Plante kan praat. Jeanne Goosen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jeanne Goosen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703591
Скачать книгу
ding wat hy nog ooit ervaar het: die gedagte dat sy vrou saam met die gemeente sing. Hy het sy voorkop teen ’n boomstam gedruk en hardop begin huil.

      “Nou is dit te laat,” kerm sy. “Die beste jare van my lewe is daarmee heen. Dis wat ’n man aan jou doen.”

      En net daar, net daar in die kombuis wat na hoender ruik, word hy kwaad. Hy word kwaad. Kwaad. Hy weet nie, miskien oor die manier waarop sy “man” sê. So: M-a-n.

      Hy word kwaad, spring op, stamp die stoel om, stap slaapkamer toe en pluk die kasdeur oop. Hy ruk die grootste tas daaruit.

      Hy begin pak: sy hemde, sy broeke, sy baadjie, onderklere, nagklere, skoene, dasse. Hy pak. Hy sien Inge se Duitse Bybel op die bedkassie en hy pak dit ook in.

      In die badkamer pak hy sy skeergoed in, seep, tandeborsel, handdoek, hy pak alles in.

      Hy stap met die swaar tas deur die kombuis by die agterdeur uit.

      Hy stop voor die lemoenboom. Hy sit die tas neer, knip die deksel oop. Hy begin die lemoene pluk. Hy doen dit tydsaam. Hy sit hulle een vir een in die tas. Hy pluk totdat daar nie meer een lemoen oor is nie.

      Hy maak die tas se deksel toe. By die voorste hek sit hy die tas neer. Hy maak die hek oop, stoot die tas deur en maak die hek weer agter hom toe.

      Natie Barnard vat die pad.

      Hy stap hinkepinke met die swaar tas. Sonder om een maal om te kyk stap hy met die straat af wat na gebraaide hoender ruik.

      3. Lubbert Das

      Lubbert Das

      My pa word siek en vra na die priester. Die priester kom in die nag en bedien die sakramente. Hy smeer die ou man met olie en fluister in Latyn. ’n Sterk wind steek op en die bloekoms om die huis knak. Die takke breek, dit skuur oor die sinkdak en stort na benede.

      My pa stik in die wyn en begin roggel. Hy sterf met oop oë. Hy word in die verste hoek van die dorp se begraafplaas begrawe. Die priester en die grafgrawers help en ons laat die kis in die vlak graf sak.

      Die priester neem my na sy huis en dek vir my ’n plek aan die tafel in die spens. Daarna neem hy my aan my hand en ons stap tot aan die einde van die dorp na die hertogin se landgoed wat aan die rivier grens.

      Die priester laat my buite onder ’n verdorde lemoenboom wag terwyl hy in die huis met die hertogin praat.

      Die hertogin kom uit, kyk met afgryse na my boggel en neem my dan na my kamer, wat in die verste hoek van die landgoed geleë is.

      Ek begin werk as die hertogin se bode. Bedags sit ek in haar ruim werkvertrek op ’n stoel wat sy vir my aangewys het en wag op bevele. Soms stuur sy my met briewe poskantoor toe, of na die rederijker kamers met boodskappe, of om vir haar kat kos te gaan koop.

      Die hertogin het nooit werklik die aard en omvang van my pligte aan my verduidelik nie, en ek bly onseker oor wat ek mag doen en wat presies van my verwag word. Eenkeer, reg aan die begin, het ek met haar daaroor begin praat, maar sy het my kortaf en geïrriteerd stilgemaak.

      Dis duidelik: my teenwoordigheid in die hertogin se lewe is ongewens, maar daar is niks wat sy daaraan kan doen nie. Die plig om haar oor my te ontferm is aan haar opgedwing. Ek gedra my dus so stil en onopsigtelik moontlik, sit die lang ure om op my stoel en kyk voor my op die vloer, terwyl die hertogin geboë oor haar stapels papierwerk besig is.

      Op ’n dag toe die hertogin my weer met boodskappe stuur, besluit ek om ’n rukkie langer in die dorp te vertoef. Ek stap deur die strate na die meent, waar die katedraal en die pretpark is. ’n Nuwe geselskap het pas aangekom en is besig om vir hulle ’n staanplek in te rig.

      Ek staan eenkant en kyk na die bedrywighede. Later stap ek nader en gaan staan voor die hokke met die diere wat rustig op hooi lê en hulle pote lek of agter ’n oor krap. Daar is ’n paar harlekyne wat mekaar laggend om die halfopgerigte tent jaag.

