Wie weet hoe konings en hul mense op Goddelike beskuldigings reageer? Wie weet of hulle die aanbod vir omvattende vergifnis ernstig opneem? Of elkeen nie bloot sy reputasie wil beskerm en dus die beskuldigings minag nie?
Want die mens het klaarblyklik ’n geneigdheid om grootmeneer te speel wanneer hy eintlik moet ineenkrimp. Om te smaal wanneer hy moet huil. Om vuis te wys vir Godgestuurdes met wie hy nie saamstem nie.
____________________
Hoe lank nog, Here, sal U ons bravade verduur?
Dinsdag 29 JANUARIE 2019 Lees Jeremia 36:11-26
Gevolge
Die koning en al sy amptenare wat hierdie dinge gehoor het, het nie bang geword en hulle klere geskeur nie (v. 24).
Dit is toe so. Soos ons kon verwag, is Jeremia en Baruk se boodskap nie goed ontvang nie. Ja, die koning se amptenare was ontsteld en wou opsluit dat die koning dit ook hoor.
Maar sý reaksie toon sy minagting vir wat hy hoor: Die een bladsy na die ander word, soos dit aan hom voorgelees word, uit die boekrol geskeur en in die vuur gegooi. Van die dapper amptenare wil keer, maar die koning steur hom nie aan hulle nie. Uiteindelik roep hy uit, sterkman wat hy is: Bring ’n bietjie daai profeet en sy ou skrywertjie hier na my toe! Laat ek hulle ’n les leer!
Ja-nee, dinge het nog weinig verander: Koningskap rym nie sommer met boetvaardigheid nie. Leiers blink nie uit in verskoning vra nie. Inteendeel: Hulle bal die vuis net nog meer beslis, hulle draai die volume van hul bulderende stem net nog harder.
Waar wil die Bybelleser ’n beter voorbeeld kry van daardie ou geneigdheid by koning én onderdaan om die boodskapper te verkwalik as jy nie van die boodskap hou nie …?
Wat koning Jojakim uit die oog verloor, is dat dit toe nie Baruk se boekie of Jeremia se diktaat is wat hy in die vuur smyt nie, maar God se woorde. Dat die kragtige uitdaging wat hy só rig, toe nie die profeet teiken nie maar die profeet se Opdraggewer. Hy sou leer dat wie hom teen God verset, dapper genoeg moet wees om die gevolge te dra.
En as jy, leier, boonop jou volgelinge op ’n dwaalspoor lei, moet jy weet dat ook hul bloed uiteindelik aan jou hande sal kleef.
____________________
Here, lei U tog die leiers! En laat my luister.
Woensdag 30 JANUARIE 2019 Lees Psalm 119:89-96
U wonderlike wet
As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende (v. 92).
Psalm 119 is by alle blokraaiselgeesdriftiges welbekend as die Bybel se langste psalm. Bybellesers sal wel ook weet dat dit hier is waar God se woord beskryf word as “’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Ps 119:105, 1933/53-vertaling).
Diegene wat die hele psalm deurlees, sal sien hoe die digter telkens sy verknogtheid aan die Woord verklaar – en veral dan ook aan die Here se “wet” en “bevele”, sy “verordeninge” en “gebod”.
Dit is dalk net hier waar die wenkbroue effens lig. Want die liefde vir die Woord is navolgenswaardig, maar ’n verlustiging in die wét? Die entoesiastiese aanhang van ’n reeks moets en moenies? Nie sommer nie.
Dan blaai ons liefs verby en sug: Dit was darem maar ’n ander tyd daardie, ’n ander toewyding, ’n anderster vroomheid …
Maar só mis ons die digter se punt volledig. Want sy liefde vir God se gebod is ’n heel praktiese aangeleentheid, en straks selfs ’n saak van lewe en dood. Hoor dan: “Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie, want deur hulle het U my in die lewe gehou” (v. 93).
Hy het dus vasgestel dat die Here se wette nie die reëls van die een of ander diktator is nie; dit is niks minder nie as beskermingsmaatreëls. Dit is die skild wat Hy voor sy kinders hou om die Bose se brandpyle af te weer. Dit is die muur wat Hy rondom hulle bou om die diewe te keer wat hul vreugde en dalk ook hul lewe wil steel.
