Trompie
Omnibus 7
Trompie die sportman
Trompie die hanswors
Trompie die reisiger
Topsy Smith
Human & Rousseau
Voorwoord
Omtrent 30 kilometer van Johannesburg af, aan die voet van ’n berg, lê die dorpie Kwaggaberg. Mense op pad Gauteng toe jaag vinnig hier deur en dink dit is ’n mooi plekkie, maar darem té afgeleë. Min weet hulle!
As ou inwoners hoor hoe reisigers wat soms in die hotel oornag, smalend praat van Kwaggaberg wat so stil en dood is, skud hulle net kop, kyk veelseggend na mekaar en sê met ’n sug: “Hulle weet nie van Trompie nie …”
1
Die petisie
“Daar’s groot moeilikheid in die land,” sê Rooie en kyk na sy skurwe voete. Hy wikkel sy tone. Hy probeer om sy groottone stil te hou terwyl die ander beweeg. Dit is nogal moeilik.
Met ’n sug gee hy moed op en sê weer in ’n swaar stem: “Ja-nee, ouens, ek sê vir julle – daar’s groot moeilikheid in die land.”
Rooie se vriende, Blikkies en Dawie, sit by hom in sy buitekamer. Hulle kyk weemoedig voor hulle uit. Hulle dink duidelik ook daar is groot moeilikheid in die land.
Blikkies kou aan ’n stukkie kougom. Hy versit dit behendig van die een kies na die ander en dan vra hy: “Weet Trompie daarvan?”
“Nee,” antwoord Rooie, “hy weet nog van niks nie. Ek het dit net toevallig uitgevind. Ek’t daar by die klomp ouens gekom en gesien hoe gryp hulle die papier en probeer dit wegsteek. Toe vat ek dit af by die ou wat dit agter sy rug hou en lees wat daarop staan. Ek sê vir julle, daar is al ’n hele spul name op daai lys.”
Dawie staar peinsend voor hom uit. Dit is slegte nuus wat Rooie vir hom en Blikkies gegee het. As Trompie dit te hore kom, gaan dit vir jou ’n lelike ding afgee, hoor!
“Ja-nee,” sê Dawie en sug, “jy’s reg, Rooie – daar’s groot moeilikheid in die land.”
“Ons kan net een ding doen,” sê Blikkies en staan op.
Rooie en Dawie kyk vraend na hom. Hulle sal graag wil weet wat hierdie een ding is. Blikkies wil egter nie sê voordat hulle vra nie. Dit is ’n paar oomblikke stil, dan brom Rooie: “Wat’s dié een ding wat ons kan doen?”
“Ek het vir daai vraag gewag, Rooie,” sê Blikkies selfvoldaan. “Ons moet Trompie dadelik gaan vertel van hierdie gemene ding wat die ouens teen hom beplan. En dan moet ons vier dink aan ’n plan om hulle uit te oorlê.”
“Sê liewer te beveg,” sê Rooie bars en bal sy vuiste.
Dawie voel ook hulle moet die klomp wat Trompie so met ’n mes in die rug steek – en dit ná wat hy alles vir Kwaggaberg se rugby gedoen het – met hand en tand beveg. “Tot waar Dawid die wortels begrawe het,” sê hy en bal ook sy vuiste.
Terwyl Rooie, Blikkies en Dawie in Rooie se buitekamer oor hierdie krisis gesels, sit Trompie op sy bed in sy kamer. Hy het ’n pragtige foto van sy rugbyheld uit ’n tydskrif geknip en dit in sy plakboek geplak. Hy kyk nou ingedagte daarna.
“Vanjaar se rugbyseisoen gaan die beste ooit wees!” sê Trompie sag.
Eerstens sal hy natuurlik gekies word as kaptein van die beroemde Hoërskool Kwaggaberg se onder-16-span, en vanjaar gaan hulle sowaar die beker wen!
En tweedens kom die Britse Leeus vanjaar Suid-Afrika toe om die Springbokke, die wêreld se bobaas-rugbyspelers, te onttroon. “Gmf!” sê Trompie en trek ’n suur gesig. “Asof hulle dit ooit sal regkry!”
Daar word vier toetswedstryde gespeel – in Johannesburg, Pretoria, Port Elizabeth en Kaapstad. Hy sal ’n plan moet maak om by die twee in Pretoria en Johannesburg uit te kom. Hy wens hy kon die toetse in Kaapstad en Port Elizabeth ook bywoon, maar dit sal seker onmoontlik wees. Hy gaan genoeg moet soebat en smeek om sy pa sover te kry om hom saam Pretoria en Johannesburg toe te neem.
