Jong Doktor Serfontein #1. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153867
Скачать книгу
Martin, en sy vriend, die pianis Arthur Spaulding, was maar een en twintig toe die twee albei op daardie vervlakste Russiese sangeres verlief raak. Sy was heelwat ouer as hulle en boonop ’n katwyfie! Martin het haar en Spaulding eers twee jaar gelede leer ken toe hy oorsee gaan studeer het. Die Spauldings was toe al ’n goeie ruk getroud en hulle het twee stout seuns-kinders gehad wat net Russies kon praat.

      Martin het ook met ander kunstenaars in die vriendekring kennis gemaak. Skoon gek, die hele spul! By hulle het hy gehoor dat Wanda eers aan Roelof verloof was. Hulle pa sou ’n hartaanval gekry het, maar gelukkig het die sangeres geweet ’n huwelik met Roelof en sy verhewe ideale sou haar baie gou verveel. Hy moes vir ’n paar weke weggaan vir werk, en sy het vinnig met Spaulding getrou.

      Toe Martin, wat reeds ’n mediese dokter was en hom boonop as ’n sielkundige wou kwalifiseer, Wanda in Europa ontmoet, kon hy dadelik sien hoekom sy met Spaulding wou trou. Sy was nie meer jonk nie en was bang vir die dag wanneer sy nie meer sou kon sing nie. Geen ouer en verstandiger man as Roelof en Arthur sou eers twee keer na haar kyk nie!

      En so vreemd as wat dit mag klink, het Roelof hom doodgewerk om hulle te help onderhou totdat Spaulding, ’n uitstekende pianis, so gelukkig was om ’n goeie kontrak in Amerika te kry. Daarna het Roelof teruggekom huis toe.

      Maar toe gaan die vrou mooitjies dood! As sy nie op een manier aandag kan trek nie, dan doen sy dit op ’n ander! Arthur was skielik die kunstenaar en sy net sy vrou en ’n ma, en dít was nie genoeg vir die operaster nie. Nee, sy moes gaan staan en longontsteking kry!

      Dit was Martin wat die boodskap ’n dag of wat gelede gekry het en toe vir Roelof die nuus moes gee.

      Hy het sy broer net vertel en hom daarna alleen gelos.

      Maar toe kom hulle pa by die huis en skop ’n bohaai op omdat Roelof in sy skok en hartseer vergeet het van ’n afspraak wat hy vir hom by die universiteit gereël het. Die professor was omgekrap en het gesê sy oudste seun sit net by die huis en word deur sy ma opgepiep terwyl ander mense werk. Hy het natuurlik nie geweet wat intussen gebeur het nie.

      Martin het eers later van die hospitaal af teruggekom en by sy ontstelde ma en jonger suster gehoor Roelof het soos ’n groot speld verdwyn.

      “Ek verstaan nie hoe hy so mal oor daardie ellendige vroumens kon wees nie. En ek’s veronderstel om ’n sielkundige te wees!” maak hy sy storie laat in die nag klaar. “Dit het nie vir hom saak gemaak dat sy met Spaulding getroud was nie. Solank Roelof haar net kon help as sy dit nodig gehad het, was dit vir hom genoeg!”

      “Was jy nog nooit verlief nie?” vra meneer Schoonbee.

      “Ek? Nee, ek het genoeg by Roelof gesien. Dan gaan spring ek liewer voor ’n trein in. Hy en Arthur was albei blind.”

      “Weet jy hoekom hy juis hierheen gekom het?”

      “Ek dink so. Toe ons jonk was, het my pa drie van ons seuns hierlangs Bosveld toe geneem. Ons het ’n rukkie in die omgewing gekampeer. Later het Roelof soms gesê – die min kere dat hy gepraat het – hy wens hy kon hier kom woon.

      “Sien, daardie paar dae in die Bosveld was my pa nie so streng soos gewoonlik met hom nie. Roelof het hom altyd vreeslik geïrriteer omdat hy so stil is. My pa het gevoel hy is vol van homself omdat hy so abnormaal slim is en in alles uitblink.”

      “O, so dink jy jou broer se onderbewussyn het hom gelei na waar hy as kind gelukkig was?”

      “Dit mag wees. ’n Mens se onderbewuste haal snaakse streke uit.”

