'n Pawpaw vir my darling. Jeanne Goosen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jeanne Goosen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703577
Скачать книгу
uit die boonste rakke nie. Nee,” roep sy uit, “ek weet wragtig nie waar alles gaan eindig nie!”

      Dikboud Mabel chime nou ook in, skoon hier van ’n ander kant af. “Wat van ons arme lost generation? Ons jonges wat wil vooruitkom in die lewe? Hier sit ek, een en twintig en klaar geretrench, werkloos. Moet bakhand staan by die Arbeidsburo vir my compensation. Dit doen iets aan my, ’n jong vrou. ’n Mens het tog nog iets soos trots en skaamte. As ek Charlize Theron se geld gehad het, het ek ook padgegee. Charlize het die regte ding gedoen. Sy’t die dice bekyk toe hy geval het, en ge-let-go. Sy het die kontakte gehad en die regte mense geken wat haar bo kon uitbring. En daar sit sy nou. In Hollywood. Having the time of her life on the swing. Reg bo met die wêreld aan haar voete. And by the byes, bekyk ’n mens haar goed, is sy ook nie só mooi nie!”

      Nou wonder ek wat Tsjaka is, dink daardie Mabel met haar knit-one-slip-one-tande en tros moesies sy sal dit in Hollywood kan maak? Maar foei tog, ek weet toe ek nog ’n jong brak was, het ek ook maar my drome gehad van by iemand uitkom wat nie suinig is met vleis en sous nie; iemand wat vir my ’n warm slaapplek kan gee op ’n toegeboude stoep.

      Daar begin Vleis al weer. Ag tog! Hoor hoe gaan die man aan: “Ek vra julle weer: wie wil geld in so ’n land instoot?

      “Hulle jaag ons Afrikaners wat nog iets saam met hulle wou uitprobeer, in ’n hoek in. Ons is vasgekeer. Dis geen wonder dat al hoe meer mense nou na Radio Pretoria luister nie.”

      “Nou praat jy, Vleis!” roep Sally Caravan uit wat vinnig ’n koppie suiker kom leen het. “Nou wil hulle nog Radio Pretoria ook van die lug af kry. Al plek waar ’n Christenmens nog die waarheid hoor.” Sy slaat ’n vlieg vrek met haar plak waarsonder sy nooit is nie. “Ek hoor juis Mbeki is al wéér in die States. Ek wens die donner wil sy mind opmaak en daar bly en vir ons sê: that’s how the cookie crumbles. Dis hy wat die hele land so kom opneuk het met sy stories oor armoede, en dan praat ek nie eens van die ding met die Aids nie. Hy’s nie Madiba se gatvelle werd nie. Wat makeer hom? Ek hoor hy wil al weer ’n nuwe aeroplane ook hê. Wat’s fout met die oue? Dit was goed genoeg vir die ander. Vir FW ook. Apartheid is mos verby, finish en klaar. Almal is nou gelyk en dié wat nie is nie, vat ’n dop by Vegkop Hotel en hulle baklei dit daar uit. Na Vegkop kan jy maar sê leeu en lam lê binneboud, soos die Here in Openbaringe sê. Hierdie fools wat so wette maak, moet afkom grond toe en tussen ons, die mense, rondstap. Dis nie ons, die wittes wat nou van hoenderkoppe sop moet kook, wat die probleem is nie. Dis húlle wat moeilikheid soek waar daar nie moeilikheid is nie.”

      “Quite true,” sê Vleis gewigtig en frons. “Ek stem nou wel nie saam met Ouma oor Radio Pretoria nie, want hulle soek ook maar ’n kommunis agter elke bos. Fact remains, almal kry ewe swaar. En in Damnville, pienk, pers, bont of gestreep, help almal mekaar waar hulle kan. Maar met die taxi’s en die hijackers het ek ook my hande in die lug. Die poelieste kan nie meer wet en orde handhaaf nie. En wat van die plase? Dis daardie Mbeki. Vandat hy oorgeneem het, is dit dat algar mekaar so aanhits. Die man weet nie waarvan hy praat nie. Vat nou vir ons hier in Damnville. Hier’s nie meer apartheid nie. Daar is byvoorbeeld Cyril, so te sê my beste vrind. Daai boy van my is wel swart, maar hy het ’n wit hart. Vat nou die aand toe die Opel nie wou start nie. Het die Van Schoors kom help? Die Bonthuise? Die Bitterbekke? Het hulle ’n broederlike hand kom uitsteek? Toe, antwoord my! Het hulle? Toe, antwoord my, ek wag!”

      Dis lank stil.

      “Not a damn!” bulder Vleis. “Wie hét toe op die ou end vir Vleis Beeslaer kom help? Wie? Ek vra wié? Cyril! Ja, ons Cyril. Die einste Cyril Phosa van Frik du Preezstraat nommer 24.”

      Ek, Tsjaka, wat ook hier woon, kan dit nie meer vat nie. Hoor my aan! Ek kan daai kermstem wat so hoog in die lug in opskiet net nie meer vat nie! As Vleis Beeslaer eers op politiek is, móét hy tot op Kerkplein gehoor word. Nee, ek weet wragtig nie. Soos hulle vanaand hier aangaan, en hulle is nugter, nè, is dit vir my amper beter dat die klomp liewer op Cape Hope bly. Met ’n dop in die hand pass hulle darem taamlik vroegaand uit.

