Kraak. Rouxnette Meiring. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rouxnette Meiring
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624085324
Скачать книгу
ection>

      

      kraak

      ||Hui !Gaeb Boek 1

      ROUXNETTE MEIRING

      Tafelberg

      Opgedra aan my ma,

      Lynette (le Roux) du Preez,

      by wie ek geleer het dat wonderwerke nie

      bokant die natuur is nie,

      maar deel daarvan.

      Chinafrika, 2315

      Iets beweeg in die mis wat teen die berg afrol. Dit kolk in slierte, lek aan alles, verdwyn weer. Die kind skrik en begin draf. Ver onder, in die some van die berg, op die drumpel van die see, lê die stad. Reuse windskepe dein speelgoed-grootte om die kus naby die koepelpoort. Mis is besig om veldblomme, fynbos en geelhoutbome in te sluk. Die twee bergkwaggas wat oomblikke gelede nog voor ’n rotsskeur gestaan het, het verdwyn.

      Iets onbekends roer weer in die newels. Die kind hardloop. Los klippe rol onder voete uit wat beangs en gly-gly afdraand mik na waar die see teen die keerwalle skuim. ’n Massiewe seeperd lig sy kop en verdwyn weer in die diepte. Die donker sak vinnig.

      Die kind se asem jaag, die blink meetinstrument aan die nektou swaai wild heen en weer. Nader en nader kom die stad – die skynsel van elektriese busse wat deur die strate gly, gondels se dobberliggies op die gragte. En op die vlakte voor die stad, die verligte planteregte-standbeeld en sonlaaiers wat in die maanlig glim.

      Dit word ’n strompelende vlug – voor die mis en die asem van die onbekende ding uit tot by die straatligte van ||Hui !Gaeb.

      1

      Die kinderhuis groei soos ’n lewende ding uit die klip en grond van die stad. Ek verbeel my soms in die nag ek hoor dit asemhaal. Nou hoes dit kinders en oppassers.

      Dit lyk of die hele stad buite rondstaan, selfs Buitengrag se gondels is vasgemeer en die passasiers staan bedremmeld op die wal. Daar is energie in die lug, want iets het gebeur om oor te praat: die aardbewing was erger as die vorige, minder erg, het langer aangehou, nie so lank nie. Groot storie. Iemand wys na die Geo-ingenieursgebou waar die ligte nog brand en niemand uitgekom het nie. Almal kyk waar hy wys. Bla-bla-bla.

      Dit is die hoeveelste aardbewing in ’n week en elke keer in die aand.

      Kaleb trek sy los linnebroek effens op, gaan sit op die boomworteltrappe en ek sak langs hom neer. Hy vryf met sy duim en wysvinger uitgestrek oor sy gesig, van die hoeke van sy donker oë tot by sy neusbrug, soos ek hom dikwels sien doen. Hy het mooi hande, sterk vingers, kort naels. Hy kyk op. “Sy’s weer kaalvoet,” sê hy, ’n glimlag in sy stem.

      Amber kom soos ’n slaapwandelaar met haar wit nagrok na ons aangesweef. Sy lyk soos ’n lang, skraal kind van twaalf, al is sy sestien soos ons. Net ’n paar mense in ||Hui !Gaeb het die kombinasie van ’n bruin vel en blonde hare. En daarby haar blou oë – mense kyk na haar. Daar’s nie meer goed soos gekleurde kontaklense en haarkleurmiddels in ||Hui !Gaeb nie …

      Soos ’n fluistering, ’n vibrasie, kom sy by ons sit. “Daar’s vanaand ’n Lug-Eurasië mark,” sê sy met haar altstem.

      “En?” vra Kaleb.

      “Kom ons gaan.” Haar oë is wasig, asof sy regtig nog slaap of droom.

      “Die markte is onwettig – hoe weet jy eers daarvan, Amber?” vra ek.

      “Ek het my kontakte.”

      “Ek hoop nie jy is betrokke by een of ander ondergrondse beweging nie, Amber,” sê Kaleb bekommerd.

      “So, wil julle saamkom?” vra Amber en die blou oë begin hulle fokus kry op ons.

      Ek kan amper hoor hoe Kaleb dink. Hy sluk. Vat sy lang bruin krulhare vas in ’n bokstert agter sy kop, laat dit weer los.

