“Haai, Riekie, is jy hier?” fluister sy.
Ek tik met my voet teen ’n boomtak om die blare te laat ritsel. Sy kry die boodskap en kom diékant toe, haar gesig ’n groot glimlag. Nog rêrig kind, dié een. Maar soos ek gesê het, ek dink dis cute.
Sy kyk op na waar ek sit, begin dan klim. Dis net knieë en elmboë.
“Haai, Lucy,” groet ek. Ek lê teen ’n tak.
“Hallo! Wat maak jy?”
“Nie veel nie. Jy?”
“Nou net klaar met tennis.” Sy sug.
By ons skool word almal gedwing om ten minste een sportsoort te doen; vir Lucy is dit tennis. Probleem: sy’s in, soos in die tiende span, wat ’n prestasie en ’n half is in ’n skool van onder die 450 mense. Ek het hulle al gesien. Hulle staan daar en trek hulle oë op skrefies teen die son terwyl hulle die rakette rondswaai asof hulle ’n vlermuis probeer vrek klap. Shame, party van hulle staan die hele uur daar sonder om een keer kontak te maak met ’n bal.
Ek reken ek’s min of meer in dieselfde liga, dus het ek swem gekies. In my geval meer versuip as swem, maar dit was my somersport. Darem een regmerkie op die lys.
Lucy trek ’n gesig. “Jy weet, die skool is net nie dieselfde sonder jou nie.”
“Dankie.” Ek skuif meer regop en vroetel met my banksakkie.
Lucy snak na haar asem. “Riekie, moet net nie vir my sê dis . . .”
“Ja, is ook,” antwoord ek en begin ’n zol rol.
“Maar jy sal . . .” Haar oë is enorm groot.
“Ek sal wat? Geskors word?”
Ek snuif en lek die Rizla. Daar’s hy. Lucy kyk weg terwyl ek aansteek.
“So, hoe gaan dit met jou boetie?” vra sy.
Ek hoes. My keel brand, my oë traan.
“Dis nogal erg, Luce.”
“Jinne, Riekie, dis so aaklig. En so vreeslik ongelukkig – kanker op so ’n jong ouderdom!”
“Nes jy daar sê,” piep ek.
Die rook brand in my keel. Nou toe nou, die mense glo Ma se storie. Ek trek my oë skrefies teen die rook.
“Jy weet, baie mense onthou nog vir Wayne. Wanneer was hy in matriek, soos in, vyf jaar gelede?”
“Ses,” sê ek terwyl ek uitblaas.
“Riekie, ek moet net vra. Móét jy dit doen?”
“Jip.”
“In elk geval, ná al die jare gaan almal nog te kere oor hoe oulik hy was . . . uhm, is.”
“Hmmm.” Ek maak my oë toe. “Nie dat enige van hulle die drumpel hier deurtrap nie.”
“Wel, ek’s hier. Ek het net aangeneem hy rus. Maar ek sal gaan inloer. Shame, kanker. Dis nie asof dit vigs of so iets is nie.”
My keel trek toe en my oë spring oop. Ek sit regop.
“Wat? Meen jy as dit Aids was, was dit vir jou ’n probleem? Soos in, dan sou jy nie kom kuier het nie? Asof jy dit kan kry net deur na iemand te kyk? Of dieselfde lug in te asem?”
“Jô, skuus, man, ek het niks daarmee bedoel nie.”
Ek gluur haar steeds aan.
“Nee, nee! Natuurlik dink ek nie sulke goed nie!”
Ek het geweet sy sou dit sê, want Lucy vrek daaroor om mense te gee wat hulle wil hê. Sy’s ’n oulike chick, maar sy kan dit nie hantéér as iemand vir haar kwaad is nie. Dit gaan haar nog eendag in die moeilikheid laat beland. Dit gebeur al klaar op klein maniertjies. Soos aan die begin van die jaar toe sy amper haar belangrike wiskundetoets gedop het omdat daai loser Riaan Smit haar gecharm en gepleit het dat sy sy handboeke moet oortrek. Toe sit sy daar, heelmiddag en heelnag, met plastiek, skêr en kleeflint, net om Riaan happy te maak. Dit het haar vir ewig gevat, want dit moes als perfek wees, sien. Maar toe wou sy die wiskunde-onnie ook gelukkig maak. Sy’t probeer swot. Maar sy’t letterlik nie ’n oog toegemaak nie, en teen die tyd dat sy die toets moes skryf, was haar brein soos maaskaas.
Ek begin ’n bietjie rustiger voel.
“Jy weet, Lucy, ek wil net vir ’n tydjie van als vergeet. Dis hoekom ek hier bo kom sit het. In elk geval, jy weet ek rook nie regtig nie, maar noudat ek dit doen, wil ek nie die ervaring staan en mors nie.”
“O, oukei, sure.” Sy skuif op haar tak om haar sit te probeer kry. Haar bene hang en swaai rond soos ’n langbeenspinnekop s’n.
Skielik is dit vir my skreeusnaaks, en daar gaan ek aan die lag.
“O, freak, Lucy, verbeel jou iemand kom nou hier aan. Al wat hulle sal sien, is twee voetjies wat tussen die blare uitsteek. Dis so snaaks!”
“Ja, en hulle sal rookdampies sien uitkom aan jou kant.”
Lucy begin ook lag. “Riekie, jy’s flippen getik, weet jy.”
Voor ek kan keer, glip dit uit. “Ha-ha, Mal Riekie en Crazy Daisy!”
Ek voel onmiddellik aaklig, want ’n klomp mense trek haar siel uit oor haar haarstyl. Maar noudat ek sien hoe sy glimlag, besef ek dat ek die enigste een is wat die ooreenkoms met ’n madeliefie sien. Dit was als net in my eie kop, sjoe.
Bolloks, wat verslaaf is aan die geluid van lag, het onder die boom kom staan en opkyk. Haar fluweelore raak amper aan die grond en haar voorkopvelle is in ’n frons saamgetrek. Sy krap aan die boom, probeer daarin klim en kreun: “Ie-hie-ie-ie . . .”
Dit laat ons twee in die boom soos maniakke lag. Ek moet my sye vashou, want ek het my al amper in ’n spasma in gelag. Met dié laat val ek die joint in my skoot en begin gil. Ek het nie werklik tyd om daaroor te dink nie, maar die gedagte flits deur my kop dat ek soos Michael Jackson klink.
My arms swaai, ek probeer desperaat om my balans te behou, maar kort voor lank duik ek deur die lug. Hoekom drink en bestuur as jy kan rook en vlieg? het iemand ’n slag gesê. Dan land ek, doef! Ek word dadelik begroet met ’n gehyg, ’n geslobber en – nog erger – ’n gelek.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.