“Ek het ’n Mary McMeeken op Facebook opgespoor,” gaan sy voort. “Sy bly in Kilamba, Angola – dis skynbaar ’n redelik nuwe behuisingsprojek teenaan Luanda. In een van haar posts verwys sy na haar man. Ongelukkig nie op sy voornaam nie, en ook nie besonderhede wat ons kan help nie, maar uit foto’s van die huis kan ’n mens aflei dis baie weelderig.”
“Maar hulle het twee kinders,” onderbreek Calvyn haar vererg, “wat nie strook met die vermoordes van wie geen naasbestaandes opgespoor kon word nie. Ons het ook in Luanda se telefoongids gekyk en daar is geen McMeeken gelys nie. Buitendien glo ek nie ’n ryk ou gaan in ’n behuisingsprojek huis opsit nie. Vir my is dit ’n doodloopstraat.”
“Shit,” brom O’Reilly weer.
“Maar nes die drie vermoordes bly hy nie in Europa nie,” sê Bester. “Kan ons nie by ’n kontak in Angola uitvind wie die man is nie?”
O’Reilly skud sy kop. “Dis ons bleddie probleem. Ons het geen Mercurius-tak in die hele ooste van Afrika nie. En ons kan nie van hier af ’n amptelike navraag rig nie, want dalk maak dit slapende honde wakker … veral as die man later vermoor word.”
Bester peins ’n rukkie. “Dan doen ons dit nie-amptelik. Stuur aan die McMeeken-vrou ’n persoonlike boodskap op Facebook. Vra of haar man se naam Ian is en of hy dalk in die afsienbare toekoms Suid-Afrika gaan besoek. Die sender kan sê hy’t ’n Ian McMeeken in sy jong dae geken en sal hom graag weer wil sien as hy in dié geweste kom. As die man se naam nie Ian is nie, weet ons ten minste ons het die verkeerde ou beet.”
“Ek sal vir haar die boodskap stuur,” sê Du Randt uit die bloute.
O’Reilly lag. “Nie geweet jy’s ’n Facebooker nie, Len!”
Du Randt lyk effe verleë, vryf met sy hand oor sy borselkop. “Dis maar my manier om met die familie en vriende in Gauteng kontak te hou.”
“Raait, dit kan seker nie kwaad doen nie,” sê O’Reilly.
Sarah knik net, ontstig dat sy nie aan so ’n voor die hand liggende oplossing kon dink nie.
17
Donderdag 28 Junie 2018 – Kaapstad
Carl Bester! En dit in dieselfde restaurant in Breestraat waar Guido besluit het om middagete te geniet.
Hy kon skaars sy oë glo toe hy Bester saam met die gesette kêrel sien instap. Duidelik is hy nie meer ’n voortvlugtige nie. En hy lyk nie ’n dag ouer as toe Guido hom laas gesien het nie. Dít het die oomblik nog meer onwerklik gemaak – so asof vyftien jaar in die tronk meteens uit sy geheuebank gevee is. Want Bester was die laaste mens met wie Guido as ’n vry man gepraat het … en is nou die eerste bekende wat hy weer as vry man sien.
Toe Bester en die gesette kêrel in die oorkantste hoek gaan sit, het Guido vervaard die koerant voor hom oopgeslaan om homself onsigbaar te maak.
Hy het verskeie emosies beleef. Haat was die eerste. Dit het in die vorm van kokende woede in hom opgewel. Só erg dat hy die koerant beswaarlik met sy bewende hande kon vashou. Net drie dae ná sy ontslag uit die tronk sit die man wat hom destyds in boeie geslaan het, die man wat sy organisasie eiehandig vernietig het, enkele meter van hom af.
En die wete dat die wraak wat hy toe gesweer het nie dadelik voltrek kan word nie, het die vuur in sy binneste net verder gestook. Hy moes homself met moeite keer om nie die skerp biefstukmes op die tafel te gryp en op sy vyand af te storm nie.
In sy eerste vyf jaar in die tronk was Guido se gedagtes voltyds by Bester. Hy het verskeie wraakplanne haarfyn uitgewerk vir wanneer hy eendag vry sou wees. Toe hoor hy die nuus dat Bester miljoene rande gesteel en landuit gevlug het, en dat Interpol hom soek.
