Kraak. Rouxnette Meiring. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rouxnette Meiring
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624085324
Скачать книгу
is nogal mooi met lugrankplante toegemaak en alles lyk groen en ruig. Op die mure van die bokmelkery en haasplaas is skyngramme van hoe koeie gelyk het in die tyd toe mense nog in verstommende hoeveelhede vleis geëet het en seker nie bewus was van kweekhuisgasse nie. Die arme wesens het sulke groot, hartseer oë gehad.

      “Wat het jy van die uitstalling gedink?” Shivani. Sy hardloop soos iemand wat ballet doen. Sy lyk te tingerig om ’n sterk drawwer te wees, maar klink glad nie moeg nie. Ek kan nie dink as ek moeg is nie.

      “Ontstellend. Soos altyd,” kry ek darem uitgehyg. Die stadsraad maak seker ons kry genoeg inligting oor hoe die wêreld gelyk het voor die koepel in 2065 opgerig is. Ons leersentrumklas was op ’n uitstappie na die ||Hui !Gaeb-konvensiesentrum vir ’n uitstalling: “Pre-koepel Kapitalisme en Klimaatsverandering.” Dit het ons voorouers soos kluite laat lyk.

      “Meer ontstellend is dat hulle vir ons lieg oor hoe die koepel vir ewig gaan hou. Ek ken iemand by die Geoingenieursgebou wat sê dis net ontwerp om driehonderd jaar te hou,” gaan Shivani voort. Sy ken glo meer volwassenes as kinders en praat altyd van hulle, maar mens ontmoet hulle nooit.

      “Sjoe, net nog vyftig jaar?” Ek is te moeg om geskok te klink, sy kon net sowel gesê het hier kom nog ’n bult om uit te draf.

      “Wonder jy nie ook watter soort uitstalling daar oor ’n paar honderd jaar sal wees waarna ons nageslag gaan kyk en hulleself afvra hoekom ons so onnosel en kortsigtig was nie?” vra Shivani oor haar skouer, want ek hou nie by nie.

      “Nie regtig nie. Nie nou nie.”

      “Dalk moet ons begin wonder.” Beskuldigend, asof ek vir alles verantwoordelik gaan wees. En daar gaan sy.

      Voor my lê die steilte van Kloofnekstraat. Mense soos Mohlomi is al op pad terug.

      “Dit help as jy jou verbeel jy sweef,” sê ’n altstem langs my.

      Ja, reg. Nes jy sê, Amber.

      “Hoekom dink jy het Mohlomi soveel woede in hom?” vra sy sonder om te hyg.

      Ek kreun innerlik. Wat is dit met hierdie mense wat so diep wil dink terwyl elke spier in my liggaam skree en my longe nie meer in my borskas wil inpas nie?

      “Ouers,” hyg ek.

      “Dis gewoonlik die rede, maar ek dink dis meer as dit.”

      “O.”

      “Hy baklei teen iets in homself. Ek het hom in die beeldhouklas dopgehou. Hy is ongelooflik kunstig, het regte kunstenaarshande ook, maar hy veg teen sy kunstenaarssiel.”

      Amber praat weer baie.

      “Dink jy hier is nog genoeg suurstof in die koepel?” blaas ek.

      “Die Geo-ingenieurs reguleer alles, Kara, ek dink jy is net onfiks.”

      “Dankie.”

      “Oor Mohlomi – sy ouers is van Noord-Chinafrika en jy weet hoe min Buitekoepelers hulle ooit hier inlaat.”

      “O.”

      “Sy ouers was ook in die hospitaal toe hulle begin droom het, maar hulle liggame het verdwyn.”

      “Onmoontlik.”

      “Dis waar. Ten spyte van die sekuriteit het dit al voorheen gebeur.”

      “Amber, ek’s te moeg.”

      “O. Jammer. Sien jou netnou by Joga Fisiek.”

      “Namaste,” hyg ek.

      En daar gaan sy ook. Ek’s seker nou heel agter.

      Kan iemand nie iets minder pynlik uitdink om die liggaam fiks te hou en die organisme waarin ons woon vlot te laat werk nie? Dan onthou ek. Daar was sulke goed. Kwantumrekenaars wat die liggaam “gediens” het. Maar ||Hui !Gaeb het dit verbied toe die “terug na die natuur”-filosofie ingestel is. Of dalk is dit weg saam met die kennis wat uitgewis is met die laaste groot wêreldnatuurramp.