      “Vat nou my suster Johanna,” sê Soufie. “Nou mos Jo-anne vandat sy met daai ryk Engelsman getroud is. Verbeel haar ook haar jis ruik na You’re the Fire. Toringhuis in Waterkloof. Hoër as Mount Everest. Tot met ’n lift in om haar groceries op te trek kombuis toe. Maak die regte goewermentsgeluide, ja, maar ek ken haar en haar soort: vee as niemand kyk nie die toiletsitplek af nadat die ousie daarop gesit het. Jammer, maar dis die waarheid al is dit my eie suster. Soutpiele. Die soort wat ’n swarte ’n order kan gee dat dit na ’n kompliment klink. Soos die gesegde sê, bo bont en onder vol stront,” maak Soufie haar storie uitasem klaar.

      “Die rand is nou op sy heel laagste,” gaan Vleis aan. “Dit raak almal van ons. Wit, swart, pienk, pers, bont en gestreep. En van die swartes gepraat. Waar’s al daardie huise wat hulle belowe is? Toe!” roep Vleis uit. “Antwoord my! Ek wag!”

      Sally, wat seker voel dis nou weer haar beurt, antwoord: “Daai geld vir die huise is op, sê ek julle vanaand. Julle sal nog sien ek’s reg. Die miljoene is vir gatswaai oorsee gebruik. En wie betaal daarvoor? Ek en jy. Die taxpayer. Dis hoekom dinge is soos dit vandag is.”

      Ek, Tsjaka, probeer om nie te luister nie, maar die klomp gaan so te kere dat dit my hele kop oorneem. Ek verstaan mense nie. Hulle wêreld is ’n omgekrapte plek. En dis hulle eie skuld. Wat gaan hulle so aan oor wit en swart en al daai goed? Vir wat sal ons nou met mekaar neuk oor so ’n lot nonsens? As ’n teef op hitte is, vra jy nie uit wie haar ma en pa of watter kleur hulle was nie. Ons groet almal mekaar met ’n nat neus en so sal dit bly. ’n Hond is ’n hond is ’n hond. Dis mense wat alles kom omkrap. Veral met skutte en wette. Waar’s die vryheid waarvoor almal so baklei het?

      Maar hierdie ding met die rand laat my dink. As die rand in sy glory is, dan het Damnville se honde ook sieners geword; het almal van ons ons dingesse gesien. Dit beteken dis van Epol na No Name Brand en dan moet ’n hond seker maar bly wees dis nie van beeslong tot foggherol nie. Aan No Name vreet en vreet en vreet jy, maar jy kom nooit dik nie. Daar is altyd ’n hol kol wat skree vir nog. Daar’s iets wat ’n hond moet hê wat missing is in daardie soort kos. Dis daardie ding wat op die ou end van ’n hond ’n hond maak. En net Epol het dit. Kom jy die slag wel aan No Name volgevreet, moet jy weet jy het dit oordoen. As jy nie oortyd skyt nie, blaas jy op. Dis wind op wind, pure gas. As die wind die slag draai, stink die hele straat na No Name Brand-poepe. Met ordentlike kos voel dit darem nie of jou maag vol rotte is nie.

      Knoffel, die een met die windhondbloed, het vanoggend kom vertel van die soort kos wat Mignon daar in Wôterkloof geëet het. Dis ’n soort blokkie wat jou ná ’n bek vol wil laat huppel. Die pienk goed wat hulle daar vreet, smaak na vleis. Jy’t glo min daarvan nodig, want die blokkies swel uit in jou pens. Dit maak ’n hond rats en laat hom in die lug in opspring. Na net ’n paar skeppe van daai fensie brand trippel jy die hele dag rond. Nog iets, dit laat ook nie jou hare uitval nie.

      Mignon treur glo ook omdat die hare op haar een oor uitval van ou Hannie van Oorkant se hondetjol met die blou label. Of dis wat die ander brakke hier by die gholfbolposbus kom vertel. Die poedeltjie bly ook aanmekaar krap. Ek het vergeet om te sê: Mignon het kom kennis maak by die ossewawiel. Ons het aan mekaar geruik en had rapport. Die eerste keer toe ek die Franse poedel met die straat sien afstap, het ek haar goed bekyk. Sy is nie ons soort hond van hier nie. Glad nie sleg nie, het ek gedink, al was die rooi strik toe al af. Sy is iets om na te kyk. Soort van upstairs. Dalk is dit haar manier van smile met die twee hoektandjies wat net so eina-eina oor die onderlip glip. Arme Mignon. Ou Knoffel, die een met die windhondbloed, het glo vir haar gesê dis die lewe van ’n hond in Damnville. Ons jeuk maar almal hier. Ons is gewoond daaraan en sy sal ook daaraan gewoond raak. Dis nou as sy wil oorleef.

      Mignon het baie stories. Sy vertel dat die honde, daar waar sy vandaan kom, se tande geborsel word. Die tandepasta het ’n beef, ’n lamb, ’n chicken of ’n turkey flavour. Van so iets het ek nog nooit gehoor nie. En dit is sommer ’n klomp nonsens as iemand my moet vra. ’n Tandeborsel sal jy nie in my bek inkry nie. Aai-blerrie-kôna!

      Mignon vind ons geselskap hier wel interessant en so aan, maar sy sê geen groter hel as Damnville kon haar getref het nie. Dis die noodlot wat haar hier uitgespoeg het. Dit het alles begin dié