“Waar kry hulle dit?” vra hy.
Die seuntjie swaai om en wys na Olivia. “Livja,” sê hy tevrede. “Roomys ôk.”
“Ek het alles mooi neergeskryf,” sê Olivia.
“Ons lyk nou nes ander kinders,” sê Emma tevrede.
“Inderdaad, ja.”
Katie verskyn in die voordeur. “Die kinders moet kom eet,” sê sy.
Nicky kyk na Olivia. “Kom, Livja.”
Sy glimlag vir hom. “Gaan was solank julle hande, ek kom.” Sy wag tot hulle in die huis is voor sy nader stap na waar Nicolas haar swyend staan en aankyk. “Mag ek dit nie gedoen het nie?” vra sy ligweg. “Dit was nogal duur op die ou end, maar hulle wou dit so graag hê.”
Hy antwoord nie direk nie. “Ek het gesê jy moet koop wat hulle nodig het.”
“En hulle hét dit nodig gehad,” sê sy ferm. “Hulle lyk vir die eerste keer …” Sy bly stil.
“Vir die eerste keer wat?” vra hy.
“Niks nie.” Sy begin stap in die rigting van die oop deur. “O, gaan jy vanaand uit? Jou sekretaresse het gesê oor naweke moet ons maar ooreenkom en ek is geregtig op –”
“Ja, ek gaan uit,” val hy haar in die rede. “En Katie is ook nie hier nie, so ek sal dit op prys stel as jy kan bly. Het jy ’n afspraak?”
“Ek wou gaan fliek.”
“Die res van die naweek is ek hier en is jy van diens af.”
Sy haal haar skouers op. “Dan gaan ek môreaand. Dis nie ’n probleem nie. Verskoon my nou, die kos word koud.”
“Gaan jy elke aand saam met die kinders eet?” vra hy.
“O ja,” antwoord sy en stap binnetoe.
Hoofstuk vier
Olivia se eerste prioriteit in daardie eerste weke is om die kinders se vertroue te wen. Sy kan dit nie verduur dat die twee so versigtig, op hulle hoede en bang lyk nie. Die kere dat sy hulle saam met hulle pa sien, is hulle vrolik genoeg, maar tog nog versigtig, asof hulle hom nie heeltemal vertrou nie. Die feit dat hulle meer soos klein kindertjies lyk en nie soos twee poppies nie, doen haar hart goed, maar sy vermoed sy is die enigste een wat so dink. Katie sê reguit vir haar Emma lyk nou soos ’n seuntjie en wat het van die mooi pienk rokkies geword? Meneer Steytler sê heeltemal niks nie en sy moet maar aanvaar hy keur dit nie sterk genoeg af om daaroor te baklei nie.
Die skole begin en haar dae word meer geroetineerd. Sy staan soggens vroeg op, trek die kinders aan, sorg dat hulle boektasse en toebroodjies het en neem hulle skool toe. Sy mis nie haar ou rammelkasmotortjie nie, dis vir haar baie lekker om in die mooi motor te ry. Eers het sy gedink dis meneer Steytler se oorlede vrou s’n, maar dis te nuut. Sy vra in elk geval nie vrae nie, sy geniet dit net.
Terwyl die kinders by die skool is, doen sy inkope, loop rond en gaan selfs nou en dan na die tienuurvertoning by die naaste winkelsentrum voor sy Nicky halfeen moet gaan kry. Haar hart trek elke dag saam as sy in die motor voor die kleuterskool sit en wag en hom sien aankom. Die ander kleuters storm uitgelate na hulle ma’s toe, Nicky kom altyd versigtig uit, sy skouertjies te krom vir so ’n kleintjie, sy gesiggie een groot gekwelde plooi, maar as hy haar sien, verhelder sy gesig en lyk hy tog bly.
Dikwels beskou sy dit as nie die moeite werd nie om hom eers huis toe te neem en gaan hulle na ’n inrykafee toe daar naby om ’n roomys of iets te drinke te kry terwyl hulle wag om Emma op te laai.
“Nicky,” sê sy eendag vir hom en vang sy oog in die truspieëltjie. Hy sit vasgemaak op die agterste sitplek, al sy aandag by sy roomys. “Hou jy van jou skool?”
“H’m,” sê hy afgetrokke.
