Jong doktor Serfontein
Theunis Krogh
Human & Rousseau
1
DIE VREEMDELING
Nege-uur op ’n koue, reënerige aand kom ’n bejaarde man met ’n voetpaadjie teen een van Keurboslaan se heuwels afgestap. Hy was by ’n ou Swazi en het gehoop om meer van ’n oorspronklike Swazi-legende uit te vind, maar tevergeefs.
Ten spyte van sy vyf en sewentig jaar loop meneer Schoonbee vinnig die steilte af.
Toe hy ’n lang figuur teen ’n boomstam sien leun, skakel hy sy flits aan.
“Dis soos ’n droomgesig!” sê hy vrolik.
Die jong man wat in die gietende reën staan, antwoord nie. Hy kyk reg in die flits se ligstraal asof hy dit nie sien nie.
“Jy daar so in die reën en mis laat my dink aan die verhaal van Lodi die Gees en die Bergkoning,” sê meneer Schoonbee.
“Dis die Sweedse weergawe,” antwoord ’n aantreklike, diep stem. “Maar die een in Bulgaars is byna dieselfde.”
“Merkwaardig hoe eenders verskillende nasies se ou verhale is. Dis wat ek in my boek probeer bewys.”
Meneer Schoonbee sien die gesig nou duideliker. Die man se oë is donker; hy is duidelik nie gesond nie.
“Kom saam met my huis toe. Ek kan dalk vir jou ’n hoofstuk uit my manuskrip voorlees,” sê meneer Schoonbee.
Dit lyk nie of die jong man sy uitnodiging gaan aanvaar nie, maar toe meneer Schoonbee verder loop, hoor hy voetstappe agter hom aankom.
Ná ’n rukkie kom hulle by ’n hek wat los aan ’n paal hang. Links en regs is hout- en sinkgeboue. Agter is ’n groot wit huis met ’n paar dofverligte vensters.
Die vreemdeling volg die ou man na binne.
Daar kom ’n gelag van die eerste verdieping af, maar hy registreer dit skaars. Hy wag in ’n donker vertrek terwyl meneer Schoonbee ’n olielamp aansteek. Die lamp is op ’n tafel met ’n hoop papiere en potlode en ander skryfgoed, en twee gemaklike ou leunstoele staan voor ’n kaggel.
Meneer Schoonbee gaan terug na die gang en lui ’n klokkie. Die geluid weerklink deur die donker.
“Wienand!” roep hy gedemp.
’n Groot seun van omtrent sestien verskyn op die trap. “O hallo, meneer!” sê hy vrolik.
“Kom bietjie hier, seun.”
Oscar Wienand hardloop die trappe twee-twee af. “Ja, meneer?” vra hy opgewek.
Dan gaap die seun die vreemdeling verbaas aan.
Die man staan in ’n plas water. Sy klere is sopnat. Sy gesig is bleek. Maar ten spyte daarvan lyk hy na iemand besonders, besluit Wienand.
“Ek dink net jóú klere sal groot genoeg vir ons gas wees,” sê meneer Schoonbee. “Leen asseblief vir hom slaapklere en ’n kamerjas.”
“Reg so, meneer. Maar dit sal bietjie kort wees, en die kamerjas is nie watwonders nie.”
“Solank dit net heel en warm is. En vra asseblief vir mevrou Mostert om hierheen te kom.”
Die klap van die deur agter Wienand ruk die vreemdeling uit sy effense beswyming, en hy sien hoe meneer Schoonbee sukkel om ’n vuur in die kaggel aan die gang te kry.
“Laat ek dit doen,” sê hy.
Meneer Schoonbee gaan sit en kyk ingedagte na die lang, skraal jong man wat kniel om die vuur aan te steek. Hy lyk suf en tot die dood toe moeg. Daar is swart skaduwees onder sy oë en ’n hartseer trek om sy mond.
Die gesig lyk bekend. Het hy onlangs ’n foto daarvan in ’n koerant gesien? Hy dink so.
