Emma en die geheime gang. Marianna Brandt. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marianna Brandt
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Детские детективы
Год издания: 0
isbn: 9780798156677
Скачать книгу
’n frons na Emma toe sy weer nie ’n melkskommel vat nie.

      Dan kom sit ander kelnerinne skinkborde vol bakke gebraaide wors, spek, niertjies, tamatie, eiers en mieliepoffertjies op die tafels neer.

      “Dis hotelkos!” sê Emma. “Ek het laas so geëet toe ons vir ’n naweek Sun City toe was.”

      “Verstaan jy nou hoekom ons so vet is en hoekom al die kinders soos ons lyk?” vra Anja en lag.

      Toe die kelnerinne by hulle kom, vra Anja en Willa vir drie gebakte eiers elk. Emma se oë rek. Al wat sy wil hê, is een gebakte eier op ’n sny roosterbrood.

      Anja en Willa se borde is tot oorlopens toe vol nadat hul­le opgeskep het.

      Emma sien hoe die hope roosterbrood op die tafel na die borde toe vlieg. Dis asof die kinders die brood nie gou ge­noeg kan smeer om te eet nie. Asof hulle bang is die een langs hulle kry meer.

      Ná die groot ontbyt is daar koffie, tee of ’n sjokoladedrankie. Emma drink net water.

      Toe hulle later by die eetsaal uitstap, staan daar ’n kelnerin by ’n tafel vol plastiekhouers.

      “Ek het dít so gemis,” sê Anja. Sy gee vir Willa en Emma elkeen ’n plastiekhouer aan en vat een vir haarself. “Dis ons kosblik. Jy moet sien wat ons skool toe kry.” Sy rek haar oë en glimlag. “Ek kan nie wag vir pouse nie.”

      Kosterkloof Hoërskool is net oorkant die straat. Dis ’n prag­tige gebou met ’n boomryke tuin, nes die koshuis s’n. Emma is verbaas dat daar nêrens sportvelde of tennisbane is nie. Daar is wel ’n swembad. Swem hierdie kinders?

      “Is daar nie sport by hierdie skool nie?” vra Emma.

      “Nee, meneer Snopke sê kinders met verstand doen nie sport nie,” sê Anja laggend. “Hy is reg. Die kinders in ons skool­ is almal baie slim. Ons sal simpel lyk as ons agter balle moet aanhol.”

      “O …” Emma wonder of Hendrik, wat so lief is vir rugby, hiervan weet. Dit lyk vir haar hierdie skool se enigste sport is eet.

      In die ingangsportaal is daar ’n groot portret met ’n vergulde raam. En onderaan staan:

      Meneer Skieter Snopke

      Duur leermeubels, oorspronklike skilderye en ’n Persiese mat vul die vertrek, asook talle geraamde uitknipsels van goeie dade wat Skieter Snopke in die gemeenskap gedoen het. Hy het die dorp se ouetehuis laat oprig, verkeersligte laat aanbring en die dorp se strate op sy onkoste laat teer, lees Emma.

      Dan lui die klok.

      “Kom!” roep Anja. “Ons mag nie laat wees nie.”

      “Hoeveel graadnegeklasse is daar?” vra Emma, want sy wonder of Hendrik in dieselfde klas as sy is.

      “Vyf. Ons is net vyf-en-twintig in ’n klas,” sê Willa. “Die onderwysers gee baie aandag aan elkeen van ons. Daar het nog nooit ’n kind van Kosterkloof Hoërskool gedruip nie. Ek het op die lys gesien ons drie is in dieselfde klas.”

      “Regtig!” sê Emma. Sy is nogal bly daaroor. Ten minste ken sy iemand, dink sy terwyl hulle na hulle rye toe stap.

      “En Hendrik, my broer?”

      “Nee, ek het nie sy naam gesien nie,” sê Willa.

      4

      Die klaskamers is net so vreemd. Dit lyk of die stoele spesi­aal vir oorgewig kinders gemaak is. Die deure is een en ’n half keer groter as normaal, en die gange tussen die tafels is ook baie wyer as in ’n gewone klas.

      Emma trek die stoel langs Anja uit en gaan sit.

      ’n Skraal man met ’n poniestert en ’n Asterix-snor stel hom aan hulle bekend. “Ek is meneer Harry Hopman. Al die pad van Kaapstad af. Ek hou van ’n skool met ’n gesonde beleid. Dis hoekom ek hier is. Ons sal goed saamwerk. Ek hou van intelligente kinders en ek hoor julle almal is vet en slim.”

