Wanneer water wyn word. Jacqueline Leuvennink. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jacqueline Leuvennink
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321893
Скачать книгу
ons ook nie spaar nie. Hulle praat en doen en sê dinge waar ons in die rondte is. Ons leef te op mekaar.

      Ons het nog nie orals ligkrag in die dorp nie. As die maan sy silwer oor die diep, donker see begin gooi, stuur Ma saans soms nog vir my en Dawn kafee toe. Ons word so in spanne van twee groot. Dan loop ons met ons arms by mekaar ingehaak om te gaan kyk of dit nog oep ve koep is. Partykeer loer Sella en Frances van An Kort Joyce by die deur uit en besluit om saam te loop. Dalk kry ons nog vir Tilla ook langs die pad. Almal haak by mekaar in. Dan sing ons enigiets wat in ons kop kom. Ebony and ivory, living together in perfect harmony …

      In die maanskyn op die strand lyk als anders. Dis soos kerslig. Als lê geel gekleur. Ons voel iets aan van ’n groot, geheimsinnige wêreld buite Paternoster.

      Daar is ook onheilsaande wanneer my kop paadjies kies waarop ek liewers nie wil loop nie. Dis of die maanskyn op die steenkoolblou watervloer my onrustig maak. ’n Mens kan jou versiek met sulke gedagtes. Soms pak die vrees my dat Ma iets kan oorkom. Wat sal dan van ons word?

      Hoofstuk 6

      Pa het op 16 begin werk en was die eerste werker op Paternoster wat ’n voertuiglisensie gekry het. Later kry hy ook ’n vragmotorlisensie. Nou ry hy vis en kreef aan Kaapse hawe toe. Die moeilikheid kom wanneer hy op pad terug by boeta Sauls op Mamre stop. Hy is Pa se broer wat in Walvisbaai trol. Dis wanneer jy diepsee visvang.

      As boeta Sauls op Mamre is, steek die broers graag ’n dop saam. Eenkeer kry ons die tyding dat Pa deur die polisie by Malmesbury gevang is. Die mense kom sê hy is nou in die hande van die Pote. Die trok het blykbaar net op twee wiele gery. Sy lisensie word vir ses maande opgeskort.

      My pa se suster, Selma, help vir Ma om ’n oplaai te kry sodat hulle polisiestasie toe kan ry om te sien wat gedoen kan word om Pa weer uit te kry. Ek hou nooit van sulke goed nie. Ma ook nie. Dis onverantwoordelik en dit maak Ma kwaad vir hom. Vir my ook. Daar kom sit ’n harde gevoel in my nek en skouers. Ons wil onse koppe kan oplig. Dronkwees laat jou ágtertoe gaan. En ek hou van vorentoe gaan.

      Dis nie eens asof Pa agterna verleë is of ooit kom sê dat hy jammer is nie. Deels omdat dit in die oë van die gemeenskap soort van aanvaarbaar is dat ’n man drink. Ma sluk dus ook maar haar frustrasies en hou tussen als deur steeds die kroon op sy kop. Meer deur wat sy hom toelaat as wat sy sê.

      Dit irriteer my dat hy tuis nie ’n vinger hoef te verroer as hy nie so voel nie. Hy beskou dit eenvoudig as sy reg. Ma sorg altyd dat sy kos op tafel is en as hy koffie of tee wil hê, spring sy om hom te bedien. Selfs as hy beskonke is en die kos of drinkgoed dikwels net so bly staan sonder dat hy ooit daaraan raak.

      Naweke help sy hom bad in die groot sinkbad in die kamer. Sy was selfs sy rug vir hom. En sy klere lê netjies uitgesit op die bed: van die spierwit onderklere tot die blink gepolitoerde skoene en ’n snyersbroek.

      Uncle Willie Japhta is onse dorp se mans se tailor. Hy ry al die pad uit die Strand om Paternoster se mans se broeke vir hulle te kom maak. So leer hy my ouers ken. Toe my tweede oudste suster, June, hoërskool toe moet gaan, bied hy aan dat sy by hulle kom bly. Hy betaal haar skoolgeld vir haar in ruil daarvoor dat sy hom naweke en vakansies met die kleremakery help.

      Dis ’n uitkoms vir Ma-hulle en die Japhtas is goed vir June; die kinders word later soos eie broers en susters vir haar. Ons ander beny haar so ’n bietjie; ons dink sy het dit darem nou baie makliker as ons in ’n huis met ’n badkamer en elektrisiteit. June kla egter by ons dat sy nie hou van die naaldwerk nie. Sy val nietemin in by die grootmense se reëlings. Dis eers veel later dat ons hoor hoe veronreg sy gevoel het omdat my ouers dié groot besluit geneem het sonder om haar eers daarin te ken.

      Daar is dinge wat my ook krap en kwaad maak. Soos toe iemand kom sê ons groot, geliefde hond, Brutus, is geskiet. Hy lê in die veld tussen die witmenshuise aan die agterkant van die hotel. Ons het nie veel nie. Ons diere is vir ons belangrik. En Brutus is soos familie, ’n regte huishond. Hy klits graag al om my kuite.

