Sy en die twee spoorsnyers sny die leeu se spore al die afgelope drie dae lank sedert hy by die Panne uitgekruip het. Hulle het die deurkruipplek reg suid van Halali gekry, by Grenswag se hoek, die groot spore duidelik afgemerk in die sagte sand. Van daar het hy by Werda ’n draai gaan gooi, sy eerste bees naby Oscar Lambert se opstal gevang, hom dik gevreet, en van daar af koers gekies die plase in.
Dis ’n gedurige stryd om die leeus van die plase weg te hou. Die erdvarke grawe snags oral gate onder die draad deur en die patrollies kom nie altyd betyds by die gate uit nie. Die jong mannetjies, daardies wat nog na ’n eie loopgebied en harem soek, toets gedurig maar die grense. Sy weet hulle het nie baie tyd nie, dat hulle elke dag met oortrokke grasie verder gaan.
Hierdie jong mannetjie is ekstra slim, wil nie lank gaan lê om te rus nie, bly aan die beweeg. Goed dat die plase hier so verlate lê: as die boere dit nog oraloor bewoon het, was ’n horde jagters nou al op die leeu se spoor; sou sy nog net die karkas van hulle manlike heldemoed gehad het om weg te sleep, om te gaan slag en dissekteer. Môreoggend het haar tyd uitgeloop, is die eerstes hier. Dan sal sy maar moet sien hoe sy hulle gaan hanteer.
Een van die plaaswerkers by die kaias het aan haar die sleutel gegee en verseker dat sy welkom is om in die leë huis te oornag. Sy kon die foon gebruik as sy wou. Dit was toe reeds vinnig besig om nag te word. Kiewiete het hulle laaste eensame krete van die aand geroep. Iewers by ’n kraal naby die opstal het bokke geblêr, ’n wye, melankoliese geluid. Sy het die sifdeur oopgetrek. Die gaas was vol gate en die deur het swaar op sy skarniere gekreun. Sy het die huis binnegestap. In die halfdonker het sy haar toon teen ’n tafelpoot gestamp en sag gevloek. Sy het haar flits aangeskakel en die yl ligstraal deur die vertrekke laat speel.
Sy het gewonder of sy dr. Hugh moes bel om te sê waar sy was, maar het daarteen besluit. Sy was te moeg en te vuil om enige gesprek te voer, vrae te antwoord. Sy het daarom dadelik ’n bondel takke van die seringboom buite gaan afbreek, ’n slaapkol op die sementvloer daarmee skoongevee, die stapeltjie koerante uitgepak, haar slaapsak in die voorkamer oopgerol. Sy wou nie in een van die slaapkamers gaan lê nie; daar was dit heeltemal te bedompig. Met die flits aan sy rekband op haar kop geskuif, het sy ’n uur lank met haar rug teen die muur gesit en lees uit die slapbandboek wat sy saamgebring het. Toe het sy gaan lê, moeg van die dag se agtervolging; die stamperige rit.
Die flits rem al swaarder aan haar kop. Die storie in die slapbandboek bly haar verveel: The Survivors, ’n goedkoop liefdesverhaal met plat karakters en onwaarskynlike gebeure. Dis ’n boek wat sy in dr. Hugh se voorkamer onder ’n leë blompotjie, langs ’n paar los geweer-patroondoppe op ’n vensterbank sien lê het. Sy het dit in die verbygaan gegryp en in haar sak gestop. Daar het weer ’n leeumannetjie uitgebreek – sy moes dadelik ry. Sy is toe gelok deur die titel, dit het so avontuurlik geklink. Nou, met die lees, is die inhoud maar skraal.
Die nag is nog bitter lank. Sy haal die flits van haar kop af. Die skakelaar voel glad en taai van haar sweet. Sy voel die punt van haar duim dom daaroor glip. Sy druk hard, hoor tog dan die klein klikgeluid wanneer dit afskakel. Dit raak donker om haar. Sy maak haar oë toe en probeer slaap. Môre is ’n belangrike dag.
3
Olivia skrik met ’n snak wakker toe die ligte van ’n voertuig op die mure van die leë kamer val. Sy’s steeds verstrengel in die geborgdheid van haar droomwêreld. Daar was verskeie bekendes en onbekendes saam met haar by ’n langwerpige tafel met ronde hoeke. ’n Kelner het vleis uit ’n diep bak vir hulle ingeskep. Sy was geduldig besig om haar beurt af te wag; het aandagtig gesit en kyk na hoe die ander eet. ’n Vriend uit haar studenteverlede, ’n kort, effens gesette jong man met ’n bles, rooi wange en sproete op die neus, het sy lippe afgelek en met sy vurk in sy bord in beduie. Aan die mure rondom hulle was daar takbokskedels met breë geweie. Prente van Engelse baronne met wit boordjies en vere in die hoedens het op hulle afgeloer. Dit was skemerdonker in die vertrek, maar het ligter geword toe ’n vrou in ’n wit voorskoot die lampe hoër draai.
