Medusa. Rudie van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rudie van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780795801846
Скачать книгу
waar daar genadiglik nog ’n sleutel was. Sy het ’n warm bad getap.

      Ná langer as ’n uur in die bad het sy die besluit geneem. Ter wille van haar toekoms.

      Kaal en net toegewikkel in ’n handdoek, het sy kombuis toe gesluip en die grootste vleismes uit die messelaai gehaal. Met dit agter haar rug is sy na ou Knoetze se kamer.

      Die deur was oop. Hy het net in ’n onderbroek op die bed gelê. Gelyk soos ’n dragtige koei, sy pienk vel styf gespan oor sy bultende pens.

      Lila het voor die bed gaan staan, die handdoek van haar lyf laat val.

      Ou Knoetze se oë het gerek, sy mond het oopgeval. Hy het gretig orent gekom, ’n glinstering in sy blik.

      Sy het die mes agter haar rug uitgehaal en dreigend voor haar gehou.

      Hy het versteen bly sit. Sy kon die skrik op sy gesig sien.

      Sy het met die mes na haar lyf beduie. “Ek weet jy wil dit hê.”

      Toe hy woordeloos na haar staar, het sy dreigend nader getree. “Is ek reg?”

      Hy het onseker geknik, sy oë op die mes.

      “En jy kan dit kry,” het sy gesê.

      Sy het wydsbeen gaan staan, gesien hoe sy oë oor haar lyf dwaal, vassteek tussen haar bene.

      “Maar in ruil daarvoor wil ek ook iets hê. En voor ek dit nie het nie, kan jy nie my lyf kry nie.”

      Ou Knoetze is uiteindelik klaar. Sy logge liggaam rol van haar af. Soos met die vorige twee keer snork hy gou.

      Sy klim uit sy bed en stap in die gang af na een van die gastebadkamers. Tap ’n warm bad om sy sweet van haar af te skrop.

      Sy lê agteroor in die water, tuur peinsend na die plafon. Jy sal oukei wees, verseker sy haarself. Jy is sterk genoeg om deur hierdie ding te kom.

      Die verlange na haar pa knaag nog soms aan haar, maar dit sal ook mettertyd vervaag. Sy sal haar pa ewig dankbaar bly. Van kleins af het hy haar geleer om selfstandig te dink. Omdat haar ma altyd dronk was, was sý saans aan tafel sy geselskap. Hy het met haar oor grootmensgoed gesels asof sy nie net ’n kind was nie. Wanneer sy ’n woord se betekenis nie verstaan het nie, het hy dit verduidelik.

      Later in die skool, as onderwysers die “groot woorde” in haar opstelle bevraagteken het deur daarop te sinspeel dat iemand anders dit vir haar skryf, het sy altyd trots gesê: “Dis my pa wat my daardie woorde geleer het.” Haar pa was nie geleerd nie, maar in haar oë was hy die slimste man op aarde.

      Toe haar ma dood is, het hy haar alles oor testamente geleer. “Jou ma sou al my goedjies geërf het, maar nou is jy my enigste erfgenaam. Jou suster se man sal vir haar sorg.”

      Lila moes op ’n Saterdagoggend saam met hom na die prokureur gaan sodat sy testament verander kon word. En al was sy net elf, het hy dit in die fynste besonderhede met haar deurgegaan en verduidelik hoe alles sou werk as hy doodgaan. Dat ’n minderjarige die erfenis nie dadelik kan kry nie, maar dat dit onder toesig van die meester van die hooggeregshof geadministreer word tot die erfgenaam agtien is. Eers dan is sy meerderjarig en kan sy met die erfgoed doen wat sy wil.

      ’n Testament was die antwoord op haar dilemma.

      En dis presies wat sy in ruil vir haar lyf gevra het: ou Knoetze se plaas as hy eendag doodgaan. Sy het die vet tjeks gesien van die huurgeld wat ingekom het – sy sou nie nodig hê om ooit te werk nie.

      Hy het dadelik ingestem. “Natuurlik sal ek dit doen!” En beduie na die mes in haar hand. “Sit weg daai lelike ding en kom lê hier by my.”

      Sy het oorgeleun en die lem teen sy bolwang gedruk. “Jy kan my lyf eers kry as die testament klaar opgestel is. En ek wil by wees wanneer jy dit met jou prokureur bespreek.”

