Emma en die geheime gang. Marianna Brandt. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marianna Brandt
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Детские детективы
Год издания: 0
isbn: 9780798156677
Скачать книгу
“As Mevrou jou sonder ’n blik sien, is jy in groot moeilikheid.”

      “In die kamer, nog vol van gisteraand se eetgoed,” sê Emma geïrriteerd. “Niemand het vir my gesê ons moet álles daarin opeet nie.”

      Janine kyk oor haar skouer en dan na Emma en fluister: “Hierdie plek is weird. Waar het jy gehoor ’n koshuismoe­der dwing jou om te eet? Dis mos nie haar probleem nie!”

      “Jy’s reg,” sê Emma, en hoe meer sy daaraan dink, hoe meer maak dit nie sin nie. Gaan alles hier net oor presteer? Al is jy op die ou einde hoe siek van eet?

      “Gaan jy die naweek huis toe?” vra Emma.

      “Ja, kan nie wag nie. My ma sal my nooit dwing om te eet nie. Dankie tog! Ek wil die hele naweek niks van kos hoor nie,” sê Janine.

      “Ek ook nie,” erken Emma.

      Die koshuis is nie te sleg nie, dis net die hele kosding wat haar irriteer. Dit voel asof daar oral oë is wat haar dop­hou. In haar kamer, in die badkamer, toilet, skool, oral. Die oë maak seker sy eet. En as sy dit nie doen nie, rapporteer hulle dit aan mevrou Snopke.

      Die volgende aand neem Emma ’n groot plastieksak in haar skouersak saam eetsaal toe. Terwyl almal aan haar tafel met honger oë staar na die kelnerinne wat kos indra, haal sy die sak uit en vou dit op haar skoot oop.

      Toe die kos op die tafels neergesit word, vlieg hande na die bakke toe. Dit pas Emma dat almal so te kere gaan oor die kos, want nou kan sy dit wat sy inskep ongesiens in die plastieksak op haar skoot laat verdwyn.

      Sy voel skuldig toe sy later by die oop sydeur uitgaan. Die vullishouers is in die koshuis se agterplaas, ’n hele ent van die sydeur af. Sy moet gou maak. Sy weet nie wanneer die buitedeure gesluit word nie.

      Emma durf die donkerte aan.

      Ouma Let se woorde spook by haar toe sy ’n vullishouer se deksel oplig. “ ’n Mens mors nie met kos nie. Eendag sal jy terugverlang daarna.” Sy laat val die plastieksak met kos wat ’n feesmaal vir ’n straatkind sou gewees het in die don­kerte van die houer in. Jissou, sy hoop nie Ouma se woorde word waar nie.

      Sy skrik toe iets skielik teen haar kuit skuur.

      Miaaau!

      “Simpel kat!” sis sy deur haar tande. Met ’n hart wat in haar keel klop, stap Emma terug en bid dat die deur nog oop is.

      Anja en Willa is besig om die nuwe skoolrokke wat hulle by mevrou Snopke gaan haal het in hulle kaste te hang toe Emma by die kamer opdaag.

      “Dankie tog, nou hoef ek nie my maag die hele tyd in te trek omdat ek bang is die ritssluiter bars oop nie,” sê Willa.

      “Ja, my rokke se synate het al begin lostrek,” sug Anja. “Ek wens ek kan gewig verloor. Hoekom is dit so moeilik?”

      Emma frons. “Hier’s te veel kos. En die kos is te lekker. Dis hoekom. Alles wat ons hier kry, maak vet!”

      “Maar mevrou Snopke sê dis hoekom ons almal so goed doen. As dit waar is, moet ons maar hier bly tot ons klaar is met skool,” sê Anja en rol haar oë na die plafon. “Ek gee nie om nie. Almal hier is oorgewig.”

      “Ek het op die internet gelees ’n mens se brein het sekere soorte kos nodig, soos vis,” sê Emma. “Ons het nog nooit vis gekry nie, en ek hou baie daarvan.”

      “Ja, jy’s reg. Ons kry nooit vis nie,” sê Anja. “Wanneer ons stad toe gaan, is dit al wat ek wil eet. Vis en tjips.”

      Vrydagmiddag ná skool kry Emma vir Hendrik en sy vriend Zoltan in die koshuis se tuin. Dis skaars ’n uur ná mid­dag­ete en hulle is besig om massiewe burgers te verorber.

