Laat u Naam geheilig word. Esté Geldenhuys. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Esté Geldenhuys
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321732
Скачать книгу
om te bid oor die Naam El Elyon

      Bid vir ’n persoonlike openbaring van wie El Elyon vir jou is. Bring tyd deur om deur Skrif te werk terwyl jy die betekenis daarvan oordink.

      Gaan lees weer die woorde wat Dawid in 1 Samuel 17:46 teenoor Goliat gespreek het voordat hy hom verslaan het. Dawid het letterlik in die Naam van YHWH ’n proklamasie uitgespreek van wat sou gebeur met Goliat en die Filistyne, en dit het presies net so gebeur. Ná die proklamasie het Dawid gou gegaan sodat daar geen tydsverloop kon wees waarin twyfel hom kon oorval nie.

      Dit gaan alles oor vertroue. Die feit dat El Elyon die almagtige Allerhoogste is, staan vas. Weet dit en oefen om dit in die hitte van jou stryd te onthou en Hom juis dan te vertrou.

      Natuurlik gaan die betekenis van El Elyon as die Allerhoogste nie net oor dinge wat ons wil oorweldig nie. Onthou die verwysing na Abraham en raak stil oor die wonder van die karakter van El Elyon. Hierdie kragtige Naam roep ons op tot aanbidding. Oefen jou in om die verskil raak te sien tussen om oor Hom te dink ter wille van wat Hy vir jou kan doen en om oor Hom te dink om te besef wié Hy vir jou is. ’n Groot verskil! Leer om Hom waaragtig te aanbid vir wie Hy is – net vir wie Hy is … en al die ander dinge sal vanself, natuurlik, uit hierdie besef voortvloei.

      Daar kom ’n dag, en dit sal kom op El Olam-tyd, wanneer elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is, ja, en daarmee saam ook dat El Elyon die enigste Almagtige en Allerhoogste is!

      El Elyon, in die Naam van Yeshua bid ek dat U vir my my persoonlike openbaring sal gee van die feit dat U hoër, groter en meer superieur is as enigiets wat bestaan. Ek wil oefen om te glo dat u grootsheid geskryf staan oor elke dag van my lewe. Dankie dat ek ook oor ons land en gemeenskappe kan uitroep dat U groter is as enige probleem wat ons sosiaal, polities of finansieel in die gesig staar. Wees my genadig en leer my om in afhanklikheid van U te leef. Amen.

      El Chay

      Die lewende Almagtige

      Lewende. Lewe. Wat ’n geweldige begrip! Teenoor die lewe staan die dood. Daar is nie iets soos “byna lewend” nie. Iemand of iets is óf lewend óf dood. En waar daar lewe is, is daar hoop en ’n toekomsverwagting en geleenthede, nog ’n kans …

      Dood is finaal, afgehandel, verby, klaar.

      ’n Baie groot wonder ten opsigte van lewe is dat slegs lewe daartoe in staat is om lewe te baar. Wat sou die mens tog wou gee om uit eie krag iets uit niks te kon skep, iets wat lewend is, hetsy ’n plant of dier of vis of voël. Ja, die mens is betrokke by die voortplanting van die mens, maar selfs dit is ’n wonder wat nie vir almal in ’n japtrap gebeur nie. Slegs die Bron van lewe kan vir die mens die vermoë verseker om lewe voort te bring.

      Lewe het ’n bron, ’n begin, ’n oorsprong en hierdie oorsprong lê in die enigste lewende God wat lewe in Hom omdra. Daarom kan Hy lewe baar, weer en weer en weer. Dit is die lewende God wat voortplanting in plante en in diere en visse en voëls en die mens ingebou het. Elkeen en alles wat kan voortplant, het daardie vermoë te danke aan die Een wat die enigste Gewer van lewe is. Maar Hy wat lewe gee, kan ook lewe neem.

      Dink maar aan die vyeboom wat verdor het omdat Jesus dit oor hom gespreek het (Matt 21:19-21). Onthou ook die verwoesting van Sodom en Gomorra en selfs die vrou van Lot en daarteenoor Abraham en Sara wat op ’n hoë en menslik onmoontlike ouderdom hulle eie seun gehad het. Slegs “Lewe” kan lewe baar, selfs in die onmoontlikste situasies.

