Op pad terug het ek stilgehou en hulle die rooi plastieksak hoog in ’n boom gewys waar poachers ’n ruk gelede ’n karkas kom merk het.
“Kan jy dit glo? Die bliksems. Dan is dít hoe hulle maak? ’n Mens moet hierdie tipe mense uitroei.”
Hulle het sigaretstompies in die plaaspad ingeskiet.
Die jagter met die opgepofte oë het besluit hy gaan nie weer veld toe nie – hy het klaar geskiet. Eintlik het dit my gepas, want ek het intussen besluit om nie ’n spoorsnyer saam te vat nie. Ek wou die skietbok sommer self uitwys.
’n Mens drink nie saam met jagters nie, het ek oom Ludwig se woorde gehoor, maar ek het die tot brandewyn gevat. “Ons het darem bloed getrek,” het ek in jagterstaal gesê.
Die penkoppie was ’n wins vir die plaas. Groot ram of klein ram, die prys het dieselfde gebly. Wie weet? Ek moes net wakker loop. Miskien was daar vir my ook iets te skep uit die boktransaksie.
Toe sien ek die langtoonspoor die tweede keer. Al met ’n draai van die tent af na die veldstort toe. Eers het ek die water hoor loop, toe sien ek ’n meisie se bene onderdeur die stort se skerm. Ek kon my donnerse oë nie glo nie. Maar tog: smal voete en gladde kuite in die plas water. Dit het my tussen die oë getref. Hoe kon ek so stupid wees? Die veghoender. Dis mos wat die jagter by die bakkie gemompel het. Dan was dít wat hy bedoel het.
Ek kon bleddiewil nie ophou kyk nie. Genuine. Hakke, kuite, enkels, maar heelwat mooier en slanker as die gewone. Dit kon ek darem ook sien. Maar wat sou ek dan eintlik verwag het? Dat ek ’n veerpoot sou sien? Of ’n hak waaruit iets soos ’n spoor sou groei?
“Amper ’n bok se prys vir haar betaal.” Ek het geskrik toe die jagter agter my praat. “Negentien jaar oud. Bargain, as jy dit deur twee deel.”
“Wragtig,” het ek gesê.
“’n Arm man moet ook jag.”
Ek het hom meteens met ander oë bekyk. Miskien sit daar tóg iets agter sy woorde. Iets wat ’n universiteit jou nie kon leer nie. Ek het die tot klaar gedrink. Voor ek in die bakkie klim, het ek weer ’n keer oor my skouer geloer.
“Kaalgat,” het die jagter gesê. “Fully included. Selfs al dra sy net vir jou ’n bier aan mag sy fokkol aanhê.”
Terwyl die slagters die penkop afslag en die vel insout, het ek in die stoepkamer op die enkelbed gesit – Bullet se kamer. Ek het my naslaanboeke uit die pad geskuif. Daar was nog genoeg tyd vir die werkopdrag; ek hoef nie te rush nie, ek sou wel by die skryfwerk uitkom.
Teen die mure het verslete foto’s van halfkaal meisies gehang wat hy uit tydskrifte geskeur het. Oral het ek oorblyfsels van hom gesien: patrone, messe, oorlogsmedaljes. Dit was of ek saans sy sweet in die lakens kon ruik.
Sewe dae lank moes ek die stoepkamer met hom deel die tyd toe ek oom Ludwig se wol kom klas het.
Ek hét die talent, het die instrukteurs my ná die tweeweek-wolkursus verseker. Daar was nog net nie genoeg vagte onder my hande deur nie. Dit was hoekom hulle nie toe al die Springbokkop kon toeken nie. Oom Ludwig was darem tevrede met die verduideliking. Nog maar altyd ’n suinige ou boggher, solank hy tog nou net nie ’n paar sente gemors het nie.
Van lig tot donker moes ek aan die kop van die sorteertafel staan. Soos met die jaarlikse beesslag was oom Ludwig in ’n verkeerde bui. “Aasvoëls,” het hy gebulder op die hulpklassers wat te veel van die vag na sy sin afrandsel.
Aan die kop van die tafel het ek die sample getrek, terwyl die vagte uit die lug op die sorteertafel neergewarrel het – die gooier kaalbolyf en natgesweet. Dit was my kans om ’n indruk te maak. “AF! BS! AFF!” het ek na die lengte en fynheid van die wol geroep. Ek het nommerolie en sweet geruik.
“Is jy seker dis nie dubbel-A nie? Moenie dat hulle die rug so breed uithaal nie. Ek kan nie oral kyk nie – jy moet die afranders kortvat!”
