III
Die hertogin kniel in haar tuin. Sy het handskoene aan. Sy dolwe die bogrond met ’n vurkie om. Sy druk die jong plantjies ferm in die grond met haar duime en voorvingers. Sy draai ’n kraan oop en ’n fyn sproei benat haar handewerk.
Die hertogin staan terug, kyk: sy is gelukkig.
Ek kom verby, groet, lig my hoed. Die hertogin is in ’n goeie bui. Sy roep my nader en laat my aan haar tafel buite sit. Sy bring vir my ’n bord met pruime en brood en laat my eet.
Ek kyk na die bewerkte stukkie grond. Aanstons sal die plantjies se wortels dieper in die grond in boor, dit sal knoppe maak en oplaas blomme. Die plante sal op hulle tone staan, strek en in die middagson die meesteres groet.
Die hertogin is begeester. Sy bespreek haar tuinplanne met my.
Ek knik. Ek verstaan.
Ek kry ’n hark, ’n vurk en ’n graaf.
Ek werk dae lank: spit die verdorde lemoenboom uit, saag die takke af en sleep dit weg. Ek maak ’n gat, breek die koppige kluite tot fyn grond, bemes die gat met mis en verrotte blare. Ek plant ’n boom.
Op ’n dag roep ek die hertogin. Sy staan in die deur van haar huis.
Ek swaai die graaf: Laat daar lemoene wees!
’n Duisend goue vrugte gloei meteens aan die takke. Hulle glinster in die laatmiddaglig.
Die hertogin is verruk. Sy stap met die trappe af tot by die boom. Sy pluk ’n vrug. Sy skil dit versigtig met haar naels. Die sproei van die skille geur om haar.
Sy verdeel die lemoen; sy hou haar handpalm met ’n soet skyfie daarin na my uit. “Neem,” sê sy, “eet.”
Ek sit dit in my mond, druk die sap daarvan uit met my tong, proe. Verlossing kom en my taak word aan my geopenbaar: ek word die hertogin se tuinier.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.