Sy kyk hom openlik ontevrede aan. “Ek sien. Ek is nou die een wat al die kastaiings uit die vuur moet gaan krap, nè? Toe ek gesê het moenie so oorhaastig wees nie ...”
“Ja, ons weet, Isolde,” keer Martina vinnig. “Ons was seker ’n bietjie te haastig, maar gedane sake het geen keer nie. Ons is nou klaar getroud en Kobus gaan onterf word as hy nie sy aanstaande deur sy broer goedgekeur kry nie en sy ma sal ’n hartaanval kry as sy moet hoor hy is al getroud. Asseblief, sus.”
Isolde se nugter verstand vertel haar dat sy reeds meer as halfpad vasgetrek is, maar sy gooi nog desperaat wal. Sy wend haar tot Kobus. By dié sal sy nog haar man kan staan, maar as Martina só pleit, val dit haar swaar om nee te sê. “Is dit werklik so lewensnoodsaaklik dat jy eers Argentinië toe moet piekel agter ’n paar beeste aan, Kobus? Die wêreld is seker redelik vol van die goed? Jy kan mos eers vir Martina gaan voorstel aan jou mense en daarna, as daardie bankrot miljoenêr in Argentinië dan sy beeste al verkoop het, ’n ander transaksie beding.”
Kobus skud sy kop beslis. “Nee, Isolde. Die bankrot miljoenêr in Argentinië se Brahmane is stamboekgoed. Ek verneem hy was dié teler van Brahmane in die land. Dis die kans van ’n leeftyd hierdie, en ek durf dit nie deur my vingers laat glip nie.” Sy gesig is nou ernstig. “Jy sien, my pa was ’n puik boer en Zak is nog beter. Daar het nie veel vir my oorgebly om te doen nie. Nou het ek die kans om ook iets aan te pak.
“Ek wil nie net op my pa en my broer se louere gaan sit en rus nie. Met my idee om met Brahmane in ons geweste te boer, kry ek nou die kans, nie net om myself te bewys nie, maar ook miskien ’n nuwe potensiaal vir die streek te bied en ’n deurbraak in ’n heel nuwe rigting te maak. Vleis het een van ons hoofvoedseltekorte geword. Ons land produseer nie genoeg beesvleis nie. Die Brahmaan is ’n vleisras, en ek wil bewys dat daardie ras in ons wêreld kan aard en heeltemal winsgewend vir die boer kan wees wat hom nog net altyd op skaapboerdery toegespits het. Maar dan moet ek begin met die beste wat ek kan kry. En nou kán ek die beste kry.”
Dit word stil in die woonstel se sitkamer. Daar is niks meer om by te voeg nie. Twee paar oë bly haar pleitend aankyk, en Isolde spring weer op. “Dis ... te vergesog. Dit gaan nie werk nie. Daardie broer van jou sal niks daarvan dink om my in die tronk te laat gooi as hy alles uitvind nie. Ek sal ook nooit die moed hê om hulle later die waarheid te vertel nie.”
“Goed dan. Jy hou die fort daar tot ons terugkeer. Dan sal ek self vir Ma en Zak alles kom vertel,” antwoord Kobus vinnig.
“Kobus sê dit sal uiters drie tot vier weke wees wat hy nodig het, sus. En jou verlof begin mos oor ’n paar dae. Jy sal kan gaan.”
“Dankie, maar ek sal liewer self besluit waar ek my welverdiende jaarlikse verlof wil deurbring.” Isolde sug. Dis hopeloos. Sy is vas. Sy sien Kobus se standpunt in en sy besef dat dit seker vir hom een kans uit ’n duisend is hierdie. Alles sou anders kon verloop het as daardie Zak-buffel net ’n bietjie redelikheid in hom gehad het en hy ’n man was met wie ’n mens kon praat. Maar dit is hy beslis nie, soos sy uit eie ervaring reeds weet, en hy sien blykbaar geen ander mens as net Zacharias Coetzenbergh se standpunt in nie.
Sy frons hewig. Dan is dit sy eie skuld as mense hom bedrieg. Hy is die oorsaak dat mense skelm raak. En niemand wil werklik die ou dame bedrieg nie, maar ter wille van haar gesondheid moet hulle eers die waarheid so ’n effense kinkel gee tot dit veilig genoeg is om haar die volle waarheid te vertel.
Maar om daar na die gramadoelas te gaan en haar te gaan voordoen as iemand anders ...
Daar is ’n klop aan die voordeur en Isolde sê vinnig: “Ek vermoed dis Richard. Moet asseblief niks teenoor hom noem nie. Hy hoef nie van hierdie probleem te weet nie. Dit gaan hom nie aan nie.”
“Dan ... dan sal jy, sus?” vra Martina vinnig en Isolde knik verwytend.
“Ek het nie juis ’n keuse nie, het ek? Ons praat later weer.”
