Dis toe dat Babs koeltjies sê: “Pasop, die pietersielie klou aan ’n mens se tande.” Dit terwyl sy stip na Onyra se mond kyk.
Dit was asof daar blinkertjies in Jack Doorn se oë gestrooi word, en Onyra het hom die blyk van pret duidelik misgun deur hom aan te val: “Kon jý my nie gesê het nie?” En, aan Babs: “Waar is julle gastebadkamer?”
“Ons gaste eet maar so dat daar nie pietersielie aan hulle tande kom nie.”
Onyra het padgegee en, toe haar pad kruis met dié van Tiny op pad buitentoe, vriendelik gesê: “Wat ’n voorreg om hier te wees, meneer Rabie.”
Die slinkse huigelaar, het Brenda nydig gedink. Hoekom het Neels nie gelag of selfs net geglimlag nie? Irriteer Onyra hom dalk uitermate, of waarom kyk hy dwarsdeur haar, dit terwyl haar halslyn min aan die verbeelding oorlaat?
Dis waar, Neels vaar beter met een gespreksgenoot op ’n slag. In sy kantoor handel hy gesellig vertroulik met ’n kliënt. Anders as Hans Pressly, wat weet hoe om ’n hele groep in te sluit. Maar Hans Pressly is nie nou haar prioriteit nie, waarom sal sy hoegenaamd aan hom dink?
Onyra keer terug, stiller, skynbaar met minder stertvere as voor die pietersielie. Die versotheid in Jack se oë blyk duidelik. Dalk sal hy sy koketterige vrou ’n oortredinkie of twee vergewe as sy maar net by hom bly. Dalk moes hy dit in die verlede al doen.
Moet sy dieselfde gesindheid teenoor Neels aankweek? Moet sy hom ’n avontuurtjie of twee – dalk meer – vergewe, as dit hom maar net by haar sal uitbring? Wat is dit wat haar pa van “uitstappies” gerep het?
Tiny en Magreeth se toetrede tot die geselskap is salwend. Hulle is so beleë. Selfs Magreeth, haar lewe lank nog ’n bietjie onbesonne, begin die soete sagtheid verkry van die middeljarige vrou wat ’n sterk, toegewyde man en gevestigde leefruimte het. Haar foute is getemper tot eienaardigheidjies, haar goeie punte het uitgegroei tot deugde.
Dis sy wat onwetend die botsende elemente in die geselskap saamsnoer met haar vertelling van hoe sy die stadsraad probeer oorreed het om die vuilgoed op die oorkantste, onbeboude erf te verwyder. Dat sy later kort duskant die minister se private sekretaris geëindig het, is met een woord snaaks. Hulle bars later in ’n lagkoor uit elke keer as sy ’n nuwe verwikkeling beskryf met: “En ek sê vir hom: ‘Maar, meneer’ …”
“Hoekom het mevrou nie vir prokureur Rabie gevra om hulle saak te werk nie?” wil Neels weet terwyl hy opspring om die rooster om te draai. Sy skouers roer onder die hemp. Om hom so ontspanne en toeganklik te sien, maak Brenda se keel stram. Kry hy nie koud nie? Sy sou graag haar warm arm om sy skouers wou lê.
“Ek wou darem eenkeer in my lewe vir Tiny wys ek het ook ’n kop vir sake,” lê Magreeth eerlik uit. Dis waar, sy is iemand wat vir haarself kan lag, en dit verseker dat sy ’n aanhang behou. Nie baie groot nie, sy is nie een van die dorp se voorvroue nie. Sy is net ’n mens in eie reg.
“Buitendien,” werp Tiny in, “wat is die storie van die skoenmaker se kinders wat kaalvoet loop?”
“Van storie gepraat, Pa,” versoek Brenda, “vertel tog vir Jack die storie van oom Wolf wat die krans moes vashou.”
“Ek was nie die dag in die hof nie,” kom Tiny los. Dalk ken hy dit self nie. “Mense, daardie tjops en wors begin mos bekwaam ruik. Sodra alles in die bak is, moet ons binnetoe versit. Dit word nou geniepsig hier buite.”
Dit raak heel genoeglik om die tafel met wyn, braaivleis, slaai en ongeskilde aartappel met botter en neutmuskaat.
