Wanneer die nuwe dag breek. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624057185
Скачать книгу
Sonder ’n woord het sy die kantoor vinnig verlaat.

      Theuns het die papiere tussen sy vingers gevoel, maar sy blik het onafgebroke op sy vriend se gesig gebly. Renier het nog steeds met ’n strak gelaat gestaar na die deur waardeur Elfie so pas verdwyn het. Toe het hy met ’n stemklank onbekend aan Theuns geprewel: “Elfie!” Theuns het agter die lessenaar neergesak.

      Soos die student jare gelede voorspel het, het Renier Neethling hierdie keer werklik verlief geraak. Aan die begin wou Theuns dit nie glo nie. Dit sal weer oorwaai, soos al sy vorige verhoudings sommer net op ’n dag soos mis voor die son verdwyn het. Hy het besef dit sal nodeloos wees om Elfie te waarsku. Sy was van die eerste aanblik af totaal betower, en niks wat hy kon sê, sou ingang vind nie, het hy geweet. Hy sal maar wag tot Renier weer tot sy sinne kom, en dan sal hy, Theuns, die stukke agterna gaan optel.

      Maar dit gebeur nie. Dit was Renier wat tot sy kollega en vriend se ontsteltenis van trou begin praat het. Hy kon nie langer stilbly nie.

      “Renier, Elfie is nog eintlik ’n onervare kind. Sy weet van die lewe niks af nie. Sy het baie beskermend in die kinderhuis grootgeword. Sy is heeltemal anders as die meisies wat jy in die verlede ...”

      Renier het hom nie uitgelag soos wat hy eintlik verwag het nie. Hy het Theuns amper kortaf in die rede geval: “Ek weet sy is anders. Sy is nie net anders nie, sy is uniek. Ek gaan met haar trou, Theuns, sommer binnekort.”

      En dis wat gebeur het – twee maande later. Dit was vanselfsprekend dat hulle Theuns gevra het om die bruid in te bring, en toe hy haar voor die kansel aan Renier oorhandig, het hy van sy eie drome afstand gedoen. End van storie.

      Maar Theuns, ervare prokureur, moes onthou het dat daar baie stories meestal ná die huweliksdag volg. Eintlik was dit maar die begin van die storie.

      Hoofstuk 3

      3

      “Ek sal darem nou moet gaan. Dankie vir die koffie. Jy sê jy weet nie hoe laat Renier terug sal wees nie?”

      “Nee, Theuns, hy het net gesê hy gaan uit na oom Klaas toe, maar hy weet nie hoe laat hy sal klaarkry nie. Is daar nie ’n boodskap nie?”

      “Nee, dankie, Elfie. Ek wou hom graag persoonlik gespreek het oor môre se hofsaak.” Theuns draai sy kop skuins en luister aandagtig. “Dit klink my hier kom nou ’n motor.”

      Hulle hoor die harde klap van ’n deur en dan haastige voetstappe.

      “Dit ís Renier!” roep Elfie bly uit en die volgende oomblik is sy in haar man se arms. Renier laat sy tas net so los en omhels sy vrou teer. Hartstogtelik soen hy haar op die mond en fluister in haar oor.

      “Hallo, my meisie. Ek het so verlang na jou. Het jy ook ’n bietjie verlang?” vra hy met sy lippe roerend in haar hare.

      “’n Bietjie verlang? Bietjie baie, ja!” Elfie nestel haar kop stywer teen sy skouer aan.

      “Kleinding!” fluister hy sag en byt haar speels aan die een gespitste oortjie.

      Meteens onthou Elfie dat hulle nie alleen is nie. ’n Diep blos kleur haar wange terwyl sy verskonend na Theuns kyk.

      “Ons is nie alleen nie, my skat. Theuns is ook hier.”

      “Theuns?”

      Theuns hoor die teleurgestelde klank in sy vriend se stem en voel meteens bitter ongemaklik en in die pad. ’n Ligte blos kleur sy gesig toe hy Renier se blik op hom voel. Hy kyk nietemin sy vriend reguit aan en voel hoe ’n skok deur sy liggaam gaan. Die twee mans bestudeer mekaar ’n oomblik lank en Theuns weet meteens dat Renier weet van sy gevoel vir Elfie. Skielik verstaan hy ook die vreemde lig in sy vriend se oë wat hy al ’n paar maal in die afgelope maande gewaar het wanneer Renier hom alleen by Elfie aangetref het. Dis jaloesie! Renier is jaloers op sy ou vriend! Theuns se gedagtes is verward. Liewe hemel, hy kan tog nie help dat hy lief geword het vir Elfie nie, en Renier hoef nooit bang te wees dat hy enigsins sal probeer om Elfie af te rokkel nie. Gaan Elfie die oorsaak wees dat die jare lange vriendskap tussen hulle twee verbreek word? Nog nooit voorheen het hy Renier jaloers gesien nie. Wel, hy gaan nie toelaat dat hierdie kinderagtigheid hulle mooi vriendskap verongeluk nie. Hy gooi sy breë skouers agteroor en kyk Renier uitdagend aan.