      Hendrik word vet. Sy kan dit sien. Sy broek sit stywer om sy boude en hy raak rond om die lyf.

      “Eet julle al weer?”

      “Hm, dis die lekkerste burgers ooit,” sê Zoltan, ’n don­ker­kop met blou oë.

      Emma kyk na Zoltan en sien in haar verbeelding ’n aan­treklike, fikse ou met ’n normale lyf. Sy voel hoe die bloed na haar wange opstoot, maar besluit om niks te sê nie.

      “Jy moet jou klere gaan inpak, Hendrik. Pa is netnou hier.”

      “Ja, ja …” Haar broer stop die laaste stuk hamburger in sy mond en stap saam met Zoltan weg.

      Emma kyk hulle agterna en wens hulle was ook allergies vir melk, want sy is seker melkskommels voor ete kan nie goed wees vir ’n mens wat nie sport doen of oefening kry nie. Sover sy weet, maak melkskommels vet.

      Net ná twee wag Emma en Janine voor die koshuis vir hulle ouers.

      “Ek’s so bly dis Vrydag. Mevrou Snopke gee my die creeps,” sê Janine. “Sy het my kom vra hoekom ek so min eet. En dit nadat ek ’n hele groot bord kos opgeëet het!”

      “My kamermaats dink ek eet drie borde kos,” sê Emma en giggel.

      Janine kyk verbaas na haar. “Hoe kry jy dit reg?”

      Emma vertel van die plastieksak waarin sy die kos gooi.

      “Dis ’n briljante plan! Ek gaan dit ook doen!” sê Janine. “Ons moet net seker maak ons kamermaats dink ons eet soveel soos hulle!”

      Net toe Emma begin wonder waar Hendrik is, kom hy by hulle aan met sy sportsak in sy hand. In sy ander hand het hy ’n stuk sjokolade.

      “Dis nie nodig om jou soos ’n vraat te gedra nie,” sê Em­ma. “Jy gaan so vet soos jou pelle word.”

      Hendrik lag. “Ag nee wat, Pa sê dis gesonde gewig. Ek sê ook so.”

      ’n Land Rover kom hou onder die bome stil.

      “Sien jou Sondag, Janine!” Emma storm by die trap af met Hendrik kort op haar hakke.

      “Hallo, Pa!” Emma was nog nooit so bly om haar pa te sien nie. Sy omhels hom toe hy uit die voertuig klim.

      “Hallo daar.” Hulle pa kyk na Hendrik en dan na Emma. “Maar julle lyk goed.”

      6

      Emma is so bly om weg te wees van die koshuis met al sy reëls, veral die eetreëls.

      “Waarvoor is jy lus?” vra haar ma toe sy by die tafel in die groot plaaskombuis gaan sit.

      “Net nie baie kos nie, Ma. Asseblief net ’n gebakte eier op ’n stukkie roosterbrood.”

      “Ag nee, ek het vir ons ’n boud in die oond. Dis lekker om ’n slag vir meer as twee mense kos te maak. As julle hier is, eet ek en jou pa ook weer behoorlik.”

      Hendrik kom by die kombuis ingestap.

      “Sien Ma hoe styf sit sy broek?” Emma wys na haar broer­. “Ná net meer as ’n maand in daai koshuis.”

      “Hy sal dit weer later verloor. ’n Mens tel maar gewig op as jy op skool is,” skerm haar ma vir Hendrik.

      “Ma is reg,” sê hy en kom sit ook by die tafel. “Wat ruik ek? Braaiboud?”

      “Ja, spesiaal vir jou,” sê hulle ma en maak die oond oop. Die geur van die vleis vul die kombuis. “Ons is amper reg vir eet.”

      ’n Ruk later lê Hendrik weg aan die lekker kos wat sy ma gemaak het, maar hy eet net een bord, nie drie soos by die koshuis nie. Van die nagereg eet hy ook net een bakkie.

      “Daar is baie kos, Hendrik. Skep vir jou nog in,” moedig sy ma aan.

      “Nee dankie, Ma. Ek het genoeg gehad.”

      Emma kan dit glad nie verstaan nie. Hulle ma se kos is net so lekker soos die koshuiskos. Hoekom eet Hendrik dan so min?

      Saterdagoggend maak haar pa hulle vroeg wakker.

      “Wil julle saamgaan dorp toe?” vra hy in Emma se ka­mer­deur.

      “Nee,