“Is jy nog bang om stout te wees?” het hy gefluister en sy hand oor haar laat gly.
“Nie as jy lief is vir my nie, nie as jy my altyd in jou arms wil hou nie,” het sy geantwoord en styf teen hom aangedruk, sy vel teen hare voel sweet.
Toe was hy ook ernstig. Hy het sy arms om haar gesit en haar stywer vasgedruk.
“Sharise van Harte, ek het jou lief, ek het jou so lief soos my lewe. Ek belowe jou op my woord van eer: Ek gaan met jou trou. Ek wil hê jy moet in die groothuis kom woon en my vrou wees en alles daar regeer. Ons gaan kinders kry en die res van ons lewe saam wees.”
“Ons kan,” het sy onseker geantwoord, want sy het besef daar gaan teenstand wees, al was hy so seker van sy saak.
Sy pa en ma – veral sy ma – is trotse mense met lang stamboeke: suiwer en reguit en vooruitstrewend. Hulle soek nie arm aangetroude familie nie, nie versukkelde mense van die werkersklas nie, beslis nie een van hulle plaaswerkers se dogter nie. Die politiek kon gedraai het, maar baie mense sou lank nog nie hul huisdeure oopgooi nie, wat nog te sê van trou en in die huwelik uitgee!
Sy wou hom graag glo, al het sy op ’n manier geweet sy mooipraatjies sou nie hou nie. Hy was nie sterk genoeg nie. Sy ook nie, anders sou hulle harder probeer het. Nie een van hulle het nie. Toe is hy weg en sy het alleen agtergebly, ’n leeftyd, voel dit vir haar.
Agt jaar.
Agt jaar stoei sy met gedagtes wat ongenooid opduik, dink sy vir maande nie aan hom nie, tot hy haar weke lank elke dag soos ’n gees agtervolg en sy hom nie kan afskud nie. Dis só erg, soms raak sy bang hy het iets oorgekom en het in ’n gees verander – dié dat hy so maklik in haar slaapkamer kan vorm aanneem, of op die bad se rand kom sit, agter haar kom staan wanneer sy in die spieël kyk, of soggens as sy die vensters oopmaak sy stem in die geruis van die rivier laat hoor.
Dié keer kon sy nie anders nie, sy moes Lucy wat in Rosedal se kombuis werk, vra of sy iets weet, sommerso in die verbygaan. Min het sy besef dat sy ’n week tevore ook geskimp het.
“Wat is dit met jou dat jy aanmekaar vis oor Jacques du Plessis?”
“Ek kry nagmerries oor hom en dit pla my.”
“Jy laaik hom nog, nè, Sharise?”
“Hy was my eerste liefde.”
Eerlikheid tot op ’n punt help baie. Lucy het kom sê hulle praat asof hy terugkom. Drie weke gelede het mevrou Du Plessis haar aangesê om sy kamer te lug, en die vrykamer ook, daar kom glo ’n vriendin van hom vooruit.
O, die pyn! Sharise se ergste vrese is toe bewaarheid. Hy hét haar vergeet. Jacques het iemand en sy is alleen, nou so geheel en al alleen. Maar sy sou dit nie glo voor sy dit sien nie.
Snags lê sy stil, sy wag. Sou dit hý wees wat agter haar onder die donskomberse inklim, die bed laat kreun, die matras laat sak, sy hand op haar skouer sit, sy mond teen haar wang? Sy stem sus haar aan die slaap, sy vals beloftes versmelt met die gedruis van die rivier se water.
Sharise van Harte, ek het jou lief, ek het jou so lief soos my lewe. Ek belowe jou op my woord van eer: Ek gaan met jou trou. Ek wil hê jy moet in die groothuis kom woon en my vrou wees en alles daar regeer. Ons gaan kinders kry en die res van ons lewe saam wees.
Sy kan nie onthou wanneer sy aan die slaap geraak het nie. Dis helder dag toe sy wakker skrik en Sokkies langs haar sien regop sit. Hy was al ’n slag deur die katdeurtjie in die kombuis uit buitentoe, want daar sit ’n geel blaar in sy lang hare vas. Sy trek dit uit, lyk soos portjackson.
“En waar was jy? Tog nie weer by Lieflap hier langsaan nie? Was julle rivier toe?”
Prrr, sê die kat en lek sy poot tevrede.
Sharise krap hom agter sy ore. Hy geniet dit, rek sy nek en wikkel sy snorbaarde met ’n salige uitdrukking op sy gesig.
“Ja, jou ou stouterd,” paai sy. “Doen maar jou ding.”
