“Wat van die skoollied?” roep Bennie. “Onthou julle ouens nog die woorde?” Hy is weer die interhoër-dirigent van weleer.
Jy wil loop. Jy wil ry. Jy beur tussen die ander deur, maar Bone trek jou terug in die kring. Niemand ontkom die lewe nie. “Uit die vlaktes van die ou Transvaal ruis daar ’n lied,” begin jy saam met die ander sing. Jy voel hul lywe sweterig aan jou klou. Die Suiderkruis koud en ver daar bo. Totius in die kluis.
Jy sing saam met die ander, en luister hoe jy aan die einde uitbundig saam met hulle uitroep: “Koersvas na die kruin!”
2. ’n Helder oomblik
Hier staan julle, Ma. Jy en Pa. En John. En Katrina. Ek het die foto in jul tuin op Ventersdorp geneem die dag toe John en Katrina getroud is. Dit moet in ’98 gewees het. Dit sou op ’n Saterdagmiddag gewees het.
Pa lyk of hy pas ná ’n middagslapie opgestaan het. Sy hare deurmekaar en sweterig. Sy hemp se boonste twee knope los. John se das is effe te kort geknoop. Jy wat Katrina, jul huishulp, met jou regterarm teen jou vasdruk, julle koppe naby aan mekaar. Met jou linkerarm, jou lam beroerte-arm, druk jy jou kierie teen jou vas, asof jy die kierie nooit weer nodig sal hê nie.
Jy en tannie Susan van langsaan het die trourok vir haar gemaak. Was dit nie vir jou ou dooie arm nie, sou jy die rok op jou eie gemaak het, weet ek.
Dit moet in die somer gewees het. Kyk hoe geil groei die struike in die bedding agter julle. Die grasperk se rand is netjies geknip. Pa was tog so erg oor daardie tuin van hom.
Bennet, Katrina se seun, het by my gestaan toe ek die foto neem. Hy het John en Katrina in sy sat Nissan Laurel by ons aangebring ná hulle in ’n kerk in Tshing, die township, getroud is. Ons moes die bruidspaar darem sien.
Ek was anderdag weer op Ventersdorp. Pa kry ’n oorval as hy moet sien hoe dit nou by daardie huis gaan. Die sypaadjie is vol onkruid en rommel, die munisipaliteit maak nie meer die dorp se sypaadjies skoon nie. Die huis se dak en mure dop af, en in die jaart staan ’n stukkende Dreyer-boormasjien uit die jaar toet.
Waar julle vier op die foto staan, groei die gras nie meer nie. Dis nou net ’n dor stukkie aarde. Die nuwe mense gooi nie nat nie, en die erf is met ’n tralieheining toegemaak. By die hek blaf ’n pit bull.
Al vier van julle op die foto is al dood, maar ek kyk na julle en klou vas aan wat ek sien, Ma.
Kyk hoe glimlag Pa. Pa, die predikant, wat ’n jaar of drie voor die foto geneem is nog hoofkapelaan van die AWB was.
John het drie dae ’n week in tannie Kemp straatop se tuin gewerk. Ek weet nie wat John se van was nie. Hy het my eenkeer vertel hoe ’n man hom van Klerksdorp af in sy motor se kattebak laat ry het omdat die man gesê het hy stink.
Kyk hoe glimlag John. Daardie roos in sy lapel is waarskynlik een van Pa se rose. Kyk hoe liefderik druk jy jou kop teen Katrina s’n vas.
Jy en pa, julle twee, uit die grootdorp; hulle twee uit Tshing. ’n Leeftyd se soekmekaar tussen julle, by ’n huis wat se tuin nou verdor is en waar ’n pit bull by die hek blaf.
Hulle was daardie middag nie lank daar nie, onthou ek. Ek verbeel my jy het ’n lemoenkoek gebak – jou lemoenkoek was die beste, altyd met die grenadellapitjies in die icing bo-op – om vir hulle saam te gee.
Toe is Bennet weer met hulle daar weg in sy gedaan Nissan Laurel.
3. Roes
Dries diens my bakkie en ek staan by hom in die werkwinkel. Hy spook met ’n vonkprop wat nie wil loskom nie. “Is hierdie dêm seelug,” sê hy en vat die spanner met beide hande vas. “Als roes vas.”