      “Wel … hulle gaan nog ’n hele ruk hier buite staan en praat, niemand gaan agterkom ons is weg nie …” begin hy. Ek kyk vies weg. Sy beheks hom, nou wil hy alles doen wat sy wil.

      Amber lees ons reaksies vinnig: “Ons gaan nie gou weer so ’n kans kry nie, Kara. Daar was nog net twee markte op hierdie spesifieke plek en almal dink nou aan die aardbewing.” Haar oë raak helderder. “Wil julle nie weet wat alles anderkant hierdie koepel aangaan nie?”

      Ek en Kaleb kyk vir mekaar. Wil ons of nie?

      Amber het reeds opgestaan en begin deur die park van die kinderhuisgronde loop, Weeslaan se rigting stad toe.

      “Ons kan haar nie alleen laat gaan nie, sy is ’n gevaar vir haarself.” Kaleb wip regop en stof sy broek af asof hy jare lank gesit het. Ek staan halfhartig op. Ek is nie nou lus vir moeilikheid nie.

      Daar is ’n beroering onder die mense. Raadslid-prediker Lohengrin kom soos ’n stormwind op die kinderhuiskantoor afgepyl. Sy donker pak flap om sy maer lyf en sy neus lyk nog langer en skerper as gewoonlik. Ek onthou hoe Kaleb kliphard gesê het “Lohengrin” toe ons na die reier in ’n les oor uitgesterfde voëls gekyk het. Hy noem homself glo “Graalsoeker” of “Seun van Parsifal” in sy preke – Shivani het eenkeer vir die grap gaan luister.

      “Wat is so snaaks?” vra Kaleb, maar ek skud net my kop.

      Iets het Lohengrin ontstel en dit gaan ’n lang gesprek met die kinderhuishoof afgee. Minder toesig, roetines deurmekaar en die personeel se aandag verdeeld. Nou het ek geen verskoning nie.

      “Ek kom!” roep ek agter Kaleb aan.

      Die verveling en knaende hartseer van die laaste jaar maak plek vir iets tussen opwinding en vrees.

      2

      ’n Vulliswurm op pad na die energiedepot kom slurpend en snuiwend om die hoek van ’n gebou in Weeslaan met Buitengrag af, en Kaleb druk my agter hom teen die muur vas, sy sterk arm warm oor my maag.

      Die wurm seil heuphoogte by ons verby, sy flikkerende rekenaar-oë soekend na vuilgoed of na die uitlaatpunt onder in Buitengrag om aan vas te suig.

      “En nou? Hy sal ons mos niks maak nie.”

      “Al die rekenaars is gekoppel.” Kaleb laat rus sy agterkop teen die klipmuur. Hy lig sy ken en kyk vir ’n oomblik na die volmaan.

      Wit asemrook hang bo sy gladde bruin profiel en sy lippe is … Wat is dit aan hom? Ek skrik toe hy skielik begin praat. “As hulle ons by die kinderhuis begin soek, kan hulle op die vulliswurms se databasis ingaan … Kom, ons gaan haar verloor.” Hy loer om die hoek en vat my hand. Trek my agter hom aan. Elektrisiteit.

      “Liewer nog een blok hier af in Weeslaan as agter die wurm aan.”

      Ons loop in Breestraat se fietspaadjie af. ’n Ent verder sien ons hoe die nagrok-skim uit Bloem voor ons in Breestraat af sweef …

      “Mooi. Sy’t ook uit Buitengrag gedraai, seker die wurm sien volg.”

      Die stad lê bedrieglik stil en rustig in die volmaan. Die meeste mense steur hulle nie meer aan die aardbewings nie en dié wat wel ’n storie daarvan maak, drom op die pleine saam. In die Kunsgebou speel die simfonieorkes, al was daar kort tevore ’n aardbewing. Die orkeslede lyk of hulle in die lug hang, helder verlig op die glasverhoog, die gehoor in die donker. ’n Paar mense staan buite of sit in hul gondels in Breegrag om te luister.

      ’n Lugskip gly dynserig voor die maan verby.

      “Het jy gesien waar sy gedraai het?” vra Kaleb.

      Ek het nie.