Alles wat blink. Melissa Scharneck. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Melissa Scharneck
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800375
Скачать книгу
en ek wil dit terugtrek en teen my bors vasdruk. Enigiets is beter as om te huil. As ek nou begin, hou ek nie op nie.

      Ek weet nie hoe dit gebeur nie, dis asof ’n vlaag stoom uit ’n pot ontsnap en voor my oë wasem, maar toe ek weer kan fokus, is ek terug by die kerkdeur. By Madie.

      Sy lyk asof ek haar kan omtik met ’n houtlepel. “Wat nou?” vra sy.

      As sy kon, sou sy seker die sin met “fokop” eindig. Maar ek dink sy kán letterlik nie. Daarvoor is sy heeltemal te ordentlik.

      “Nee,” antwoord ek.

      Dis so stupid. Ek is so stupid. Ek kan nie eers ’n sin agtermekaar kry voor ’n vrou wat my nie kan verdra nie.

      “Ek . . .” Ek druk by haar verby.

      Ek gee eintlik nie om wat sy dink nie, dink ek toe ek die trappe afstap.

      Ek gee nie ’n fok om nie.

      Toe ek by my kar kom, is ek so dankbaar om uit die kerk te wees. Dis beslis beter hier as op daai harde bank, voor daai foto wat vir ewig dieselfde gaan wees.

      Janine sal soos iets uit ’n Shakespeare-stuk nooit vir my oud word nie. Vir niemand nie. En sy sou so ’n fabulous ou vrou wees, ek weet dit sommer. Een van daai tannies wat met haar kierie op die sypaadjie slaan en margaritas op haar voorstoep drink terwyl sy die kinders in die buurt skel omdat hulle haar roosmarynbos vertrap.

      Ek ry verby die restaurant waar ek werk, maar ek het nie die krag om in te gaan nie. Wat agter daai deure aangaan, voorspel ook net kak. En vandag wil ek net wegbly. Wegbly van die werk af, wegbly van die kerk af, wegbly van enige ander drama as my eie.

      Uiteindelik vind my ou Corolla haar pad terug na my woonstel in Woodstock. Madie Dreyer noem Woodstock die gopse. Ek’s seker meeste mense wat in Bishopscourt bly, noem Woodstock die gopse.

      Ek het in die Oos-Kaap grootgeword, en met tye voel ek nog steeds soos ’n toeris in die Kaap. Elke dan en wan tref ’n reuk of ’n uitsig of ’n aksent my en ek kan net glimlag. Dit het vinnig my huis geword en dis maklik om vir die Kaap lief te raak, maar die Oos-Kaap lê nog vlak in my bloed. Ek dink dis die hart van Afrika. Daar waar doringboomsilhoeëtte kunstenaars na hul asem laat snak, waar amper almal drie tale kan praat en op een slag ook, waar Xhosa-vrouens sing en dans, dis dáár waar die hart van hierdie land klop.

      Op my tuisdorp is daar nie reuseverskille tussen woonbuurte soos hier in die Kaap nie. Daar is natuurlik die mooier, groter huise en die kleiner, kariger huise, maar niks so hartverskeurend soos wat hier aangaan nie. Gewoonlik het ek al voor nege in die oggend ’n huis gesien waarvoor ek ’n brood wil koop en ’n ander huis waar ek wil instap en hulle brood vir myself vat. Of vir die eerste huis gee, soos Robin Hood. Met mý luck sal ek maagpyn kry as ek gesteelde brood eet.

      Ek maak vir my ’n sny toast met Bovril en ’n koppie koffie.

      My boek lê nog op die kombuistafel waar ek dit gelos het. As enigiets my vandag na trane gaan dryf, is dit The Enchantress of Florence. Fok weet, ek dink nie ek is heeltemal ongeletterd en onopgevoed nie, maar ek kan net nie vat kry aan daai boek nie. Ek probeer nou al vir amper ’n week.

      Ek gee nie gewoonlik moed op met ’n boek nie. As ek sover gekom het om die eerste bladsy te lees, byt ek maar vas, maar vandag maak ek Salman Rushdie se boek toe en sit dit terug op die rak.

      Ek kan nie vir die sewemiljoenste keer Griet skryf ’n sprokie lees nie. Dan druk ek dalk ook my kop in ’n oond.

      Daar is nog die Marian Keyes wat ek uitgeneem het. Ja, ek dink ek sal eerder lees oor ’n vrou wat nie kan verstaan hoe sy ’n dwelmverslaafde kan wees nie, hoekom is sy dan nie maerder nie?

      Rachel’s Holiday it is then.