      Dink ook weer na oor die miljoene gode wat op aarde aanbid word. Nie een van hulle lewe nie; almal is morsdood. Die grootste wonder is dat nie een van hierdie lewelose gode hulle lewe gegee het vir dié wat in hulle glo nie. Jesus, Yeshua, wat die Christus is, het as mens sy lewe gegee vir elkeen wat in Hom glo. As mens het Hy aan ’n kruis gesterf. Yeshua wat as mens gekom het, het doodgegaan, maar omdat die Skepper-God lewe is, het Hy uit die dood opgestaan. Die dood kon Hom nie oorweldig nie, want Hy is die Skepper van lewe en die Goddelike lewe wat in Hom is, het die dood oorwin.

      Die God wat ons dien, lééf; Hy is die enigste bron van léwe! Sy naam is El Chay.

      En El Chay vra vandag steeds vir ons elkeen: “Kies dan die lewe” (Deut 30:19). Saam hiermee vra Hy ook dat ons Hom en Hom alleen sal vertrou. Kyk na die belofte van lewe wat met hierdie vertroue saamgaan:

      So sê die HERE [YHWH]: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE [YHWH] afwyk. En hy sal wees soos ’n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ’n brakkerige en onbewoonde land. Geseënd is die man wat op die HERE [YHWH] vertrou, en wie se vertroue die HERE [YHWH] is. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie. Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Ek, die HERE [YHWH], deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.

      – Jeremia 17:5-10

      Gebruik van die Naam El Chay in die Woord

      Die begrip “lewende God” kom 29 keer in die Woord voor, 15 keer in die Nuwe Testament en 14 keer in die Ou Testament. In die Ou Testament kom die gebruik van hierdie Naam 9 keer voor as Elohim Chay en 5 keer as El Chay. Dit is heerlik om te sien dat die Een wat ons as die lewende God aanbid, erken word vanaf Deuteronomium tot in Openbaring.

      Vir almal wat meer wil lees, hier is die teksverwysings: Deuteronomium 5:26; Josua 3:10; 1 Samuel 17:26, 36; 2 Konings 19:4, 16; Psalm 42:2; 84:2; Jesaja 37:4, 17; Jeremia 10:10; 23:36; Daniël 6:20; Hosea 1:10; Matteus 16:16; 23:63; Johannes 6:69; Handelinge 14:15; Romeine 9:26; 2 Korintiërs 3:3; 6:16; 1 Timoteus 3:15; 4:10; 6:17; Hebreërs 3:12; 9:14; 10:31; 12:22; Openbaring 7:3.

      Die klem val op Chay, wat “lewende” beteken. Dit gaan oor die feit dat Hy die lewende God is. Wanneer die kombinasie Elohim Chay gebruik word, verklaar dit dat die drie-enige Skepper van soewereiniteit en outoriteit die lewende God is. Waar El gebruik word, word daar verwys na die Almagtige wat die lewende God is.

      Betekenis van die Naam El Chay

      “Lewe”, met ander woorde “nie dood nie”. “Lewend”, wat verwys na iemand of iets wat nie net lewe nie, maar wat ook vol van lewe is. In die Hebreeus bevat die betekenis van Chay ook die gedagte van “vars”, wat ’n mens herinner aan die vars kleur en voorkoms van nuwe lewe wat met lente uit die oënskynlik dooie takke van winterbome begin bot. Chay verwys na lewe in die letterlike en figuurlike betekenis. Daar is ’n verskil tussen ’n mens wat letterlik lewe en die figuurlike opdrag van God wat in die mens se hart bly lewe.

      Nog ’n kwaliteit wat vir Chay uit die Hebreeus gehaal word, is “sterk”. In hierdie konteks herinner “sterk” aan die krag wat daar in lewe is. Een wat vanweë siekte of honger en dors uitgeput en afgetakel is, het nie dieselfde krag as een wat gesond en sterk is nie. Die “lewe” in El Chay is kragtig en dit gee krag.

      Die stamwoord van die Hebreeuse woord chay hou ook die betekenis in om te “herlewe”. Dit beteken ook “om te voed tot lewe”, “om te bewaar, te beskerm en te behoed sodat waar lewe is, dit behoue en gesond sal bly” en “om te bewaar om heel te wees”.

      Voorbeelde uit die Skrif

      U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God [Elohim Chay] uitgedaag het.

      – 1 Samuel 17:36

      En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God [Elohim].

      – Matteus 16:16

      Lees ook Deuteronomium 5:26; Josua 3:10; Psalm 42:3; Jeremia 10:10; Johannes 6:69, en 2 Korintiërs 6:16.

      Jesaja 44 bied ’n skrille teenstelling met die boodskap van die verse wat hier genoem word. Lees gerus weer die hele hoofstuk en sela oor die wete dat geen afgodsbeeld wat dood is enige lewe kan voortbring nie.

      Wat