Wanneer water
wyn
word
Vivian Kleynhans
soos vertel aan
Jacqueline Leuvennink
Lux Verbi
Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat daar direk na die oes geploeg sal word en dat daar direk na die saaityd gepars sal word. Die berge sal van druiwesap drup, al die heuwels sal deurnat wees. Ek sal die lot van my volk Israel verander: hulle sal die verlate stede herbou en bewoon, hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink, hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. Ek sal my volk weer in hulle grond plant, en hulle sal nie weer uitgeruk word uit die grond wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God (Amos 9:13-15).
Daar kom ’n tyd in ’n mens se lewe waar jy … as daar geen deure of vensters is nie, deur ’n muur loop om te kom waar jy moet gaan.
Bernard M. Baruch (1870-1965), Amerikaanse finansier, filantroop, staatsman
Hoofstuk 1
My naam is Vivian. Ek is op 10 Oktober 1964 gebore. Ek verstaan dit was die jaar toe Nelson Mandela toegesluit is vir allerhande goed.
Ons was later sewe susters in die tweekamer-vissermanshuis op Paternoster. Boeta was die laaste kind. “Dina! Sien jy dan kans vir nóg een?” wou die oumense weet. Maar hy was vir ons almal ’n nuwigheidjie. En die huis met die drie vertrekke had altyd plek vir nog een. Ons kon soos ’n klomp mieliepitte op ’n stronkie pas as dit moet. Pa en Ma het net later ’n groengeverfde sinkplaat-en-houtvertrekkie aan die huis gelas waar hulle kon slaap.
Ek gaan my bes doen om goedjies so rustig moontlik te vertel. Dis nogals senutergend. Maar die mense weet nie hoe ons uitgekom het by die Seven Sisters Wines wat ons deesdae Amerika toe uitvoer nie.
Pa sê altyd die vissermense op Paternoster gaan slaap nie honger nie. As jy op die rotse by die voorstrand sit, sien jy sommer waar die blinklywe in die plat, koue see op en af spring. Ons huis kyk mos uit oor daardie wye blou. Dan is jy altyd deel van die visvangs en die netvangery. Jy sal net skielik sien die manne hol water toe. Terwyl hulle die boot instoot, begin nog mense uit hul huise strand toe peul. Dis ’n geroep en ’n geskree. Dit laat nog meer naderstorm totdat elkeen sy plekkie op die treknet het.
Agterna, wanneer almal lekker moeg is van harders trek, kry elkeen sy vyf vissies. Boeta Gert kyk mooi na die dorp se mense as dit by vis uitdeel kom. Hy is Outie, my ma se suster, se man. Elkeen kry sy of haar vissies om huis toe te neem. Dit maak nie saak hoe kind jy is nie.
By die huis kan Ma nou bietjie bokkoms maak. Vanaand gooi ons lekker vars harders op die kole en môre eet ons dalk gekookte harder met asyn daaroor. Of dit word in meel gerol en net so kraakvars in olie gebak.
Die mans kyk al geslagte lank hier harders. Dis onse lewensasem. As jou hande elke dag in die water is, word jy déél van daai water. Ons hou van nette uitgooi en harders intrek. Niemand koop vreeslik vis nie. Ons haal mossels van die rotse af of stap saam met die spanne agterstrand toe om arikreukel van die klippe af te steek. Ander tye kom die mans wat see toe was, weer met bosse hotnotsvis terug sodat elke huis iets het om gaar te maak. Ons leef skouer aan skouer.
Soms staan almal op die Krans hulle en vergaap aan die skippers wat in die baai moet kom afshow. Die mans is al jare lank vissermanne en die skuite is hul trots. Die een probeer die ander een oortref deur nog ’n groter boog water oor sy skuit te laat spat as die ander. Dit lok luide applous uit. Die skippers se vroue lag maar net onderlangs vir hul mans se verspottigheid.
Ma Dina kom uit Namakwaland uit. Sy, Outie en boeta William het as kinders eendag saam met ouma Janie op Paternoster uitgeslaan op soek na ’n beter heenkome. Ma het nooit haar pa geken nie.
Paternoster het hulle nie met ope arms verwelkom nie. Die Namakwalanders is as inkommers beskou. Ma praat nie veel daaroor nie, maar ons weet die ander kinders by die skooltjie het gedink hulle is darem te wit. Hulle is selfs met klippe bestook.
