitgelag. “Hoekom so bleek, Renier? Voel jy nie gesond nie, of hou jy nie daarvan dat ek jou verloofde se ore as gebreklik beskryf nie?”

      “Hoe durf jy!” het hy deur saamgeperste lippe gesis.

      “Hoe durf ek?” Die koue haat het nou openlik in haar oë gelê. “Wat het jy nie in die verlede gedurf doen nie? Hoe durf ék dan nie ook nie?”

      “As jy dan so alles weet, weet jy seker ook dat ek oor ’n maand gaan trou.”

      “Ja, dit weet ek ook. Maar ná deeglike oorweging het ek besluit om nog ’n rukkie te wag – net ’n klein rukkie!” Sy het weer sag gelag en vir Renier het dit geklink na die lag van die duiwel. “’n Maand is nie te lank om te wag nie, veral as jy in gedagte hou dat ek al agt jaar wag.”

      ’n Blinde woede het van hom besit geneem en met moeite het hy hom bedwing om nie sy hande om haar sagte, wit keel te span nie.

      “Jou heks! Jou valse, verraderlike heks!”

      “Jy noem mý vals! Jý van alle mense! Ek kan jou nog meer informasie gee indien jy belangstel. As ek jy was, sou ek my geliefde verloofde en boesemvriend ’n bietjie dophou. Dis geen geheim dat Theuns Beukes op Elfie verlief is nie, en het dit jou nie ook al opgeval dat Elfie net ’n bietjie té susterlik teenoor jou vennoot optree nie?”

      Renier kreun asof hy in fisieke pyn verkeer en spring uit die stoel uit op. Rusteloos dwaal hy deur die vertrek. In watter hel het hy nie van daardie dag af gelewe nie! Hy was al weer ’n paar keer ná daardie voorval op Graslaagte, maar hy het Retha Cilliers nie met ’n oog gewaar nie. Tog was sy gedagtes gedurig met haar besig. Selfs hier op Buffelslaagte was hy altyd van haar haatgevulde teenwoordigheid bewus. Soms het hy op die punt gestaan om Elfie alles te vertel, maar wanneer hy haar in sy arms neem, in haar oë kyk en die algehele vertroue en liefde daarin lees, het sy moed hom begewe. Dan het hy Retha Cilliers en haar haat ’n oomblik lank vergeet en was hy net bewus van die vrou in sy arms. Sy liefde vir hierdie dierbare mensie het soos ’n heerlike pyn in sy hart kom lê, en dan onthou hy weer Retha se woorde van jare gelede: “Eendag gaan jy ook iemand werklik liefkry, só lief dat dit jou diep binne-in seermaak en pynig!”

      As Elfie tog maar net nie so kinderlik onskuldig oor verhoudings tussen die twee geslagte was nie! ’n Soen is nie maar net ’n soen vir haar nie. Vir haar is dit iets heiligs. Wanneer hulle lippe saamsmelt, kan hy altyd die aanbidding in haar aanvoel. En soms, wanneer hy haar baie teer en innig soen, het hy al gesien dat haar wange nat is. Sal sy ooit kan verstaan dat daardie honderde soene en omhelsings tussen hom en ander meisies in die verlede net die fisieke, die dierlike deel van hom was? En nadat Retha haar storie vertel het, sal sy hom dan nog met daardie blinde vertroue aankyk? Wanneer hy in sy vrou se oë kyk en hy die volste vertroue naak in die groen dieptes sien lê, voel hy soms hoe die vrees in hom opstu. Geen mens mag soveel vertroue in ’n ander mens stel nie! Watter verskriklike verantwoordelikheid dra daardie een wat die vertroue ontvang nie! God weet dat hy Elfie liefhet – só lief soos hy nie gedink het een mens vir ’n ander kán wees nie, en hy sal sy lewe gee om haar gelukkig te maak.

      Hy en Elfie is nou al ’n hele rukkie getroud, maar Retha het nog nie begin om haar dreigemente uit te voer nie. Het sy doelbewus gewag tot hulle getroud is? Op watter manier gaan sy haar eed uitvoer?

      “Hier is jou koffie, Renier,” sê Elfie agter hom.

      Hy neem die koppie by haar en sit dit dan op die tafel neer.

      Dan plaas hy sy hande op haar skouers en kyk diep in haar oë. Sy gelaat is strak toe hy sê: “Kleinding, ons weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar wát ook al gebeur, onthou net altyd dat ek jou liefhet. Eeue gelede, vandag, en in die lewe hierna, sal dit net altyd jy vir my wees. Daar is net een vrou vir my en dit is jy, my liefling. Daar is niks in die verlede wat vir my van betekenis is nie, want jy was nie daar om dit met my te deel en waardevol te maak nie. Ek het jou lief, my vroutjie, baie, baie lief. Sal jy dit altyd onthou, Elfie?”

      Sy lê haar bewende lippe ’n oomblik lank eerbiedig teen sy nek. Dan kyk sy met nat wimpers op.

      “Ek sal dit altyd onthou, my man. Ek voel net soms dat ek hierdie groot liefde van jou nie waardig is nie.”

      “Nee!”

      Hy kryt die enkele woord uit. Dan verberg hy sy gesig in haar krulle en fluister bewoë: “Dit moet jy nooit weer sê nie. Dit is ék, my liefling, wat dit moet sê.”

      Конец