Uit die Beek 2019. Barend Vos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Barend Vos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320940
Скачать книгу
dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het … (v. 22).

      Dit is die kern van Paulus se pleidooi aan die gemeentemense in Efese: Julle is nou anders, omdat Christus julle anders gemaak het. Gaan lewe dus nou ánders. Anders as vroeër, anders as die heidene.

      Dit is nie maklik nie. Andersheid is om vreemd te wees. Anders­heid laat jou uitstaan, dit maak jou sigbaar. Nou sien mense jou raak, en hulle hou nie noodwendig van wat hulle sien nie. Want andersheid ontlok agterdog, selfs argwaan. Dalk ook jaloesie: Wie dink hy is hý? Dink sy dat sy beter is as ons?

      Die hartseer is dat laasgenoemde beskuldigings dikwels meer as ’n greintjie waarheid bevat. Mense wat in gehoorsaamheid anders begin lewe, is soms alte bewus van hierdie andersheid. En straks eerder trots daarop as dankbaar daarvoor. Dan bekyk hulle hul medemens deur ’n nuwe bril, eensklaps vol afkeuring. Leer hulle teregwysende taal aan. Help hulle graag ander mense reg en sê: Nie dat ons hulle veroordeel nie, maar …

      En so verloën gelowiges wat opgeroep word om anders te lewe die eerste beginsel van hul andersheid: Dit is Christus wat hulle anders gemaak het. Hul andersheid is nie ’n uitvloeisel van hul eie goeie keuses nie; dit is die genadige gevolg van God se harde werk in hul lewe.

      Daarom beklemtoon Paulus hier nederige solidariteit: “Ons is lede van dieselfde liggaam” (v. 25); “wees goedgesind en hartlik teen­oor mekaar” (v. 32). Sien, mense wat nou anders is, onthou hoe hulle vroeër was. En hoe onmoontlik dit is om sélf anders te word.

      Hulle weet maar te goed wat dit hul Verlosser gekos het. En wat sy houding is teenoor diegene wat steeds vasgevang in eenders­heid lewe.

      ____________________

      Herinner my gereeld, Here, aan waar ek vandaan kom. Wat ek nou is, is net genade.

      Dinsdag 8 JANUARIE 2019 Lees Efesiërs 5:15-20

      Soek-soek

      Wees baie versigtig hoe julle lewe … soos verstandiges (v. 15).

      Ons lewe in ’n goddelose tyd, skryf Paulus amper twee duisend jaar gelede. Ook maar goed hy sien nie wat deesdae gebeur nie …

      As deel van sy uitgebreide vermaning dat diegene wat deur Christus verander is ook anders moet lewe, as “mense van die lig” (v. 8) moet lewe, voeg hy by: “Maak die beste gebruik van elke ge­leentheid …” (v. 16). Of, soos in die 1933/53-vertaling: “koop die tyd uit”. Carpe diem, sou die ou Romeine sê. Gryp die dag!

      Dit klink gevaarlik naby aan ’n selfweerspreking: Eers maan Paulus die Efese-gelowiges om “baie versigtig” te lewe (“nougeset”, lui die 1933/53-vertaling), maar moedig hulle daarna aan om elke geleentheid aan te gryp. Pasop … én gryp! Keer … én kom!

      Hoe verduidelik jy dit aan jouself?

      Seker maar soos dit met elke Bybelse uitspraak die geval is: soos ’n verstandige mens. Met die gawe van goeie oordeel wat die Here aan sy kinders gee. Met die vaste voorneme om die dinge te “onderskei waarop dit werklik aankom” (Fil 1:10).

      Dán sal jy weet – of ten minste begin leer – om in alle om­stan­dighede die Here se wil vir jou lewe te soek. Jy leer dat dit inderdaad ’n soektog is, ’n gedurige gevra: Is ek op die regte pad, Here? Hou ek nog die koers wat U vir my in gedagte het?

      Dan begin jy agterkom waar om te vat en waar om te los. Jy leer die kosbare kuns van tydsberekening aan. Jy gryp nie meer wat voorkom nie; jy neem dit wat Hy aan jou gee gretig aan. Jy leer om ja te sê, en nee. Jy doen dinge wat by die Here se begenadigdes pas; die res leer jy af.

      ____________________

      Net by U, Here, leer ek. Maak my ’n toegewyde, blymoedige student.

      Woensdag 9 JANUARIE 2019 Lees Numeri 24:15-19

      Nuutgemaak

      “… die openbaring aan ’n man wie se oë geopen is … wat die woorde van God hoor, wat sy kennis ontvang het van die Allerhoogste …” (v. 15-16).