Ouma Janie het egter gekom om te bly. Sy het hier ’n nuwe lewe saam met oupa Msuku begin. Hy was ’n Malawiër wat as kontrakwerker in die seisoen aan die Weskus kom visvang het. Toe die oudste van sy vier kinders by Ouma 12 jaar oud was, is hulle sak en pak Malawi toe, ’n vreemde land met ’n vreemde taal. Ma, self nou al die ma van ’n kind, was maar 19 toe hulle weg is. Sy het nie eens geweet waar is hierdie Malawi nie. Ouma Janie verdwyn dus oornag uit haar lewe. Sy sien nooit weer haar ma nie en ek leer dus ook nooit hierdie ouma van my ken nie.
Ons behou wel sommige van die Namakwaland-gebruike soos om buite op die oop vuur kos te maak. Met Ma in die rondte is ons gewoond vuur maak. So met die groot Koffiehuis-ketel solank op die kole, braai sy graag heelsnoek of snoekkoppe en -kuite. Of sy kook die snoekkop stadig af tot ’n sous. Niks is te gering nie. En niks gaan verlore nie. Min kan altyd meer word. Saans eet ons die dag se vangs saam met roosterkoek of met die brood wat vroeër die dag in die drom langs die huis onder ’n sandhoop geswel het.
Ander dae gaan die bakkies uit om kreef uit te haal. Dit word dadelik opgekook. Ons leer vis moet nog vars ruik, soos see, nie na vis nie. Elke kind kry dan ’n hele kreef, ’n feesmaal. Ons suig tot die pootjies uit. Ma lê ook skoongemaakte, opgekookte sterte in asyn in vir die tye wat die kreef nie loop nie. Sy maal meestal egter die vars kreef met haar malertjie. Dan word dit gemeng met brood, gerasperde ui, wortel, gerasperde aartappel, eiers en speserye voor dit in ’n pan afgebak word. Ek is al om my ma wanneer sy kos maak. Sy hou daarvan, dink ek.
As sy gaan sit en naaldwerk doen, hou ek haar ook graag dop. Dalk is sy maar met die talent gebore of dalk het iemand dit iewers vir haar geleer, maar ’n mens kan sien sy het ’n slag daarmee. So met die speel om haar voete kry ek ook soms stukkies afvallap om popklere mee van te maak. Sy help my daarmee.
Ma het as jongmeisie vir die Walters-familie gekook. Hulle woon in Vaalplaas, net oorkant Grêmma, Pa se ma. Ma het ’n sagte plekkie vir hierdie Walterse. Derek, die jongste van die twee seuns, kan enige tyd kom dat sy sy klere vir hom verstel of sy broeke se some vir hom insit. Hy is ’n goeie, gawe wit man wat later vir hom een van die mooiste meisies in die vissersgemeenskap vat.
As Derek sê hy het iets binne twee uur nodig, los Ma als en doen dit vir hom. Ek weet nie of die Walterse snoek uitvoer of wat nie, maar hulle sny die snoek se ruggraat uit en verkoop dit dan aan die plaaslike mense. As ek 50c se snoekgrate by die fabriek gaan koop, gee Derek altyd baie meer as wat hy moet. Jy het baie grate vir ’n familie nodig.
Ma kook al die vis van die graat af en kook die vis dan sag vir ’n smaaklike smoorsnoek met ui en aartappel. Soms eet ons ook soutsnoek wat die seemanne reeds op see in mootjies opsny om dit tussen sout in dromme te bêre vir die maer tye. Dis so sout dat jou oë daarvan brand, maar ons eet dit. Ma kook dit gewoonlik so drie keer af, dan smaak dit beter.
Sedert my geboorte werk my ma nie meer in kombuise om vir die wit mense van die dorp te kook soos toe sy ’n jongmeisie was nie. Ek is haar vierde kind. Teen daardie tyd het sy seker reeds haar hande te vol gehad met al die kinders.
Maar ma Dina is sterk. Gesond. Sy laat my dink aan daai vrou in die Bybel van wie hulle in Spreuke 31 praat. Jy hoor haar nooit kla oor iets wat pyn nie, sy dokter sommer haarself. Met boegoe, wynkruid en sulke goed. Afgesien van ’n bietjie lipstiffie dan en wan toe sy nog jonger was, lol sy nie met roompies of mooimaakgoed nie.
Maar sy is ’n mooi vrou met ligbruin oë en lang, donker hare. Ek kan my verkyk aan haar amper deurskynende pienk vel. Sy laat my haar rug skrop in die groot sinkbad met die warm water. Soms is ek amper bang die dun, mooi vel sal skeur.
Ons kinders mor soms onder mekaar oor Ma se koue, saaklike manier van doen. Sy laat nie sommer ander mense in haar privaatheid kom nie en is vinnig om iemand op sy of haar plek te sit. Almal weet sy vat nie twak nie. Nie van vriende, familie óf mense wat net verby die huis loop en goed sê of doen wat haar nie