Dit is ook sy Goddelike tienpuntplan om hulle teen hulleself te beskerm. Daarom die dankbaarheid daaroor en die vreugdevolle vasklou daaraan.
____________________
O Lig wat my donkerte verdryf, hoe groot is U, hoe helder skyn u woord!
Donderdag 31 JANUARIE 2019 Lees 2 Kronieke 34:1-7
Opruim
Josia was ag toe hy koning geword het … Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here (v. 1-2).
Wat sal ons in hierdie tyd oor dié bekende verhaal sê? Die een van die bloedjong kind-koning en al sy hervormings?
Dalk maar dit: Al die ou volk se konings was darem nie sleg nie. Kyk dan nou hierdie jong man. Hy was maar twintig toe hy begin het om die afgodsdiens in sy land aktief te beveg. Hy het “persoonlik toegesien” (v. 4) dat die gruwelike tekens van die Baälaanbidding landwyd vernietig word.
Ja, dit kan ons dus ook hiervan sê: As jy jou afhanklikheid van God na behore besef, is jy oud genoeg om ’n koning te wees. Agtjarige konings het straks simpatieke raadgewers nodig om reg te regeer en die landsadministrasie te laat vlot, maar as daardie koning se hart aan die Here behoort, is die saak reg. Dan sal hy weet dat hy hom uiteindelik net aan Een se stem hoef te steur. En dat hy net aan Een verantwoording hoef te doen.
Dit alles mag ons – wat sommerso, half ongemerk, aan die einde van die jaar se eerste maand beland het – maar ter harte neem: As jou nuwejaarswense, nou reeds ’n maand oud, dalk die voorneme ingesluit het om ’n slag behoorlik skoon te maak – doen dit!
En as die suiwering van alles wat jou so lank reeds pla – in jou eie lewe, jou gesin s’n, jou kerk en jou mense s’n – regtig jou erns is, is dit nie te laat om daarmee te begin nie. Luister net fyn na die Here se stem. En let goed op na hoe sy hart klop.
Doen dan wat jy weet jy moet doen.
____________________
Begin eers by my, Here. Vorm my en maak my, net soos U wil.
Vrydag 1 FEBRUARIE 2019 Lees 2 Kronieke 35:20-27
Hoog vlieg
Josia het … nie geluister na wat Neko op bevel van God self gesê het nie (v. 22).
Dit is ’n vreemde slothoofstuk vir hierdie mooi, opbouende verhaal; jy weet nie lekker wat om daarmee te maak nie.
Alles het dan so mooi begin: die agtjarige koning, sy gesonde verstand, sy hart wat op die regte plek is, al die ingrypende hervormings wat hy aanpak en deurvoer. Die verbasende feit dat hy al sy mense met hom saamneem op hierdie nuwe pad. Hy wat self die leisels neem.
Toe loop alles bitterlik skeef. Wat ’n antiklimaks. En ons kry nie juis ’n oortuigende rede waarom alles so verkeerd geloop het nie. Behalwe miskien dié klein leidraad: die uiters suksesvolle Josia wat nie weet waar om halt te roep nie. Wat toe deur die farao se boogskutters neergevel word omdat hy nie die Egiptenaar – ná talle waarskuwings – met rus gelaat het nie. En só word iemand wat klaarblyklik vas in sy eie grootsheid begin glo het, noodlottig ontnugter.
Is dit dan die mens se lot wanneer hy te seker van sy saak begin word? Wanneer hy te hoog wil vlieg, té oortuig van sy onaantasbaarheid is?
Daarom is dit jammer dat ons nie meer die treurliedere sing wat oor Josia se val geskryf is nie (vgl. v. 25). Dalk sou dit ons gereeld daaraan kon herinner dat die wesenskenmerk van sukses die blywende besef van jou afhanklikheid van God is. Dat om los hande hoog te wil vlieg, dikwels bloot ’n ver val voorafgaan.
Want ons gewaande belangrikheid