Ek wens ek het vroeër geweet wat ek nou weet. Sy het dit altyd so vurig ontken . . . Ek sou nooit kon dink hoe moeilik dit vir haar is om saam met Pierre te werk nie. Al wat sy wil doen, is om in te gee. Tog baklei sy so hard teen haar gevoelens, dit maak haar amper fisiek seer. Ek wens sy wil ophou om vir haarself soveel reëls te stel.
“Sonja!” roep Pierre uit sy kantoor.
Sy sug en stap daarheen. “Ja?”
“Hoe voel jy?” vra hy.
Asof sý sal bespreek hoe sy voel. Hy verwys natuurlik na my not so sudden death en my begrafnis gister.
Sonja se mond trek op ’n knop. Mense wat haar nie ken nie, dink sy lyk bemoerd wanneer sy dit doen. Eintlik is dit hoe sy lyk as sy nie wil huil nie: Sy byt die linkerbinnekant van haar onderlip. Ou truuk, ek het dit ook altyd gedoen.
“Ek’s oukei,” antwoord sy na genoeg oomblikke van stilte.
“Ek’s jammer jy . . . moet deur al hierdie dinge gaan. As jy enigiets nodig het . . .”
“Ja, Pierre.” Sy stap by sy kantoor uit.
’n Regte koei. Toegesluit en afgebaken in haar eie vrese. Maar Pierre sal aanhou probeer. Ek weet dit sommer. Dit kalmeer my.
Solank hy naby is, sal Sonja oukei wees. Hy sal haar beskerm. Geen vyand sal groot of sterk genoeg wees om in sy pad te staan nie. Behalwe Sonja self.
En sy sal dit regkry ook, dink ek mismoedig toe ek aanbeweeg na Gerda.
Gerda
Gerda
Gerda was my buurvrou. Sy is veertig en het vier kinders: ’n dogter in matriek en drielingseuns van sestien. Gerda het ryk getrou, maar arm grootgeword. Vandat haar pa op veertien skool verlaat het tot hy op sestig dood is, het hy diefwering gemaak. Gerda se man is gebore met meer geld as wat haar pa in ’n leeftyd geken het. Gerda se man het haar gelos vir ’n ander vrou. Toe die drieling sewe maande oud was.
“Alle sake het twee kante,” sal Gerda bysê. “Hy sou my nie gelos het as ek van die welder af kon wegbly soos sy ma wou hê nie.”
Die welder is nie ’n man nie, dis ’n sweismasjien. Gerda het op ’n manier in haar pa se voetspore gevolg: deur ’n boetiek oop te maak wat wonderlike sweiswerk verkoop, goed soos spieëls en portretrame en kersblakers. Kunswerke.
Sy werk tot haar vingers bloei, maar sy maak sakke vol geld. Sy besit natuurlik ook ’n fabriek wat gewone diefwering maak, maar sy hoef selde daar te gaan hand bysit.
Gerda se groot vrees is om nie vir haar kinders te kan voorsien nie. Hoekom sal net sy weet. Sy het jare gelede al die punt verbygesteek waar geld ’n bekommernis behoort te wees, maar ’n paar issues stick nou seker maar as jy as kind honger was. Ek moet bieg: As ék so hard soos Gerda moes werk vir elke sent wat ek het, sou ek meer as ’n bietjie sentimenteel gewees het oor my bankbalans.
Sy werk van die oggend tot die aand en daarna kook en was sy agter haar kinders aan. Wat my betref is die hele spul groot en uitgevreet genoeg om na hulleself te kan omsien, maar sy versorg die seuns nog soos die dag toe hulle in die wêreld gekom het. Arme Marijolein is die enigste een wat help in die huis.
My grootste probleem met Gerda is dat sy amper sestien jaar laas met iemand geslaap het – haar man. Dis verkeerd! Sy is gorgeous! ’n Bietjie miniatuur, maar buitengewoon mooi en buitengewoon baie pret. ’n Goeie vrou moenie so eensaam wees nie, dis ’n vermorsing.
As sy nou soos Sonja besluit het om weg te bly van mans af, was dit ’n ander saak, maar Gerda het nooit ’n selibate staat gekies nie, dit het net gebeur. Toe ek haar eendag gevra het wanneer laas sy seks gehad het, was sy self half geskok oor die antwoord.
Sy moet ’n man kry. Iemand om háár te versorg. ’n Goeie man. As ek vier Pierre Vorster-Swarte kon maak, sou ek vir elkeen van my vriendinne een wou gee. Nie vir Karien nie, maar die ander drie kan elk doen met ’n goeie man, Madie inkluis.
