Wanneer water wyn word. Jacqueline Leuvennink. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jacqueline Leuvennink
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796321893
Скачать книгу
gepik het. Dis ’n hele gedoente. Ons kinders loer onderlangs vir mekaar. Niemand waag dit om te lag nie – hy is mos ’n grootmens – maar ons het al ons dae om ons mooi in toom te hou.

      Vistermanne is ’n ongeskraapte lot. Hul r’e brei en hul stemme is skor van jare se skreeu bo baie branders uit. Jy herken hulle aan hul hande, grof en eelterig van nettrek en snoekvlek, die naelvliesies geskeur. En ook aan daardie diep lyne op die gesig van heeldag in die son wees op die soutwaters.

      Hulle weet van skuite wat ónder deur die branders loop. Eintlik praat ons mense nie van skuite nie, almal sê sommer skyte. Party weer skyre.

      Sommige dae staan die noord asof uit die bloute skielik skerp op. Sulke oggende beur Pa omtrent op sy knieë teen die wind in visfabriek toe. Ons weet die swelle loop in sulke weer op ’n kwaai see maklik ’n skuit toe. Dis iets waarmee jy nie speel nie; ’n man kan gly en val as die skuit in ’n stormsee rol. As Pa weer so ’n bietjie skuinsloop, sê hy egter graag met ’n sleeptong: “My naam is Djannie Brutus; ek gly, maar ek vallie.” Ek is maar bly hy werk nie meer op die oop see nie.

      Daar word gesê die see is ’n vrou: sy gee, maar sy vat ook baie mans se lewe. Dit leer jou bid, sê die ooms. “Néé, ’n mens gaan nie sonnerie Jirre see toe nie.” Maar ’n man is ’n snaakse ding. As hulle Sondae moet klim ná die naweek se gekuier is dit maar ’n gesukkel. Die een het ’n maag en die ander een ’n kop. Maar tog is daar nie so iets soos ’n Paternoster-visterman wat by die huis bly lê nie.

      Die ooms vertel van die ou wat in ’n storm na die Here geroep het. Met die afstap aan wal het hy, die grond nou darem weer stiller onder sy voete, egter sy half-jack uitgepluk en gesê: “Die duiwel is darem self nie ’n sleg kêrel nie …”

      Kyk, vis is kos. Al skeur die wind dae lank deur al wat ’n gat is. Daar is tye van droëbek omdraai en die mense in die kantore wetie regtig van sout of water nie. Jy kan nie nee sê vir skeptyd se volop nie. Soms vat die vistermanne kanse, selfs al sê die radio daar kom ’n gróót see. Jy word mos betaal vir wat jy inbring. As hulle besig is om te vang, druk hulle met daardie wil van ’n man deur om nog ’n gooi te maak. Die boot moet vol. Die radio kan maar waarsku. Hulle leef van die see. En hulle leef op hoop.

      Dié wat ander weivelde gaan soek soos op die myne kom dikwels terug, kom sê die water was vir hulle darem heeltemal te laag daar op die droë grond. Tussen vlek en mootjiemaak deur word dit mos soes ’n léwe; jou pa het dit gedoen, jou oupa het dit gedoen. Die see kom saam met jou ma se melk in jou are in.

      Maar die see laat ook nie met hom speel nie. Daardie einste groot blou dam kan in ’n verwoestende derduiwel ontaard. Dis wanneer die noord ’n skuit soos ’n boksie mêtjies kan omdop. Ons word groot met die ding van bote en manne wat nie daarin kon slaag om tussen die deinings en die trôe deur te oorleef nie. ’n Skuit se lig raak maklik net weg. Veral in sleepmis wanneer als spokerig word.

      Gewoonlik hou ek van die sussende klank van die see wat saans, wanneer alles stil begin word, in elke kamer van die huis kom lê. Maar sommige nagte lê ek in my bed en luister hoe brul die vuurtoring digby ons huis by Cape Columbine. Sy waarskuwings kom diep en ver deur die digte wit niks aangerol. En dit maak my bang.

      As die wind van vroegnag af om die huis se hoeke kla, word ek soms met ’n somberte en ’n gevoel van onheil in my wakker oor mense in die dik swaarweer op die oop see. Wie gaan vandag huis toe kom en wie dalk nie? As die snoek loop, is die meeste bote reeds van die vorige nag af uit.

      Op pad skool toe sien ek nog hoe slaan die branders met mag teen die hoë klippe. Allerlei vreemde goed kom saam met die skuim uitgespoel. Die skedel van ’n rob. Stukke dryfhout. Bottels, plastiek, haaitande …

      Eenkeer kom sê Pa van ’n groot tornyn wat op die wal uitgespoel het. Die ou manne drink tornynolie. Hulle glo dis goed vir die gesondheid.

