As jy 'n ster sien verskiet. Maya Fowler. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Maya Fowler
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624053774
Скачать книгу
of ander variant van beige geverf, wat na my mening nie die beste agtergrond vir rooi rose is nie. Hulle kon hier gerus gehou het by die tema van wit en navy-groen.

      Ek gaan sit op ’n bank met die koue bottel tussen my knieë. Hy’s al klam van sy eie dou. Ek draai sy nek om, tsjjj. Die son slaan die lug wit soos wat ek gaan lê om te drink. As Wayne hier was, sou hy my geterg het oor ek op ’n parkbankie lê met ’n bottel teen die mond, maar ek’s alleen, en wie gee in elk geval om?

      Ek lê en kyk vir die engel. Sy laat my altyd beter voel. Selfs al sit sy bo-op ’n oorlogsmonument. Iemand het my ’n slag vertel presies dieselfde engel sit in Kaapstad ook, op ’n monument in Adderleystraat, net daai een het twee soldate weerskante wat lyk of hulle iets bekruip. Het dit self nog nie gesien nie; dis net wat ek hoor.

      “Haai, hoezit!”

      ’n Skaduwee sny my sonlig af en ek kom stikkend orent. Die koeldrank trek in my neus op, waar dit brand voor dit in strome begin uitloop. Ek hoes en hou my hand voor my gesig.

      “Jis, is jy oukei?”

      “Doodreg,” mompel ek, steeds besig om my keel te probeer skoonkry. Flippit, ek skaam my stukkend.

      “Sorry, ek het jou laat skrik,” sê die ou.

      Hy’t ’n ysie in die hand. Hel, plaas ek een van daai rooi suigstokkies gekoop het waarvan ek so hou. Maar dit sou my ma geïrriteer het, want die goed maak my tong rooi, en sy meen dit maak my lastig.

      “Warm hier buite, hè?”

      “Ja, is ook, maar dis altyd so,” antwoord ek.

      Die ou fluit en steek sy hand uit na my. “Haai, ek’s Leroy September. Leroy beteken ‘die koning’.”

      Hy lag vir sy eie grappie.

      “Riekie Taylor.” Ek skud sy hand, wat vreemd voel, want wie maak nog so? Tensy jy ’n sertifikaat by die prysuitdeling kry of ’n nuwe sakevennoot ontmoet.

      “Jy van hier?” vra hy.

      “Jip. My lewe lank.”

      Hy suig aan sy ysie, sy voorkop vol riwwe soos hy sy oë teen die son toeknyp, al het hy Oakleys op. Ek kan my indink hy kry warm met daai jeans en langmouhemp. En sulke lang, gepunte leerskoene. Hy moet liewer sandale dra in hierdie hitte.

      “So, hoekom lê jy op ’n weeksoggend in die park rond? Want jy lyk of jy eerder in die wiskundeklas moet sit,” sê hy terwyl hy sy moue oprol.

      O, wiskundeklas. Vir wat is almal so gepla met wiskunde? Dis asof dit die belangrikste ding is wat jy op skool kan leer, of die enigste rede om te gaan.

      “Ek kan jou dieselfde vraag vra,” skerm ek.

      “Nooit, man. Ek het ma’ net daai baby-face,” sê hy en fladder sy wimpers. “Maar ek’s al klaar met varsity en als. Drama.” Dan sing hy met ’n falsetto: “Dra-maaaa!”

      “O,” sê ek en gaan lê weer. “Dit maak sin.”

      “Wat meen jy?”

      “Niks.”

      Die son moker ons. ’n Vliegtuig vlieg hoog bo-oor ons verby. Dit sien mens nie aldag nie.

      “Nou, wat maak jý hier?” vra ek.

      Hy strek hom uit en gaap. Sy tong is heeltemal oranje van die ysie.

      “Ha! As jy by die skool was, sou jy geweet het.”

      Ek trek ’n suur gesig en kyk anderpad. Ek’s nie lus vir ’n preek nie. En glo my, teen hierdie tyd het ek al ’n paar gehoor. Blykbaar moet ek ’n plan maak, want volgens wet móét ek op skool wees. Kan jy dit effieng glo? Net omdat ek veertien is. Jy mag eers skool los wanneer jy sestien is, al het jy teen daai tyd nog net graad ses gemaak.

      Almal sê dis so eenvoudig. Al wat ek moet doen, is my hare regmaak, respek aan die skool betoon, om verskoning vra en my soet gedra. En nee sê vir boom. Maar ek vertel nie vir Leroy dié goed nie.