      Iewers in die volgende halfuur, met die omblaai terwyl Rachel se ma huil oor sy nie weet wat van die tinfoil in die huis word nie en my enigste vriendin se verassingsdiens aan die gang is, stamp ek my koffie om.

      Dit lek soos ’n tong oor die tafel, oor die biblioteekboek, oor my skoot. Asof dit eerder ’n emmer koffie is as ’n gewone beker met ’n kat op. In die paar sekondes waarin ek fokus op die koffie wat skielik oral is, besef ek nie die koppie val nie.

      My koppie.

      Ek het daai koppie al vandat ek veertien jaar oud was. Jan Breytenbach het dit vir my gegee vir Valentynsdag. Hy wou my boyfriend wees en ek het eenmaal vir hom gesê ek sal eerder ’n katmens as ’n hondmens wees. Katte kan na hulleself kyk – wanneer ek mal word.

      My koppie! Ek trek my longe vol lug en dit kom in ’n reeks snikke uit. Met die opstaan hou ek aan die tafelrand vas. My hand gly en ek slaan op die kombuisvloer neer.

      Daar lê ek en my koppie toe. Albei opgefok verby die punt van regmaak. Ek bly lê. En ek huil terwyl die koffie in my skoongewaste hare intrek.

      As Madie Dreyer nou hier was – en van my gehou het – sou sy vir my nuwe koffie maak, die kombuis in ’n japtrap skoonkry en ’n kalmeerpil aanbied.

      Party mense weet net hoe om die lewe te oorleef.

      Ek is nie een van hulle nie.

      Êrens tussen hier en nêrens

      Êrens tussen hier en nêrens

      Dinge was anders toe ek nog anders was. Klink vreemd, ek weet, maar alles is vreemd. Ek’t nog altyd geweet daar is iets ná die lewe. Natuurlik besef dis waansinnig om te probeer redeneer oor wat dit is, asof logika nou iets daarmee te doen het.

      Al garing waaraan my oortuiging gehang het, was die knaende wete: ’n Mens kan tog nie net vergaan nie. ’n Hele lewendige wese, met gevoelens en drome en vrese, kan nie net vergaan nie! Al die gedagtes wat teen die spoed van lig deur ’n mens se brein vlieg, kan nie sommer maar net in niks eindig nie.

      Daar is ’n verskil tussen die energie van ’n liggaam wat nie meer wil werk nie, of wat nooit reg wou werk nie, en die brein of spreekwoordelike hart, waarmee daar nooit fout was nie. Heel diep binne-in ’n mens is daar ’n ding, ’n iets wat daai mens maak wie hy of sy is. Dis daardie iets waarin ek altyd onvoorwaardelik geglo het. Iets moet voortleef.

      Anyway, hier sit ek nog steeds en probeer om my teorieë te verduidelik – sommige dinge verander nooit.

      Die ding is, en vir my is dit ’n groot ding: Mense word agtergelaat. Mense vir wie jy omgee, vir wie jy lief is tot binne-in jou wese. Hierdie mense is nie altyd gereed om jou te laat gaan nie, en jy is selde reg om hulle te laat gaan.

      Soms moet mens maar ’n bietjie push – al is dit nou van die ander kant af. Om seker te maak hulle gaan oukei wees. Daar is vir my niks belangriker nie: Hulle moet oukei wees.

      Ai, en hulle is ’n ingewikkelde, hardkoppige soort, dié geliefdes na wie ek verwys. Daar is darem net vier van hulle, almal vrouens – en dis al wat hulle gemeen het. Dit, en dat ek lief is vir hulle. Elkeen so baie dieselfde en tog so anders.

      Eintlik wil ek die hele spul van hulle gryp en hulle skud. Hard skud. Daar is nog soveel lewe in hulle oor en hulle weier – elkeen op haar eie manier – om te lééf. Hulle het mekaar nodig, maar hulle kon mekaar nog nooit verdra nie.

      Madie

      Madie

      “Het jy al ooit daai kies-jou-eie-einde-boeke gelees?” vra Madie eendag in matriek.

      “Ja. Ek’t altyd pregnant opgeëindig.”

      “Ek ook,” was haar antwoord.

      Toe al afgehaal omdat sy nie op die paal is nie, dit maak geen sin nie.

      Gereeld het ons die ander matriekdogters “Yes!” hoor skree in die toilette as die pes uiteindelik ná ’n paar angstige dae opdaag, maar nie Madie nie. Sy wou nog altyd ’n kind hê, vandat sy self ’n kind was.

      Madie is soos die Little Mermaid. Lyk of sy alles het, maar eintlik soek sy net één ding, en daarvoor sal sy alles anders opgee. Maar dit wat sy wil hê, bly buite haar bereik. En vir al die skoonheid en geld en brains wat sy het, is sy wat