Nou het sy iets wat haar soggens besig hou. Nes sy die kinders by die skool afgelaai het, trek sy haar oudste kortbroek aan en sit af na die skuurtjie toe. Josef verstaan gou wat sy wil hê en alhoewel hy weier om self in die boom te klim, is hy van groot praktiese waarde as dit kom by die meet en saag van die ondersteunende balke. Hy slaan ook vir haar sekere stukke aanmekaar, kry die leer en help haar om die swaar hout in die boom te kry.
Sy raak behendig met ’n hamer en dik spykers en al is haar kaal bene en arms gou vol skrape, neem die boomhuis vorm aan. Dit kan nie vir die kinders weggesteek word nie en hulle is so opgewonde dat hulle nie kan wag om smiddae by die huis te kom nie. Omdat Josef nog besig is om ’n ordentlike, stewige leer te bou, laat sy nie toe dat die kinders opklim nie. Sy kan haar al teen die stam optrek soos ’n ratse eekhorinkie.
Sy is een middag besig om die reling al om die platform vas te slaan toe sy ’n motor hoor. Die kinders staan vir ’n wonder nie ongeduldig onder die boom na haar en kyk nie omdat Josef wyslik besluit het om hulle elkeen ’n plankie en spykers te gee waarmee hulle kan timmer terwyl hy die finale afwerking aan die leer doen. Sy kyk nie af nie, want sy is byna klaar en baie trots op haar handewerk. Die sporte is so na aan mekaar dat selfs Nicky se dun lyfie nie eers per ongeluk daardeur sal kan glip nie. Sy hou tog op met kap toe sy die motordeur hoor toeslaan en toe stemme. Sy leun oor om te kyk wie dit is en laat die hamer val. Dit stort saam met ’n klomp blare ondertoe en val met ’n metaalagtige klank op ’n klip in die rotstuin.
“Deksels,” sê sy deur geperste lippe en haal die spyker uit haar mond.
Daar is ’n skielike stilte voor sy Nicolas se stem hoor.
“Wie is daar in die boom?” vra hy kwaai. “Emma? Ek hoop nie dis jy nie. Die boom is gans te hoog vir …”
Sy hou aan ’n tak vas en druk die ander weg sodat sy kan uitloer. “Nee, dis net ek,” sê sy gerusstellend. “Die kinders is by Josef.”
“Olivia?” vra Nicolas.
Sy kyk af. Hy het nader gekom en staan haar in stomme ongeloof en aankyk. Nog by die motor staan Yvonne, vandag geklee in ’n roomkleurige langbroek van onberispelike snit, ’n liggeel sybloes en elegante roomkleurige skoene en skouersak.
“Wat maak jy daar?” vra hy kwaad. “Klim op die daad af!”
“Nee, ek is nog besig,” sê sy. “Maar my hamer het geval. Kan jy dit vir my aangee?”
Hy kom nog nader, sien die hamer en tel dit op. “Olivia,” gebied hy. “Klim uit. Jy gaan jou nek breek.”
“Liewe aarde,” kom Yvonne se koel stem. “Sit sy vas?”
Olivia vererg haar gruwelik. “Natuurlik sit ek nie vas nie!”
Sy druk die orige spykers in haar kortbroek se sak, gaan sit op die platform en begin met haar kaal voete soek na vastrapplek sodat sy kan afklim.
“Moet ek jou help?” vra Nicolas en hou sy hande uit.
“Nee,” sê sy ergerlik. “Ek klim heeldag op my eie op en af, dankie.”
Yvonne se laggie is so koel soos ’n bergstroom. “Jy het vir my gesê sy was twee jaar in die bos, maar …”
Haar woorde maak Olivia so kwaad dat sy nie so versigtig is soos gewoonlik nie. Sy het haar omgedraai en net begin afklim toe sy mistrap, onelegant teen die boomstam afgly en met ’n hik op haar sitvlak op die gras te lande kom.
“Kyk nou wat het jy gedoen!” snou sy Nicolas toe en staan op met soveel waardigheid as wat sy onder die omstandighede bymekaar kan skraap.
“Dis nie my skuld nie,” sê hy. “Wat maak jy in die boom?”
Haar hare hang los oor haar skouers, die eerste keer dat hy haar so sien, en haar wange gloei van verontwaardiging. “Dit is my saak,” sê sy en die blou oë flits woedend.