Sonder dat hulle dit beplan het, kyk Babs en Brenda na mekaar toe Tiny die wyn skink. Nie een van hulle het tot dusver gerep hoe Babs gisteraand hoenderkop van ’n halwe bottel Merlot geraak het nie. Dalk meer as ’n halwe. Brenda en Pressly het elk maar een glas gedrink – hy waarskynlik omdat hy weer moet bestuur, sy dalk omdat sy wou vergoed vir haar suster se opsigtelike drang na die vergetelheid wat dit kan bring.
As Brenda gehoop het om Neels een oomblik lank alleen te sien, vervaag hierdie hoop toe Tiny en Magreeth met groettyd self die gaste buitentoe neem.
Neels steek wel sy hand uit: “Want ek weet nie wanneer ons jou weer op kantoor sien nie, Brenda.”
“Ons”, dink sy, nie “ek” nie. Sy vingers is warm, die greep talmend. “Ás ons jou weer daar sien,” voeg hy by. Sy stem praat met haar, by woorde verby. Die ou-ou taal tussen man en vrou, sy kan haar dit nie verbeel nie.
Ouers en dogters kuier nog tot middernag, onder andere met Hans se Belgiese sjokolade. Dan begin die vroegopstanery van vanoggend sy tol eis. Gapend kondig Brenda aan dat sy bed toe gaan.
“Kuier eers bietjie by my in my kamer,” soebat Babs.
“Dink jy nie ons kry ’n redelike oordosis van mekaar nie?”
“Net ’n rukkie, man.” Babs druk die kamerdeur agter hulle toe. “Jy en die ou, die Neels Mostert. Ek was heeltyd reg dat daar iets tussen julle is, of hoe?”
“Wees die man genadig. Sy vrou is onlangs dood.”
“Onlangs? Soos ek verstaan, is dit eeue.”
“Jy darem, Babs. Is dit hoekom jy my agter jou geslote deur wil vaskeer?”
“Sê maar net ja of nee,” beveel Babs terwyl sy voor die spieël gesigreiniger aandep. “Want ek het amper begin dink jy en Hans, jy weet.”
“Maar nou voel jy verlig?” bits Brenda. “Dan kan jy hom mos sover kry om van sy vrou te skei. Of vat hom agter die bos. Maar wat gaan jy met die blonde kleintjie aanvang? Aan die ouma afsmeer?”
“Moenie spot nie, die vrou is op ’n ernstige missie om die kinders by hom af te vat.”
“Nog beter vir jou as sy dit regkry.”
“Daar’s tog niks, niks tussen my en hom nie. Ek kan nie sien hoe hy ooit uit daardie huwelik sal kan of wil kom nie. Hy lewe nie, soos ek, in die obskure subkultuur van die geskeides nie.”
“Waar kry jy dié uitdrukking? Klink nie soos jou eie nie.”
“By Doringrosie, waar anders?”
“Onyra Doorn? Wanneer nogal? Ons was heeltyd saam by haar.”
“O nee, jy was binnetoe om die braaipan vir die gaar vleis te gaan haal.”
“Nie eers twee minute lank nie. En in die daardie tyd raak sy so ’n groot wysheid kwyt?”
“Net vir my gevra hoe voel dit in die obskure ensovoorts, ensovoorts.”
“Sy is geslepe.”
“Vertel jy my. Om onder die oë van haar skaapkop van ’n kaaskop flikkers rond te gooi.”
Flikkers rond te gooi. Vir Neels om op te pik? Was dit sy eintlike verwysing na die vlam wat brand? Dan is dit waarvoor Babs haar kamer toe geroep het. Om haar te waarsku. As ouer suster gee sy tog om.
“Jack Doorn is g’n skaapkop nie, hy het haar net lief genoeg om haar oor te sien. Hulle het nie kinders nie, hulle het net mekaar.”
“Ek dog ek noem dit maar net. As jy voel jy wil onder die omstandighede liewer hier bly, om oor jou belange te waak. Ek sal regkom.”
“Hy is nie my belange nie. Ek het geen belange nie.” Wel hoop, maar wat as die hoop blyk te beskaam? Dan wil sy in elk geval nie hier wees nie. “Ons gaan môre terug, jy dink verniet jy kan my uit jou mou skud.”
“As jy so sê.” Babs lyk verlig genoeg. “Sou maar sleg wees om alleen terug te ry, en jou goedjies is daar.” Dan, peinsend: “Tom sou my nooit so ver alleen laat ry het nie.”
“Pasop, jy, of jy lê wakker. Ek loop nou.”
“Nee,” pleit Babs en steek haar hande uit, “slaap hier by my, op die dubbelbed, toe? Al die jare wat ek en