Alana haal haar handsak uit die sluitkas en maak die deur toe. Ongelukkig ken sy haarself te goed. As sy nou by die huis kom en moeg in die bad sak, sal al die emosie weer haar hart oorstroom en gaan sy die hele nag wakker lê en oor Braam en sy nuwe lewe wonder.
“Sal die pasiënt darem oukei wees?” vra Karen.
“Ons sal sien. Ek hoop so. Daar kan nog komplikasies wees weens die verlengde skok waardeur hy is. Moontlike bloedstolling, sepsis.” Meteens ontmoedig, trek Alana haar skouers op. “Die volgende vier-en-twintig uur is kritiek.”
“Ek is bly dokter het by ons begin werk,” sê Karen.
“Ek ook.” Dit is die ander verpleegster, Reinette, wat praat. In teenstelling met Karen se rooi hare, is Reinette s’n pikswart en kort.
“Dankie, julle. Ek is ook bly.” Alana voel vir die eerste keer vandag dat sy die regte besluit gemaak het om hierheen te trek. Sy weet net nie hoe sy die situasie met Braam gaan hanteer nie, maar vanaand wil sy nie daaraan dink nie.
“Dalk kan dokter vir Braam Smit ogies maak,” sê Karen en lag. “Hemel, daai man is mooi.”
“Nee dankie,” keer Alana gou. Sy het een keer in haar lewe haar hart op hom verloor en dit was een keer te veel.
“Hei! Los. Hy is myne. Hy weet dit nog net nie,” terg Reinette en tuit haar lippe speels.
“Julle is nou sommer laf.” Alana sluit haar hokkie gou. Hoekom dit haar pla dat die twee so van haar eksman praat, is sy nie seker nie. Sy hoop net nie Braam is dikwels die onderwerp van bespreking hier nie. Dit sal haar gek maak.
“Hoe goed ken julle hom?” waag sy die vraag. Miskien sal sy dan kan vasstel of hy permanent hier werk.
“Ons sien hom elke paar maande wanneer hy hier kom opleiding gee, maar as ek sy hart gesteel het, sal hy vir altyd hier wil bly,” sê Reinette. Die twee vroue lag verspot. “Soms werk hy sommer ’n paar skofte by ’n private ambulansdiens hier naby.”
Alana behoort hom dus nie gedurig te siene kry nie. Dit is ten minste goeie nuus. Sy sal net die paar maande met hom moet uithou. En as hy buitendien hier is om reddingsopleiding te gee sal sy hom mos baie min sien, behalwe as hy een naweek dalk besluit om te kom help.
“Het dokter iemand spesiaals wat nou dokter se voete kan masseer wanneer jy by die huis kom?” vra Karen.
Alana glimlag. “Nee. Gelukkig nie.” Sy probeer vrolik klink. Net omdat sy vandag vir Braam gesien het, mag haar emosies nie met haar op loop gaan nie. Sy sal dit nie toelaat nie. “Daarvoor sal ek sommer na ’n terapeut gaan.”
“Dokter is van die onafhanklike tipe?” sê-vra Karen.
“Ek is.” As hulle net weet hoe lank dit gevat het vir die gebroke hart wat Braam Smit haar toegedien het om te heel.
“As dokter van plan verander, is daar altyd die oulike ou wat saam met my joga doen. Sê net en ek kry sy nommer vir dokter,” bied Karen weer aan.
“Ek moet wikkel. Ek het ’n date,” sê Reinette.
“Op ’n Maandag?” vra Karen.
“Op ’n Maandag werk ons gewoonlik nie ’n sestienuurskof nie. Jy weet so goed soos ek, naweke het ons nie ’n lewe nie.” Reinette vee met haar ringvinger onder haar oë nadat sy maskara aangewend het. Sy is lank en atleties gebou. Die mans staan seker tou om haar te date.
“Jy date heeltemal te veel,” sê Karen jaloers. “Waar ontmoet jy al die mans?”
“By First Date,” sê Reinette. Toe hulle vraend na haar kyk, brei sy uit: “Dis ’n nuwe konseprestaurant waar jy op eerste afsprake gaan.” Toe sy sien hulle verstaan nie, sê sy: “Google dit net. Ek moet gaan. Ciao.”
“Sien jou môre,” sê Alana.