Hy kyk op na die blaredak bokant sy kop en sien die platform. “’n Boomhuis,” sê hy. “Bou jy op jou eentjie ’n boomhuis? Wat makeer – hou jy nie meer van jou kamer nie?”
“Dis nie vir my nie, dis vir die kinders!”
“Dink jy ek gaan toelaat dat hulle daagliks uit die boom val soos jy nou net gedoen het?”
“Ek het nog nooit uitgeval nie! Dis net omdat jy …” Sy vee haar hare uit haar gesig. “En Josef is besig om ’n leer te maak. Dis alles baie stewig en sterk en veilig. Dink jy regtig ek sal iets doen wat die kinders …” Sy vat aan haar kaal bobeen wat brand. “Eina,” sê sy en kyk af. “Kyk wat het jy gedoen!” Haar hele linkerbobeen is nerfaf geskraap teen die growwe stam.
“Ék het dit nie gedoen nie, dis jou eie skuld. Liewe land, om soos ’n nagapie in die bome rond te klouter en uit die takke te val …”
“Nicolas,” kom Yvonne se koel stem. “Moet ek heelmiddag hier by die motor bly staan?”
Hy kyk effens geïrriteerd oor sy skouer na haar, maar herwin dan sy goeie maniere. “Ek kom,” sê hy gelykmatig en vat Olivia aan die arm. “En kom jy saam. Ons moet iets aansmeer.”
Sy is baie lus om los te ruk en weg te hardloop, maar sy besef ook dat sy genoeg verleentheid veroorsaak het. Hy sit die hamer neer en tel haar sandale op.
“Wil jy jou skoene aantrek?”
“Nee,” sê sy nors, vat dit by hom en stap agter hom aan. “Middag,” sê sy vir Yvonne wat meerderwaardig glimlag en kopskuddend saam met hulle in die huis inloop.
“Is die merkurochroom nog in die kombuis?” vra Nicolas oor sy skouer.
“Ja.”
“Ag, sy kan seker nou self regkom,” sê Yvonne vriendelik.
Hy hoor haar nie, stoot net vir Olivia voor hom uit na die kombuis toe. Asof sy Emma is, tel hy haar op en laat haar op die rand van die kombuistafel sit. Dan skeur hy ’n stuk kombuispapier af, maak dit nat en vee haar been skoon.
Sy sê niks nie, want sy is bang as sy begin praat, sê sy iets waaroor sy kan spyt kry.
Toe hy tevrede is, maak hy ’n kassie oop, haal die merkurochroom en bottel watte uit en begin haar been rooi verf. Terwyl hy werk, leun Yvonne teen die toonbank, ’n studie in elegansie, maar haar oë baie koud op Olivia gerig.
Die kinders kom ingehardloop net voor hy klaar is en bly geskok staan toe hulle die bloedrooi been sien.
“Olivia!” skree Emma en bly verstar staan. “Jou been is vol bloed!”
“Nee, nee,” sê sy gerusstellend. “Dis die medisyne. Kyk, dis die goed wat ek altyd aan julle skrape smeer.”
Emma lyk effens gerusgestel. “Wat het jy gedoen?”
“Sy’t uit die boom geval,” sê Nicolas.
“Middag, kinders,” herinner Yvonne hulle aan hulle maniere.
Hulle kyk vinnig na haar en mompel ’n groet. Nicky, wat die hele tyd nog niks gesê het nie, kom stadig nader en druk sy wang teen haar ongeskonde been. “Livja,” sê hy hartstogtelik.
Sy rus haar hand op sy koppie. “Livja was dom,” sê sy troostend. “Sien jy nou waarom ek gesê het julle mag nog nie saam met my opklim nie? Ons moet eers alles veilig maak en die sterk leer vasbou.”
“Ja,” sê Nicky, sy groot oë nog op haar. “Nie uitval nie.”
“Nee,” sê sy en glimlag om vir hom te wys dit was glad nie ernstig nie. “Niemand gaan uitval nie.”
Nicolas gooi die watte in die asblik en was sy hande. Sy vingerpunte is ook nou rooi, maar dit pla hom nie. Hy draai om en bly staan, sy oë op Nicky wat nog steeds aan Olivia se been vashou met haar hand koesterend op sy kop. Hy sê niks nie, maar in sy oë is ’n vreemde uitdrukking.
“Pappa