“Het jy maatjies daar?”
“H’m.”
“Hou jy van jou juffrou?”
“Ja-a. Sy sing.”
“Is dit vir jou mooi?”
Hy knik gewigtig en lek gou sy ken af waar ’n druipsel roomys afloop. En meer as dit kry sy ook nie uit hom uit nie. Dis eers ’n paar dae later dat sy die antwoord op haar vrae kry. Hy kom soos gewoonlik by die deur uit met sy ernstige, bekommerde gesiggie, sy oë soekend deur die mense.
Sy klim uit en hou haar hand in die lug. “Nicky!” roep sy. “Hier is ek!”
Hy gee ’n laggie en kom aangehardloop en toe hy by haar kom, slaan hy sy armpies om haar bobene en druk sy wang styf teen haar.
Sy hurk by hom en sit haar hande op sy skouers. “Wat is dit, Nicky?”
“Jy’t gekom,” sê hy met ’n sidderende sug.
“Maar ek kom elke dag.”
Hy druk haar net stywer vas. “Elke dag,” herhaal hy.
“Dink jy die arme kind is so gewoond aan mense wat vir ’n ruk daar is en dan net verdwyn?” vra sy toe sy daardie naweek by Mart kuier. “Dis om mens se hart te breek.”
“Ongetwyfeld,” sê Mart saaklik. “Dis waarteen ek jou probeer waarsku het, onthou.”
“H’m,” mymer Olivia. “Jy is reg. Ek het nou lank genoeg gewag, dis tyd dat ek vir hulle ’n ma kry.”
“Ek dog jy sê hy het ’n meisie.”
“Yvonne,” sê Olivia. “Dis tyd dat ek haar ontmoet sodat ek kan sien of sy die regte een is.”
Haar kans kom gouer as wat sy verwag. Die volgende Woensdagmiddag bel meneer Steytler haar om te sê hy bring iemand huis toe vir ete.
“Wat moet ek doen?” vra Olivia. “Ek het jou gesê ek kan nie kook nie.”
“Dis ook nie wat ek gesê het nie. Yvonne ken die kinders al en sal hulle graag wil sien. Ons sal so sesuur daar wees, sal jy hulle ondertoe bring?”
Die kinders is teen sesuur klaar geëet en gebad, maar sy kyk tog dat hulle hare mooi geborsel is en hulle kamerjassies netjies geknoop. “Pappa en tannie Yvonne is hier,” sê sy vir hulle.
“Pappa,” sê albei bly, maar lewer nie kommentaar oor Yvonne nie.
Olivia weet nie of meneer Steytler wil hê sy moet saamkom nie, maar sy wil vir Yvonne sien en stap dus ondertoe met ’n kind aan elke hand.
Meneer Steytler staan in die middel van die sitkamer met ’n glas in sy hand en voor hom op die rusbank sit Yvonne. Sy het skelrooi hare wat in ’n baie elegante kapsel gesny is. Hierby dra sy ’n kort, syerige rooi rok wat, soos sy oor die rusbank gedrapeer is, teen haar bene opgeskuif het. Sy lyk soos ’n model, dink Olivia, sy is móói.
Die kinders hardloop na hulle pa toe en omhels hom, maar hy het goeie maniere en stel die twee meisies aan mekaar voor.
Yvonne laat gly haar amandelvormige bruin oë krities oor Olivia, steek ’n gemanikuurde hand uit om haar te groet, maar bepaal haar aandag by die kinders.
“En hier is Yvonne se klein poppies,” koer sy en hou haar hande met hulle lang wit naels uit. “Kom kyk wat het ek vir julle gebring!”
Die twee kinders staan net na haar en kyk, maar toe sy twee sjokoladestafies uit haar handsak haal en vir hulle gee, staan hulle tog nader en sê beleef dankie. Dan retireer hulle tot by Olivia en oorhandig woordeloos die sjokolade aan haar.
“Nee, dis vir júlle,” lag Yvonne. “Vonnie het dit vir júlle gebring!”
Emma skud haar kop. “Ons het klaar ons tande geborsel en Olivia sal nie dat ons nou sjokolade eet nie.”
Yvonne skiet ’n blik na Olivia wat ’n swakker mens sou laat struikel. “Ag nee wat,” koer sy. “Julle kan