“Nee, los maar. Ek sal wel ’n plan bedink. Wat skuld ek jou vir dié dat jy na die bakkie kom kyk het?”
“Niks. Kan ek vir jou kom kuier daar in die Kaap?”
“Nee.”
“Hoekom nie?”
“Sommer nie.”
Hy kyk op sy horlosie en trap ongemaklik rond. “Ek sal moet ry. Eintlik is ek op diens en as hulle uitvind ek is nie op die pad nie, kan ek in die moeilikheid kom.”
“Nou ja toe, ry dan.”
“Jy sal darem iets vir die bakkie kan kry as jy hom skrootwerf toe vat.”
“Dan moet ek hom seker op ’n kruiwa laai en stoot tot daar. Nee, los maar. Ek sal regkom.”
Toe Vicky moedeloos die nuus van die bakkie aan tant Ellie oordra, sê dié ewe kalm: “Ek het ’n vermoede gehad daar is groot fout, en het toe maar besluit om Jorsie vir jou te gee. Dis net werk om elke dag sy masjien vir ’n ruk te laat loop sodat sy binnegoed nie vas roes nie. Ek raak buitendien te oud vir rondry. Maar ek waarsku jou, as jy hom nie mooi oppas nie, vat ek hom terug.”
“Jorsie … Tante bedoel ek moet met daardie jaar-toet-motor van tante Kaap toe ry!”
“Hy’s meer betroubaar as wat die bakkie was. Sorg net dat jy nie sy masjien ooreis nie. Jy ry niks vinniger as honderd kilometer ’n uur met hom nie. En voor jy ry, moet jy hom was. Hy sal baie beter lyk as hy skoon is.”
Daardie nag slaap Vicky omtrent glad nie. Sy’t al die spreekwoord “Hoogmoed kom tot ’n val” gehoor. Nou ken sy die betekenis daarvan. Nie dat sy haarself al ooit as hoogmoedig geag het nie, maar dis min of meer dieselfde ding wat met haar gebeur het. Die een oomblik was die toekoms nog blink en belowend, nou is dit vaal en verdoemend. Sy’t gedartel deur die lewe, nou strompel sy voort sonder hoop op enige toekoms.
Wat gaan die mense van haar dink as sy in so ’n ou stuk tjor daar in die Kaap aankom? En wat op aarde weet sy van ou mense met hartkwale? Die heel ergste: sê nou tant Ellie se voorspelling is reg en daar is niks geld oor wanneer die skuldeisers klaar is met hul eise nie? Sal sy dan vir die res van haar lewe met ou mense moet gesels om aan die lewe te bly?
Dat dit so ’n groot werk is om ’n motor te was, het Vicky nie kon dink nie. Boonop stamp Piet die emmer water twee keer om. Sy is seker dis van pure moedswilligheid oor sy hom die vorige aand in die murasie van die ou stal gaan toesluit het sodat sy ongesteurd die eiers kon uithaal.
En beter lyk is min! Die motor se duike en stampe is eintlik net nog meer sigbaar. So ook die twee groot roeskolle waar die hekpaal die verf afgeskraap het. Tant Ellie was nooit ’n wafferse bestuurder nie.
Maandagoggend toe sy moet ry, stap tant Ellie saam buitentoe.
“Nou is jy gereed om die eerste sport van die leer te klim,” sê sy. “Sorg dat jy bo kom. As jou ma dit kon regkry, kan jy ook. Moenie soos jou pa maak en van bo af ondertoe klim nie.”
Daarmee druk sy ’n paar note in Vicky se hand. “Gelukkig gaan jy geen onkoste met verblyf en dinge hê nie. Mevrou Maartens het gesê jy slaap en eet by haar in die huis. So gebruik hierdie geld om vir jou ’n spaarrekening te open. Jy sal verbaas wees om te sien hoe gou kry ’n mens iets bymekaar as jy nie jou geld vermors op onnodige dinge nie.”
“Dankie, tante. Hopelik sal ek eendag vir tante ook ’n klip uit die pad kan rol. Sodra ek daartoe in staat is, sal ek die geld teruggee. En baie dankie ook vir die afgelope tyd se huisvesting.” Sy laat haar blik oor die werf dwaal, en ervaar skielik iets wat soos hartseer voel. “Ek hoop die henne lê goed, en dat Piet nie die pad sal vat nie.”
Tant Ellie pink ook onverwags ’n traan weg. “Mooi ry, en moenie mevrou Maartens se adres verloor nie.”
“Hoe ’n soort mens was my ma, tant Ellie?” vra Vicky, traag om te ry.
“Jy’t haar mos geken. Jy was dan al sewentien toe sy dood is.”