      “Ek wou jou spreek oor daardie hofsaak van môre, maar ons kan maar môreoggend voor die hof begin daaroor praat. Dis nie baie belangrik nie.” Hy kyk op sy polshorlosie. “Ek sal moet gaan. Die hotelmense eet seker al.”

      “Ag nee, Theuns! Jy kan sommer saam met ons eet,” keer Elfie toe sy sien dat hy aanstaltes maak om te gaan.

      Theuns kyk na Renier en wat hy daar sien, laat hom haastig sy aktetas optel. Renier staan met ’n frons na Elfie en kyk, asof hy glad nie ingenome is met haar voorstel nie.

      “Liewer nie vanaand nie, dankie. Ek het nog die een en ander om te doen,” groet hy haastig en verlaat die vertrek.

      Renier knik afgetrokke met sy kop en Theuns is nog skaars by die deur uit of hy trek Elfie weer nader.

      “En nou?” vra sy effens verbaas toe sy haar man se smeulende oë en die diep frons tussen sy donker wenkbroue opmerk.

      Sonder om haar te antwoord, kyk hy lank in die kinderlik onskuldige oë van sy vrou en verkleur dan liggies. Hy soen haar nog een maal teer op haar hare en draai dan om.

      “Ek is net ’n bietjie moeg, meisie. ’n Koppie koffie sal lekker smaak.”

      “My arme ou man!” Sy streel oor sy hare. “Ek sal gou gaan haal.”

      Hy sak moeg in een van die gerieflike gemakstoele neer en sluit sy oë. Die frons verdiep. Daardie blinde jaloesie wat hy netnou ondervind het, kom weer by hom op. Herhaalde male het hy al tuisgekom om vir Theuns en Elfie gesellig saam te vind. Wat kom soek Theuns hier wanneer Elfie alleen tuis is?

      ’n Gevoel van skaamte neem van hom besit. Hoe kan hy Elfie en sy boesemvriend verdink? Dit is gemeen, laag – maar tog kan hy homself nie help nie. Die afgelope tyd, eintlik vandat hy Elfie ontmoet het, verstaan hy homself nie meer nie. In die verlede was die emosie genaamd jaloesie aan hom onbekend. Nog nooit was hy jaloers op ’n meisie wat hy uitgeneem het nie; hoekom dan nou op sy vrou? In die verlede was dit altyd die meisies se jaloesie wat sy verhoudings met hulle laat skipbreuk ly het. Hy het dit altyd beskou as ’n swak plek in hul karakter. Maar nou openbaar hy self daardie swakheid! Hy weet dat Theuns vir Elfie liefhet. Hy lees dit in sy vriend se oë, elke keer wanneer hy na haar kyk. En Elfie? Haar vonkelende oë wanneer sy Theuns goedig terg – is dit net blote vriendskap, of skuil daar dalk iets diepers agter? Of is dit maar net Retha Cilliers se woorde wat die laaste tyd so herhaaldelik by hom opkom en hom so op loop jaag?

      Hy sien haar nog so duidelik voor hom daardie dag toe hy hulle verhouding verbreek het. Sy was ’n mooi meisie. Haar blonde hare was in die jongste haarstyl gesny, en noudat hy terugdink, besef hy dat haar duur aandrok, wat haar soepel, slanke liggaam omvou het, net ’n bietjie té laag van voor en té kaal van agter was. Sy het soos ’n prentjie uit ’n storieboek gelyk, en tog was haar gesig op daardie oomblik lelik vertrek van woede.

      “Só, Renier Neethling,” het sy woedend uitgeroep, “ons verhouding is op ’n end! Noudat jy weet dat ek jou met my hele hart en siel en liggaam liefhet, nóú het jy moeg geraak vir my! Nou maak jy met my soos jy met Elise en Ria en Louise en Charlotte en Lizette en vele ander gemaak het, en jy dink jy sal daarmee wegkom? Hoeveel harte het jy al gebreek, Renier? Kan jy my dit sê? Hoeveel meisies het jy al op jou verlief gemaak en hulle dan soos ou, vuil lappe van jou af weggesmyt? Kan jy nog byhou om almal te tel? Jy sal my nie kan antwoord nie, want daar is te veel! Jy kan hulle nie eens meer almal onthou nie! Maar hierdie keer het jy jou vasgeloop, my vriend. Hierdie keer het jy daardie gemene speletjie één maal te veel gespeel, Don Juan! Ek kan jou nie dwing om met ons verhouding voort te gaan of om met my te trou nie, en nou besef ek eers dat jy die laaste man is met wie ek dit sou waag om te trou. Jou arme vrou sal jou eendag moet deel met die hemel weet hoeveel ander. Sy sal maar net één van jou harem wees. Jy kan gaan, Renier, maar dít sê ek jou: Ek sal jou nooit vergeet nie en nog minder vergewe vir wat jy vandag aan my gedoen het. Ek sal jou altyd