Donatello en Volksie. Marion Erskine. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marion Erskine
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624051077
Скачать книгу

      3

      ’n Trojaanse hings en ’n volbloed-merrie

      Die laatoggendsonnetjie skyn warm by die slaapkamervenster in. Zoë skrik wakker en sien dit is al ná elf. Sy is nog redelik deur die slaap en mik so met een oog haar pad badkamer toe. Sy sukkel lomp die deur oop en stap in. Zoë skrik haar wawyd wakker toe ’n wildvreemde kaal man hom voor die stort afdroog. Eintlik is afdroog nie reg nie. Want hy het ook verstar. Die amper twee meter lange beeld van ’n man het spiere op plekke waar Zoë nie geweet het plekke bestaan nie en sy langerige swart hare hang repe oor sy potblou oë. ’n Oomblik staar hulle net na mekaar. Toe pluk hy die handdoek so gou moontlik oor die nodigste dele.

      “Jammer!” gil Zoë geskok, draai in haar spore om en loop teen die deur vas. Sy gryp die handvatsel verwoed, pluk die deur oop en loop na die kombuis waar Jan-Hendrik met ’n groot smile sit en koffie drink.

      “Môre, môre, Jellietot,” groet hy vriendelik. “Jy lyk asof jy ’n spook gesien het!”

      “As dit maar net ’n spook was,” sug sy en plant haarself in ’n stoel oorkant Jan-Hendrik. “Kan ons die onderbroekreël vir die badkamerdeur ook laat geld?”

      “O crap,” lag Jan-Hendrik terwyl hy vir haar ’n koppie koffie skink. “Jy’t vir Troy ontmoet?”

      “In al sy glorie, ja.”

      “En wat dink jy?” giggel Jan-Hendrik stout. “Hy’s ’n dish, nè.”

      Zoë bloos nog steeds. “Hy’s meer as ’n dish. Hy’t genoeg vir ’n six-course meal.”

      Jan-Hendrik skater van die lag, buk oor en soen vir Zoë teen haar voorkop. “Dis hoekom ek so lief is vir jou! Merry Christmas, Jellietot!”

      “Jy ook, meneer! Obviously het jy al klaar Kersfees op ’n goeie noot begin.”

      Jan-Hendrik se glimlag spreek boekdele. Hy en Zoë is reeds van kleintyd af vriende. Vandat hulle in graad een langs mekaar op die skoolbank beland het, was daar ’n spesiale band tussen hulle – waarskynlik omdat albei effens anders was. Jan-Hendrik het nie juis seunsmaats gehad nie, terwyl Zoë nooit belanggestel het in die goed wat meisies van haar ouderdom wou doen nie. Sy herinner Jan-Hendrik gereeld aan daardie eerste keer wat hy by haar kom speel het. Sy is kombuis toe om vir hulle koeldrank te gaan haal en toe sy terugkom in haar kamer, het Jan-Hendrik elkeen van haar Barbie-poppe in blink aandrokke aangetrek. “Vir die Miss Universe-kompetisie,” het hy ernstig aan haar verduidelik. Zoë was dus glad nie geskok toe Jan-Hendrik op sewentien sy groot geheim aan haar verklap het nie – al was hy ’n aantreklike, fris man en baie gewild onder die meisies.

      Troy maak keel skoon en kom skaam die kombuis ingestap.

      “Come sit,” nooi Jan-Hendrik en wys na ’n stoel waar sy koppie koffie reeds stomend vir hom wag. “Troy, this is my housemate, Zoë.”

      “We’ve met,” sê die vleispaleis skaam en neem sy sitplek sonder om oogkontak met Zoë te maak.

      “Nice to meet you, Tril … Troy!” strompel Zoë. Sy vlam van voor af bloedrooi. Jan-Hendrik sukkel om sy lag te hou. “Merry Christmas.”

      Troy glimlag vir haar en wens haar ook ’n geseënde Kersdag toe.

      “So wat’s jou planne vir die dag, Jellietot?” verbreek Jan-Hendrik uiteindelik die ongemaklike stilte.

      “Ek, wel … gaan vanaand by Taryn-hulle eet. Maar verder het ek geen planne vir die dag nie. Ek het gister vergeet om ’n houthouer vir Boom se as te kry.” Zoë sug. Nou sal dit moet wag tot oormôre.

