Kraak. Rouxnette Meiring. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rouxnette Meiring
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624085324
Скачать книгу
in sy regteroor. Hy is net so oud soos ons, maar voel altyd vir my ouer. Hy en Kaleb kon mekaar nog nooit vind nie.

      Ek raak yskoud. Hy sal nie toelaat dat Kaleb hiermee wegkom nie.

      Amber kyk na Mohlomi op daardie manier van haar.

      “Ons is mark toe, want ek het die gevoel gekry ek moet gaan,” sê sy uitdagend.

      Mohlomi kyk smalend na Kaleb. “Het jy ook ’n gevoelte gekry, broer?”

      “En wat doen jý as iets binne-in jou vir jou sê wat die regte ding is om te doen?” vra Amber. “Maak jy of jy nie hoor nie?”

      Mohlomi lyk vir ’n oomblik of hy weer iets smalends gaan sê, dan draai hy om en loop.

      Ek is verlig en verbaas.

      Dis verstommend dat Mohlomi nie vir Amber iets teruggesnou het nie. Dis iets om oor te wonder. Miskien nie so konkreet soos ’n aardbewing nie, maar baie vreemder …

      4

      Ek moes dwarsdeur die Mozart-fase geslaap het en word wakker met Bruch wat in ’n brander van viole oor my spoel. ’n Handklok begin lui – die derde gedeelte van die kinderhuis se wakkerword-stelsel om ons nie uit ’n diep droomfase te skok nie.

      Amber sit wawyd wakker en kyk na my. Dit gee my koue rillings. Ek’s reeds bang ek verander in ’n riwwer, hoe lank kyk sy al so vir my?

      Die kaggelvuur in die hoek van die kamer brand rookloos en ek ruik peperment.

      “Jy’t gedroom, nè?”

      Ek’s skielik geïrriteerd – so Amber is al lankal wakker.

      “Ek sal bly wees as jy my nie sal dophou terwyl ek slaap nie. Dis nie vir my lekker nie.”

      “Jammer.” Sy lyk verbaas en dan afgehaal en ek kry haar dadelik jammer. Ek’t soveel vrae wat ek haar wil vra, ek moenie so gou vies raak nie.

      Amber druk die ontbytknoppie bo haar bed vir bessies en neute en wag vir die skinkbord om uit te gly.

      Ek staan op en begin aantrek – ontbyt maak my naar. Buite die venster met sy eenrigtingglas kan ek die buitelyne van Seinheuwel en Leeukop begin uitmaak. Dis ’n koepeloggend soos enige ander, droog en dynserig en dieselfde.

      Jare gelede was die hele streek rondom ||Hui !Gaeb groen en geil. Toe het die klimaat verander en het alles semiwoestyn geword. Om die een of ander rede het die berg en Leeukop hul fynbos behou, selfs toe die koepel-era begin het – ondergrondse waterbronne of iets.

      Ek haal my bruin wolbroek uit die kas en kies ’n liggroen katoenhemp en roesbruin wolbaadjie. My ma het altyd gesê dis goeie kleure vir my – dit reflekteer my hare en oë. En sommer my sproete ook, maar dít het sy nie gesê nie.

      Ek het gedroom van Sophia.

      Ek roer die vraag met verskillende stembuigings in my gedagtes om voor ek dit vra: “Wie presies is Sophia?” Ek wou dit ongeërg laat klink, beslis nie nuuskierig nie. Nou klink dit kortaf, beskuldigend.

      Amber stoot haar ontbytskinkbord weg en gooi die laken af. Sy’t nog nie gaan kies tussen die drie stelle klere wat in haar kas behoort te hang nie, en haal haar rok en katoenjas van gister van die stoel af. “Sophia is vir my so baie dinge, dis moeilik om dit te verduidelik.”

      “Sal jy probeer?”

      Sy gooi die pastelblou rok oor haar kop.