      “Ja, en ek’s nie vandag by die skool nie, so sê my net.”

      “Oukei. Ek’s in ’n dramagroep, vir nou. Net tot ek famous raak en die TV slaat. Anyway, ons kom van Kaapstad af. Ons toer deur die hele land – skole. Ons leer julle ouens van Aids.”

      Ek spring regop en laat amper die Coke-bottel val. Ek weet nie watter kant toe om te kyk nie. Dis nou al ’n ruk dat ek nie daai woord kan hoor en my dan nog normaal gedra nie. Ek onthou toe ons op skool daaroor gejoke het. Asof dit ’n veraf ding is wat nie een van ons kan raak nie.

      “Hei, is jy oukei, Riekie?”

      Ek antwoord nie, staar net na die engel. Na ’n ruk fluister ek: “Jy’s ’n bietjie laat.”

      Toe vertel ek hom van Wayne.

      3

      

      Ma is besig om die stoep te skrop toe ek by die huis kom. Dis nogal ongewoon vir haar, dié skoonmaakbesigheid. Sy swaai haar kop lekker rond; sy’t oorfone aan. Ek weet nie hoe sy dit regkry om met toe oë te skrop nie, maar dis aan die gebeur. Ek sê jou, dis flippen irriterend. Dis die soort gedrag waarvan ek vroeër gepraat het. En sy’t ’n tulband aan. Ek meen, wie trek so aan? Wíl sy ’n reject wees?

      Ek skud my kop en swaai uit voor ek by die trap kom. Ek kan maar weer die kombuisdeur gebruik.

      Dis amper etenstyd, en daar’s potte op die stoof. Een van die plate sis onder ’n verdikte tamatie-en-uiesous. Ma se kombuis is altyd vieslik. Sy hou daarvan om te kook, maar die kombinasies is vreemd. Ongelukkig glo sy nie aan resepteboeke nie. “Te styf,” sê sy. “Mens moet vryyyy wees.”

      Sy glo kookboeke is voorskriftelik en lê kreatiwiteit aan bande. Maar ek moet erken, sy probeer hard.

      Ek loer in die ander pot. Lyk na hoenderrepies in witsous, met baie groenrissie, murgpampoentjies en aartappels. Die tamatie-en-uiesous in die eerste pot is net vir ons twee, want Wayne kan nie meer tamaties eet nie. Die suur brand sy mond.

      Ma koop alles vars by Mark vir die Huisvrou (ons noem dit “Vark vir die Muis”, dis ’n familiegrap). Geen blikkieskos meer nie. Dit moet gesond wees, vir Wayne.

      Ná vyf gooi die berg sy skadu oor ons, want ons is so na aan hom. Daar’s nog genoeg lig, net nie son nie.

      Ek skuif buitentoe, want ek het lug nodig. Hierdie huis het hoë plafonne en groot vensters, maar dit voel net nooit genoeg nie. Ek gaan lê op die gras, maar spring dadelik op toe die twee honde naderkom. Die basset kom slobber op my en die wanna-be-labrador lek my in die gesig. Bolloks en Bitterbal is hulle name. Ga. Ek hardloop kraan toe, spoel af en gaan klim in die vyeboom agter in die tuin.

      Ek het nog ’n halwe banksakkie rookgoed, van dieselfde klomp wat my in die moeilikheid laat beland het. Die goed sit in my jeanssak, saam met die Rizla-papiertjies en die sigaret-aansteker.

      Soos ek sê, ek’s nie so mal daaroor nie. En ek vrek eerder as om my ma te laat sien, want sy sal op een of ander siek manier trots voel op my. Sy sal sê: Ja, dis reg so, erken jou gevoelens. Neem ’n ou ietsie, want dis goed vir die senuwees en jy’s deur ’n rowwe tyd.

      Al dié goed is waar, maar hulle kom van myself af. As hulle van haar af gekom het, sou ek hulle opfrommel en plattrap.

      Stemme dwarrel by die huis uit.

      “Nee, ek weet nie waar sy op die oomblik is nie, maar maak jou tuis, hoor. Kyk ’n bietjie rond. Dalk buite,” sê my ma.

      Verdomp. Wie’s dit tog nou? Ek’s nie lus vir nog onderwysers nie. Maar hier kom die besoeker by die kombuisdeur uitgestap. Dis Lucy, een van my drie soort-van pelle by die skool, en my gunsteling van die lot.

      Lucy het donkerbruin krulhare wat sy in ’n