      Baie laat daardie nag, net voor dagbreek, word meneer Schoonbee se pasiënt uiteindelik wakker. Hy en die oubaas gesels lank in die donker.

      Die volgende dag ry doktor Serfontein saam met sy broer weg.

      2

      KEURBOSLAAN SE NUWE VISEHOOF

      Omtrent ’n week later bring Oscar Wienand ’n stapel boeke na meneer Schoonbee se kantoor. Toe hy omdraai om te loop, sê die skoolhoof op sy vae manier: “O ja, gaan sê tog vir mevrou Mostert doktor Serfontein arriveer vandag. Ons het hom eers môre verwag, maar hy het laat weet hy kom met vandag se bus.”

      “Lekker! Kom hy weer kuier, meneer?”

      “Hy kom hier onderwys gee.”

      “Hier by ons?” vra Wienand verbaas.

      “Ja.” Meneer Schoonbee praat altyd met die seuns asof hulle sy gelyke is. “Hy was ernstig siek en is nog lank nie gesond nie. As hy nie hier kon bly nie, sou hy ’n tyd lank na ’n verpleeginrigting moes gaan.”

      Wienand frons. “Hy’s dan ’n dokter.”

      “Nie ’n mediese dokter nie; ’n doktor in geleerdheid: in die regte en filologie.”

      “Hoekom dink meneer dit sal ’n siek man gesond maak om hier te kom skoolhou? En dit nogal iemand met sulke grade?”

      Meneer Schoonbee stoot sy bril hoog op sy voorkop terwyl sy oë wat so vol vreemde wysheid is die vraende seunsgesig bekyk.

      “Ek weet net hy hoort hier. Ek probeer julle altyd laat verstaan hoe belangrik die wêreld se legendes en fabels is. Byvoorbeeld, toe Lodi die Gees – let wel, nie ’n spook nie – na die aarde gekom het en daar op die bergkruin . . .”

      “Jammer, meneer, maar nou . . . Verskoon my asseblief, ek moet waai.”

      Wienand hou nie van die manier waarop die skoolhoof sag by homself grinnik nie en maak haastig spore.

      Hy vat die boodskap vir mevrou Mostert en probeer haar uitvra, maar sy vertel hom niks nie.

      “Vra vir meneer Schoonbee,” sê sy. “Dis hy wat dit gereël het.”

      “Ek het, en al wat ek uit hom kry, is nonsens van ’n gees wat nie ’n spook is nie. Hy en sy sprokies.”

      “Ek het geleer om respek te hê vir sy stories. Mens kan nogal baie daaruit leer.”

      Sy gaan rustig aan om ’n dik kous te stop.

      Wienand loop vererg daar weg.

      Rossouw, sy beste vriend, sit en lees toe Wienand by hom opdaag.

      “Wat byt?” vra hy.

      Hy is rustig van geaardheid en Wienand se eindelose energie irriteer hom soms.

      “Ons kry ’n nuwe onderwyser. Daai ou wat ’n ruk terug so siek hier was, jy weet mos.”

      “Niemand het hom gesien nie.”

      “Wel, ek het.”

      “Hoekom lyk jy so suur daaroor?”

      “Hy’s nie soos ander mense nie.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Hy het ’n gesig soos ’n Griekse god en ’n lyf soos Mercurius,” spot Wienand.

      Rossouw gryns geamuseerd. “Ou Skooltjie het jou aangesteek met sy stories. Nou-nou vertel jy ook sprokies.”

      “Vir wat kom sit ’n man met die wêreld se grade op ’n plek soos dié as hy tonne geld met sy talente kan maak?”

      “Dalk is hy nie so erg oor pitte soos jy nie.”

      “Dis die enigste regtig belangrike ding op aarde.”

      “Jy mors dan so lekker met joune!”

      “Mens moet geld in sirkulasie hou. As jy X rand spaar, het jy net X rand. As jy dit laat sirkuleer, kom dit dubbeld na jou toe terug. Geld maak – nie verdien nie, maak! – en geld uitgee, is die lekkerste ding in die wêreld.”

      Niemand is by die bushalte voor die stasie om doktor Serfontein te ontmoet nie. Hy los sy swaar tas by die stasiemeester wat belowe om dit agterna te stuur en neem net sy handbagasie saam.

      Hy dra vandag ’n deftige grys pak en alles – sy hemp, das en skoene – pas daarby. Toe hy met die laan op