      ’n Werker verskyn met ’n emmer water, borsels, lappe en ’n besem. Hy klim in die ape se hok en begin dit skoonmaak terwyl die diere aan sy ore en hare trek. Die man sien my, wink my nader en vra my om vir hom die borsel aan te gee wat hy buite vergeet het. Hy gesels met my en vra my naam. Lubbert, sê ek. Lubbert Das.

      Later begin ek hom help. Ons maak saam al die diere se hokke skoon. Ons werk die hele oggend. Ons gesels deurentyd met mekaar en met die diere. Ek besef dat ek maande laas met iemand gepraat het.

      Die diere luister met gespitste ore na ons en draai hulle koppe skuins. Die man soen ’n kameel en krap sy wollerige rug met ’n skerp klip. Ek gee hooi en lusern met ’n vurk aan, en later help ek die man met die groot hompe opgesaagde vleis vir die leeus en tiere.

      Dis laat die middag toe ek by die landgoed aankom. Ek sluip die hertogin se werkvertrek binne. Sy lê op die rusbank met haar kop agteroor. Haar oë is toe; sy slaap met haar hande oor haar bors gevou. Dit lyk asof sy nie asemhaal nie. Sy is bleek, en vir ’n oomblik dink ek sy is dood.

      Ek kyk lank na haar. Ek merk vir die eerste keer op dat sy op ’n besondere manier mooi is. Ek kyk na haar mond. Dit ontroer my. Is sy al gesoen? En het dit haar verander?

      Ek gaan sit by die hertogin se lessenaar, kyk na die lêers, begin lees. Die stellings en argumente op die velle papier wek vae herinnerings, maar dit ontsnap my geheue. Dit sterf soos woorde in ’n droom.

      Realiteit is konflik, het die hertogin op ’n aparte papier geskryf, en iets in my begryp glashelder. Ek kyk deur die venster na die verdorde lemoenboom buite.

      II

      Smiddags ná werk besoek ek die huis waarin ek en my pa tot ’n paar maande gelede nog gewoon het, om die pluimvee te versorg. Ná my pa se dood was daar niemand om van die voëls ontslae te raak nie en hulle het in die vervalle hokke agtergebly.

      Ek stoot die skewe voorhek oop en stap om die gebou na die hokke. Die ruim erf is deur onkruid oorgroei.

      Die hoenders is oud en verflenterd en sit vreesbevange en stug op hulle stellasies in die donker hoeke van die hokke.

      Elke dag strooi ek hande vol mielies op die grond uit, maar die voëls reageer nie. Hulle moet egter vreet, want as ek die volgende dag kom, is die mielies op en die water in die bakke aansienlik minder.

      Tydsaam deel ek die dag se kos uit, vul die bakke met water. Ek vorder van hok tot hok. Daar is baie hokke, maar ek het nog nooit die moeite gedoen om vas te stel presies hoeveel nie. Soms vlieg ’n voël wat ek nie kan sien nie verskrik op en teen die draad vas.

      Wat moet ek nóg doen om hulle mak te maak, gewoond aan my? Ek gesels tog elke dag met hulle; soms sing ek vir hulle, maar hulle bly wantrouig en vyandig.

      Ek gaan sit neerslagtig op ’n drom, begin tussen my vingers deur fluit. ’n Plan neem vorm aan in my kop: om rondom die vervalle hokke tuin te maak. Maar die plan spruit voort uit ’n onverklaarbare woede. Die woede is pynlik. Dit groei. Dit groei só in intensiteit dat dit my gelukkig maak. Ek begin sing. Ek sing harder. Ek word mal van geluk.

      Ek sit op die drom en ek voel tuis.

      Ek stamp die stram deur van die huis waarin ek en my pa tot ’n paar maande gelede nog gewoon het met my skouer oop. Die huis ruik na ontbinding, asof rotte daarin doodgegaan het. Van die pype is verstop, en drade peul bo by die plafonne en by die mure uit. (Dit kan reggemaak word.) In sommige vertrekke het die dak heeltemal meegegee. (Dit kan herstel word.) Plek-plek dop die verf van die mure af. (Dit kan afgeskuur en oorgeverf word.)

      Die vals klavier kan gestem word sodat daar weer liedere op gespeel kan word. En al die rye en rye boeke op die rakke. Dit kan afgestof word, en ek kan hulle weer almal van voor af lees.

      Ek gaan sit op die stukkende bank in die vertrek wat vroeër ons sitkamer was. Ek is bewus van ’n bomenslike krag en energie. In die gekraakte bolspieël bokant die kaggel word realiteit tot die absurde verwring: my lyf is sonder boggel.

      Ek word ’n voortvarende individu, besiel met nuwe voornemens. Die lewe kan van voor af begin word. Ek kan die huis met my hande oorbou, tuine aanlê en die vervalle hokke