      My regter-kaalvoetskoen gly op iets slymerigs en amper slaan ek neer – nog ’n vernedering net-net afgeweer. Dit het dalk ontsnap uit die slymkolonies van gister se mikrobiologieklas. Is dit een organisme, of was die aparte amoeba-armpies binne-in die slym individuele organismes? Want hulle bestaan net as hulle ’n funksie vir die slymkolonie moet verrig, dan verdwyn hulle weer as deel van die slym. As dit met die meeste organismes so werk, bestaan ek dalk ook net wanneer ek ’n funksie moet verrig. En wanneer dit kom by landloop, het ek geen bestaansreg nie, kan ek net sowel disintegreer en spiritueel deel word van my spesie. Dalk is dit wat my ma gedoen het …

      6

      Ek staan in die gang, want ek was weer laat vir my klas. Al my goed vat so lank om te doen. Uit ons Jaar 16-lokaal kom uitbundige gelag. Om te dink iets soos skool is eers in 2260 in ||Hui !Gaeb ingestel. In Nana se tyd het kinders self geleer, met hul persoonlike rekenaargidse.

      Die deur swaai eindelik oop en almal borrel uit. Meneer Mkhatywa, die Logika-dosent, kom met ’n groot glimlag op sy gesig uitgestap. “Molweni, molweni …” groet hy in die algemeen in die gang af. Hy is die gewildste onderwyser in die skool, glo amper negentig jaar oud. Sy seun is een van die min kinders wat nog toegelaat word om self met ’n rekenaargids te leer. Meneer Mkhatywa het duidelik toutjies wat hy kan trek. “Molo, Kara.”

      Ek glimlag omdat hy nie na my kyk asof hy wil wys hy weet ek was nie in sy klas nie. Hy lyk vriendelik soos altyd.

      Ek kyk na my rooster: Chinees, Koepelinstandhouding, Genetiese Ingenieurswese, Kernfisika, Omgewingsetiek, Mikrologie, Sielkunde. Die Chinese klas is altyd so groot, niemand sal agterkom as daar een student minder is nie. Ek kan vandag aan niks anders as my ma dink nie. ek wil net langs haar bed gaan sit en haar hand vashou. Asof dit iets is wat ek moet doen voor dit te laat is.

      “Shivani …”

      Sy gaan staan.

      “Ek wil gou na my ma gaan. Sal jy my inpols, asseblief?”

      Shivani het groot donker oë wat soos krale lyk en lang wimpers, ’n mond wat soms effens vies voorkom. Lang swart hare wat lyk of dit altyd doen wat sy wil hê; sy hoef nie vlegsels of rastalokke te maak daarmee nie.

      “Iets fout?”

      “Nee, dis net … ek moet haar vandag sien.”

      “Jy vat weer kanse, nè. Jy’s gelukkig meneer Mkhatywa koester nie wrokke nie. Maar jy gaan laat wees vir Koepelinstandhouding ook.”

      “Ek weet.” Ek moet sluk om te keer dat my stem snaaks klink. “En Shivani … ek mis jou.”

      “Maar jy’t mos klaar verduidelik – Kaleb wou hê jy moet by Amber in ’n kamer intrek omdat hy bekommerd is oor haar en dis vir jou belangrik wat Kaleb van jou dink.” Haar oë verklap niks van hoe sy dalk regtig daaroor voel nie. “Sorg net dat jy terug is vir Geneties – ons skryf toets en ek kan nie dít vir jou doen nie.”

      “Dankie, Shivani. Ek sal terug wees.”

      Sy draai om en verdwyn in die stroom kinders.

      Buite is dit regtig koud – ’n temperatuur wat goed is vir die koepel se funksies – kouer as saans omdat hulle dit gemaklik probeer maak vir mense wat saans wil uitgaan. Ek druk my hande in my jas se sakke. Die skoolpark laat my altyd ontspan. Dis groen en ruig en die ontsoute seewater borrel hier en daar in fonteintjies op voor dit na die plante herlei word. Ek en Mamma het dikwels hier rondgeloop voor sy aan die slaap geraak het. Die geur uit die kruietuin langsaan is bedwelmend, selfs in die koue lug.

      Links van die park is die skool se musiekkamers en ek herken die donker, ryk toon van Amber se tjello. Niemand anders kan soveel gevoel deur ’n musiekinstrument stuur nie.

      ’n Lugskip met een van die Sentraal-Chinafrika-tekens