Donker Web. Fanie Viljoen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Fanie Viljoen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Приключения: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780624090472
Скачать книгу
die kas val, was beslissend vir ons gesin. Met geld wat veilig in trustfondse weggebêre is, het dit ons nie finansieel so erg geknou nie. Maar dit het ons gesin verpletter. Ek sien dit nou nog voor my geestesoog. Hoe ons die aand terug by die huis kom nadat ons uit Clarens weggery het. My pa wat alleen in sy studeerkamer gaan sit en oproepe na sy prokureur en ander mense maak. Ek en Ma wat deur die huis dwaal. Bang om met mekaar te praat oor wat presies gebeur het omdat ons dit self nog nie emosioneel kan verreken nie. Vrees vir wat onafwendbaar aan die kom is: die vernedering van hofsake, tronksake.

      Nog ’n herinnering: Ek en Ma ry terug Lawson toe om al my goed in die koshuis te gaan oppak.

      ’n Senuweeagtige Joan Gibbs, die skoolsekretaresse, het ons in die parkeerarea ingewag. “Die skoolhoof wil jou sien, Greg. Mevrou is ook baie welkom.”

      “Ons is eintlik ’n bietjie haastig. Ons moet nog vandag terugry.”

      “Dit sal net ’n oomblik wees.”

      Ons het haar na die hoofgebou gevolg. Die kil atmosfeer het my nek laat kriewel.

      “The Owens have arrived, sir,” het Joan by Dok se ou kantoordeur aangekondig.

      “Show them in, thank you, Joan.”

      Sy het die deur oopgehou. Geknik.

      Die man agter die groot houtlessenaar het in sy stoel omgedraai toe ons instap. Thomas Jean Lawson, die stigter van Lawson Kollege. Weer het my nek gekriewel. Die man het met ysblou oë na ons gestaar. Dun lippe. Sy vel so styf getrek soos ’n rugbybal. Facelift? En haarinplantings, definitief. Silwergrys.

      Amper soos ’n Godfather. Terug in die hoof se stoel om die leisels te vat wat Dok Pienaar laat val het. Skadebeheer toe te pas.

      Hy het gegroet terwyl ek hom probeer opsom. Ek het hom nog net enkele kere by ’n prysuitdelingsfunksie gesien. Dalk ’n keer of twee met hom gepraat. Sy hand geskud die dag toe ek hoofseun word.

      “Discipline is key at this school,” het hy gesê, sy saamgeperste vingers voor sy mond gepunt. “When rules are broken, one is forced to take action. Rigorous action. Mrs Owen, Greg, I’m sorry that you and your family were caught up by the unfortunate set of circumstances. I hope you harbour no ill feelings toward me or the school. Chris Owen is a formidable man who made a bad – a very bad – call of judgement. One tries to protect your friends and allies. But …” Hy het die woord ’n oomblik in die lug laat hang. “… protection can only go so far.”

      My ma het inmekaargekrimp langs my.

      “Mrs Owen? Is everything all right?”

      Sy het geknik. “We need to be on our way, Mr Lawson.”

      “I understand.” Hy het uit sy leerstoel gerys. Godfather, het ek weer gedink. “Despite all this tumult, I hope we could still have some sort of affiliation, albeit outside of the school context. Future business ventures, perhaps? I have some ideas you might be interested in.”

      Ma het afsydig knik.

      “I’ll call you. Or come by the house one day,” het Lawson gesê.

      “No need,” het ek gekap.

      Sy hand het op my skouer geland. Ek wou dit afskud, maar sy greep het verstewig. “A final business lesson before you leave, Greg. Never burn a bridge to find your way in the dark. Yes, bridges burn … but so do people and their dreams.”

      Ek moes geweet het dit sou nie maklik wees nie. Ek het my arm om my ma gesit toe ons uitstap. Op die skoolgrond en in Huis Da Vinci, my ou koshuis, se gange het die ouens ons staan en dophou. Party het skelm foto’s geneem, ander het grappies gemaak.

      “How the mighty have fallen,” het een gesê.

      “Ver pad onnertoe vir die trust fund baby,” het ’n ander gespot.

      “Loser.”

      Ek het hulle probeer ignoreer.

      Toe verskyn TJ voor my. Die nuwe skoolhoof se kleinkind, en die ou wat my verraai het en vir die polisie gaan vertel het ek is ’n hacker.