Die are op sy voorarms swel en swel, maar die vonkprop wil nie skiet gee nie. “Jy’t nie kinders nie, nè?” Hy loer so onderlangs na my.
“Nee,” sê ek. “En jy?”
“Twee. Seun en ’n meisiekind.”
Dis maar die tweede keer dat ek die bakkie na Dries toe bring.
“Ek het die seun op Stellenbosch laat leer. Tandarts.” Hy beduie na die hout-en-glashokkie in die hoek van die werkwinkel waar hy sy papierwerk doen. “Daar hang die foto.”
Teen die muur agter Dries se oorvol lessenaar is ’n geraamde foto, geneem ná die seun se gradeplegtigheid op ’n grasperk iewers op Stellenbosch. ’n Jong man in akademiese toga, Dries en sy vrou weerskante van hom. Dries in ’n pak klere wat effens te styf aan hom klou.
“Julle’s seker baie trots op hom,” sê ek.
“Die mannetjie sit nou in Kanada – hy en sy vrou.” In Dries se stem is opeens iets stram. “Hul laaitie verjaar vandag. My enigste kleinseun. Is al vyf. Ek’t vir hom een van hierdie stemgoed gestuur.” Hy wys na die selfoon in sy oorpakbaadjie se bosak. “Toe laat weet my seun: Pa, kan jy nie maar die boodskap in Engels stuur nie? Die kind verstaan nie Afrikaans so mooi nie.”
Dries bly ’n ruk stil. “Hoe moet ek vir daai laaitie in Engels sê: ‘Kom kuier ’n bietjie vir jou oupa lat hy vir jou kan wys hoe trek ’n mens kreef en hoe eet jy ’n bokkom?’ Come and see your grêndfather that he can show you how to pull a … Ek weet nie eens wat is ’n donnerse kreef in Engels nie, man.”
Hy kyk deur die werkwinkel. Die werkbank met die moersleutels bokant die bank teen die muur, elkeen omkring met ’n swart viltpen. Die plat domkrag op vier wieletjies. Die aambeeld. Die ghriesput. ’n Lewe.
“Weet jy hoe hard het ek gewerk om daai kind deur universiteit te kry?” Hy hou sy oliebesmeerde hande oop voor hom in die lug. “Ek kon my kleinkind nog nie een keer vashou nie. Hulle’s vier jaar gelede hier weg.”
Hy stap na die stoorkamertjie aan die werkwinkel se agterkant. ’n Rukkie later kom hy weer te voorskyn met ’n blikkie Q20 by hom. Hy moes met sy hand oor sy gesig gevee het toe hy daar binne was. Op sy wang is ’n oliestreep.
Hy spuit Q20 oor die halsstarrige vonkprop.
“Hierdie ding gaan ons nie vandag baasraak nie, my maat.” Hy sit die Q20 neer en tel weer die spanner op. “Hy’t nie ’n ma of ’n pa nie. Sy moer.”
4. Bossies, 1982
Op Kroonstad begin hy uitkyk vir ’n plek van waar hy sy ma kan bel om te sê hy het veilig tot hier gery. Hy behoort môre by hulle te wees. Sy pa se Datsun 1200-bakkie wat nou syne is, loop so glad soos ’n horlosie.
Dit is al sterk skemer. Hy ry stadig in die hoofstraat af. Vrystaat Kafee, beduie die rooi-en-wit bord langs die Coke-teken op die gebou se gewel. Teen die muur by die deur is ’n tiekieboks. Hy hou voor die kafee stil. “Pik en Kubane praat oor vrede in Angola,” verklaar ’n koerantplakkaat teen die venster. Agterop die bakkie is sy army-trommel met sy army-goed in, maar wie sal dit tog steel? Hy stap by die kafee in.
Tussen die los geld in sy broeksak het hy gelukkig twee twintigsentstukke. Hy gaan staan voor die tiekieboks en lig die gehoorstuk. Hy kan die lang luitoon hoor. Puik. Hy druk die twintigsentstuk in die gleufie en met die ronde wieletjie lui hy sy ma-hulle se nommer. Dan is sy ma se stem daar: “Goeienaand, dis Saartjie wat praat.”
“Hallo,