Rabbedoe se temmer. Elza Rademeyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elza Rademeyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624052067
Скачать книгу

      

      Rabbedoe se temmer

      Elza Rademeyer

      Melodie

      1

      Prokureur Jacob Malan ruk van die skrik toe Vicky Webster sy kantoordeur agter haar toeklap dat die gebou se mure tril. Hy hys hom uit sy stoel om haar agterna te sit; om te vra waar haar maniere is, maar dan bedink hy hom en sak sugtend terug op die stoel.

      Dit sal tog nie help nie. Sy sal net uitbrei op haar skeltaal: dronkgat, bedrieër, grootste skelm op aarde … Hy kan nie eens al die onwelvoeglike name onthou wat sy hom toegedig het nie. Asof dit sý skuld is dat die geldmatjie skielik onder haar voete uitgeruk is! Meen te sê, die hele dorp het geweet haar oorlede vader was besig om, met permissie gesê, sy agterent te sien. Waar sit die klein helleveeg se oë dan?

      Hy staan gebelg op en stap na die boekrak. Toe loer hy vlugtig deur toe, trek die bottel jenewer agter die boeke uit en draai die prop af. Dis mense soos sý wat hom noop om dan en wan ’n ietsie ter versterking van sy senuwees te gebruik, verskoon hy homself toe hy die bottel lig en voor sy mond sit.

      Dawid Steenkamp raap sy boeteboekie op en spring só vinnig op dat die stoel tussen die koeltebome reg agteroor slaan toe ’n bloedrooi sportmotor teen ’n duiselingwekkende spoed oor die bult gejaag kom. Hy kan sy geluk nie glo nie. Dis sy eerste dag op die Calitzdorp-pad en hy hét hom! Sommerso op die heel eerste dag by sy nuwe werksplek gaan hy sy staal wys. Dié ou gaan betaal dat hy bars!

      Vicky los ’n kragwoord toe sy oor die pypies jaag en ’n verkeersman armswaaiend voor haar in die pad spring. Sy rem dat die bande fluit, mis hom rakelings en laat sak blitssnel haar motor se ruit.

      “Wil jy hê ek moet jou vrek ry, jou sot! Wat wil jy hê? As jy my ’n boete wil gee, moet jy dit blerrie gou doen. Ek is haastig!”

      Dawid hakkel al van kleintyd af so effens. Senuweeagtigheid vererger dit. Maar toe hy naderstaan, raak hy heeltemal stom. Hy’t in sy lewe nog nooit so ’n mooi meisie gesien nie. Lang, krullerige raafswart hare, die mooiste groen oë, kuiltjies in die wange …

      “Wat staan jy my so en aangaap? Gaan jy my skryf of wat?” word sy dromerige gedagtes kortgeknip.

      Hy skraap sy keel. “Hoekom is … is … jy so haa- … haastig?”

      “Dit het niks met jou uit te waai nie!”

      “Jy’t … soos die duiwel gejaag.”

      “Vertel my iets wat ek nie weet nie.”

      Hy skraap weer sy keel en haal die boeteboekie uit sy hempsak. “U naam, asseblief?”

      “Vicky Webster.”

      Hy begin skryf. “Vicky … Sê my, jy’s nie dalk oom Thomas … Ek bedoel, oorlede oom Thomas se dogter nie?”

      “Die einste. Maak klaar. Ek het nie tyd om te verspil nie!”

      “Van die plaas … Riet- … Rietvlei?”

      “Ja.”

      Hy wil verdrink in haar groen oë, en sluk dat sy adamsappel wip. “Eintlik is ons bure. My pa-hulle bly op Bossieskop, net langsaan. Hy’t die plaas nou so ’n maand of wat gelede van oom Jaap Pretorius-hulle gekoop,” vertel hy. “Ek het gister hier aangekom. Dis vandag my eerste werksdag by die verkeersdepartement hier op die dorp.”

      “En wat moet ek nou met dié geskiedenis maak?”

      “Ek sê maar net.” Hy gee ’n kuggie en skraap sy moed bymekaar. “Wat doen jy vanaand?”

      “Ek gaan my pistool vat en elke siel wat by ons plaas se hek probeer inkom se kop wegblaas, dís wat ek gaan doen!”

      Dawid se oë rek. “Jy sal van moord aangekla word.”

      “Deur wie? Deur jou?”

      “Nee, deur die mense wat op die lyke afkom.”

      “Luister, is jy onnosel of probeer jy grappies maak?”

      Hy ruk hom reg en skeur sy blik weg uit die blitsende groen oë. “Jy lyk vreeslik ontsteld. As jy my sê wat verkeerd is, kan ek dalk jou boete verminder.”

