Farr is die hel in vir my. Sy’t ’n teksboodskap gestuur om te sê sy het ’n paar dinge by die hi-tech unit gaan opvolg.
Ek vat ’n kans. “Sê die ondersoek vorder. Dis al.”
“Gaan nie werk nie.” Hy kyk my vas in die oë.
Ek maak asof ek daaroor dink, sê dan die woorde drupsgewys, asof ek hom ’n onwillige geskenk aanbied: “Goed, sê ’n nuwe span het die saak oorgeneem. Dat ons hard werk om die familie op te spoor.”
“En dat julle nog geen nuwe leidrade het nie?”
“Seker. As jy dan moet.”
“Wat mag ek sê van wat ek daar binne gesien het?”
“Niks nie. Dit was net sodat jy kan verstaan hoe kompleks hierdie saak is. Dat die polisie nie rondsit en tyd mors nie.”
“Níks nie?” Die sarkasme is amper tasbaar.
“Wel, okay, dis seker nie heeltemal reg nie. Ons is op soek na mense wat weet waar Willem daardie Sondagaand was. Van nege tot een in die nag. En wie weet, dalk het iemand hom sedertdien gesien, maar dit nie besef nie. Dalk moet hulle weer bietjie onthou hoe hy lyk. Hoe belangrik die saak is.”
Hy skryf iets in sy notaboek wat ek nie kan uitmaak nie. Ek sweer hy lag.
“Moenie te veel detail oor die Sondag gee nie,” waarsku ek. “Moenie sê Willem het uitgeslip nie. Sê net dat hy dalk uit was en dat ons wil weet waar hy was.”
Alex knik. “En wat skryf ek oor kaptein Sydney Mthembu?”
Ek en kolonel Ndlovu het reeds die saak bespreek. “Hy’s op verlof ná die skietery by die aanklagkantoor. Moet asseblief nie sy familie vir kommentaar vra nie.”
“Ek gaan moet.”
Ek is dadelik vies. “Ek haat dit as julle dit doen.”
“Ek hou ook nie daarvan nie.” Hy trek sy skouers op. Haak die pen voor by sy hemp in en bêre die notaboek. “Maar niemand se werk is perfek nie.” Hy sit sy hande in sy sakke. “Hoe gaan dit met kaptein Mthembu?”
Sy vraag verras my. Hoekom sou hy belangstel? “Nie vir die storie nie?”
“Nee.”
“Nie goed nie. Sy vrou is bang hy gaan homself seermaak.”
“Dis jammer.”
“Regtig?” Die sarkastiese woord glip verby my waaksame tong.
Hy antwoord nie, beduie na die huis agter my. “Die kameras, in die sitkamer en in die slaapkamers, neem dit op?”
Het hy dit wragtig raakgesien? “Hulle neem in 24-uur-siklusse op, dis al. Die footage word aanlyn gebêre en dan uitgevee.”
“So dit help jou niks nie. Die aanval was die 24ste, Lafras is die 26ste ontdek.”
“Presies.”
“Wie kan die videovoer sien? Die sekuriteitsmaatskappy? Wag, jy’t gesê die diens is ses maande gelede gestaak.”
Ek sug effe moeg. Dis dêm uitputtend om met die man te praat. “Die kameras was nie deel van die sekuriteitskontrak nie, dit was ’n private installasie. Katerien het meestal ingelog om te kyk.”
“Waarna wou sy kyk?”
“Dit en ’n horde ander goed is vrae wat nog antwoorde kort,” lieg ek.
Hy glimlag asof hy weet ek jok. “Wanneer kan ek jou weer sien?”
“Oormôre. Miskien.”
“Hier?”
“Ek sal jou laat weet.”
Hy loop na die Land Rover, draai dan terug asof hy hom bedink. “Mag ek die garage sien? Dit sal help om ’n prentjie van die hele huis in my kop te hê.”
Ek kyk op my horlosie. Ek moes reeds te veel tyd aan hierdie onderhoud afstaan, maar dit sal seker nie skade doen om hom te wys nie.
