Dit was eintlik nie Pa wat die begeleiding gedoen het nie. Dit was Ma. Helga Bassel het uitgehelp, want Hannes Uys was te besig om alles te doen: Hy moes afrig, hy moes organiseer, hy moes dit doen en hy moes dat doen. Toemaar, was Ma se kalmerende woorde, “I’ll do it.” Ek was meer ontspanne wanneer sy my begelei. Pa het altyd op my geskree. Ma het net geglimlag.
Die Uyse – ek, Ma, Pa en Tessa – sit tjoepstil met ons oë vasgenael op die grammofoon, ’n groot, blink donkerhoutkis wat ook die radio huisves en die parkeerplek is vir al Pa se kosbare, breekbare plate met klassieke musiek, ernstige opera en die gebruiklike gewyde oratoria. En nou ook Hannes Uys se Kindersang-kring!
My eerste toorkis, die grammofoon wat ek versigtig kon gebruik om na my eie 78 rpm-plaat Peter and the Wolf te luister. Die twee soplepels as begeleiding was opsioneel.
Wie sou kon dink dat langspeelplate in ons leeftyd iets van die verlede sou word? Dat dit sal plek maak vir die d-woord: digitaal? Maar in 1959 het dié moontlikheid nie bestaan nie. Beslis nie in Homesteadweg 10, Pinelands, daar waar die Uyse gewoon het nie.
Baie Afrikaanse wit mense het seker ’n spesiale plek waar ons veilig grootgeword het, waar ons drome as ambisies ontwaak het en waar ons lesse geleer het, soms op die harde manier. Vir sommige was dit ’n boereplaas; vir ander ’n Withuis. Vir ons was dit Sonskyn, ’n dubbelverdiepinghuisie met ’n grasdak soos dié wat jy dikwels in Britse rolprente sien. Die tuiste van Ma, Pa, Pieter, Tessa en Boeboe die kat, met Sannie in die buitekamer. Pa het die huis in 1949 gekoop, met geld wat hy by ’n ryk neef geleen het. Elke maand het hy dit uit sy salaris afbetaal, insluitend die wrede rente. Dié oom was sekerlik een van die rykste lede van die Afrikaner-Broederbond. Miskien was dit die begin van my afkeer van alles wat hy verteenwoordig het. Ek onthou die ongemaklike middagetes in die groot herehuis wanneer die Uyse in pakke en pêrels saam met hom en sy derde vrou aangesit het. Ons moes dankbaar wees en ons plek ken terwyl Pa homself oor en oor verneder om te wys hóé dankbaar hy is. Dit het my groot genot gegee om later die skuld en uitgawes van Sonskyn oor te neem. Maar hokaai, eers moet ons ’n hele paar oorvol riviere oorsteek.
1958: Die eerste LP as bewys van Pa se prestasies – Die Heer is my Herder met die Maria Callas van die koor op die omslag.
Dis Kersfees het in 1960 verskyn.
Ek kan nie onthou of ek senuweeagtig was om na die plate te luister nie. Die eerste plaat kon jy nie miskyk nie: Pietertjie Uys met sy engelglimlag, iets wat hy vinnig aangeleer en dikwels gebruik het. Die omslag van Dis Kersfees wys die hele kindersangkring saam op die kerk se balkon met die orrel met die silwer pype op die agtergrond, soos sipresse in ’n begraafplaas. Pa sit voor die orrel en maak asof hy speel. Ons kinders staan gevries, bekkies oop soos honger witogies, oulik en rein, want Liewe Jesus het ons dopgehou terwyl die Heilige Gees sy voet liggies stamp en die duiwel weghou …
Ons oefen in die sitkamer om Pa se klavier. Heel voor langs Tessa is klein Laurika Rauch.
Die konsertprogram van die uitvoering in Bellville se NG kerksaal op Saterdag 19 Augustus 1961.
