Etosha. Piet van Rooyen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet van Rooyen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153324
Скачать книгу

      

      Etosha

      Piet van Rooyen

      Human & Rousseau

      “Fair lady, now mone I

      De, trestly ye me trow;

      Take ye my serk that is bludy,

      And hing it forrow yow;

      First think on it, and syne on me,

      Quhen men cumis yow to wow.”

      Robert Henryson (1425 – 1500)

      1

      Olivia lê en rondrol op haar oopgespreide slaapsak. Sy’s alleen op ’n kaal sementvloer. Sy lê in ’n leë kamer in ’n verlate huis op ’n verlate plaas in die noorde van die land. Die enigste stukkie van die meubels wat hier oorgebly het, is ’n lendelam tafeltjie met ’n ou swart telefoon op, naby die kombuisdeur.

      Die boeregesin wat lank terug hier gewoon het, het moed opgegee en die plaas aan buitelanders verkoop, het sy gehoor. Droogtes en veediefstalle, arbeidsonrus en die swak beespryse, leeus en slange en ongediertes het hulle verjaag. Nou bly hier niemand meer nie. Sy is heeltemal op haar eie in die kil, stugge ou huis.

      Vlermuise fladder tussen die dakbalke rond. Die skerp ammoniakreuk van vlermuismis brand haar neusgate wanneer sy te diep asemhaal. Die vloer is hard onder haar. Waar sy met haar elmboë teen die vloer druk, skuur die stof krapperig teen haar vel. Die slaapsak se frommels en voue druk skerp teen haar ruggraat en teen haar ribbes. Die vloer is onaangenaam warm wanneer sy met die omdraai met die rugkant van haar hand daaraan raak.

      Dit was vandag juis een van daardie ontsettende warm dae waaraan sy so moeilik gewoond raak in hierdie vreemde land. Die nag wil ook niks van die hitte breek nie. Sy haal met ’n sagte fluitgeluid asem. Die klank van haar asemstote word hol deur die mure van die leë huis na haar toe teruggeëggo. Die ruite in die vensterrame is reeds almal lankal uitgebreek, tog roer daar geen luggie in die stil vertrek nie.

      Muskiete zoem om haar kop. Haar vel brand skerp waar hulle haar raak gesteek het, steeds aanhoudend bly steek, die bloed bietjies-bietjies uit haar are suig. Die muskietegif maak haar dronk in die kop voel. Sy het lankal agtergekom dat geen muskietweermiddel Namibië se muskiete weghou nie.

      ’n Skopsuil roep met eentonige reëlmaat vanuit die seringboom op die vervalle grasperk aan die voorkant. “Proep-proep,” klink die melankoliese geluid. Sy lê vir haar eie asemhaling en vir die uil in die donker en luister. Om haar in die donker huis weet sy sit die tekens van verval: die uitgedroogde vlieëkarkasse teen die sifdeur, die stukkende gordyne, die gebreekte ruite in die vensters, die vuil mure, die verlate telefoon. Die sink kreun op die dak, ’n nagvoël of ’n ander dier skuifel onheilspellend op die nok rond.

      Sy het eensaamheid reeds leer verduur, saam met al die fisieke ontberings, die afgelope maande wat sy in hierdie omgewing werk. Solitude, watter pragtige woord, dink sy.

      Sy sukkel om te slaap, maar die nag is nie vervelig nie. Sy lê en luister na die sagte geluide. Sy moes gou leer om dinge te verduur in hierdie land. Honger en dors en hitte, sweet en uitputting, die verbete gezoem van muskiete – alles kom saam met die avontuur. Ten spyte van die gefluit van haar asem, haar onwillekeurige gekreun, die gejeuk van haar vel, die geveg teen die eensaamheid en die hitte, voel sy op ’n eienaardige manier tog tevrede. Sy het al hoeveel van hierdie soort nagte deurstaan, haar skouers en heupe soggens seer en styf van die lê op die harde vloer, haar rustelose drome, haar slapeloosheid en die inersie van haar lyf. Dit maak die nag deel van die ontbering wat saamgaan met die projek waarin sy haar begeef het – die saak van die leeus.

      Uit die hoek van die kamer kom ’n sagte skuurgeluid. Dit kan ’n slang wees, besef sy met ’n skok. Sebraslange en kobras – die Angola-variëteit, asook die gewone geelslang – is lief vir leë huise, weet sy. Hulle kom soek graag hier na muise en rotte. Sy rol op haar sy en reik na die flits, die klein koplamp met ’n rekbare band, wat naby haar kussing lê. In die skraal ligstraal staan ’n groot swart boktor met voelers verdedigend oopgesprei. Dan begin hy weer swenkend langs die muur af beweeg. Sy sug verlig. Verdomde tor!