Toe Isolde later die aand na haar kamer gaan, ervaar sy vir die eerste keer in baie jare weer die begeerte om haar ’n slag goed uit te huil. Dis of haar lewe meteens net uit probleme en vraagtekens bestaan. Eers was dit die besef van haar oujongnooiskap wat die rustigheid kom verstoor het, toe die omwenteling wat in haar lewe teweeggebring is deur Martina se skielike troue en nou nog die bekommernis oor haar sussie se toekomstige geluk. Dis of die verantwoordelikheid meteens te swaar is, want soos menige ouer ook al moes uitvind, hou die verantwoordelikheid teenoor jou kind nie op die dag as sy of hy gaan trou nie. Baie keer begin jy dán eers ervaar wat werklike kommer is. Martina was nog altyd meer ’n dogter as ’n suster vir haar, en ook sy moet nou tot die besef kom dat haar verantwoordelikheid jeens hierdie geliefde sussie van haar nie opgehou het toe sy die dag met Kobus Coetzenbergh getrou het nie. Inteendeel, dink sy wrang, dit wil voorkom asof sy net nog meer verantwoordelikheid bygekry het. Kobus het nou ook bygekom oor wie sy haar moet bekommer.
Daarom dat Richard vanaand groter vordering as in baie jare met haar gemaak het, dink sy. Hy het haar vanaand op ’n sielkundige laagtepunt betrap en was gou om dit te benut en sy huweliksaanbod te herhaal.
En vanaand het sy hom nie weer sonder hoop weggestuur nie. Sy was baie eerlik met hom. Miskien, het sy gedink, is dit goed dat ek ’n bietjie kan wegkom en tyd kry om my lewe in perspektief te kry.
“Ek wil eers vir ’n rukkie weggaan, Richard. My jaarlikse verlof is op hande. Nee, ek gaan jou nie sê waarheen nie. Ek wil alleen wees. Ek wil tyd hê om te dink. Ek besef dat ek in ’n groef verval het. Wanneer ek terugkom, sal ek jou ’n finale antwoord gee.”
Hy moes hom weer daarby neerlê en het sy skouers filosofies opgetrek. “Goed, soos jy verkies. Jy stuur my darem nie summier weg nie. Daar is dus ’n bietjie hoop, nie waar nie?”
Sy het skuldig gelyk. “Ek weet ek tree miskien nie mooi teenoor jou op nie, Richard, maar ... ek het jou nog nooit aan ’n lyntjie gehou nie. Jy was nog altyd vry om te kom en te gaan en te trou met wie en wanneer jy wil.”
“Ek weet, maar ek het jou reeds gesê ek wil jóú as vrou hê. Maar die tyd stap aan, Isolde. Ons is nie meer kinders nie. Ek weet jy is ’n baie onafhanklike mens, en ek sal jou nie probeer verander nie. Van jou kant af moet jy ook nie probeer om my te verander nie. Nietemin is daar genoeg tussen ons waarop ons ’n goeie huwelik kan bou.”
Sy het geknik. Dis waar. Afgesien van sekere dinge wat krap, deel hulle ook baie belangstellings. Die manier waarop hy sy werk doen, is egter een ding wat haar baie hinder. Maar hulle is nie meer kinders nie, en sal sekerlik ’n bestendige huwelik kan bou met dit wat oor is.
“Goed, Richard. Wanneer ek terug is van vakansie, sal ek jou my antwoord gee.”
Maar in plaas daarvan dat hierdie besluit haar meer gemoedsrus besorg, is dit ook een van die dinge wat haar die nag laat wakker lê. Sy kan dit nie help nie, maar die gedagte dat sy uiteindelik tog maar met Richard Latsky sal trou, maak haar onrustig. Was dit nie dat Martina se geluk die afgelope dae so opsigtelik was nie, sou sy seker nie so gevoel het nie. Maar as sy aan Martina dink, besef sy dat daar iets in haar sussie se huwelik is wat nooit in hare sal wees nie.
Maar dan betig sy haarself weer. Jy is nie meer ’n snuiter nie, Isolde. Oë soos sterre en geluk wat soos ’n onkeerbare fonteintjie na buite bars, is bedoel vir kinders soos Martina, nie vir oujongnooiens nie. Moenie kinderagtig wees nie! Jy was te vol fiemies met jou mansvriende en nou het nog net Richard Latsky oorgebly. Jy het nie meer ’n keuse nie. Jy moet nou vat wat jy kan kry. Die dae van kies en keur is verby.
Swaarmoedig probeer sy die toekoms inkyk. Veral die nabye toekoms lyk ekstra duister. Martina en Kobus het maklik gepraat, so asof dit wat sy moet gaan doen baie eenvoudig, eintlik kinderspeletjies is. Maar dit gaan glad nie so eenvoudig wees as wat hulle wil voorgee nie.
Isolde was nog altyd ’n eerlike mens. Dit was juis hierdie eienskap wat haar verlowing met Richard laat skipbreuk ly het. Hulle besef nie watter swaar ding hulle van haar vra om mense doelbewus te gaan bedrieg nie, al wil hulle haar wysmaak die doel heilig die middele. Sy sou ook