In die laatnanag het sy so diep ingesluimer dat sy nie gereed was vir die koms van die jagters nie. Gelukkig hou die voertuig nie by die woonhuis stil nie, maar stoot deur na die veewagters se huise. Die eienaar van die plaas sou haar pateties-kaal op haar slaapsak en sleg verleë langs haar bondeltjie klere, betrap het. Haar eie Land Rover staan agter die huis onder die peperboom tussen die watertenk en die vervalle mure van die ou koelkamer ingetrek. Die vroemôre-aankomelinge het dit waarskynlik met die vinnige verbyflits van hul ligte nie daar sien staan nie. Ook maar goed!
Sy kan die muwwe reuk van gister se sweet aan die waaie van die kakiehemp ruik toe sy dit oor haar kop trek. Die skerp sweetreuk laat haar behoorlik wakker skrik. Mens stink gewoonlik darem nie vir jouself nie! dink sy wrang.
Haar verbleikte langbroek voel krapperig en skurf as sy dit teen haar bene opskuif. Die binnekant van die pype is hard en styf van die vuil. Sy ruk haar hand haastig weg as die skerp saad van steekgras onverwags in haar vinger steek. Sy vloek sag, haar stem ’n onverwagse plofklank in die stil vertrek. “Shit!” Sy byt die stekelsaad met haar voortande uit voordat sy die broek verder aanglip en die belt om haar benerige heupe vasknoop. Sy trap onvas rond toe sy die sokkies een vir een op een been oor haar voete en enkels glip en in die ou paar robvelskoene intrap. Sy dra die skoene al die afgelope drie jaar daagliks op die leeuprogram. Dis tyd dat sy nuwes kry! Sy buk wankelrig om die veters elk met ’n dubbelknoop te strik. Al is sy hoe haastig om uit te kom agter die jagters se voertuig aan, het die maak van ’n dubbele knoop op elke veter al tweede natuur geraak. In ruigteveld, agter ’n vlugtende en nukkerige leeu aan, is los veters lewensgevaarlik. Dit het sy ten minste al geleer, hier in die bos van Afrika – om haar veters behoorlik vas te strik.
Sy kom regop, trek haar vingers deur haar hare en vryf vinnig met die kneukels deur haar oë. Sy bondel haar slaapsak en kussing onder haar arm in. Buite langs die Land Rover maak sy haar hande nat onder die druppende kraan van die ou sementwatertenk en vee die slaap uit die hoeke van haar oë. Die lug voel koel en aangenaam. Dis dikwels die enigste werklik verduurbare tyd van die dag, in hierdie warm somer, so vroegoggend, voor die son kans gehad het om sy stookwerk te doen.
Sy grawe in die knaptes van die langbroek se sak na die Land Rover se sleutels en skuif oor die geskeurde sitplek agter die stuur in. Die slaapsak en kussing druk sy in die hoek teen die deur vas. Sy sien kans vir die dag!
Sy vloek weer, dubbeld dié keer: “Shit! Shit!” as die enjin nie met die eerste draaislag wil vat nie. Die magteloosheid van die slaap sit nog diep in haar sisteem. Sy voel behoorlik onbeholpe, haar hand slap om die stuurwiel geklem. Dan, na ’n woeste gepomp van die brandstofpedaal, gaan die enjin tog stotterend aan die loop. In die stilte van die oggend en in die nou ruimte tussen die geboue klink die geraas besonder hard in haar ore.
Sy wag tot die enjin gelyk loop voordat sy die koppelaar laat skiet. Dan krink sy die voertuig tussen die watertenk en die lae keermuurtjie van die verwaarloosde boordjie suurlemoenbome deur. Dis belangrik dat sy by die kaias kom, haar spoorsnyers optel, voor die jagters self na die leeu begin soek.
Haar ligte val op ’n takskerm, stukke halfgebrande vuurmaakhout, ’n groepie skugter, maer honde, blikke, plastieksakke, geskeurde voddes lap, ’n paar sinkkaias wat te klein voorkom vir menslike bewoning. Daar loer ’n vrouegesig by die een kaia uit; ’n paar kinders met vaak gesigte by ’n ander. Die lywe van ’n troppie boerbokke skyn spookagtig wit agter in ’n kraal van doringtakke. Die bokoë blink rooi in die ligte. Wanneer hulle verskrik begin maal, slaan die dampe stof dik tussen die vae vorms van hul lywe op. Die reuk van bokmis hang swaar in die lug.
Die weerkaatsing van die oë doof uit, die bokke verdwyn in die dwarreling van stof en fyngetrapte mis. Sy sug van verligting toe sy die jagters se voertuig steeds geparkeer tussen die huise opmerk. Dan is hulle nog nie vort nie.
Ryk sakemanne! dink sy toe sy nader beweeg en die voertuig duideliker kan sien. Sy kon