      “Sy was ’n vriendin van my ma en pa, hulle ken mekaar al vandat ek kan onthou. Hulle was almal nageslag van die groep wetenskaplikes wat gekies is vir die koepelstad se werking, nie die kapitaliste se afstammelinge of die geneties begaafdes nie. En jy weet seker sy was die direkteur van die Sentrum vir Spirituele Navorsing voor dit gesluit is. Maar die stadsraad en veral Lohengrin hou nie van haar nie, ek dink hulle is bang vir haar. En hulle hou haar dop.”

      “Weet Sophia wat met jou ma-hulle gebeur het?”

      Amber kam haar lang blonde rastalokke met haar vingers en soek dan na iets om dit mee vas te steek.

      “Sy dink so, ja. Hulle het verdwaal. Hulle was nog nie sterk genoeg om hulle rigting te kry in die ander wêreld nie. Dis hoekom ek hulle moet gaan haal.”

      “Wat? Jy moet hulle gaan haal?” Ek onthou hoe ek dae lank nie kon slaap nie, uit vrees dat ek ook in my drome gaan wakker word en droom-leef soos my ma. Daarna het die verlange na my ma so sterk geword dat ek probéér het om in my drome wakker te word. En daarna het ek besef ’n kloof skei ons van mekaar.

      Amber het haar haarknip gekry, steek haar dik lokke vas en stoot ’n bonkige houtarmband oor haar dun pols.

      In die een hoek van die kamer staan haar tjello. Die instrument lyk of dit gloei in skakerings van oker tot rooi, soos die klanke wat sy daaruit toor. Klanke wat deur die kinderhuispersoneel stopgesit word wanneer dit ’n lewe van hul eie kry …

      Amber kyk na my soos sy gisteraand na my en Kaleb gekyk het toe sy gevra het of ons bang is. Dit voel vir my verskriklik belangrik dat sy moet dink ek is dapper.

      “Hoe weet jy wat jy moet doen – dat dit die regte ding is? Sê Sophia dit vir jou?”

      “Daar’s iets in my wat my net laat weet wat om te doen, Kara – en soms verduidelik Sophia dit vir my.”

      “En hoe weet jy daardie wete is nie iets slegs nie, iets wat van die luglande af kom nie? Hoe weet jy wat is goed of sleg?”

      “Ek weet net. As jy nie vrees in jou het soos die meeste van die mense in ||Hui !Gaeb nie, dan weet jy. Alles van die luglande is nie sleg nie. Hulle het goeters wat ons kan gebruik.”

      “Regtig? Sê Sophia so?”

      “Ja. Sy sê mense is half-hemel en half-aarde. As jy bang is vir wat bo is, soos Subsiber-Amerika met hulle ondergrondse stede, raak jy uit balans. As jy bang is vir wat onder is, soos in die luglande, raak jy ook. Dan wil jy alles begin beheer met reëls en wette en is jy bang vir alle soort verandering en …” Amber raak verleë. Sy is nie gewoonlik veel van ’n prater nie.

      “… En jy is bang die klimaatkoepel kraak en goed kom in?”

      “So iets, ja. Dis in elk geval wat Sophia sê.” Sy begin die bladmusiek in haar tjellosak pak.

      5

      My gesig is seker rooi soos ’n tamatie. Hoekom kan ek nie soos Shivani lyk as ek landloop doen nie?

      En hier’s Kaleb ook nou. Wonderlik.

      “Hallo, Ysprinses.”

      “Loop sweef, man.”

      “Het jy gesien daar’s ’n nuwe meisie in ons klas?” ignoreer hy my slegte bui.

      “Ja.”

      “Haar naam is die een of ander sterrekonstellasie,” praat hy asof dit regtig ’n goeie tyd is vir geselsies maak.

      “En?”

      “Sy woon glo alleen in ’n woonstel in Paalstraat.”

      “O.”

      “Sy moet nageslag van die kapitaliste wees, of wat dink jy, Rooies?”

      Nou is my gesig seker nog rooier. Nog ’n bult.

      “En ook nie bang die volgende tsoenami kraak die keerwal nie,” dwing Kaleb voort.

      “Huh.”

      “Jy’s nie baie spraaksaam nie.”

      “Ek’s moeg, man.”