      Sy slaan ongeduldig met haar hand teen die stuurwiel. “Ek sal jou sê wat dit is: dis daardie blerrie skelm prokureur. Hy suip nie net soos ’n vis nie, hy besteel en belieg al wat leef en beef! Nou kom staan en vang jy ook nog onskuldige mense!”

      “Regtig? Wat het hy gesteel?”

      “Hy’s van plan om al my pa se geld te steel!”

      “Maar jou pa is dan dood. Hoe kan hy hom besteel?”

      “My pa se boedel, man! Hy probeer my wysmaak my pa was vrot van die skuld. Dat selfs die plaas verkoop sal moet word om die skuld te delg. Hy dink natuurlik oor ek ’n vroumens is, sal hy wegkom met sy storie en skatryk anderkant uitstap. Maar hy maak ’n helse fout. Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Ek gaan hom ry tot binne-in Daantjie se kalwerhok!”

      Dawid soek na woorde. Hy weet nie wat om te sê nie, want hy besef skielik dié meisie verkeer onder ’n misverstand wat haar pa se geldsake betref. Meen te sê, hy’t skaars hier geland toe is hy vertel hoe Thomas Webster binne vyf jaar sy eens winsgewende plaas tot niet laat gaan het met sy dobbelary en uitspattige lewenswyse.

      “Waar gaan jy geld kry om die boete te betaal? Ek meen, jou oorlede pa se geld en dinge is seker nou gevries.”

      Vicky sug. “Los tog net jou ellendige nuuskierigheid en maak klaar. Of ek ry en jy kan duiwel toe vlieg met jou boete en al!”

      “Wat is jou adres?”

      En toe hy klaar geskryf het: “Ek het jou boete aansienlik verminder. Maar jy gaan vang nie onbesonne dinge aan nie. Kan ek nie liewer vanaand kom kuier nie? My skouers is breed, as jy dalk ’n skouer soek om op te …” Hy praat nog, toe trek sy weg.

      Kom kuier, verbeel jou! dink Vicky vies. Miserabele vent met sy gehakkel en harige arms soos ’n gorilla! Wat moet sy met hom maak?

      Sy loer skrams na die boetekaartjie op die passasiersitplek. Heng, dis baie geld. Dan sê hy nog hy’t haar boete verminder! Toe loer sy in die truspieël. Hy’t klaar agter die bult verdwyn, so sy kan maar weer voet in die hoek sit.

      ’n Rukkie later draai sy op die ingewing van die oomblik in die grondpaadjie af na tant Ellie se kleinhoewe. Wat sy daar wil gaan maak, weet sy nie. Daar was nog nooit veel liefde tussen haar en dié eksentrieke suster van haar oorlede moeder nie. Maar miskien kan tant Ellie haar sê hoe sy te werk moet gaan om die skelm prokureur aan die pen te laat ry.

      Die ellendige draadhek na die werf is al weer toe. Die vorige keer is sy saam met die hek grond toe, onthou sy. Sy was woedend, maar haar pa het gedink dis snaaks en wou hom ’n papie lag. Dit was die laaste keer dat sy hier op die kleinhoewe was. Maklik meer as ses maande gelede.

      Toe sy die huis nader, laat spaander die hoenders na alle kante. Piet, die bokram, hardloop ook weg toe Vicky uit die motor klim en die motordeur met ’n harde slag agter haar toeslaan.

      “En nou?” vra tant Ellie van die stoep af, haar hande besmeer met pottebakkersklei. “As jy soos die duiwel hier aangejaag kom?”

      “Ek kom van die prokureur af. Weet tante wat sê hy vir my? Hy sê my pa se boedel is bankrot! Daar is glo skuldeisers wat alles gaan vat. Hoe moet ek maak om hom in die tronk te laat stop?”

      Tant Ellie was tydsaam die klei van haar hande af en tel ’n handdoek op om dit droog te maak. “Kom ons gaan binnetoe,” sê sy. “Ek dink jy’t ’n koppie koffie nodig sodat jy kan kalm raak.”

      “Ek ís kalm. Ek kan net nie verstaan dat my pa so ’n onbetroubare dronkgat aangestel het om sy boedelsake te behartig nie.”

      “Jou taal, kind! Het jy hom al dronk gesien?”

      “Nee, maar sy hele kantoor stink soos ’n kantien, en almal op die dorp weet hy kyk te diep in die bottel.”

      “Kom,” is al wat tant Ellie sê voordat sy die huis binneloop.

      “Hy moenie dink