Hy draai na haar. “Dit is nie nodig nie, suster. Ek ken die pad, dankie,” knip hy haar toenadering kort.
“Wat kyk julle?” vra suster De Lange. “Dis nie Binnelanders dié nie, julle almal het seker werk om te doen?” Sy voel aan haar hare voordat sy besig raak om notas op ’n knipbord te skryf.
Soos enige ander hospitaal, versprei skinderstories hier seker ook soos ’n veldbrand en daarom sal Alana nie durf vra wat pas gebeur het nie. Was haar observasie van suster De Lange reg? Hou sy van professor Patterson?
Alana is skaars terug in die kantoor toe sy stemme by ontvangs hoor. Daar was geen loeiende sirene nie, maar sy hoop nogtans dit is ’n ordentlike noodgeval.
“Dokter,” roep die rooikopverpleegster. Karen, as sy die naam reg onthou.
“Ek is op pad,” sê sy hoopvol toe sy by die kantoordeur uit draf.
“Lyk my ons het ’n pasiënt. Be careful what you wish for, dokter.” Karen se vrolike lag weergalm in haar ore.
Hier staan ’n histeriese ma met ’n kleuter op die heup, ’n donkerkopseuntjie uit wie se neus reënboogkleurige slym loop.
Agter Alana giggel die verpleegpersoneel te lekker.
“Daar’s nou nie bloed nie, maar as dit nie ’n vuurdoop is nie, dan weet ek nie wat is nie,” praat Karen weer, haar skouers rukkend.
Die ander twee dokters staan ook met ondeunde oë, hande in die sakke na haar en kyk. Skielik voel dit net soos ontgroening op hoërskool.
Dis nou nie die krisis waarvoor Alana stilletjies gebid het nie, maar taai trane blink op die kind se wange, en haar hart smelt.
“Hy het my jelly beans skelm in sy neus opgedruk,” sê die gestresde ma. Die vrou se hare is gekoek. Die klere wat sy dra, lyk asof sy dit dalk al ’n paar dae aanhet.
“Foeitog.” Karen vat die kind se hand.
“Dis nie snaaks nie, is dit Ben?” vra die ma.
Die seuntjie op haar heup giggel en skud sy kop heen en weer.
“Ek wou dit nog eet,” sê die ma.
Almal lag.
“Bring hom sommer hier na ondersoekkamer een toe.” Alana draai om.
“Ek was te bang om die ‘moeder se soen’ toe te pas,” sê die vrou. “Ingeval die lekker in sy keelgat afgly en in sy longe beland.”
Alana knik. Sy weet in elk geval nie hoe ma’s dié tegniek kan toepas nie. Besef hulle nie hoe gevaarlik dit is om hul mond oor die kind se mond te plaas terwyl jy die een neusgat toedruk en hard blaas nie? Dít, met die hoop dat wat die kind ook al in sy neus gedruk het by die ander neusgat sal uitstoot.
Sy lig met die flitsie in die seun se nasale opening. “Jy was reg om dit nie te doen nie. Dit is gevaarlik.”
Ben ruk sy kop heen en weer toe sy aan hom vat. Dan vee hy oor die gekleurde snotterigheid op sy bolip. Hy gryp na haar blonde hare wat oor hom hang en klou dit vas.
“Los die mooi tannie se hare, Ben,” maan sy ma.
Alana kan die lag in haar stem hoor.
Gehoorsaam los die kind haar hare net om sy vuil handjie aan haar wit jas af te vee.
Suster De Lange kom staan langs die bed.
“Môre, Mariët. Wat het klein Ben nou weer aangevang?”
Is Mariët en klein Ben wat noodpersoneel ’n “regular” noem?
“Vandag het hy jelly beans in sy neus opgedruk.” Mariët skud haar kop moedeloos.
Suster De Lange staan met haar arms gevou, en is daar ’n flikkering van vermaak oor haar gesig? Verdomp! Sy geniet dit natuurlik.