      Bileam. Dit is die man wat hier aan die woord kom. Getroue Bybel­lesers sal verskoon word as hulle maar half teësinnig na dié man luister; hy is immers die een wat sy donkie so geslaan het dat dié luidkeels geprotesteer het (vgl. Num 22:22-35).

      Maar donkieslaners is net mense … Wat om verskoning kan vra (vgl. Num 22:34) en wat opnuut deur die Here in diens geneem word (vgl. Num 22:35) en wat dan, soos die Here hulle voorsê, op ’n ander manier begin optree.

      Én anders praat as wat hulle gewoond was om te praat. Tot die ontsteltenis van diegene wat daarop staatmaak dat die óú Bileam aan die woord kom. Die ontevrede Balak skel op Bileam: “Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, en jy het hulle nou al drie keer geseën. Maak dat jy wegkom …” (Num 24:10-11).

      Só gaan dit maar met mense wat ’n ontmoeting (al was dit ook ’n hartseer konfrontasie) met die Here gehad het: Hulle is nie meer dieselfde mense as voorheen nie. En dikwels betaal hulle ook die prys daarvoor. Dit is nie goedkoop om die Here te gehoorsaam nie.

      Maar hulle weet dat hul oë nou geopen is, dat hulle daarom anders kyk. Dat hul woorde van God kom, en dat hulle daarom anders praat. En omdat hul kennis van Bo kom, weet hulle hoe om hier onder te lewe.

      Ja, Bileam sien nou wat hy nooit kon droom om te sien nie, en vreesloos verkondig hy dit. So gaan dit met mense met wie God aan die werk is.

      ____________________

      Ook met my hou U nooit op nie, Here. Soms maak dit my moeg – maar altyd, áltyd bly.

      Donderdag 10 JANUARIE 2019 Lees Psalm 29

      Die Here se stem

      Die stem van die Here weerklink … (v. 3).

      Die ander gode raas en blaas, maar wanneer die magtige stem van die Here weerklink, gebeur dinge. En dit gebeur gróót! Die see en die berge en die hemelruim getuig hiervan. Vir almal om te sien en te hoor en hulle te verwonder.

      Die Here se kinders ken Hom so. Hulle weet hoe Hy klink. Daar­om sal hulle mekaar op berge en in dale en oral troos en sê: Sien jy daar? Hoor julle dit? Wees bly. Want dit is die Here wat daar praat.

      Hierdie uitbundige psalm laat die gelowiges hul ore spits en oë fokus. Om beter te kan hoor hoe die Here klink, om beter te kan sien hoe Hy werk. Sodat hulle te midde van hierdie wêreld se gedruis hul Here se stem van die res kan onderskei.

      Dit is goed so. Want deur die eeue het dit dikwels, selfs vir die Here se mees oplettende kinders, geklink asof Hy begin swyg. Hulle sal soms selfs vra: Hoekom bly U dan stil? Het U bes gegee met u wêreld? Tree U terug? Wat gaan dan van ons word, u kinders wat so deur die ander stemme oorweldig word? Ons wat dikwels daardeur aangelok, selfs meegesleur word?

      Daarom is hierdie pêrel van ’n psalm ’n glinsterende herinnering aan die Stem wat bo alle stemme uitstyg. Wat verder as elke ander plaaslike geraas reik. Sodat al sy kinders, waar hulle ook al is, Hom kan hoor.

      Nee, dit is selde ’n buldering en nooit ’n geskreeu nie. Dit is wel die onmiskenbare, vaste stem van Hom wat destyds al geselsende geskep het. En van altyd af ook só sy kosbare skepping onderhou en sy geliefde skepsels troos.

      ____________________

      Ek hoor U, Here! Die klank van u stem maak my bly.

      Vrydag 11 JANUARIE 2019 Lees Prediker 2:1-11

      Niks is lekker nie …

      Van lag moes ek sê: dis sinloos, en van plesier: wat bring dit? (v. 2).

      Die ou pessimis. Hy kom al van hoofstuk 1 af met hierdie gesug: Alles kom tot niks, niks kan verander nie, alles is ’n gejaag na wind. “God het ’n harde taak aan die mens gegee …” (Pred 1:13)

      Nou beproef hy plesier – en dit is niks lekker nie. Hy wonder wat sal gebeur as hy begin wyn drink … Verder noem hy op: die groot ondernemings wat hy aangepak