Sedertdien het Guido net gefantaseer: dat Bester gevang word en in dieselfde tronk as hy sy straf uitdien. Hoe Guido en sy volgelinge hom eers martel en dan sy nekslagaar met een van die skerpgemaakte implemente deurboor …
Hy het Bester en sy gesette vriend gevolg toe hulle by die restaurant uitloop, gesien hoe hulle om die hoek in Loopstraat by ’n gebou instap. Guido het geduldig gewag, en vyf uur later is sy geduld beloon: Bester het alleen uitgekom.
Guido het hom onopsigtelik tussen die ander voetgangers gevolg, sy taak vergemaklik deur die winterskemerte wat oor die stad neergedaal het. Bester het by ’n woonstelblok oorkant die Kompanjiestuin ingestap. Kort daarna het ’n lig in die hoekwoonstel op die vierde verdieping aangegaan en het Guido sy prooi voor die venster sien verbyloop.
Hy het nie langer vertoef nie. Dis genoeg dat hy weet waar Bester woon.
Waar hy nou aan die etenstafel sit, peusel hy lusteloos aan sy bord kos, sy gedagtes by belangriker sake. Hy is net vaagweg bewus van Dietrich en Bernard oorkant hom.
“Huhgg,” kom die bekende klank uit sy broer se kwylende mond – ’n teken vir Bernard om hom te voer.
Bernard skep die kapokaartappel met ’n lepel op en druk dit in Dietrich se gapende mond, vee behendig die kwylstrepe van sy ken af.
Guido is Bernard ewige dank verskuldig. In die vyftien jaar van sy afwesigheid het die jonger man met die grootste sorg na Dietrich omgesien. Guido het hom as tiener van die strate afgehaal waar hy voltyds gebedel het. Hy het ná sy ma se dood iemand nodig gehad om na sy broer te kyk, en Bernard het sy stoutste verwagtinge oortref. Hy het Dietrich nie alleen goed versorg nie, maar die huis skoon gehou en die tuin netjies.
Guido se blik rus op sy broer. Dietrich het hom nie eens herken toe hy ná al die jare hier aankom nie. Net sy gebruiklike geluide geuiter, sy uitdrukkinglose oë en gapende kwylmond nog presies soos Guido hom onthou. Wel effe gryser om die slape en bietjie meer geset, maar oënskynlik gesond.
Hy staar aandagtig na Dietrich se malende kake – so asof hy aan ’n stuk taai vleis kou eerder as fyngedrukte aartappels. Dan sluk hy hard en maak sy mond oop. “Huhgg.”
Net vir ’n oomblik vlam die ou woede weer in Guido op. Dis die agterlosige fout van die dokter tydens Dietrich se geboorte vyftig jaar gelede wat van sy broer ’n lewenslange moroon gemaak het.
Maar soos hy in die verlede gereeld gedoen het, begin hy met hom praat.
“Weet jy wat, Dietrich?” vra hy afgemete.
Al verstaan sy broer nie ’n enkele woord nie, verbeel Guido hom hy praat met ’n hoogs intelligente persoon. Op ’n vreemde manier vergoed dit vir sy brandende behoefte aan die geselskap van ’n normale broer.
“Baie mense sou vandag se gebeure met Bester as blote toeval afmaak. Maar daar bestaan nie iets soos toeval nie. Elke tree van elke mens is lankal reeds bepaal, dis onvermydelik vasgelê op sy lewenspad. Vandag se gebeure is eerder ’n teken, ’n rigtingwyser van spesifiek die Noorse God van Donder dat ek moet optree.”
“Huhgg.”
Guido glimlag. “Ek sien jy verstaan. My beplande optrede sou jou onder ander omstandighede weer sonder ’n ouer broer laat, dalk dié keer lewenslank as iets sou skeefloop … Maar troos jou daaraan dat dit nie in jou leeftyd sal gebeur nie. Ek het ander planne vir jou. En moet jou oor niks bekommer nie, want ná vandag se teken is ek vir die eerste keer in baie jare weer gevul met die krag van vril.”
“Huhgg.”
Guido frons. “Het jy vergeet wat vril beteken? Dit, my liewe broer, is die psigokinetiese energie waarmee die mense van Thule gevul was.”
Hy stoot sy bord tevrede terug. “En dít maak weer van my ’n Übermensch … nes vyftien jaar gelede saam met die Ridders van ThuKlan.”
Guido se dawerende lag laat Bernard skerp opkyk, en selfs Dietrich se wasige blik is vir ’n oomblik op hom gevestig.
18
Vrydag 29 Junie 2018 – Kaapstad
“Afrika en China?” vra O’Reilly fronsend. “Brei uit, Carl.”
“Ek