Die vertes in
Zirk van den Berg
Kwela Boeke
Vir my oupas,
Zirk van den Berg en Andries Bredenkamp,
wat toentertyd Suidwes toe getrek het.
I
Hy is vier-en-twintig jaar oud en het elke winter van sy lewe by die dood omgedraai. Dit onderskei hom van mense wat nie hulle eie weerloosheid erken nie. Sy tuniek is een of twee nommers te groot om die bors, maar die hunkering in sy hart is selfs groter. Hy gaan Afrika toe.
Langs hom word ’n perd uit die skeepsruim gehys; hy hang in ’n draagband met sy hoewe wat in die lug trap. In die digte mis kan jy nie die hyskraan se bopunt sien nie, dit is asof die dier uit die hemel hang. ’n Stoomenjin dreun en ratte krap toe die vreesbevange perd oor die skip se rand geswaai en laat sak word in ’n ligterskip wat op die donker deining wankel.
Iemand por hom in die ribbes; dis sy beurt. Hy klou aan die reling, swaai een been oor die skip se rand en trap op die touleer. Terwyl hy afklim na die roeiboot toe, rem sy rugsak se gewig hom agteroor, en sy arms en bene begin bewe.
Hy is die laaste man wat onder kom. Hy gaan sit in die boeg en kyk agtertoe na die res van die peloton. Party van die soldate en die matrose kibbel oor wie die gekanselleerde sokkereindstryd tussen Berlyn en Leipzig sou gewen het. Dis al diep in die volgende seisoen, met nog net twee maande voor die 1905-eindstryd in Mei, maar die ondersteuners praat steeds oor laas jaar se grootste antiklimaks. Die matrose gebruik die spane om hulle weg te druk van die Jeanette Woermann se staalromp af, en begin roei. Wit spatsels verskyn waar die spane die water slaan, twee ewematige lyne skuimkringe wat stadig verslaan. Oorheen verskyn meeue, klap hulle sekelvormige vlerke. Die spaanhingsels kraak en klik, die voëls krys en die lug pols met die veraf slae van branders teen ’n onsigbare kus. Die digte, souterige oggendmis versluier die omgewing. Hy hoor stemme wat klink asof dit van die oop see af kom, maar hy weet dit moet van die ander skepe in die baai wees. Daar is omtrent tien ander, hy het hulle gisteraand gesien toe die Jeanette Woermann anker gooi. Nou kyk hy na die manne in die skuit, die matrose wat roei en die res wat skouer aan skouer sit, hulle rugsakke tussen hulle knieë. Hulle dra donker kakie-uniforms met grys breërandhoede, die regterkante opgeslaan en teen die bol gespeld met die imperiale kokarde in rooi, wit en swart. Die stoomskip wat hulle tuiste was sedert hulle byna ’n maand gelede uit Hamburg vertrek het, het reeds in die mis verdwyn. Hy kan nog geen teken sien van die land waarheen hulle op pad is nie. Hy tuur in die mis, en word uiteindelik beloon met ’n ligflits wat met elke herhaling duideliker word. Is dit ’n vuurtoring se regaf lyn wat hy daar sien? Dan, toe hy oor sy skouer kyk, word donker vorms in die newel sigbaar – houtpilare met balke kruis en dwars. Detail raak duidelik: ’n kors skulpe op die hout en swaar toue wat in bonkige knope gevleg is om skepe te buffer. Van wat hy gehoor het, het skepe voorheen hier geland, maar die hawe het versand, sodat roeibote en ligterskepe die enigste manier geraak het om die mense, diere en vrag wat by Duits Suidwes-Afrika instroom aan land te kry.
Die matrose hou op roei en laat die boot na die hawehoof toe gly. ’n Gestalte doem bokant hulle op, en skree dat hulle ’n tou moet gooi. Een van die matrose kom wydsbeen orent en gooi ’n tou met ’n haak boontoe. Dit klater op die hout. Iemand moes dit opgetel het, want die tou trek styf, sleep die skuit tot teen die vierkantig afgewerkte houtpaal, waarteen die deining dit op en af laat skraap. ’n Touleer tuimel van bo af. “Komaan!” Die manne tel hulle rugsakke en gewere op, te midde van uitroepe om nie die boot te veel te skommel nie.
Hy is eerste op, gryp die leer, sit sy voet op die sport en hys hom uit die boot uit. Dis die eerste keer sedert hulle by Las Palmas oorgelê het dat sy gewig nie deur water gedra word nie.
Sodra sy kop bo die hawehoof se rand verskyn, reik ’n swart man sy hand na hom toe uit. Hy huiwer. Natuurlik het hy geweet hier sal swart mense wees, maar hy het nie verwag om so gou al een te sien nie, so naby.
’n Sersant wat met ’n potlood en oop boek op die hawehoof staan, skree op hom: “Roer jou, jy’s nie ’n toeris nie!”