      Sy laat sak die flits. Die ligstraal skuif oor die gesig van die president onder haar op die vloer. Hy glimlag meerderwaardig-vaderlik na haar op van die voorblad van een van die koerante wat sy onder die slaapsak oopgesprei het. Sy het vroeër die stapeltjie koerante onder die ou telefoontafeltjie opgespoor en netjies uitgepak om haar slaapsak op oop te rol.

      Die koerante is gedurig vol foto’s van die president. Sy hou die ligstraal vir ’n oomblik direk op die foto. Dis moeilik om die uitdrukking te lees. Sy donkerswart vel maak sy gelaatstrekke moeilik onderskeibaar op ’n swart-wit koerantfoto. ’n Wollerige grys baard omkring die ronde gesig. Lag hy haar uit, of is dit maar net die normale, aangeplakte glimlag van ’n politikus? Dalk moet sy minder krities wees. Sy begin al meer soos Karel dink.

      Haar nek pyn. Sy skakel die flits af en laat sak haar kop op die kussing. Sy sny haar gedagtes weg van die koerante, van al die nuus oor oorlog en misdaad. Sy luister na die uil, laat loop haar gedagtes na die veld om haar, na hoe dit oop en ongestoord lê in die roerlose donkerte van die nag. Sy wens sy kan die leeu vannag hoor brul. Sy weet hy moet naby wees. Sy en haar spoorsnyers het die spore gevolg tot by die veepos nie ver van die verlate woonhuis nie, voor dit donker geraak het vroeër die aand. Van daar het sy teruggekom na die opstal met die plan om die nag in die verlate huis deur te bring. In die skemering het haar ligte op die groepie plaaswerkers geval, waar hulle by die sinkplaatpondokke besig was om die aand se ete voor te berei. Hulle het in ’n klein bondel om die vuur bymekaar gestaan. Die reuk van geskroeide pap het in die aandlug oor die werf gehang. Sy het teenaan hulle gaan stop om uit te vind van die leeu. Haar spoorsnyers het dadelik met die klank van herkenning in hul stemme gegroet. Hulle het geweet daar sou vir hulle geselskap, kos en slaapplek wees.

      Sy is jaloers op hulle, op hierdie mense van Afrika wat so gemaklik, so gemeensaam met mekaar leef. Sy weet dat hulle haar met hulle skugter groet van “naand, naand” ook dadelik sou intrek in hulle gemeensaamheid in. Maar sy kon nie. Die vervreemding sit te diep in haar. Sy dra te swaar aan die bagasie van die beskawing waarmee sy opgegroei het. Sy wens dikwels sy kon daarvan afstand doen, dat sy eerder net eenvoudig, maklik, gestroop kon wees. Dan sou sy ontslae wees van hierdie alleenheid. Maar sy kan nie. Sy het lankal reeds te veel voorbehoude om haar opgehoop.

      2

      Die werf se mense het goeie en slegte nuus gehad. Die mannetjie het kort voor donker ’n kalf by ’n veepos gevang, skaars drie kilometer van die huis af. In die stil aandlug kon hulle glo, selfs op daardie afstand, die leeu hoor brul, die angstige gebulk van die kalf hoor, hoe dit onder die roofdier se wurgklem stil raak. Die werkers het reeds die eienaar van die beeste uit die opstal uit gebel. Hy huur die grond en is ’n uitheemse sakeman van Windhoek. Hy sou môreoggend voor ligdag hier wees saam met ’n paar medejagters om die spoor te vat, die dier te skiet waar hulle hom ook al raakloop.

      Dis die slegte nuus. Die goeie nuus was dat die leeu ook vir haar sal wag waar hy vannag waarskynlik dikgevreet naby die karkas lê. Dis nou haar laaste kans om die dier in te haal. As hy van hier af verder loop, tussen die bewoonde plase in, is dit verby met hom, weet sy. As die jagters haar môre hier kom kry, hoop sy om gereed te wees. Dan geluk dit haar dalk en oortuig sy hulle om haar die eerste kans te gee.

      Sy het haar verdowingspyle by haar in die voertuig; sy is bedrewe genoeg met die pylgeweer. As die leeu en die jagters haar net ’n oomblik se kans gee, kan sy hom lewend terugbring Park toe. Maar dit sal ons alles maar môre moet sien, dink sy. As dit lig raak, sal sy weet.

      Sy hoor die honde verweg by die hutte blaf. Daar kom ’n vae vlaag van stemme wanneer die wind in haar rigting draai. Dis asof die honde en die stemme haar koggel, vir haar oor en oor wysmaak waar die sinkkaias van die vee-oppassers staan, waar haar eie twee spoorsnyers nou warm by die vure sit, waar mense so laat in die nag nog vrolik sit en gesels.

      Haar kuite dreig om aan die kramp te gaan. Sy probeer konsentreer daarop om te ontspan, haar kloppende spiere te dwing om slap te bly. Sy sal dit haat om nou ’n kramp te kry!

      Sy mag met reg moeg wees.