Trompie die reisiger (#21). Topsy Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Topsy Smith
Издательство: Ingram
Серия: Trompie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798154116
Скачать книгу
Sy pa sal mos nooit agterkom hy het dit gedoen nie.

      Maar sê nou net sy pa kom dit op die een of ander manier agter? Trompie voel nogal skrikkerig. Sy pa het gesê hy trek die velle van sy lyf af as hy hom ooit hier in sy werkkamer betrap. En hy wat Trompie is, wil mos nie hê so iets vreesliks moet ooit met hom gebeur nie.

      Trompie haal die mes wat hy in die kombuis voor by sy hemp ingeprop het uit. Hy wonder of hy dit moet waag om die slot se skroewe los te draai.

      Hy staan nog so ingedagte toe ’n growwe stem agter hom skielik “Haai!” sê. Trompie wip soos hy skrik en swaai vinnig om. Hy kyk vas in sy vriend Rooie se gesig.

      “Probeer jy snaaks wees, hè?” brom Trompie. Sy hart klop nog vinnig.

      “Nee, hoekom?” vra Rooie verbaas. “Wat staan jy hier met ’n mes in jou hand?”

      Trompie herinner sy vriend aan die ou wat hom in die sangklas met ’n stukkie natgekoude papier agter die oor geskiet het – dit is hoekom hy sy kettie nou wil regmaak. Hy wil daardie vent terugbetaal – “met rente” voeg hy by. Hy wikkel sy sproetneus om te wys hy is lelik omgekrap. Die rente gaan hoog wees.

      Rooie is een van die Boksombende se vier lede. Die ander is natuurlik Trompie die Grootkaptein, Blikkies en Dawie. Rooie, Blikkies en Trompie is almal sestien, maar Dawie is veertien. Hy is nogtans in dieselfde klas as hulle, want hy is baie slim.

      Die vier is al van graad vier in die laerskool af vriende en het toe reeds die Boksombende gestig. Hulle is vandag in graad tien in die beroemde Hoërskool Kwaggaberg, en nog steeds boesemvriende. Die beroemde (party mense sê berugte!) Boksombende bestaan ook nog steeds.

      Rooie is ’n sterk, frisgeboude seun met rooi hare. Sy pa is die enigste skoenmaker op die dorp. Maar vreemd genoeg kan Rooie nie skoene aan sy voete verdra nie. Hy het op laerskool nooit skoene gedra nie, behalwe wanneer hy kerk en Sondagskool toe is. Maar hy mag nie in die hoërskool kaalvoet rondloop nie. Dit gee ná drie jaar nog steeds ’n groot gesukkel af en in die middae pluk Rooie sy skoene dadelik uit sodra die skool uitkom. Dan bind hy die veters aan mekaar vas, hang die skoene om sy nek en ry so op sy fiets huis toe.

      Trompie vertel vir sy vriend hy wil ’n saag hier in sy pa se werkkamer kry om ’n mik uit die bloekomboom te gaan afsaag, en dat hy nou net staan en wonder of hy moet probeer om die deur se slot af te haal, of nie.

      “Hoekom wil jy dit doen?” vra Rooie fronsend.

      “Oor die deur gesluit is,” sê Trompie kortaf.

      “Hoekom klim jy nie eerder net deur die venster nie?”

      Trompie het sowaar nie daaraan gedink nie. Hy stap vinnig om die werkkamer se hoek. Rooie is kort op sy hakke.

      Trompie se hele sproetgesig glimlag toe hy aan die venster druk – dit skuif oop. Sy pa het die deur gesluit, maar vergeet om die venster toe te knip.

      “Hou kywie,” sê Trompie vir sy vriend en klouter vinnig by die kamer in.

      Rooie kyk rond, maar gewaar niemand nie.

      In die werkkamer kyk Trompie na al die verskillende gereedskap wat netjies teen die mure hang of op die rakke gepak is. Daar is hamers, else, beitels, skawe, sae – alles wat ’n skrynwerker se hart kan begeer. Geen wonder Trompie se ma kla altyd dat haar man se stokperdjie so baie geld kos nie.

      Trompie kyk na die verskillende soorte sae. Dan vat hy een van die kleineres wat teen die muur hang. Hy voel-voel met sy vingers aan die lem. Dit is baie skerp.

      “Dié een is net reg,” mompel hy by homself en klim met die saag in sy hand gou weer uit buitentoe. Hy maak die venster agter hom toe.

      “Kom, Rooie,” sê hy met ’n skewe glimlag.