Hy vat die aangebode hand en word op die hawehoof getrek. Hy weet nie hoe om op sy helper se menslikheid te reageer nie, kyk nie die man in die gesig nie en rig hom liewer tot die sersant.
Die sersant kyk hom op sy beurt van kop tot tone deur. “Is dit die hele jy?”
Hy is maar net ’n paar sentimeter korter as gemiddeld, maar is tengerig gebou en die losserige uniform vererger die effek. Toe hulle uniforms uitgereik is, het die kwartiermeester nie sy grootte gehad nie, en het verskonend gesê dat soldate vinnig lyf aansit, hy het dit al honderd maal gesien, manne wat vir nuwes kom vra omdat hulle andersins nog bruikbare uniforms se nate gebars het.
“Dis soveel van my as wat die wêreld kan hanteer,” sê hy, maar met te min energie om die opmerking gevat eerder as nukkerig te laat klink.
Die sersant trek ’n wrang gesig. “Die leër is in sy kanon … Naam en rang?”
“Siegfried Bock, reiter.”
Die sersant maak ’n merk in sy boek. “Land is diékant toe,” wys hy.
Siegfried vat die pad, ywerig om die eerste van sy groep te wees wat sy voete op die nuwe vasteland sit. Ander skuite het teen die hawehoof aangekom, gelaai met kratte vrag. Hy kan ’n meganiese hyskraan sien, hoor ’n stoomenjin in die mis hyg. Sodra die hyskraan goedere op die hawehoof neersit, tel swart mans in te groot klere dit op en dra dit land se kant toe met kort treetjies wat dof op die hout roffel. Siegfried se stewels se hakke maak skerper geluide. Die hawehoof is lank, ’n indrukwekkende stuk ingenieursvernuf, ’n houtkonstruksie wat ver in die koue Atlantiese Oseaan steek. ’n Kajuit eenkant is gemerk Zollbüro. Die doeanebeampte leun teen die deurkosyn, besig om aan sy pyp te suie. Hy wys vir Siegfried om verby te hou, en blaas rookkringe wat in die mis onsigbaar is.
Die klank van branders wat breek, wys dat land naby is, hoewel Siegfried dit nog nie kan sien nie. Daar is nou meer skuim op die dofgroen water, dan branders wat in ’n bruising wit spatsels breek en teen ’n steil strand opstoot. Die geluid van sy voetstappe op die hout raak dof; die planke is nou plat teen die sand. En dan trap hy op droë grond.
Hy is in Afrika.
Hy is in Afrika, en Traudl is in sy kop, sy en al die ander wat op hom neersien, met minagting, bejammering of ander vorms van disrespek. Hy sal hulle wys. Dit was nie sy idee om hierheen te kom nie, maar hy het dit reggekry om homself wys te maak dat dit hierdie een keer inderdaad vir hom goed sal wees om aan iemand anders se wil gehoor te gee. Dit is die land waar hy die man gaan word wat hy hom nog altyd verbeel hy is, en hulle sal hom as sodanig moet erken – Traudl, sy pa, hare vir wie hy geen liefde koester nie, selfs al het die man sy koms hierheen bewerkstellig, die dokter wat hom gevloek het omdat hy gedwing is om so ’n petieterige mannetjie in die weermag toe te laat, en die offisiere wat gebrom het toe hulle opdrag kry om hierdie swak rekruut, in weerwil van die reëls, Suidwes-Afrika toe te stuur.
’n Gevoel stu in sy bors op, ’n gekrap wat erger raak. Ondanks sy lewenslange ervaring daarvan, probeer hy dit wegsluk, maar vergeefs. Sy longe begin ruk. Sy oë skiet vol trane en sy ore raas. Hy buk vorentoe, hoes en stik, kan nie asem kry nie. Sy geweer glip van sy skouer af, die loop tref sy voorarm en die kolf kap hom op die voet. Sy bors trek nog stywer toe, selfs toe daar niks meer lug is om uit te druk nie. Swartheid klad sy sig en dit voel asof hy tuimel … en dan kom ’n asemteug deur, en nog een. Hy hyg, met die smaak van bloed in sy keel. Hy kry sy asem terug, spoeg op die grond, tel sy geweer op, kom orent en skop sand oor die smeersel bloed en slym.
“Jissis, Bock, moenie vrek nog voordat ons eens die vyand gesien het nie.”
Siegfried kyk hoedat die soldaat wat die aanmerking gemaak het, in die mis verdwyn. Hierdie bliksem ook, besluit hy, hy sal hulle almal wys – al hierdie gewone manne vol selfvertroue, manne wat dink hulle ken ander mense terwyl hulle nie eens hulself ken nie, manne wat nie twyfel en vrees as permanente metgeselle het nie, wat nie om elke hoek en draai met siniese innerlike teenstanders te kampe het nie.
Die swoel wit mis verdof alle lig, maar geluide dring daardeur. Hy hoor ’n nuwe geroffel aan sy linkerkant, nie die