      En dan kom die nuus. Nog ’n mens wat ons ken, het verdrink. Sulke tye gaan staan Paternoster se inwoners met hul oë vasgenael op die see soos wanneer hulle harders kyk. Die grootmense probeer nie eens om die kinders weg te hou nie.

      As die lyk later uitspoel, is almal, klein en groot, op die strand. Dis eers vreemd stil. Soms wieg die mens wat was nog in die water. Maar dan breek een en dit raak ’n gehuil en ’n geween. Boeta Sam en antie Helen se boeta Charles het dit nie gemaak nie. Ons gaan hulle nooit weer sien nie.

      Hoofstuk 4

      Een aand sit ons kinders om die vuur. Ma en Pa het gesê ons moenie rondloop nie; hulle gaan net af na Grêmma toe. Hulle stap graag sountoe. Ons woon in Kliprug en Grêmma en oupa Salie is in Vaalplaas. Jy kan met die hand van ons af daarheen beduie. Dis met die inkom in Paternoster net verby die kafee. Hulle woon op die hoek oorkant die stopstraat waar party mense nie juis bodder om stil te hou nie.

      Dié aand kom sit Landie, twee jaar jonger as ek, teenaan my by die vuur op ’n kissie wat ons nadergesleep het. Dit is naby donker. Daar hang ’n misbank oor die see. Ons kyk kop agteroor na die lang linte voëls wat oor ons koppe strepe in die lug trek op pad terug neste toe. My aandag is nie by haar nie en ek sien nie hoe dit gebeur nie, maar toe ons ons kom kry, foeter sy van die kissie af. Sy sit omtrent ’n keel op. Eers toe gewaar ek daar steek ’n stuk splinterplank in haar been, voor by haar maermerrie in.

      Ek begin sommer by voorbaat huil. Van pure skrik en omdat ek weet ek gaan moet please explain. Ek as die ouer suster moes tog seker kon keer dat so iets gebeur? Sy het mos langs mý gesit. Het ek haar dalk onwetend gestamp? Ma het hoeka nie ooghare vir een wat ongelukke veroorsaak uit pure nalatigheid of onoplettendheid nie. As sy kom, gaan ek beslis les opsê. Al weet ons nie een hoe die splinter daar gekom het nie. En Ma wag gewoonlik nie nog om verduidelikings aan te hoor voor sy die plaks inlê nie. Jy vou liewers jou verskonings netjies en klein op en gaan bêre dit in die kas waar niemand dit sien nie.

      Soms wonder ek oor die kwaad wat Ma in haar bêre, hoekom sy toelaat dat dit so met haar saamstap. Dit lyk vir my sy dra swaar aan baie goed. Sy loop ons almal deur vir enigiets. Ek loop maar lig vir haar vinnige handjie. Maar eintlik vat ek min pak. As sy op my afstorm, hardloop ek weg voor die houe op my begin reën. Ek is gelukkig vinniger as sy.

      ’n Mens moet jou dan eers vir ’n ruk skaars hou. Ma kort net ’n bietjie afkoel. Oor ’n rukkie word sy weer goed. Ek kies dus maar die hasepad. Soms gaan lê ek sommer op die naat van my rug in die veld en praat met die blou hemele. As ek later begin honger word, grawe ek vir snotworteltjies of ek pluk boetabessies. Ek loer net elke nou en dan af huis se kant toe om te sien of iemand nie al vir my ’n teken gee dat dit weer veilig is om terug te kom nie. Dan kan ’n mens dit uiteindelik weer waag om versigtig by die huis in te sluip. Ma sal jou dalk steeds aangluur, maar ek weet as ek nou mooi in my spoor bly trap, sal sy hopelik te besig raak met ander dinge en vergeet.

      Een middag sit en werk ek en Dawn vraestelle by die huis uit. Daar is weer klein eendjies in die kombuis. Ons begin redekawel oor iets en toe ek my kom kry, beland een onder my voet. Ek probeer nog keer, maar dis reeds klaar met kees. Ek buig af en sit nog verstom met die dooie eendjie in my hand toe ek Ma se voete sien aankom. Haar swart skoene gaan vinnig op en af. Ek smyt die huiswerk eenkant toe en begin hol vir ’n lewe. Vandag slaan sy my sowaar dood. Ek spring oor die picket fence en gaan skuil agter die kliniek.

      Ma is soos ’n broeis hen oor daai pluimvee. Ons mag nie eens die eiers uit die nes gaan haal nie en nog minder met vetterige hande daaraan raak. Net sy weet ook watter eiers gelos moet word vir later se uitbroei.

      Toe ek weer sien, is Dawn by my, vies omdat sy nou ook sommer moet deurloop terwyl ek die eintlike sondaar is. Ek kon tog nie help dat die eendjie onder my voete beland het nie!

      Later bewe ek darem nie meer so erg nie. Ek troos my deur te dink dat dit gelukkig met Ma is soos wanneer ’n mens jou hand in ’n nes steek en die kwaai, beskermende hen se vlerk later