      My hart is seer. Als rondom ons is oop en almal se diere loop waar hulle wil. Ons hond het per ongeluk geloop waar hy nie moes nie. Ons het rede om te dink die man wat hom geskiet het, is nogals my pa se baas. Hy is ’n inkommer. ’n Vreemde man. Daar is niks wat ons kan doen nie. Absoluut niks. Ons sê tel nie veel nie. Pa gaan tel vir Brutus op en ons begrawe hom naby die huis.

      Dieselfde man rig eendag sy geweer op my toe ek aalwyn in die veld gaan pluk vir ’n seer op ’n kind se been. Die veld op Paternoster behoort aan almal. Ek het loop en soek na die plant. Toe ek buk om dit te pluk, skree die man ek moet gee pad. Hy is regtig ’n anderster mens. Ons ken tog almal vir mekaar? Hoekom moet hy nou sy langloopgeweer na my toe wys?

      Dit smyt my in ’n duwweltjieveld van frustrasie. Ek gryp blitsig die stuk aalwyn en maak my uit die voete. Dit help nie ek vertel vir iemand daarvan nie. Dit gaan net vir Pa ontstig. Netnou gaan maak hy weer moeilikheid. Dan word dit ’n groot ding. Pa klou klipvas as hy ’n ding beetkry. Soms moet ’n mens laat los.

      Ons kinders hou liewers terug en uit. Dis beter om stil te bly. Daar word reeds genoeg op ons werf geskel. Maar ek haat die gevoel van magteloosheid wat soms om my skouers kom hang. Ek moet keer teen die kwaadwees wat ook in my wil begin stoel.

      Hoofstuk 7

      Soms gaan sit ek sommer op my eie in die veld en dink. Augustusmaande troos. Soggens knyp die koue nog, maar ek sien hoe die skurwe, windgestroopte wêreld geleidelik om my begin verteder. Ons loop en suig surinkies. Vlaktes wat normaalweg droogvaal afkruip see toe, staan nou vol plate wit gousblomme. Ek raak ’n kleurversamelaar van vygies wat wit, pers, geel en rooi oor die rante son toe staar. Dit pla my as mense ruk, pluk, trap en druk aan die plante wat vir my so mooi is. Soms verbeel ek my ek is ’n seemeeu wat ver, hoog en vry bo als kan vlie. Ek sal daarvan hou om dinge van bó af te bekyk.

      My oupa Salie het ’n sagte plekkie vir my, ek is so lief vir hom. Hy is goedgeaard en altyd opgewek. Ag, as hy oor die hotel se duin aangestap kom, bring hy altyd iets gelukkigs met hom saam. Hy speel graag met ons. Hy noem my sy Willemiena. Ek kan omtrent nie wag as ek hom sien aankom nie. Hy vra altyd dadelik waar is sy Willemienatjie. Dan begin ek hardloop en spring sommer in sy arms in.

      Oupa het nooit gesê waarom hy my so noem nie. Dis eers jare later ná sy dood dat ek gehoor het sy ma se naam was Willemiena. Pa se jongste broer het eendag laat val dat ek baie soos sy lyk. Kyk, daai tyd het die mense mos geleef sonder om vir jou iets te sê. Hulle het net voortgegaan sonder om dinge te verduidelik. Sommige goed soos grootmeisie word en verhoudings oor die kleurgrense heen is ook net weggeswyg. Die apartheidswette het sulke verhoudings verbied en soms het die waarheid eers op ’n sterfbed uitgekom. Daar is nie gepraat oor die kinders uit sulke verbintenisse nie. Dit was soos iets wat op sokkies deur ’n huis loop. Almal weet daarvan, maar jy hang dit nie aan die groot klok nie.

      Grêmma Annie is ook goed vir my. Dalk omdat ek en oupa Salie so erg is oor mekaar. Ek geniet dit om vir haar werkies te gaan doen soos om by miesies Pheifer se huis te help koekies bak. Sy leer my om die deeg aan te maak en die koekies met die rolmasjientjie uit te druk. Grêmma kyk na almal. Sy sien soos ’n ware matriarg om na haar kinders se behoeftes, sonder dat die een van die ander een weet, selfs al is hulle al getroud en uit die huis uit.

      Party middae kry my ma nie haar draai met die wasgoed om betyds Pa se eenuur reg te hê nie. Dan moet ek by Grêmma gaan hoor of sy nie iets lekkers vir hom het nie.

      Ek hou van mense wat na mekaar omsien en daarom gaan lê my ouma diep in my hart. Saterdae gaan sy “kombuis toe”. Dis wanneer sy by wit mense in hul groot kombuis gaan werk. Sy neem my dikwels saam. Gewoonlik kom waarsku sy my al die Vrydag sodat ek my beste rokkie kan aantrek om by die kinders te gaan speel. Soms help ek haar ook met die beskuit bak en die kopergoed skoonmaak.

      Basaartyd en Kerstyd is dit ’n hele doenigheid. Dan maak Grêmma ’n klomp beslag met haar masjientjie aan en stuur my om van die bestellings vir haar by die mense te gaan aflewer.

Скачать книгу