      Trompie is glad nie bang dat hy gevang sal word nie. Hy weet mos die vrouevergadering in die kerksaal hou altyd baie lank aan en sy pa gaan minstens nog ’n uur op kantoor wees.

      “Waar’s Blikkies en Dawie?” vra Trompie toe hy en Rooie langs die huis af na die voortuin toe stap.

      “Blikkies is by Dawie,” sê Rooie en voeg by: “Hulle is sommer simpel.”

      “Hoekom?”

      “Hoekom wat?”

      “Hoekom is hulle simpel?”

      “Oor hulle so hard sit en huiswerk doen. Dawie sê hy’t ’n gevoel ons klas gaan môre onverwags ’n spul toetse skryf. Hulle doen al daai huiswerk vir geskiedenis, Engels en Afrikaans – en die algebra. Hulle sê hulle kan nie so vroeg vanmiddag al kom nie.”

      Trompie hoop maar net Dawie se gevoel is nie reg nie. Hy sal nie daarvan hou om môre toetse te skryf oor die huiswerk wat hulle moes gedoen het nie, veral nie oor die algebra nie.

      “Hulle’s belaglik,” brom Trompie. Rooie knik sy kop op en af om te wys hy stem saam. Hul twee vriende is totaal en al belaglik.

      Die bloekomboom is in die hoek van die tuin en sy takke hang oor die sypaadjie. Trompie wys vir Rooie waar die mik is wat hy vir sy kettie wil hê en klouter dan in die boom op. Hy het sy pa se saag saam met die kombuismes voor by sy hemp ingedruk. Rooie klim ook in die boom op.

      Trompie sit wydsbeen op die tak met die mik aan die punt en wip-wip dan ’n entjie vorentoe. Hy wil net die saag uithaal om die tak voor hom af te saag toe hy daaraan dink dat dit makliker sal wees as hy omdraai. Hy draai met ’n gekreun en gesukkel om sodat hy nou met sy gesig na die boomstam sit. Die mik is aan die punt van die tak agter sy rug. Dan haal hy die saag by sy hemp uit.

      Rooie sit gemaklik op ’n groot tak aan die ander kant van die boomstam en kyk na Trompie. Rooie se gesig is geplooi. Hy dink ernstig. Daar is iets wat hom hinder, iets wat nie reg is nie, maar hy kan nie dink wat dit is nie.

      Dan sien hy skielik wat hom hinder. Jissie! Dat ’n mens so onnosel kan wees!

      “Haai!” skree Rooie.

      Trompie het net mooi begin saag. Hy kyk op na sy vriend.

      “Wassit met jou?” vra die Grootkaptein.

      “Sien jy nie wat ek sien nie?” Rooie skater van die lag.

      Trompie kyk vies rond. Nee, hy sien nie wat Rooie sien nie.

      “Wat sien jy?”

      Rooie klou met sy een hand aan die tak waarop hy sit en met sy ander hand hou hy sy maag vas soos hy lag.

      “Trompie,” sê hy laggend, “my pa sê altyd: ‘Armoede is niks – maar onnoselgeit!’”

      “Wie’s onnosel, hè?” snou Trompie sy vriend toe.

      “Jy, natuurlik! Wat dink jy gaan gebeur as jy daai tak daar voor jou afsaag?”

      Trompie kyk na die tak voor hom. En toe skielik tref dit hom soos ’n weerligstraal. Hy sal hom disnis val as hy die ding afsaag. Hy sit op die punt van die tak wat grond toe gaan val.

      “Jissou!” sê hy verbaas. “Wassit met my dat ek so ’n aap is?”

      Trompie glimlag verleë en skuif dan vorentoe. Hy draai weer om. Nou sit hy aan die regte kant. As hy nou voor hom saag, sal die tak waaraan die mik is af grond toe val – maar sonder hom.

      Die Grootkaptein grinnik en sê: “Ek het maar net nie gedink nie.”

      Rooie sê weer iets van armoede wat niks is nie, maar onnoselheid!

      “Ag, hou nou op, man!” brom Trompie vererg. “Dit was maar net ’n ou foutjie.”

      Trompie begin weer saag. Skielik hoor hy en Rooie ’n gefluit. Dit is ’n hoë noot, afgewissel met ’n lae een – die Boksombende se sein. Rooie fluit op dieselfde manier terug terwyl Trompie aanhou saag.

      ’n Minuut of twee later verskyn Blikkies en Dawie om die hoek.

      “Haai!” groet Rooie.

      “Haai!” roep hulle terug.

      Die