Droomberig
Luné Olivier
Satyn
André, jy is my eie He/Brew’s – sonder jou wil ek nie.
1
“Dit bring ons aan die einde van vanaand se program. Sluit gerus weer volgende week by Délicieux aan wanneer ons gaan rondsnuffel by vanjaar se Cape Argus Lifecycle Expo.” En Anelia glimlag vir die kamera.
“Ons ervaar ook die Karoo se wondermooi natuurskoon en Anelia kuier by vanjaar se Decorex-uitstalling. Moet dit nie misloop nie,” groet Henry Carstens die kykers.
“Au revoir,” groet Anelia ook.
Hulle albei wag totdat die koördineerder die sein wys dat die kameras afgeskakel is.
Nog ’n suksesvolle uitsending van die vermaaklikheidsprogram. Vandag het dit besonder goed gegaan.
Henry glimlag vir haar: “Dit was ’n goeie aanbieding, Anelia. Ek dink die hele Suid-Afrika kyk na Délicieux net omdat jy die mooiste aanbieder op die kassie is.”
“Dankie.” Met ’n skouerophaling maak sy die kompliment af. Sy probeer haar rok met die geel-en-blou blommotief ongesiens aftrek. Henry het die manier om praatjies te maak wat haar ongemaklik laat voel. Sy vlieg op, skakel die mikrofoon af en haal die gehoorstuk uit haar oor.
Doelgerig stap sy na die kleedkamer waar sy uit haar handsak in die locker ’n rekkie haal om haar lang blonde hare vas te maak. Die handsak hang sy oor haar skouer en wuif in die verbygaan vir almal.
Sy geniet haar nuwe werk, besluit Anelia terwyl sy oor die parkeerarea na haar motor toe stap. Sy kon nie glo dat Délicieux haar as die nuwe gesig van die program gekies het nie; dit was die kans van ’n leeftyd.
“Hey, maak jy aspris of jy my nie hoor nie?” ’n Ferm hand gryp haar arm vas.
“Jy sal my ’n hartaanval gee, Henry!” Sy hou haar vry arm oor haar bors. “Ek is jammer, ek het jou glad nie gehoor nie.”
“Nooi, jy moet versigtig wees, want enige skelm kan jou hier vasvat en ontvoer.”
Henry se irriterende attensies maak haar moedeloos. Die man kry net nie einde nie; sy het hom nog nooit aanleiding gegee nie, maar blykbaar het hy nie die breinkapasiteit om los-my-in-hemelsnaam-net-uit-lyftaal te verstaan nie.
“Nee wat. Ek dink ek is darem veilig hier by die ateljee, maar nou moet jy my asseblief verskoon, want ek is laat vir ’n afspraak.” Sy grawe die motorsleutel uit haar handsak en groet Henry kamma haastig. Gou skakel sy die motor aan en groet die sekuriteitswag voor sy onder deur die veiligheidshek in die rigting van haar huis ry.
Vanmiddag sien sy nie veel van Vrydae se gewone sosiale geskarrel op die paaie in Kaapstad nie. Dis naweek en terwyl die meeste vroue nou optof vir ’n aand uit, verlang sy na haar kat, Milo en ’n liefdesverhaal.
Anelia werk nou al twee maande by Délicieux. Miljoene Suid-Afrikaners kyk elke Donderdagaand na dié uur lange vermaaklikheidsprogram wat reeds agt maande se lugtyd geniet. Die program is so populêr omdat die stories wat gedek word, baie gou gebeeldsend word, glo sy. Gewoonlik kom die stories binne ’n week nadat hulle gebeur het op die lug.
Daardie eerste aanbieding van Délicieux darem! Sy krimp nou nog ineen. Hoewel die span nie regstreeks uitsaai nie, moes sy en Henry die aanbieding ’n paar keer herhaal. Deels omdat sy senuweeagtig was en die program se naam verkeerd uitgespreek het, maar ook omdat Henry sy oë nie van haar kon afhou nie.
Sy het die hele week voor die nuwe aanbieding geoefen om Délicieux reg uit te spreek. Totdat Mercia haar op dié tegniese punt gehelp het: “De-li-sjo”. ’n Franse woord wat “heerlik” beteken.
Om nou eerlik te wees is haar nuwe werk vir haar délicieux! Die afgelope paar maande het sy al die heerlikste kos op die proef gestel en die mooiste skeppings aanskou. Die program is ook omgewingsgerig en bestee baie tyd aan die sosiale kant van die lewe. Iets waaroor sy dankbaar is, want sy is nou maar eenmaal nie uitgeknip vir die ernstige, brutale lewensfeite in nuusberigte nie.