      Sy is nie een van die twee nie, net gemiddeld, dink Em­ma.

      “Op die rakkie onder julle banke sal julle ’n verversin­kie ter verwelkoming sien. Dis met komplimente van Koster­kloof Hoërskool,” sê meneer Hopman en sy glimlag strek van oor tot oor.

      Anja en Willa steek dadelik hulle hande onder hulle banke in en haal ’n pakkie uit.

      Emma loer ook onder haar bank in.

      “Julle mag dit oopmaak en eet terwyl julle na my luis­ter,” sê meneer Hopman.

      Emma sien hoe die kinders die pakkies gulsig oopmaak. Party skeur die papier sommer met hulle tande oop. Daar is ’n verskeidenheid lekkergoed en beskuitjies in.

      Terwyl meneer Hopman op die bord skryf, hoor Emma hoe die klas sit en eet dat dit so kraak terwyl hulle notas afskryf.

      Toe die periode verby is, is die verversings op en die as­blikke in die klas loop oor van papiere. Emma het nie eens aan hare geraak nie.

      “Hoekom eet jy nie jou lekkers nie?” vra Anja.

      “Ek is nie honger nie. Ons het dan nou net ontbyt gehad.” Emma kan nie verstaan waar die kinders hulle groot eetlus vandaan kry nie. Hulle is erger as sywurms.

      “Kan ek joune maar kry?” vra Anja.

      “Ja, seker,” sê Emma en gee die pakkie vir haar.

      Toe eerste pouse aanbreek, gaan almal saal toe waar verskillende soorte sop en pannekoek met heerlike vulsels saam met ’n melkskommel bedien word. Emma sien hoe die kin­ders toustaan vir die eetgoed.

      Anja en Willa kom aangestap, elkeen met ’n beker sop en ’n pannekoek.

      “Word ons elke dag so bederf, of is dit maar net om vir die nuwe kinders welkom te sê?” vra Emma. “Ons het mos kos vir pouse saamgebring. Hoekom het hulle die koshuis se kombuis nie laat weet nie?”

      “Vandag is nie ’n uitsondering nie,” sê Anja tussen sluk­ke sop deur. “Ons kry elke dag iets lekkers vir pouse.”

      Hulle volgende klas is Geskiedenis. Juffrou Niekop, ’n plank­dun middeljarige vrou met kort, styf gekartelde bruin hare en groot voortande, staan voor die bord toe hulle ná pouse in die klas kom.

      “Goeiemôre, klas,” sê sy terwyl sy elke kind haarfyn be­kyk soos wat hulle by haar tafel verbyloop.

      Toe almal sit, vra sy: “Almal hier?”

      Sy kyk oor die klas. “Ja, julle is. Goed.”

      Pateties, dink Emma. Sy kan mos sien ons is almal hier. Al die stoele is vol.

      Juffrou Niekop vou haar dun arms.

      “Vandag gaan julle meer hoor oor die rol wat meneer Snop­ke en sy vrou in die gemeenskap speel.”

      “Ons ken die storie, Juffrou,” kla een van die seuns. “Ons hoor dit al van laerskool af.”

      “Dit maak nie saak nie. Hier is nuwe kinders in die skool­ en hulle moet ingelig word. Dis ’n opdrag van meneer Snopke,” sê sy. “So jy sal maar net weer moet luister, Jobus.”

      “Oukei, Juffrou, maar nog net dié een keer,” sê Jobus.

      “Jy sal dit weer hoor as jy volgende jaar nog hier is.” Juffrou Niekop klem ’n liniaal in haar seningrige hand vas en slaan hard op haar lessenaar.

      Sy lig haar benerige ken en kyk oor die klas.

      Toe sy seker is sy het almal se aandag, sê sy met ’n stroopstem: “Meneer Skieter Snopke is ons dorp se engel … Waar daar hulp nodig is, help hy – veral die armes. Hy is ook ons dorp se burgemeester, en hy doen alles uit die liefde van sy hart.

      “Mevrou Sophie Snopke is baie betrokke by welsyn. Sy het verlede jaar die nasionale prys vir Diens aan ’n Naaste ontvang. Toe die dorp deur vloedwater meegesleur is, het sy self ingespring en gehelp. Sy is die dorp se ander engel.”

      Dis