“Die seuns maak my mal,” sug Gerda toe sy ’n sigaret opsteek.
Dis die eerste van haar twee skelm sigarette vir die dag. Ék het altyd die tweede een gerook, maar vandat ek weg is, rook sy albei.
Sy praat met my. Ek’s amper seker daarvan. Sy’s nie die tipe mens wat soggens met haarself sit en praat op ’n tuinbank nie. Sy praat met my, ek weet dit. Ek wens ek kon haar antwoord.
“Net vanoggend het die skool my weer gebel. Hulle het glo die onderhoof se foon in die hande gekry. ’n Bedanking na die hoof geSMS. Ook vir die arme man se vrou geSMS, allerhande vulgêre goed. En sy kinders een vir een laat weet hulle is onterf. Om nie te praat van die internasionale oproepe en internettransaksies nie . . . Toe die ou drol – en hy ís ’n ou drol – op hulle afkom, was sy rekening amper deur die dak en sy lewe op die punt van ineenstorting.”
Die seuns is snaaks. Dis lekker om nou te kan glimlag vir Gerda se stories. In die verlede kon ek nie aldag verklap hoe hulle kaskenades my amuseer nie. Gerda kan behoorlik bemoerd raak as mens nie die gewigtigheid van die situasie begryp nie.
“Ek het belowe om met hulle te praat. En te betaal. Nie net die foonrekening nie, maar ook ’n moerse donasie vir die skool se fondsinsamelingskomitee. Anders is die seuns dalk summier gevra om te verkas en die hemel help my, ek glo nie enige ander skool sal hulle vat nie.”
Sy oordryf. Vir al hulle stoutigheid is die seuns akademies baie sterk, en al drie speel in die eerste rugbyspan al is hulle skaars sestien. ’n Ander skool sal hulle maklik vat, maar Gerda hou daarvan om te weet hulle is in ’n baie goeie, baie duur skool. Een wat sy as kind nooit kon droom om by te woon nie.
“Ek gebruik nog steeds dieselfde angle grinder as die dag toe ek my besigheid begin het. Ek breek en plunder nie so ver ek gaan nie . . . waar kom die seuns aan hulle fokken ondankbare vernielsugtigheid? Ek kan mos nie nóg drie mans met sulke houdings die wêreld instuur nie!”
Gerda druk haar eerste sigaret dood en steek die tweede een aan. Myne.
“Dalk moet hulle ’n slag werk? Karre was en help in die fabriek. Hulle kan begin gras sny.”
As sy die seuns sover kan kry om hulle eie kosblikke te pak, sal dit my gat se deksel wees.
“Marijolein is ’n maklike kind in vergelyking met hulle, maar sy pla my deesdae ook. Sy’s so stil! Jy sal dit nie glo nie. Heeltyd in haar kamer vasgekluister met ’n boek. Ek’s bang sy gebruik dalk dwelms. Of dalk het sy ’n lover gevat?”
Ek glo nie Gerda besef aldag hoe mooi haar dogter is nie. Die appel val reg onder die boom. Ek dink Marijolein hét ’n lover gevat – in daardie geval val die appel natuurlik ’n kilometer weg van die boom.
“Die eerste dag toe ek jou ontmoet het, het jy vir my ’n ding gesê: ‘Daai New Age-nonsens van ’n naughty corner is sommer kak, jy moet hulle moer!’ Ek onthou dit soos gister. Jy was reg, ek gaan hulle begin pak slae gee!” Gerda boor die tweede sigaret in ’n sandkol langs die tuinbank.
“Die eerste dag” was sewe jaar terug, toe die seuns nege was. Hulle is vandag amper drie maal so groot soos Gerda, al slaan sy hulle met ’n plank sal hulle dit nie voel nie. Ek glo in ieder geval nie vir ’n oomblik sy sal hulle slaan nie. Daarvoor is sy heeltemal te lief vir hulle en is hulle heeltemal te charming. Aard seker so reg na hulle pa, want charm is die een ding waarvan niemand ooit vir Gerda kan beskuldig nie.
Teenoor háár gedra die seuns hulle die meeste van die tyd. Hulle behandel haar soos goud en dit help natuurlik om haar ferm op haar plek om hul pinkies gedraai te hou.
Gerda is die enigste van my vriendinne wat nie ’n conspiracy theory oor Karien het nie. Gerda het bloot gesê sy hou nie van Karien nie. Want Karien is creepy.
“In my lewe het ek nog nooit so ’n vreemde vrou kon optower nie, nie eers in my verbeelding nie.”
Dit