Blikkies gaan haal die saag onder die sakke uit en Dawie sluip weer versigtig om die huis na die studeerkamer se venster toe.
Toe Trompie die saag uiteindelik weer het, begin hy vinnig werk. Die gesaag maak egter so ’n geraas dat hy moet ophou. Sê nou sy pa hoor dit daar in die studeerkamer? Maar Dawie fluit nog nie, so dit moet nog veilig wees. Trompie saag weer verder – net versigtiger en nie so vinnig nie.
Dan, skielik, is die tak deurgesaag en dit val met ’n harde plofgeluid op die grond.
“Jissou!” sê Rooie verskrik en sy oë is groot. “As jou pa dit nie gehoor het nie, is hy sowaar doof!”
Maar meneer Toerien is nie doof nie. Toe die tak op die grond val, kyk hy vinnig op. Dawie staan gereed. Die oomblik wat die bankbestuurder opspring, fluit hy hard – en dan nael hy vir die vale. Terwyl Dawie so op volle vaart na die tuinhekkie toe hardloop, skree hy: “Jou pa kom, Trompie!”
Blikkies staan nog onder die boom en besef daar sal nie tyd wees om die saag weg te steek as Trompie dit afgooi nie. Buitendien lê die tak mos nou hier onder die boom op die grond. Blikkies lê ook oop na die voorhekkie toe. Dit gaan te gevaarlik hier wees wanneer Trompie se pa by die voordeur uitgestorm kom. Hy sal sommer begin klappe uitdeel. Blikkies wil dan al veilig uit die pad wees.
Trompie en Rooie sou ook graag wou weghardloop, maar hulle kan nie. Hulle sit mos in die boom. Hul oë is groot en hul harte klop vinnig.
Rooie wend darem ’n poging aan om ook te ontsnap. Hy mompel: “Weg is ek,” en klouter vinnig uit die boom, maar hy is nie vinnig genoeg nie. Net toe hy by die onderste tak kom, storm Trompie se pa by die huis uit.
“Haai!” bulder die bankbestuurder. “Wat gaan hier aan?”
Rooie versteen. Hy sit nou doodstil op die onderste tak.
Hoër op in die boom sit Trompie nog steeds met die saag in sy hand. Dit help nie eens om die ding agter sy rug te probeer wegsteek nie. Sy pa sal dit tog sien en buitendien lê die afgesaagde tak mos op die grond.
Trompie is baie benoud. Sy pa het gesê hy gaan sy velle van sy lyf af trek as hy ooit in sy werkkamer met sy gereedskap gaan peuter. En hier sit hy nou met een van sy pa se beste en duurste sae in sy hand.
Trompie grinnik verbouereerd en dan sê hy: “Hallo, Pa.”
Hy probeer om onskuldig te lyk, maar kry dit nie juis reg nie.
“Ek vra wat gaan aan?” bulder sy pa terwyl hy na die boom toe aangestap kom.
“Niks eintlik nie, Pa,” sê Trompie en probeer sy bes om sy stem nie te laat bewe nie. “Ek het maar net ’n ou takkie afgesaag omdat ek ’n mik vir my kettie wil hê, Pa weet. Dis maar al, Pa.”
So ja – Trompie het nou, soos hul skoolhoof altyd sê, “ruiterlik erken” wat hy gedoen het. Hy hoop maar net sy pa sal dit in ag neem wanneer dit by velle afslag kom en hom darem nie te ’n groot pak slae gee nie. Hy het mos nie probeer om verskonings te maak nie. Dit moet darem in sy guns tel.
Trompie se pa is nou onder die boom.
Rooie sê verbouereerd: “Middag, Oom.”
“Ek het al vir jou middag gesê!” snou meneer Toerien hom toe.
Rooie sluk. Sy hart klop wild. Trompie se pa is baie kwaad. Dis nou maar wors.
“En waarmee het jy die tak afgesaag?” Meneer Toerien se stem is so kil en koud soos die koudste windjie van die Drakensberg wanneer daar sneeu op die bergtoppe is.
“Met ’n saag, Pa.”
“En waar kry jy die saag?” Die bankbestuurder se stem is nog killer en nou boonop sarkasties wanneer hy byvoeg: “As ek mag vra.”
“In... in Pa se werkkamer.”
“So?”
Trompie besluit om liewer niks hierop te antwoord nie. Hy staar mismoedig na sy skoenpunt wat al ingeduik is van al die blikke en klippe waarna hy gedurig loop en skop – amper asof dit iets te doen het met die verknorsing waarin hy nou is.
En dan kom die kwaai manstem soos ’n donderslag: “Kom daar af! Albei van julle! Dadelik!”
Rooie skrik so groot dat hy sommer van die tak af val. Trompie klouter vinnig met die saag in sy hand af.
Die twee seuns staan voor Trompie se pa en sluk swaar. Hy lyk woedend. Sy oë is strak op die saag gerik.
“Dit is my beste en duurste saag,” sê meneer Toerien sag.
Trompie vrees die ergste. Hy ken sy pa. As die bankbestuurder so kil en kalm praat, dan is hy op sy kwaadste.
“Ek het gedog Pa sal nie omgee as ek...”
“Bly stil!”
“Ja, Pa.”
Meneer Toerien vat die saag. Hy voel met sy vingers oor die fyn tande aan die skerp kant. Gelukkig is dit darem nie beskadig nie.
“Trompie,” sê hy, “het ek nie vir jou gesê jy mag nooit sonder my by my werkkamer ingaan nie?”
Trompie sluk.
“Ja, Pa.”
“Het jy my verstaan toe ek dit vir jou gesê het?”
Trompie wil net sê hy is nie onnosel nie en verstaan Afrikaans toe hy hom bedink. Netnou word sy pa dan nog meer die joos in.
Hy sê nou maar net gedwee: “Ja, Pa.”
Dit is duidelik dat Trompie gestraf gaan word. Hy wonder net wat die straf gaan wees. Sy pa sal darem seker nie so koelbloedig wees om sy velle regtig van sy lyf af te trek nie.
Rooie staar ingedagte na sy gebarste voete. Hy besef ook Trompie gaan gestraf word – maar wat van hom? Hy het nie eintlik iets verkeerd gedoen nie. Hy het mos net kywie gehou toe Trompie deur die venster geklim het en toe het hy wat Rooie is, ook in die boom geklim. Dit is mos maar al wat hy gedoen het.
Die skoenmaker se seun kyk nou met pleitende oë na meneer Toerien. Wil die oom nie maar sê hy is onskuldig en kan maar huis toe gaan nie?
Die bankbestuurder kyk peinsend na die twee seuns voor hom wat albei baie hard probeer om onskuldig te lyk.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.