Oom Ludwig se stem het my geïrriteer, maar Dwaalpoort se skaaptroppe was heelwat groter as wat ek geskat het. Die groot boere se veegetalle is mos altyd kamstig geheim. Veral hier in die afgeleë streke waar almal so jaloers op mekaar is. Die een gun die ander mos niks. My rug het gepyn van die regop staan. Ek het aan die koshuis se fiksheidsmaniakke gedink: No pain, no gain. Ek het my rug agteroor gebuig. Dit was die regte manier om nader aan Rentia te kom.
“Die weer steek op, Pa.” Rentia het met ’n skinkbord in haar hande langs die sorteertafel verskyn.
Oom Ludwig het deur die skeersaal na buite gekyk. “Ek sien nie reën nie.”
“Pa, die weer steek op.”
Oom Ludwig het in sy dogter se donker oë gekyk. “Maak tweehonderd skape toe!” Hy was nog effens krapperig oor Rentia se gedagte dat hulle die agterste kamp nou permanent vir Julius-hulle se vee afspan.
Elfuur soggens het sy tee gebring. Vieruur smiddae koffie en gemmerkoekies. Oor die kloof het die weerlig geblits en die skeerders het hul blink skêre neergesit. Mhlophe, het hulle binnensmonds gepraat.
“Wat praat hulle?”
Rentia het weggekyk. “Die wit hartbeeste bo in die kloof . . . Hulle glo hulle trek die weerlig hiernatoe.”
Op die sinkdak het die reënbui begin raas. Oom Ludwig het na Rentia gekyk; hulle het nie gepraat nie. Rentia, wat die neerslagtigheid oor drie geslagte heen van haar grootouma Henriette oorgeërf het.
Dag na dag kon ek Bullet deur die opening tussen die sorteer- en skeersaal sien. Hy het kaalbolyf vooroorgebuk tussen die span skeerders gestaan. Hy het nooit opgekyk nie, nooit gekla nie, nooit gepraat nie. Nie met my, Rentia of oom Ludwig nie. Skaap na skaap het hy gevang.
Nhlamvu, koeël! het die skeerders sy plaasnaam gesing.
Hy het nooit vir ’n lootjie geroep nie, want hy het sy sewedae-pas uit die weermag gebruik om vir sy jaghonde verblyf op die plaas oop te skeer. Sy lang, skraal arms het vag na vag wit oopgevou. Hy het agtertoe gevat vir ’n vars skêr. ’n Oomblik het sy konsentrasie verslap en die skaap se pens het blou onder sy lem oopgelê. Ek het met die sample in die lug bly staan.
“Dit was ’n ongeluk, oom Ludwig,” het hy vir die eerste keer gepraat.
Soos elke aand ná ons klaar geëet het, het Bullet by oom Ludwig in die kamer gesit. Ek en Rentia nooit nie. Ons het by die eetkamertafel bly sit, maar ek kon sien sy luister wat hulle praat.
“Ek sê mos jou jaghonde kan aanbly.” Oom Ludwig se stem het meteens driftiger geword. “Tot die dag dat ek my kop neerlê . . . Rentia!” het oom Ludwig se stem deur die gang gekom, “bring nog water.”
Sy het opgestaan, water getap, die beker ingevat en weer by die tafel kom sit. Ek kon hoor hoe Bullet brandewyn skink.
“Jou honde bly aan,” het oom Ludwig gesê. “Maar jy lê nie soveel as ’n vinger op Rentia nie.”
Dit was of die stilte deur die huis donder. Toe kom Bullet se stem. “Wie het Nag ingebreek?”
“Perde?” het oom Ludwig gevra. “Wie praat nou van perde?”
Sewe dae lank het ek die stoepkamer met hom gedeel. Op die enkelbedmatras kon ek hom hoor rondrol. Partykeer het hy regop gesit. Die vuurhoutjie het geknars en die kersvlam het dof gebrand.
Ek het op my bed omgedraai met my gesig na die muur. Hy het opgestaan en ek kon sy voetstappe langs my bed hoor. Die darts het teen die bord agter die deur begin klap.
Dit was sý kamer.
In die huis kon ek oom Ludwig hoor hoes. Vanuit Rentia se kamer kon ’n mens niks hoor nie. Nie eens haar sagte voetstappe op die plankvloer wanneer sy in die nag opstaan om badkamer toe te gaan nie.
Bullet het op die bed gaan sit en ’n sigaret opgesteek. Ek kon hom hoor rondvroetel. Die bierblikkie het oopgeknars en die reuk van bier en rook het die vertrek vol gehang.