“Ek weet, ja. Maar na wie aard ek? Na haar of na my pa?”
“As ek moet sê, het jy iets van albei in jou. Maar jou rabbedoestreke en gekruide taal kom definitief nie van jou ma af nie. Sy was ’n verfynde dame. Tog kon sy op haar punte staan. Sonder haar sou jou oorlede pa van die begin af tot mislukking gedoem gewees het. Jou pa het die plaas by sy ouers geërf, maar as dit nie vir jou ma was nie, sou Rietvlei nooit die spogplaas geword het waarop jy grootgeword het nie. Die toekoms sal leer of jy jou ma se staal in jou het, en of jy ook sommer net deur die lewe gaan ploeter soos jou pa. En nou moet jy ry, dit word laat.”
2
Sy sal tant Ellie wys sy is nie soos haar pa nie, neem Vicky haar voor toe sy die draadhek agter haar toemaak en haar blik vir oulaas oor die werf laat gly. Sy sal uitstyg in die lewe. Elke sent wat sy verdien, gaan sy spaar. Kort voor lank kom koop sy Rietvlei onder die Engelsman se bas uit!
Die pad is lank. So nou en dan kom sy agter Jorsie se spoedmeter toon aan dat sy te vinnig ry. Dan verminder sy teësinnig spoed, want nugter weet wat sy gaan maak as Jorsie haar in die steek laat. Dis nie meer die tyd toe sy haar pa kon skakel in noodgevalle en woerts-warts was sy geholpe nie. Maar nou ja, sy sal haar deur niks laat onderkry nie. Buig of bars, sy sal die heel boonste sport bereik! En nie wanneer eendag nie, sommer baie gou!
Die motor het nie lugverkoeling nie. Dis einde November en bloedig warm. Vicky is natgesweet en moeg toe sy uiteindelik by die adres in Plattekloof aankom. Vir ’n wyle bly sy sit om eers die plek in oënskou te neem. Dit lyk nie te sleg nie. Mevrou Maartens se huis is weliswaar nie so groot en modern soos die meeste ander huise in die straat nie, maar dit lyk skoon en netjies.
Sy knap eers vinnig haar grimering op voordat sy voordeur toe stap en die klokkie druk. Die vrou wat die deur kom oopmaak, is nie meer so jonk nie, maar sy lyk ver van twee en negentig af. Die wyse waarop sy vraend bekyk word, sê vir Vicky die vrou weet nie mevrou Maartens verwag haar nie.
“Goeiemiddag,” groet sy dus vriendelik. “Ek is Vicky Webster, mevrou Maartens se nuwe geselskapsdame. Sal u asseblief vir haar sê ek is hier?”
Die vrou frons. “Maar … e … Wag, kom eers binne, dan kan ons gesels.”
Vicky volg die vrou na die sitkamer en neem op ’n stoel plaas toe die vrou aantoon sy moet sit. Sy kruis haar bene en loer vlugtig rond. Antieke meublement en Persiese matte …
“U betrap my nou ’n bietjie onverhoeds,” sê die vrou. “Ek is Sarita, mevrou Maartens se dogter. My moeder het ongelukkig nie kans gehad om vir my te sê dat u op pad is nie.” Sy swyg ’n wyle, ’n hartseer trek op haar gesig. “Ek is jammer ek kon u nie laat weet nie, juffrou Webster, maar my moeder het gisteroggend ’n hewige hartaanval gehad. Sy is gisteraand oorlede.”
Vicky se oë rek. “Oorlede?”
“Ja. Uit die aard van die saak sal u diens dus nie meer benodig word nie.”
Vicky is so verslae dat sy nie weet wat om te sê nie. Gelukkig lui die voordeurklokkie.
Toe Sarita die vertrek verlaat om dit te gaan beantwoord, wonder Vicky onthuts wat haar nou te doen staan. Haar geld is so min, sy sal Calitzdorp kwalik weer haal. En wat sal tant Ellie sê as sy daarheen teruggaan? Wat ’n penarie!
Maar dan word haar gedagtes kortgeknip deur ’n manstem in die voorportaal. “Is Tersia hier?” hoor sy hom vra.
“Nee, sy werk mos nou. Ek weet nie of sy begrafnis toe sal kom nie,” hoor sy Sarita antwoord voordat daar êrens in die huis ’n telefoon begin lui.
“Verskoon my, Wouter,” klink Sarita se stem weer op. “Die telefoon hou my al die hele oggend besig. Gaan solank sitkamer toe, ek is nou daar.”
Toe kom die man die sitkamer binnegestap. En dis so amper of Vicky snak hardop na haar