Pa het altyd trots en tevrede gelyk wanneer hy na die vrug van sy arbeid, dissipline en aandrang op perfeksie geluister het. Ma het aandagtiger gesit en luister met haar effens skewe glimlaggie, versigtig om nie krities te wees nie. Daar het dikwels verkeerde note in Pa se begeleiding opgeduik en ons kinders het lustig vals gesing. Maar dit was die eerste keer dat ’n Afrikaanse kinderkoor geestelike liedere uit Boheme (vandag deel van die Tsjeggiese Republiek), Duitsland, Oostenryk, Nederland, Pole, Portugal en Brittanje aangepak het – in Afrikaans, vertaal deur oom Hannes Uys en begelei deur oom Hannes Uys. En is dit ’n stukkie Mozart daardie? Wat van die ander oulike liedjie? Is dit Latyns wat ek daar hoor? En Duits! Maggies! Alles met oom Hannes Uys as dirigent. Verbeel jou!
Nog ’n konsert, dié keer met orkesinstrumente, voor die Epworth-musiekvereniging.
Pa se koor vir grootmense in die NG kerk, Parow.
Pa se stories het my verbeelding laat vlamvat en alles het altyd in kleur in my gedagtes afgespeel, al was die meeste films in my kleintyd in swart en wit. Soos die baie avonture van Hannes en sy twee susters, Hannie en Anna, veral die keer toe hulle hulle sakgeld bymekaargesit en hulle streng gelowige ma genooi het om saam bioskoop toe te gaan vir die middagvertoning. Gertie Uys was ’n teenstander van sulke goddelose invloede en vir haar was die bioskoop die voorportaal van die hel, maar die kinders was so oulik dat sy nie kon nee sê nie.
Sy het seker gebid dat die dominee haar nie sien nie en het dwarsdeur die cowboy-fliek gesit en sug. Maar die serial was ’n ander storie! Ten spyte van haar afkeer en haar morele standaarde, het sy daarna die kinders elke week teruggestuur met streng instruksies om te gaan kyk hoe daardie onwelvoeglike vervolgverhaal ontplooi.
Om te verduidelik waarom hy so lekker jazz uit die klavier kon toor, het Pa ons vertel van die danse waar hy en sy orkes tydens sy studentejare aan die Universiteit van Kaapstad gespeel het. Ons was baie beïndruk, hoewel ons nooit uitgevind het of hy ooit sy graad gekry het nie. Hy het ook vertel hoe hy in die vroeë 1930’s per skip Engeland toe is en daar ’n filmkontrak aangebied is deur niemand minder as Ivor Novello nie! Of was dit Noël Coward? Miskien albei. Dit maak nie saak nie.
Pa se jazz-orkes.
Die groot jammerte was dat sy ma haar voet neergesit en haar seun beveel het om dadelik huis toe te kom. Hoeveel keer het hy my nie daaraan herinner dat hy sy film- en toneelloopbaan prysgegee het om ’n gesin te hê nie? Veral net voor ’n openingsaand. Sy talent vir stories vertel en die manier waarop hy hulle altyd vars gehou het, het bewys dat hy ’n goeie akteur sou gewees het.
Die Uys-gesin van die Paarl in 1912: Tielman Marais en Gertie Malan Uys met Johanna (Hannie) langs haar pa, klein Anna op die stoeltjie en Hannes, die enigste seun, op die hobbelperd.
Ons het ’n tyddeelplot in die Paarl. Dis in die begraafplaas langs die Bergrivier. Die meeste van die familie is al daar. ’n Grafsteen vir Hannes Uys en Helga Bassel. Pa se ouers, Tielman en Gertie. Sy suster, Anna. Sal ek en Tessa ook eendag daar spook? Wie weet? Pa se pa was ’n ingenieur in die Paarl gedurende die Eerste Wêreldoorlog, dalk een van die eerstes. Hy’t ’n motorfiets gehad en het met sy seuntjie agterop op die gruispaaie na die plase gery waar hy dorsmasjiene – toe ’n nuwigheid – reggemaak het.
Die Uyse het ook, volgens Pa, die eerste kar in die Paarl gehad: ’n Maxwell. Hulle’t langs die Toringkerk gewoon waar klein Hannes op 12 begin het om elke Sondag die diens op die groot orrel te begelei. Sy bene kon nog nie die pedale bereik nie en sussie Anna moes hulle op die regte noot met die hand afdruk.
Pa het sy stories oor en oor vertel en elke keer ’n ander afdraai gevat waar nóg groter wonders en verrassings op ons gewag het. Veral die een