Weerklink van ’n wanklank
Memoires van toe en nou
deur
PIETER-DIRK UYS
Tafelberg
Opgedra aan dáárdie glimlag wat ’n wêreld help verander het
In die voorportaal
“Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.”
– Die aanhef tot die Suid-Afrikaanse Grondwet
Ek het besluit om al die foto’s in dié boek in swart en wit te druk omdat ek weet dat lesers se verbeelding dit sal inkleur – en omdat ek in ’n swart en wit land grootgeword het waar “slegs blankes” my lewe oorheers het, weerspieël dit een van die wegwysers in my lewe.
Ek sit op die rotse by Bloubergstrand en kyk oor die see na Robbeneiland. Tafelberg is daar, soos altyd, soos deur my ganse lewe, maar is tog met elke kyk anders. Soos ’n toneelstuk voor ’n nuwe gehoor, lyk die berg keer op keer nuut, vars en opdringerig, klipkaal in die son of toegetrek onder wolke. Dis die oomblik wat soos ’n weggooistelling op ’n T-hemp klink: die eerste dag van die res van my lewe – 11 Februarie 1990 – die presiese oomblik toe die voormalige gevangene 466/64, Nelson R Mandela, ná 27 jaar die laaste treë na vryheid deur die hekke van die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein Korrektiewe Sentrum) gestap het, hand aan hand met sy vrou, Winnie.
Die bekendste persoon in die wêreld sou binnekort my president word, demokraties verkies deur die burgers van my land. Op daardie dag het hy my bevry uit my persoonlike tronk van vooroordeel en vrees en op 27 April 1994 het ek vir die eerste keer in my lewe wettiglik saam met almal – absoluut álmal in die land – in ’n tou gestaan. Terselfdertyd het my loopbaan as politieke satirikus oornag, saam met apartheid, tot ’n skielike einde gekom. Maar net vir ’n paar dae. Nelson Mandela se sin vir humor het my aangespoor om te bly soek na die mock in democracy en die con in reconciliation.
Daarom begin ek my storie agter sodat mý groot trek almal kan vermaak en verlig met die wete dat daar wel ’n gelukkige einde wag. Só sal julle die kleiner wegwysers op my pad herken wat my saggies in ’n sekere rigting gestuur het, sowel as die groot rooi waarskuwingstekens van dood, vrees, terreur en glorie wat my gedwing het om ’n ander rigting in te slaan.
Dit was net deur ’n proses van onthou, naslaan en opgrawe dat ek my grootwordjare in ’n mynveld van agterdog en vrees kon herroep en kon sien hoe dit my karakter en persoonlikheid gevorm het. Om dié proses en energie op die verhoog oor te dra, is moeiliker as om enige van die tagtig-plus skelms, skarminkels en skepsels wat ek tot dusver losgelaat het, te speel. Ek is nie ’n maklike karakter nie.
Kry die regte lig
Ek bou sandkastele wanneer dit laagwater is.
Dis wat ek moes geantwoord het toe hulle my vra: Wat doen jy nou eintlik? Maar ek het gesê ek skryf toneelstukke. Ek voer revues op. Mense sê dit is satiries, maar ek moet hulle ook vermaaklik maak en is daarom nie die beste voorbeeld van iemand wat met ’n vlymskerp tong almal afmaai nie. So, ja, ek skryf stories wat soms as ’n drama op ’n verhoog beland. Sommige is deur die vorige regime van afsonderlike ontwikkeling verbied, maar meestal eindig hulle op die studeerkamer se rak, in afwagting van die regte oomblik om wakker te word en hulle stemme dik te maak. Ek smokkel van my werk deur sosiale media op die internetsnelweg in waar hulle saam met biljoene ander lewens toevlug soek. Maar die kern van my passie is die sandkasteel wat ek bou voor dit weer hoogwater word. Besonderse strukture wat mense verruk en verwar en belangstelling ontlok tot die gety inkom en die water my skepping in ’n hoop nat sand en ’n vae herinnering verander. ’n Teateropvoering is een van die min inspirasies wat nog nie geblik of op ’n skyf geskryf of in ’n Wolk gestoor is nie. Dit gebeur direk tussen my lippe en jou ore.