Maar wat gaan aan met haar? Selfs hý het op sy ouderdom van sewe mensjare nog ’n opwindende liefdeslewe, want Lieflap kry kort-kort ’n nuwe werpsel kleintjies wat definitief syne is, te oordeel na hul kleur en rasegte voorkoms. Gelukkig is albei opregte Persiese katte met lang stamboeke en geleerde name en sertifikate om dit te bewys. Die buurvrou gee gevolglik glad nie om dat Sokkies hom daar aanmeld vir gereelde diens nie. Sy maak goeie wins met haar opreggeteelde Persiese katjies, en Sharise kry tien persent daarvan. Daardie geld het sy laas gebruik om die houtvensterrame van Soete Verleiding te herstel.
Die huis is tweehonderd jaar oud en het karakter – te veel. Want sulke karakter kos heelwat aan onderhoud. Haar finansies is en bly ’n ewige bekommernis. Die einde van die een maand is skaars afgehandel, dan kom die volgende een weer nader, en tussenin lyk dit of haar winste al vinniger opgevreet word. Dis nie net die salarisse en die versekering nie – alles wat sy koop en bestel word by die dag duurder, en sy kan nie gedurig haar pryse opskuif nie.
Sharise sug so hard, die kat maak ’n vraende miaau-geluid.
“Hoe laat is dit, Sokkelong?”
Die sonlig wat deur die spleet tussen die gordyne sukkel, lyk vir haar alte helder, en sy kom op een elmboog orent en loer na die horlosie.
Kwart oor tien!
Wat ’n onmenslike skande! Wel, sy het nie die wekker gestel nie. Maar nou sal sy nooit as te nimmer al haar oggendpligte afgehandel kry en nog by haar ouma ook kan kuier nie. Sy sal bel en haar besoek uitstel tot vanmiddag, maar sy móét vandag Rosedal toe. Sy was twee weke laas daar, en haar ouma het gesê sy kan die kleinkoekies kom haal. Sy het hulle vroeg die week gebak, ook brosbeskuit wat baie botter kry en vars verkoop moet word.
Nog ’n rekening, maar vir ouma Maria betaal sy met liefde. Sy kry heerlike vars voorraad in ruil, en die kleinkoekies verkoop goed, veral soos haar ouma dit verpak. Hulle hou kontak, sy en haar ouma. Al kuier Sharise net een keer elke drie weke by haar op Rosedal, sy kuier.
Donald, Sharise se een permanente werknemer, is deesdae baie gretig om namens Soete Verleiding Rosedal toe te gaan. Sharise vermoed Lucy is die trekpleister en sy wil hom nie kwalik neem as hy aanbied om te ry nie, dis nogal ’n hele paar kilometer. En was dit nie vir haar ouma nie, sou sy nooit haar voet daar wou sit nie.
Vandag kan sy nie anders nie, sy het belowe sy kom teetyd. Sy sal bel en sê dis nou vir laatmiddagtee. Haar ouma sal verstaan. Ouma Maria het so ’n positiewe lewensuitkyk – ’n kuiertjie by haar is net wat Sharise nodig het. Miskien is Lucy ook daar en dan kan sy haar pols oor Jacques en die vrou!
2
Maar Lucy is nog by die werk en sy werk glo laat, want Rosedal se mense het vandag die gemeste kalf geslag. Sharise hou haar dom en vra of iemand verjaar. Ouma Maria se oë blink.
“Nee, Jacques kom terug van Frankryk, dis ’n groot okkasie en dis vanaand! Lucy het daai mannetjie wat by jou werk, gevra om te help by die tafel. Wat is sy naam?”
“Donald.”
“Donald. Ek dink die tweetjies is verlief.”
Dis hoekom Lucy haar nie inlig nie – sy en Donald is te besig, dink Sharise.
Gelukkig is ouma Maria vanmiddag baie spraaksaam. Sy antwoord onwetend al die vrae wat Sharise vir Lucy wou vra. Dis einste Lucy wat die inligting aangedra het oor Jacques en sy wêreldberoemde vriendin. Sy kry alles eerstehands en praat baie wanneer sy ouma Maria help kook en bak.
“Dis wat ek gehoor het, my kind. En Lucy sal nie kom liegstories praat nie, nie in my kombuis nie.”
Ouma Maria weet nie van Sharise en Lucy se ooreenkoms nie: dat elke stukkie en brokkie wat sy oor Jacques te wete kom, so gou as moontlik by Sharise moet uitkom. Lucy het gebel en vertel dat hulle hom verwag. Maar vandag!
“Nou