“Is jy van die stad af?” vra meneer Schoombee.
“Johannesburg, ja.”
“Meneer het my geroep,” sê ’n vrouestem skielik.
Ria Mostert, die skool se oorwerkte matrone, is nog jonk en vol lewe en lyk of sy vir alles kans sien.
“Kom binne, Ria. Ek wil ons gas aan jou voorstel, maar ek ken hom net as Lodi die Gees op wie se aankoms en hulp die Berg-koning so lank gewag het, en ek weet jy hou nie van daardie ou verhale nie.”
Sy kyk geduldig na die oubaas en draai dan na die vreemdeling.
“Ek is Ria Mostert. Sover ek kan, pas ek meneer Schoonbee en sy skool op.”
“Aangename kennis, mevrou,” sê die jong man asof hy vir ’n oomblik niks makeer nie.
Hy staan op van waar die vuur nou lekker brand en stof sy hande teen mekaar af.
“En jy is?” vra sy.
“Roelof Serfontein.”
“Kan ons iets warms kry om te drink?” vra meneer Schoonbee.
“Ja, seker, maar eers moet meneer Serfontein in ’n warm bad kom. Wienand, vat hom na die onderwysers se badkamer.”
Die groot seun het intussen met slaapklere en ’n kamerjas verskyn.
“Wag daar by hom,” sê meneer Schoonbee, “en bring sy nat klere saam sodat dit drooggemaak en gestryk kan word.”
Wienand gaan uit en die gas volg hom gedwee.
Daar is nie elektrisiteit nie en die gebou is koud en neerdrukkend. In die gang brand olielampe op muurrakkies.
Op die eerste verdieping weerklink daar weer ’n gelag en gestamp agter ’n toe deur.
Wienand slaan met sy vuis teen die deur en die geraas bedaar effens.
“So, dis ’n skool hierdie?” vra die gas.
“Keurboslaan Seunskool, kamma.”
Die seun frons. Hierdie man is anders as enigiemand wat hy ken, selfs al lyk hy so deur die wind.
In die badkamer steek Wienand ’n kers aan, draai die kraan oop, gaan sit op die rand van die bad en kyk na die man wat so stil daar staan.
“Ek het pantoffels gebring. Hulle sal koerante in jou skoene moet stop, anders sal jy hulle nooit weer kan dra nie.”
Die man antwoord nie. Sy lyf bewe van die koue.
“Die bad is nou reg,” sê Wienand. “Ek kan darem een ding van dié plek sê: hier is altyd baie warm water, want die klein outjies wil nooit bad nie!”
“Dankie . . .”
“Wag! Ek gaan haal gou asyn. My ma sê altyd dit help vir verkoue.”
Toe die seun ’n rukkie later met ’n groot bottel terugkom, staan die man nog op dieselfde plek.
“As jy nou uittrek,” sê Wienand terwyl hy asyn in die stomende water gooi, “sal ek jou klere kombuis toe vat. Daar is mense wat dit kan was en stryk.”
Die swart oë kyk deur hom.
Wienand probeer die baadjie van die vreemdeling se skouers aftrek. Dit laat die half bewustelose man uiteindelik beweeg en hy begin hom nou self uittrek.
Wienand gaan bêre die asyn in die spens en toe hy terugkom, sit die man in die bad.
Die seun bekyk sy gespierde skouers en bolyf bewonderend. “Ek kan sien jy hou van sport.”
“Ja.”
Dit lyk of die warmte help om die vreemdeling ’n bietjie by sy positiewe te kry.
“In hierdie simpel plek ken ons nie iets soos sport nie,” sê Wienand.
“Is jy nie trots op jou skool nie?”
“Hoe kan ek wees? Dit gaan net agteruit. Dit was altyd ’n soort privaat skool vir die plaaslike mense se kinders, maar met die nuwe pad Mosambiek toe het meer mense hier kom woon, en toe hulle ’n provinsiale skool op die dorp