      “Boom was her pet,” verduidelik Jan-Hendrik aan Troy wat steeds na sy voete staar. “We loved him as our own child.”

      “Oh, yes,” maak die mooi man weer keel skoon, “Jan-Hendrik told me. I’m sorry to hear about that.”

      “It’s okay,” sê Zoë. “He died of old age. Had a full life. It could have been much wors … worse!”

      Jan-Hendrik ruk soos hy lag, maar maak geen geluid nie.

      Zoë voel heeltemal te ongemaklik en spring op. “Kan ek maar stort?”

      “Natuurlik,” glimlag Jan-Hendrik. “Onthou om die deur te sluit!”

      * * *

      Kersaand staan Zoë in die kombuis van uncle John en auntie Patsy Davidson. Taryn is hul enigste dogter en was een van haar heel eerste kliënte toe sy destyds met die joga-ding begin het. Hulle is sedert daardie dae al goeie vriende. Die Davidsons het vir Zoë byna as hul eie aangeneem en na elke verjaardag, troue, doop en selfs begrafnisse word Zoë ook genooi. Uncle John sit rustig in die sitkamer en pyp rook terwyl auntie Patsy heen en weer van die kombuis af na die eetkamer draf om die tafel gedek te kry. Zoë en Taryn is in die kombuis besig om slaai te maak.

      “My ma dryf my teen die muur uit,” fluister die vyf en twintigjarige donkerkop toe haar ma om die hoek verdwyn.

      “Nou vir wat?” vra Zoë terwyl sy die slaaibak aangee.

      “Kleinkinders, jong!” sug Taryn, draai haar lang hare in ’n losserige bolla en maak dit vas met ’n rekkie. “Bloody hell. It’s hot.”

      “Dit is nogal,” beaam Zoë, maar sit weer die vorige gesprek voort. “So hulle druk jou om te trou?”

      “Dis wat mens kry as jy die alleen-dogter is,” sug Taryn en begin die blaarslaai loswikkel. Zoë was nog altyd mal oor Taryn se Afrikaanse aksent en hoewel sy haar moet reghelp met haar grammatika, is dit soms so snaaks. Dan laat sy dit maar deurglip.

      “Ek hoor wat jy sê!” lag Zoë en sny die groenrissie in fyn repies. “Is jy al gereed vir so iets?”

      “Oh for heaven’s sake, no! Ek wil my opsies oophou. Heeltemal te lekker visse in die see as om nou met een opgeskip te sit. Ek sê mos: ‘Beproef almal en behou die goeie!’ ”

      “So, wat het van Richard geword?” vis Zoë uit. Sy was seker Richard sou die ou wees wat Taryn se hart gaan steel.

      “Richard,” begin haar vriendin, “wel, ek hou regtig van Richard, maar ek weet nie. Kom ons sê net hy – ”

      “Did you take the turkey out of the oven, dear?” bars auntie Patsy by die deur in.

      “Not yet, Mum.”

      “Ag, ek moet ook altyd alles doen!” sug die ou tannie en storm na die oond met die handskoene. “Zoë-kind, waar is Jan-Hendrik vanaand?”

      “Hy en ’n vriend is uit, auntie Pats,” glimlag Zoë. “Hy stuur groete!”

      “Wat ’n oulike seun is hy nie,” sê auntie Patsy en sit die kalkoen op die kombuistafel neer. “Now that’s the kind of man I can see my Taryn with!”

      “You see me with a gay man, Mum?” Taryn rol haar oë.

      “No, Pebble,” lag haar ma, “not his sexuality, his personality!”

      “Whatever,” sug Taryn en skud haar kop toe haar ma weer die vertrek verlaat. “See?!”

      “Terug na Richard,” herinner Zoë haar. “Hy’t nogal lank gehou. Sien julle mekaar dan nie meer nie?”

      “Dog jy’t die gesprek vergeet.”

      “Never in a million years!”

      “Okay, okay!” sê Taryn en praat dadelik sagter. “Hy was hot en alles wat ’n vrou kon begeer.”

      “Ja?”

      “Maar …” Taryn bloos effens terwyl sy die croutons in die slaaibak gooi.

      “Ek luister.”

      “Zoë, we’ve known each other for a few years now, but there’s something you don’t know about me.”

      Zoë trek haar oë asof sy die groen lig gee om die