Wat destyds met haar pa gebeur het, het haar uiters bang vir die harde wêreld van die joernalistiek gemaak.
Anelia draai uiteindelik by die oprit van haar meenthuis in Nuweland in. ’n Rilling trek deur haar toe sy uit die motor klim; ’n koel Maartwind waai reeds hier.
Sy druk die knoppie om die motorhuisdeur agter haar toe te maak en loop kombuis toe waar sy ’n koppie melk vir Milo in die mikrogolf sit.
Maestro kom skuur teen haar bene.
“Hallo, my kattie. Het jy na my verlang?” Sy tel hom op. “Jy is seker baie honger?”
Die kat antwoord haar met ’n klaende miaau.
Sy skep vir hom kos uit en giet vars water in sy bak.
Die mikrogolf pieng en Anelia meng haar Milo en skakel die TV aan om na CNN te kyk; dis vir haar interessant om te sien wat die onderskeie internasionale kanale belangrik ag.
Nadat Maestro ’n rukkie besluiteloos rondgestaan het, kom krul hy hom op haar skoot op.
Gelukkig kan sy môre later as gewoonlik slaap. Eers ontmoet sy Mercia by He/Brew’s vir brunch en daarna gaan sy die winkels invaar – iets wat sy altyd geniet. Die stewige kleretoelaag wat sy by Délicieux ontvang, is – naas haar werksbevrediging – die grootste voordeel.
Hoewel sy reeds ’n bekende gesig in sosiale media is, bly Anelia ’n bietjie sku. Daarom plaas sy haarself selde in die kollig.
Dis verbasend dat die skinderkoerante nog nie agtergekom het sy en Zack gaan saam uit nie. Al is hulle nou maar eers drie uiters normale, amper vervelige, maande saam, probeer hy darem om haar spesiaal te laat voel, hoewel sy soms wonder of hy opreg is. Zack het nog nooit enige aanduiding gegee dat hy die heelal sal versit om by haar te wees nie. Aan die een kant geniet sy haar vryheid, maar is ’n verhouding nie veronderstel om allesomvattend, uniek en spesiaal te wees nie?
Ai, en sy ril opnuut, daardie Henry darem! Daar is iets aan hom waarop sy nie haar vinger kan lê nie. Sy is seker dat ander vroue die sosiale blootstelling geniet wanneer hulle aan die sy van iemand soos Henry is, want hy is beslis iets vir die oog, maar sy wil regtig nie buite kantoorure saam met hom kuier nie.
Sy tel haar foon op en druk op haar ma se nommer in die kontaklys.
Dis nie lank voordat haar ma antwoord nie: “Hallo, my skat. Wat ’n verrassing! Ek is so bly jy bel my.”
“Haai, Ma.” Sy weet sy moet meer gereeld bel, want haar ma is verskriklik alleen vandat Anelia se pa oorlede is. “Hoe gaan dit daar?”
“Baie goed, jong. Jy het my net betyds gebel. Ek kom nou van die aftreeoord af waar ek vir van die inwoners koekies gevat het. Piet het byna die hele baksel verorber.”
Anelia hoor die glimlag in haar ma se stem: “Het die omie alles opgeëet omdat dit lekker is of omdat hy Ma se geselskap te veel geniet het?” terg sy.
Haar ma kug effens ongemaklik. “Vertel my eers hoe het dit vandag by Délicieux gegaan?” verander sy gou die onderwerp.
“Baie goed. Met elke program is ek meer op my gemak. Ek moet sê, om uiteindelik te werk in dieselfde ateljee as waar Pa vir soveel jare gewerk het, is ’n belewenis. Ek verlang vanaand verskriklik na Pa, want ek voel om een of ander rede so na aan hom.”
“Ai, my kind. Ek kan dink dit is nie lekker nie. Ek dink ook in die laaste tyd meer as gewoonlik aan hom. Jou pa … Riaan sou so trots op jou gewees het.”
“Ek sou so graag dinge wou doen soos wat hy dit gedoen het, Ma.”
“Ek weet, my kind, maar jy is nou in ’n fase van jou lewe, en ’n plek, waar ek glo jy moet wees en jy is baie goed net daar waar jy is.”
“Dankie, Ma. Hoe was Ma se week?” verander Anelia die onderwerp voordat haar gedagtes weer oortyd begin werk oor die omstandighede waarin haar pa oorlede is.
“Baie besig. Ek moes vandag op aanvraag