Alana vat sommer gaas en vee die kind se vuil neus goed skoon voordat sy weer probeer kyk of sy iets sien. Na die episode sal hy ook ’n bad nodig hê.
“Moet ek help?” vra suster De Lange glimlaggend.
“Dis nie nodig nie,” keer Alana skerp. Dit is nie asof sy met ’n messteek of ’n skietwond te doen het nie. Die kind se neus loop, dis al. Sy sal die suigpomp eerder as ’n verlostangetjie moet gebruik.
“Die verkoue wat hy het, help nou nie juis nie,” sê ma Mariët.
“Dit gaan bietjie ongemaklik voel, Ben,” waarsku sy hom.
Die kind kyk na haar met betraande blou ogies.
“Miskien kan jy hom net mooi vashou dat ek hom nie seermaak nie,” sê sy vir Mariët.
Die vrou knik en vou haar hande om Ben se kop om dit in plek te hou.
Suster De Lange hou Ben se arms vas sodat hy die suigbuis nie wegstamp nie.
Nadat sy uiteindelik die pap, gekleurde lekkergoed uit die kind se neus het, is Alana verlig toe Karen om die gordyn loer.
“Is dokter amper klaar?”
“Ek is.” Alana streel oor die kind se kop voor sy die steriele handskoene afpluk en hulle in die drommetjie gooi.
“Hier is ’n beter geval vir dokter,” sê Karen met ’n ondeunde kyk. “Belowe.”
Is dit nou haar dag vir eienaardige gevalle?
“’n Treat net vir dokter.” Stoutigheid flikker in die rooikop se groen oë. “Dokter kan my later bedank.”
Alana sal jok as sy moet sê dat dié gedrag haar nie nuuskierig maak nie.
“Ek kom,” sê sy hoopvol. Sy tel klein Ben op en gee hom vir sy ma aan.
“Eet eerder volgende keer die jelly beans, hoor.”
“Dankie, dokter.” Mariët glimlag verlig en soen die kind se koppie.
Alana stap agterdogtig na die toegetrekte gordyn waar sy Karen hoor praat.
“Rus jy nooit nie?” hoor sy Karen met die pasiënt raas.
“My ego het seerder as my hand gekry,” kom die antwoord van ’n manstem.
Alana verstil. Daardie sjokoladestem sal sy enige plek herken. Of is sy nou laf? Dis seker haar verbeelding. Baie mans het mos stemme wat selfs staal kan laat smelt.
Karen pluk die gordyn oop.
Alana se mond is oop om te praat, maar sy kry nie ’n woord uit nie.
Dit is wragtig hy!
Op die bed lê die laaste persoon op aarde wat sy verwag het om ooit weer te sien. Nog net so gebiedend en aantreklik op sy sorgelose manier soos wat sy onthou.
Die laaste keer wat hulle mekaar gesien het, het hulle gemene woorde soos handgranate rondgegooi. Dit is ’n wonder dat nie een van hulle tóé ’n ambulans nodig gekry het nie.
“Ek dink nie ek het steke nodig nie …” Toe sy oë in hare kyk, bly hy skielik stil. Sy grys oë verklap dat hy net so verras soos sy is.
Kyk hy afkeurend of goedkeurend na haar? Of is dit vermaak wat sy in sy intelligente grys oë sien? Dan glimlag hy sy sexy glimlag, die glimlag wat sy vyf jaar laas gesien het.
Haar hart klop heeltemal te bly, net soos ’n troeteldier wat lanklaas sy eienaar gesien het. Bedaar tog, hart, in hemelsnaam …
Haar eksman se hare is steeds donker, net baie korter. ’n Netjies getemde baard en snor omraam sy aantreklike mond. ’n Mond wat sy al ontelbare kere gesoen het.
Sag blaas sy haar asem uit.
Die baard en snor pas by hom. Ook die korter hare.
Nie een van hulle sê ’n woord nie.
’n Verpleegster mik in sy rigting om te kom koer. Alana wil haar soos ’n lastige