“Geniet dit.” Karen gooi haar handsak oor haar skouer. “Net nie te veel nie!” roep sy laggend agter Reinette aan.
Alana kan nie anders nie as om te wonder of daar vir Karen iemand by die huis wag.
Dit is al donker buite toe sy die afstandbeheerder van haar motor druk. In die oranje skynsel van ’n lamppaal sien sy die figuur wat teen haar kar leun.
Sy sal daardie skouers enige plek kan uitken.
Braam.
Net soos haar stetoskoop moes sy al van Bessie, haar … húl motor ontslae geraak het, maar dit kon sy na vyf jaar steeds nie doen nie, al is daar al krapmerke en klein duikies in die bakwerk. Nie dat sy nie ’n nuwe kar kan bekostig nie, maar dit was die eerste een wat hulle saam gekoop het. Soms kon sy haar verbeel dat sy nog sy lekker reuk daarin kon ruik.
In die halfverligte parkeerterrein lyk hy vir haar amper soos ’n vreemdeling. Die sterk kontoere van sy skouers lyk nog breër. Van al die reddingswerk?
Hy is lankal nie meer myne nie, herinner sy haarself.
“Hoe loop sy nog?” is sy eerste woorde.
“O, sy loop,” sê Alana strak. Net môre sal sy die dekselse ding verkoop. Hoekom klou sy buitendien so daaraan vas? Dít wou Heleen ook al weet.
“Jy lyk goed, Lana.” Hy staan hande in sy broeksakke en leun teen Bessie asof hy nie ’n gram stres saamdra nie. Dit bring baie herinneringe terug. Gelukkig is dit donker en sal Braam nie kan sien hoe rooi haar wange en hals seker nou is nie.
“Niemand noem my meer Lana nie,” kap sy terug.
“Dit is goed om te hoor.”
Hy klink sowaar tevrede.
Innerlik sug sy. Die prentjie van hom soos hy saam met die treklorrie vol meubels, arms gevou buite sy nuwe motor voor hul huis gestaan het, doem voor haar op. Hy wou nie ry nie. En sy kon nie wag dat hy moes gaan nie.
Die eerste ding wat sy gedoen het nadat sy hom in ’n ander vrou se arms betrap het, was om hom vir ’n egskeiding te dagvaar. Sy sou nie soos haar ma wag tot iemand eers ’n saak van seksuele teistering teen hom maak voordat haar oë oopgaan nie.
Braam glimlag. “Gaan jy my nie ordentlik groet nie?” Hy hou sy arms oop. “Ons is mos darem nie vreemdelinge nie.”
Ja, maar hulle is vervreemd.
Alana mik in sy rigting, dan kyk sy senuweeagtig rond of iemand hulle sien. Sê nou maar sy druk hom en wil hom nooit weer los nie? Sy vou haar arms eerder om haar eie lyf.
“Jy is nog net so sexy soos altyd.” Braam se oë gly oor haar kurwes.
Sy wil na haar asem snak, maar lag eerder. Haar oë hou syne vas. Hy sal hom wat verbeel om so familiêr met haar te wees.
“Is dit nie iets wat jy vir Evie behoort te sê nie?” Sy ruil haar arms om. Moes dit juis nóú uit haar mond glip? Braam gaan dink sy is al weer jaloers.
In hul slaapkamer was hy alles van wild en stout tot liefdevol. Sy sug. Moenie nou daaraan dink nie, Alana.
“Gelukkig is my lyf niks meer om jou oor te bekommer nie,” sê sy geamuseerd. “Hierdie lyf sal jy nooit weer kaal sien nie.” Toe die woorde uit is, brand die vuur op haar wange. Hemel! Vir wat het sy dít nou gaan staan en sê? Tog gee die gedagte haar geweldige satisfaksie. Nadat sy hom in iemand anders se arms betrap het, het sy ’n minderwaardigheidskompleks so groot soos die Titanic ontwikkel, maar nie meer nie.
Braam lig sy wenkbroue: “Jy weet jy kan so iets nie vir my sê nie, Lana. Ek sal dit mos as ’n persoonlike uitdaging beskou.” Ondeundheid dans in sy oë. “Jy weet tog ek is ’n doelgedrewe man.”
Moet hy steeds so vervlaks sexy ook wees?
Toe Braam besef sy gaan nie in sy arms val nie, druk hy sy hande weer in sy broeksakke.
“Nog net so seker