      Daardie oggend, in die koshuisgang, het TJ my stip aangekyk. Sy ken effens gelig. Trots, asof hy wou sê: Jy het gekry wat jy verdien, Greg Owen.

      Ek het gedink ons was vriende, maar jy leer jou vriende ken wanneer die moeilikheid soos die duiwel op jou neerdaal.

      In my ou koshuiskamer het ek en my ma my goed in ’n tas gepak. Die sport- en skoolklere wat ek nooit weer sou nodig kry nie. My oog het op die skoolleuse geval toe ek my baadjie opvou. Lux hominum vita se gat, het ek wrang gedink.

      Ek het die blinddoek en flitslig wat ek as Trapper in graad agt tydens die Tonnel-ontgroeningsritueel gekry het, in my bedkassie se laai gesit. Die laai toegestoot.

      Kwanele, wat in my plek hoofseun was, het my in die kamer kom groet. Sy skouers fier soos ’n ou wat nog ver in die lewe sou kom. “Sorry it had to all turn out like this, Greg,” het hy gesê en my hand geskud. Lawson Kollege se geheime handdruk, het ek verbaas opgemerk, asof ek nog een van hulle was. Vir ’n oomblik het ek dit oorweeg om die blinddoek en flits weer uit die laai te haal, maar daarteen besluit. Wat verby is, is verby.

      Ek het my tas uitgedra en kon die oë by die koshuisvensters op my voel brand. Binne my het die verlatenheid kom lê. ’n Tipe hartseer. Melankolie.

      Daardie Vrydagmiddag het ek in die kar geklim en ’n laaste keer na my ou koshuis opgekyk. Verlangend na alles wat kon gewees het.

      Op pad uit die skoolgronde het my oog iemand in die kantspieëltjie gevang. Plank het agter ons kar aangehardloop gekom. My ou pel met die konstante stoutseunglimlag. ’n Sterk rugbyvoorryspeler en verbasende slimkop.

      “Stop, Ma, stop!” Ek het uit die kar gespring terwyl dit nog aan die beweeg was.

      “Hei, jou lekker hacker!” het Plank geroep. Hy het my om die skouers gegryp. “Dêmmit, dude, ek dog ek sien jou nooit weer nie.”

      Ek het geglimlag. “Jy was nie in die koshuis nie. Ek het jou gesoek.”

      Sy bosgroen oë met die goue spikkels het effens in hul kasse geswem. Hy het sy vingers deur sy kort hare getrek. “Ek het iets agter die stalle gaan rook.”

      “Jissie, Plank. Ek dog jy het dit al gelos.”

      “Never. Hei, wil jy bietjie weed hê?”

      “Nee, nee, nee,” het ek gekeer. “Ek is totally oukei.”

      “Seker?”

      Ek het geglimlag. “Dis goed om jou te sien, Plank. Leer jy al vir die matriekeksamen?”

      Hy het sy gesig getrek. “Tja, daai tjol. Hoe gaan jy skryf?”

      “My ma het iets gereël. Ek het ’n paar tutors vir die res van die jaar, dan skryf ek saam met die home schooling-ouens.”

      “Aa, dis bad, nè?”

      Ek het my skouers opgehaal asof dit nie ’n big deal was nie. Maar dit was, ek sou graag my matriek by Lawson Kollege wou skryf en vir oulaas ’n draai in die gedenkmuseum wou maak, maar hulle het alles van ons gesin uit die museum verwyder. Ook John se foto’s, sy skoolbaadjie, die getekende rugbybal.

      “Gibbons! Mark Gibbons!” het ’n stem van die koshuise se kant af geroep. Meneer Pete Andersen. Dit was asof Plank eers nie geregistreer het dat die onderhoof na hom roep nie.

      “Plank, Andersen soek jou,” het ek hom aangepor.

      “Ag, flippit tog, wat nou weer?” het Plank gekreun. “Hy’s die heeltyd op my case, soos ’n vlieg op ’n donut turd.”

      Ek het gelag, al kon ek nie die twee beelde by mekaar uitbring nie.

      “Ons moet kuier, ou. Einde van die jaar.” Plank het my weer om my skouers gegryp. “O ja, ek gaan volgende jaar swot. Kan jy dit glo? Maties, dude! Hulle het glo die mooiste meisies.”

      “Die arme meisies,” het ek opgemerk.