“Kom.”
Ek druk die knoppie op die afstandbeheerder wat vas is aan die huissleutels. Die dubbelgaragedeur gaan eerste oop, dan die enkele een.
Alex Derksen hou seker nie van vinnige motors nie, want hy sê niks. Ek is mal oor die rooi afslaankap-Ferrari voor ons, veel meer as die Ducati-motorfiets wat teen die muur staan.
“Wie het wat gery?”
’n Man wat nie aannames maak nie.
“Die Ferrari is Lafras s’n en die Fortuner Katerien s’n. Laasgenoemde was gepak vir die vakansie.” Ek beduie regs, na die derde garage. “Die BMW M is ook Lafras s’n, sê Annabel. Die motorfiets is die 23ste Desember verkoop. Die nuwe eienaar het nooit tyd gehad om dit op te tel nie.”
Alex retireer twee treë, kyk na die leë afdak langs die garage. Die motorhek waardeur ’n enkele kar kan wegglip.
“Dis waar Willem sy motor parkeer het,” sê ek, “die een waarin hy die pad gevat het. Lafras se ou wiele.”
“Oud” is ’n oordrywing. Die rooi 5-reeks-BMW wat die polisie in Menlyn opgespoor het, is skaars vier jaar oud.
“En mens kan nie van die garage tot in die huis loop nie?”
“Snaaks genoeg nie. Daar is geen deur nie. Sommige kenners sê dis veiliger so.”
Hy staar lank na die motors, knik dan stadig. “Dankie.”
Ek maak die garagedeure toe.
Hy skud my hand. “Sterkte. Ek hoop jy spoor hulle op. Lewendig.” Hy kyk stip na my, nes ek vroeër na hom gestaar het, asof hy my weeg. “Jy sal my laat weet as daar nuus is, nè?”
“Natuurlik.”
“Eerste.”
“Dis die deal.”
Hy lig sy wenkbroue à la Farr.
“Belowe.”
Hy maak die Land Rover se deur oop en klim in, strek om sy foon uit sy jeans se sak te vis. Die sitplek langs hom is ver teruggeskuif, asof ’n lang vrou gereeld daar sit, en daar is twee Seattle Coffee-wegneemkoppies tussen die sitplekke, een met ’n aardse lipstiffiekleur aan die rand.
Hy kyk na my, na waar ek kyk. Skakel die viertrek aan.
Ek gee pad toe hy die deur wil toemaak. “Stuur groete vir Ranna.”
Hy tel sy sonbril van die passasiersitplek op en sit die voertuig in eerste rat.
“Haar naam is Francis Beekman. Ons almal moet in ’n stadium aanbeweeg.” Die enjin proes onder sy regtervoet. “Praat weer.”
ALEX
1.
Donderdag 8 Februarie, 17:15
Ek moes nooit ingestem het om die storie by Janet oor te neem nie, kraamverlof ofte not. Ranna was reg, kaptein Averil Joan Williams weet nie van los nie. Maar dit maak nie saak nie. Ek is gatvol om my verhouding – my lewe – weg te steek. Ranna Abramson is dood. Weg. Net Francis Beekman bly oor, en Frankie het haar eie regte, egte geboortesertifikaat, paspoort en ID-kaart.
AJ kan maar moeilikheid soek as sy wil.
En dalk móét sy, dan kan hierdie sirkus ook end kry. Dan kan ons oplaas weet of daar nog spore van Ranna by die SAPD skuil.
Ek ry in die rigting van die Stables se uitgang, draai dan regs, en weer regs. Steek die Land Rover weg voor ’n park wat vars gesny en blinknat van die reën lê. Ek skryf die registrasienommers van die drie motors en motorfiets in die Van Zyls se garage neer. Duur voertuie met opsporingstelsels produseer baie GPS-data. Dalk kan ek uitvind waarheen die Van Zyls onlangs gery het.
Off the record beteken nie