      Die volgende dag was die prokureur op die plaas. Ou Knoetze het heel oortuigend geklink, gesê die minste wat hy vir sy oorlede vriend kan doen, is om sy dogter versorg agter te laat. Voor die einde van die week was die nuwe testament gefinaliseer en geteken.

      Lila skrop haar deeglik skoon. Sy lê nog ’n rukkie in die warm water voor sy uitklim en haar afdroog.

      Sy kyk na haar beeld in die spieël. Sy mag steeds Lelike Lila Liebenberg wees, maar haar lyf is nie te sleg nie. Dit het haar toekoms verseker.

      Nie meer lank nie, dan is sy agtien en kan ou Knoetze begrawe word.

      Sy het oorgenoeg tyd om die volmaakte moord te beplan.

      6

      September 1992

      Lila kyk stip na die tydskrif op haar skoot, maar sy lees nie. Waar sy oorgehaal in die sitkamer sit, is sy gespanne. Sê nou haar plan werk nie?

      Sy skud haar kop vies. Natuurlik sal dit werk! Sy het als tog stap vir stap beplan, al lank voor haar agtiende verjaardag.

      Dit was eintlik maklik, want sy draai ou Knoetze om haar pinkie. Haar eerste stap was om daarop aan te dring dat die huistelefoon uit die studeerkamer op die boonste verdieping na die ingangsportaal op die grondverdieping geskuif word.

      Hy het daaroor gebrom, maar sy het vasgestaan.

      “In jou studeerkamer kan jy jou prokureur agter my rug bel en jou testament weer verander. In die portaal sal ek in beheer van die foon wees. Dan kan ek sommer hoor met wie jy praat.”

      “Maar Lilatjie, ek sal nooit so iets doen nie! Ons het mos ’n ooreenkoms.”

      Sy het hom geglo dat hy nie agter haar rug sal konkel nie, maar die foon moes geskuif word ter wille van haar plan.

      Omtrent ’n maand terug het sy drie spykertjies gevat en haar proefneming gedoen toe ou Knoetze buite op die werf doenig was. Sy het die spykertjies halfpad ingekap en versigtig getoets of dit gaan werk. Toe sy tevrede was, het sy dit met die hamer uitgetrek en in haar kamer gebêre.

      En gisteraand, skaars twee weke ná haar agtiende verjaardag, het die deurbraak gekom waarop sy gewag het. Ou Knoetze was in sy studeerkamer besig toe die foon in die portaal lui. Sy het vinnig geantwoord.

      Dit was sy suster van Natal. Sy wou dringend met haar broer praat. Lila het gesê hy voel olik en is al vroeg bed toe. Sy het die vrou aangeraai om vanoggend tienuur te bel, want dan is hy gewoonlik in die huis vir teetyd.

      En nou wag Lila vir die oproep. Soggens tussen nege en elf is ou Knoetze altyd in sy studeerkamer, besig met sy boekhouding en rekeninge. Sy vermoed hy gebruik ook die tyd om agter die toe deur na daai spul vieslike foto’s te kyk – dié wat hy jare gelede met ’n Instamatic van die plaaswerkers se kinders geneem het. Sy het eenkeer daarop afgekom toe sy in sy lessenaar se laaie gekrap het.

      Vanoggend, ná hy met die trappe op is studeerkamer toe, het sy vinnig die spykertjies gaan inkap. Toe het sy vir Sanna opdrag gegee om eerste die portaal skoon te maak. “Polish die vloer vir ’n slag.”

      Lila het in die sitkamer kom sit om ’n goeie uitsig op die portaal te hê.

      Sy wip soos sy skrik toe die telefoon skril begin lui. Vier minute oor tien, sien sy op haar horlosie.

      “Antwoord asseblief, Sanna!” skreeu sy.

      Sy wag ’n paar oomblikke voor sy portaal toe stap.

      Sanna hou haar hand oor die gehoorbuis. “Dis meneer Knoetze se suster. Sy wil met hom praat.”

      “Ek sal hom gou gaan roep.”

      Lila hardloop halfpad teen die steil trappe op en skreeu van daar af vir ou Knoetze dat sy suster op die foon is.

      Toe die studeerkamer se deur oopgaan, haas sy haar terug sitkamer toe. Sy neem weer die tydskrif en gaan sit, haar ore gespits.

      Die slag is oorverdowend. Dit klink soos ’n ton bakstene wat teen die houttrappe aftuimel.

      Sanna begin histeries gil. “Meneer het van die trappe afgeval!”

      Lila spring op