Ek was in standerd sewe in Nassau-hoërskool toe die gogga my byt. Ons Engels-onnie, Miss Nel, het die klas na die Kleinteater in Kaapstad geneem om ons voorgeskrewe Engelse drama in lewende lywe te sien. Dit was King Lear deur William Shakespeare (lekker vir ’n Afrikaanse skool, nè?). Ons was meer opgewonde oor die treinrit in die aand Kaap toe, nie in skoolklere nie, maar aangetrek soos mense – en ons was nie op pad fliek toe nie, maar na ’n teater! Ons het tjoepstil en ongemaklik in die rooi fluweelstoele in die ouditorium gesit terwyl wit mense, opgetof en ernstig, hulle sitplekke om ons ingeneem het (onthou, dit was 1962).
Uiteindelik word die ligte in die teater gedoof en seil die groen fluweelgordyn met ’n gesis na bo voor dit heeltemal verdwyn – en daar verskyn die mooiste wêreld wat ek nog gesien het. Die ligte het soos sterre geskitter. Die groen, blou, rooi en geel kleure was dieper en ryker as in my drome. En die mense op die verhoog? Akteurs? Nee, hulle was gode en godinne in goue klere wat stadig, soos in ’n droom, beweeg terwyl hulle die storie van Koning Lear en sy dogters vertel in ’n taal genaamd Engels. Shakespearean English! Ek het nie veel verstaan nie, maar het presies geweet wat hulle bedoel. Ek het die meeste van Die Nar gehou, want ek het ook simpel dinge aangevang, en heimlik het ek Goneral se lang rokke gefancy.
Daar was lords en ladies, prinse en prinsesse, konings en koninginne (’n gekloek van queens!). Toe hulle weer van die verhoog af verdwyn, het ek sommer geweet hulle is vinnig in ’n koets vort, op pad na ’n ander kasteel om reg te maak vir die volgende slag in hierdie drama oor ou oom Lear. Ek was nog onbewus daarvan dat akteurs wat pas die verhoog verlaat het eintlik agter die stel op ’n stoel gaan sit, ’n sigaret aansteek en onder mekaar brom: “Jissis, dis ’n kak gehoor!”
Iets moes my bygebly het, want toe ek klaar is met skool en my nege maande militêre diens, is ek na die Universiteit van Kaapstad om ’n graad te verwerf. Iets om op terug te val. (Sê mense dit nog? Wanneer gaan ons kinders eerder begin aanspoor om ’n graad te kry waarop hulle vorentoe kan val?)
Wel, ná vier jaar het ek uiteindelik my BA(Drama) gekry, moontlik die nutteloosste ding wat ek op my naam het. As jy op die verhoog staan, vra niemand om jou graad te sien nie. Jy kan dit doen, of jy kan nie. Daar is geen regstellende aksie in teater nie, g’n BEE nie. Net do – doen. Soos Noël Coward gesê het: “Speak clearly and don’t bump into the furniture!” Ek wens ek kon jok en sê dat ek alles wat ek van die teater weet op universiteit geleer het, dat ek die lesings bygewoon het, in die biblioteek gestudeer het en nie drolletjies na die standbeeld van Cecil John Rhodes gegooi het nie. Maar nee. Ek het alles wat ek van die teater weet, geleer terwyl ek in die laat 1960’s kaartjies by die Hofmeyr-teater geskeur het.
Bedags was ek student, maar saans was ek daar – in my pikkewynpak met ’n strikdas en netjiese kuif – om die kaartjies van die wit teatergangers te skeur en te beduie waar die wit mense se toilette was. Wanneer die drama begin het, het ek agter in die donker gestaan en die hele toneelstuk gekyk. Elke aand, soms sewe keer ’n week, dikwels vir ’n drie weke lange speelvak. Dieselfde stuk oor en oor? Ja, maar dit was nooit dieselfde stuk nie, want elke aand was daar ’n ander gehoor. Die energie was vars, die gelag anders (en op ander plekke) en die hele dramatiese aanslag het met elke opvoering verander om aan te pas by die nuwe gehoor wat oorgehaal sit om los te trek met wilde applous wanneer die gordyn finaal sak. Dit was my eerste les in sandkastele bou wanneer die gety teruggetrek het.
Daar was ek plekaanwyser en programverkoper. Nou is ek plekaanwyser, verhoogbestuurder, dramaturg, satirikus, fopdosser (vir dié wat nie besef dat die woord “akteur” is nie), reklameagent en optimis, en steeds geboei deur drama. Elkeen van die seweduisend keer wat ek alleen op die verhoog verskyn het, het gevoel soos die eerste en die laaste keer. Hoekom? Want die mense wat sit en kyk en luister, is net so “lewend” soos die drama en oorgehaal om te gaan