Ja-nee, dink Trompie met ’n glimlag, hy wens dit is al volgende week. Dan begin hulle rugby oefen en dan kies die ouens ook die verskillende spanne se kapteins.
Trompie se gedagtes word onderbreek deur ’n harde gefluit buite in die tuin. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een – die Boksombende se sein.
Trompie fluit op dieselfde manier terug. Dit is sy drie vriende. Wat wil die ouens hê? Hulle het mos afgespreek om later vanmiddag in Rooie se buitekamer bymekaar te kom.
Die Boksombende gebruik nooit ’n deur om by ’n vertrek in te gaan as daar ’n venster is nie. Hulle klouter altyd sommer deur ’n venster. Dit is ’n ongeskrewe reël.
Rooie, Blikkies en Dawie klim nou deur Trompie se kamervenster.
“Haai,” groet hulle hom kamtig vrolik.
“Haai,” groet hy terug en voeg dan by: “Daar’s nou vir jou ’n rugbyspeler, hoor!” Hy wys na sy held, die bekende Blou Bul-senter, se foto.
Rooie kyk eers na die foto van die senter, dan blaai hy deur die plakboek en kyk na al die ander sportfoto’s daarin. Ná Rooie is dit Dawie en Blikkies se beurt.
Die vier vriende maak ’n gedugte groepie uit: Trompie, die ondeunde sproetgesig; Rooie, die sterkgeboude ou met die rooi hare; die besadigde, ewig kouende Blikkies en slim Dawie met die wakker bruin oë.
Hulle is die lede van die Boksombende. Hulle is al van graad vier af vriende en is nou in dieselfde klas op hoërskool.
Trompie is die Boksombende se leier of altans, hul Grootkaptein.
Dawie – nadat Trompie eenkeer sy lewe gered het toe hy amper in die kloof se dam verdrink het – volg die Grootkaptein altyd blindelings. Trompie het natuurlik stilgebly oor die feit dat dit eintlik hy was wat Dawie by die dam ingestamp het, en dat hy so groot geskrik het toe hy sien sy vriend kan nie swem nie dat hy ingeduik het om hom weer uit te pluk. Maar volgens hom hoef Dawie dit mos nie te weet nie.
Rooie – nadat Trompie hom eendag, ’n hele paar jaar gelede, ’n prag van ’n blouoog gegee het – is altyd gewillig om hom te volg as daar sprake van kattekwaad is.
Blikkies is die een wat gewoonlik effens beswaar maak as Trompie met die een of ander voorstel kom. As daar nie eenparigheid is nie, stem die Boksombende en dan is Blikkies in die minderheid. Dit is altyd drie stemme teen een, so Blikkies moet gewoonlik maar saamspeel. Ten minste voel hy dat as hy een keer protes aangeteken het, is sy gewete darem skoon. As daar dan moeilikheid kom, kan hy mos sê hy hét hulle gewaarsku.
Terwyl hulle na die plakboek kyk, vertel Trompie opgewonde hoe hy vanjaar sommer ’n barshou rugby gaan speel.
“Ek sê julle ouens,” sê hy geesdriftig, “ek gaan net so goed soos dié ou van die Blou Bulle wees. Hy’s ’n senter en ek ook. Ek het mos laas jaar gesien hoe hy maak-maak of hy deur ’n gaping gaan skiet en dan glip hy skielik deur ’n ander een – en dit terwyl die ander ouens nie eens weet daar is ’n ander gaping nie.”
Trompie glimlag selfvoldaan. Ja-nee, dis hoe hy vanjaar gaan speel: sommer ’n barshou. Hy kom nie eens agter dat sy drie vriende onderlangs na mekaar kyk nie.
“En as kaptein,” sê Trompie en slaan met sy regtervuis in sy linkerhand, “gaan ek my manne met ’n ysterhand regeer. Vanjaar moet ons vir Hoërskool Saamwerk van Johannesburg behoorlik op hulle plek sit. Ek sê julle, vanjaar gaan ons die beker wen!”
Blikkies, wat laaste deur die plakboek geblaai het, sit dit nou op die bed neer.
Hy kyk vinnig na Dawie en Rooie. Hulle kyk na hom. Hulle wil duidelik hê hy moet die praatwerk doen. Hy het mos gesê daar is net een ding